Posted on
29 September 2010
Despatch het die Intertak by Paterson op 21 September 2010 gewen.
Ons was baie opgewonde toe ons Breiwerk, Fetakaas, Gebottel en Blomme eerste pryse gewen het. Dit was slegs met die Découpage, Gebak en Hekelwerk wat ons deur Alexandria uitgestof is.
Lede wat die Intertak bygewoon het, is:
Agter vlnr. Anna Vosloo, Brenda Potgieter, Annatjie Kemp, Marie Barnard, Gerda Cordier en Teresa Smith.
Voor: Moniques Buchner, Dalana Mey, Brenda Myburgh en Aneen de Jongh.

50 jaar lid van die VLV
Annatjie Kemp, voorsitter van Despatch VLV, het vir Joey Hechter haar 50 jaar kenteken aangesteek.
Joey was voorsitter van 1976 tot 1984 en het 'n passie vir VLV gehad. Sy vertrek eersdaags na Johannesburg nadat haar man, Koos nou onlangs oorlede is. Sy bly egter nog steeds erelid van Despatch tak.
Beriggewer: Marie Barnard

Posted on
29 September 2010
Kuns & Handvlyt vergadering van VLV Strand
Hoe meer dae hoe meer dinge. Toe ons 'n week voor die Kunste en Handvlyt vergadering meegedeel is dat die saal waarin VLV vergaderings gehou word, nie beskikbaar is as gevolg van bouwerk nie, moes daar vinnig planne gemaak word. Ons moes 'n geskikte lokaal kry waar 100+ lede vergadering kon hou.
Die Kerk, regoor die saal, is deur die kerkraad beskikbaar gestel en het ons is daar in met tafels, tafeldoeke, koppies & pierings, vaandel, ens. Die Voorsitter het voor die preekstoel gestaan, die lede het in die banke gesit, die kompetisies was in die konsistorie, die tee in die voorportaal en die demonstrasie (Teesakkie vouwerk), aangebied deur Laurette van der Merwe - op die foto -, voor in die kerk. Vier papiertjies is aan elke lid uitgedeel om prakties te leer hoe dit gedoen word.
Selfs die VLV lied het die Kerkgebou gevul. 'n Baie aangename en besondere vergadering aangebied deur Rina Marais - saamroeper en haar gasvroue.

VLV Strand Bestuur:
Jackie Greyvenstein (Gekoöpteerde lid vir Spesiale Geleenthede), Bets Basson - Landbou & Tuinbou, Kobie van Eeden - Gesondheid, Rina Marais - Kuns & Handvlyt, Maretha Badenhorst - Voorsitter, Hester Jordaan - Tesourier
Voor: Susan Alberts - Opvoedkunde en Kultuur, Hannatjie Du Plessis - Leefstyl (Naaldwerk), Erna de Waal - Sekretaris,
Afwesig: Leta du Preez - Vise voorsitter en Leefstyl (Kookkuns), Vera van Wyk - Openbare Sake.

Posted on
29 September 2010
Susan de Klerk
21/12/1966 - 21/09/2010
Na 'n kort siekbed het Susan na haar Hemelse Vader verhuis.
Sy was 'n positiewe en hulpvaardige mens. Vir haar was VLV 'n vreugde, 'n lewenstaak en 'n voorreg. Ons sal haar vriendelikheid in die VLV mis.
Posted on
27 September 2010
Saterdag, 18 September, het die jaarlikse gesondheidsvergadering in die kerksaal plaasgevind. Na opening is die dames se noodhulpkennis getoets. Wat 'n ontnugtering! Gelukkig is dit nooit te laat om te leer nie.
Hierna is aandag gegee aan ongewone sterfgevalle. Een so geval is van 'n Griekse filosoof wat hom doodgelag het. Hy het sy donkie wyn gevoer en toe laasgenoemde dopgehou toe die 'n wildevy probeer eet het. Die sterfte is toegeskryf aan asfiksie ('n gebrek aan suurstof).
Op 'n ernstiger noot het me. Alta du Plessis 'n demonstrasie oor mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering gegee - mens weet nooit wanneer jy dit nodig kan kry nie.
Hierna was dit tyd vir 'n versterkinkie en is tee en heerlike verversings geniet. Van die sake wat na pouse bespreek is, sluit onder andere die beplande Kersmark op (DV) 5 November in. Enige iemand van die omliggende dorpe is ook welkom om te kom uitstal en kan vir Elize kontak @ 072 6005 809.
Posted on
27 September 2010
'n Opgewonde groepie VLV lede en vriende het 'n uitstappie onderneem na die Griekwa Ratelgat Ontwikkelings Trust tussen Vanrhynsdorp en Nuwerus. Mnr. Jan Josef het ons deur die reservaat geneem, waar van die raarste plantspesies op aarde aangetref word. Sekere van die plantspesies kom uitsluitlik op die plaas Ratelgat voor en nêrens anders op aarde nie.
Daarna het hy ons na die monument geneem waar die eerste Opperhoof A.A.S. Le Fleur se huis gestaan het. In kort het hy toe die geskiedenis van die Griekwas vertel. Op 5 Mei 1898 is Opperhoof A.A.S. Le Fleur gevange geneem. Hy is tot 14 jaar harde arbeid gevonnis. In die gevangenis voorspel hy dat hy op 3 April 1903 om 15:00 sal vrygelaat word en presies op die uur en datum is A.A.S. Le Fleur vrygelaat. Toe hy uit die tronk kom het hy God gedank. Die volgende profesie het "Die Kneg" oor Ratelgat gemaak: "God sal die woestyn in 'n paradys omskep en Ratelgat sal die eiendom word van die Griekwa volk sonder dat 'n sent betaal sal word.” Sedert die ontvangs van die plaas op 11 Mei 1999 is die ontvangsdatum van die historiese plaas en die geboorte dag van wyle A.A.S. Le Fleur gekombineer en het die Ratelgat naweek sy ontstaan gekry. Die kultuurgeskiedenis, taal en danse word gereeld beoefen. Om te lees oor die geskiedenis van Ratelgat kan dit besoek word by www.ratelgat.co.za.
Toe is ons Matjieskraal toe waar daar 28 matjieshuise, ‘n lapa en ander geriewe is wat toeriste kan oornag. Terwyl die vrolike groep VLV lede en vriende piekniek gehou het, het Mnr. Jacobs Cloete op sy kitaar vir ons 'n paar vrolik tradisionele liedjies gesing.
Daarvandaan is ons toe na die nuwe oornag chalets toe waar Vredendal VLV 'n olienhoutboom geplant het. Dit was 'n lekker en leersame uitstappie wat ieder en elk geniet het.
Herkoutjie.....Ploeg self op die kliprand en gee vir jou kneg die sagte grond, dan sal jy jou kneg behou en jou ploeg ook.



Fondsinsameling: 22 September 2010
Vanaf Woensdagoggend 6 uur het die VLV vrouens en nielede van Vredendal in die motorhuis van Carien Nieuwoudt begin om 1350 pannekoeke te bak. Die groot aantal pannekoeke is deur die dorp se besighede bestel. Wat 'n vrolike gees het daar nie geheers nie - daar is baie gelag en geklets en van die mislukkings praat ons nie eens nie. Elke hand, oud en jonk, het gehelp om fondse te in. Daar was darem tussenin tyd om die liggame te versterk met tee, koffie en beskuit. Na 'n uitputtende, maar suksesvolle dag kan ons net dankie sê vir elkeen wat gehelp het en laaste maar nie die minste nie, ons Hemelse Vader want Hy alleen het vir elkeen van ons die krag, genade en gesondheid gegee om 'n sukses te maak. As dit by werk kom, staan VLV vroue saam en trek die wa deur die drif.
Gedagte: As jy nie deur die dag van jou voete afgevee wil word nie, is dit noodsaaklik dat jy die dag op jou knieë sal begin.
Beriggewer: Carien Nieuwoudt

Posted on
21 September 2010
Die somer is hier en almal wil graag buitentoe, maar baie van ons het die winterskos en biltong so geniet dat verlede jaar se klere nie meer pas nie!
Cindy is ’n dieetkundige by die Kuruman hospitaal en het met Kuruman se VLV lede kom praat oor gesonde eetgewoontes. Nadat elkeen ’n vraelys ingevul het kon mens uit dit wat jy die voorafgaande 24 uur geëet het, sien hoe ‘n mens meestal uit gewoonte sekere goed eet. Mens eet later sonder om daaroor te dink. Dikwels ook nie omdat jy honger is nie. Wanneer laas het jy bewustelik gekyk na wat jy eet?
Ons almal weet wat is gesond vir ons en ons weet dat die grootte van die porsies wat jy inneem belangrik is. Verder weet ons dat jy nie meer moet eet as wat jy in energie uitgee nie, want dit sal gestoor word as vet.
Sy verduidelik jou verskillende kosbehoeftes aan die hand van ’n beeld waar die siel in die middel tussen die liggaam en gees staan, met ’n opening vanaf die siel na liggaam en gees. Wanneer jy nie aandag gee aan jou geestelike behoeftes nie en dit verwar met liggaamlike behoeftes, sal jy ook meer eet en die gees se behoeftes word afgeskeep. So word jy ’n emosionele eter wat by die geringste ontsteltenis jou troos vind in kos, en dikwels kos wat niks positiefs tot jou liggaam se welstand bydra nie. As jy egter ’n oomblik nadink oor die emosies wat jy ervaar en dit uitsorteer, sal jy ook wyser kosbesluite kan neem.
Dink verder aan kos vir liefde en nie liefde vir kos nie. Kos soos God dit aan ons gegee het is byvoorbeeld vrugte en groente verkieslik rou, soos wat ons dit direk uit die natuur kry. Cindy se raad is om te dink oor alles wat jy in jou mond sit, dit te geniet as dit goed is, en om te kyk na jou geestelike behoeftes, wat net God kan bevredig.
Beriggewer: Petro Spangenberg

Cindy, dieetkundige van Kuruman
Posted on
21 September 2010
'n Vergadering is gehou op 16 September 2010 om plaaslike toeriste-attraksies te bevorder. Die SA Visserye museum van Velddrif is eerstens besoek.
Hier is lede vertel van die geskiedenis van die visbedryf, asook meer oor die dorp se geskiedenis. ‘n Kort rolprent is vertoon wat in 1945 vervaardig is. Felicity Ströhfeldt en Elsje van der Linde het verduidelik hoe sekere items gewerk het, onder andere 'n mishoring wat met 'n slinger werk en allerhande boot toebehore.
Hierna het die vergadering verskuif na Laaiplek Hotel. Die spreker van die dag was Madelie Wiid, redaktrise van die “West Coast Escape Magazine”. Elke lid het dan ook ‘n kopie van die nuutste uitgawe gekry. ‘n Geskenkpakkie is ook aan elke lid gegee wat bestaan het uit geskenkies uit die visbedryf, soutbedryf, Bokkombedryf en van ‘n plaaslike kunswinkel.”
Mae Muzik het verduidelik hoe om 'n blommering aanmekaar te sit met goed uit die tuin of opgetel langs die see.
Beriggewer: Louise Jacobs
Lede luister aandagtig.

Mae Muzik.

Museum uitstalling.

Lede buite Velddrif museum.

Posted on
21 September 2010
Vryburg VLV het onlangs ‘n vergadering met die fokus op Leef Groen gehou. Maatje Hobson van Setlagole VLU het wenke vir herwinning van huishoudelike artikels met dames gedeel. Plastiekbottels, grammofoonplate, CD’s en kurkproppe kan in nuttige artikels herskep word.
Monica van Rensburg het haar kennis van die medisinale en kulinêre gebruike van kruie oorgedra. Trudie Kok vertoon ‘n video oor die kunswerke van Helen Martin van Nieu Bethesda.
Sy het honderde bottels en fyngemaalde glas gebruik in haar huis wat die kunswerke huisves, sy was dus reeds voor haar dood in 1976 op herwinning ingestel!
Trudie het ook van haar eie kunswerke uitgestal. Sy werk in akriel, olie- en waterverf.

Trudie, Monica en Maatje

Trudie by een van haar kunswerke
Posted on
21 September 2010
Met die September vergadering het die dames meer geleer oor die kunsvorm: Tokreen. Soos op hulle webwerf staan: “Tokreen is so lekker soos klei-speel maar met Tokreen, kan enige iemand 'n kunstenaar in eie reg wees.”
Tokreen is 'n gom en verharder in een en word met 'n kwas aangewend. Dit het 'n waterbasis en kan verdun word as dit nodig is. Dis egter beter om dit onverdun aan te wend.
Tokreen is beskikbaar in wit, swart, terracotta, donkerbruin, en deurskynend. Tokreen is weer-, roes- en waterbestand. Artikels kan met koper, silwer, goud en brons metaalverwe geverf word om soos soliede koper of brons te lyk.
Die leuse van alle Tokreners is: "Ons Tokreen als!" Van blikke, skoene, potte, materiale, sade, knope, skroewe, sand, klippe, alles waarop jy jou hande lê, kan getokreen word.”
Issie van der Merwe en Rina Coreejes het ‘n demonstrasie gehou en die dames is so geprikkel daardeur dat ons besluit het om so gou as moontlik ‘n werksdag te hou waarop almal gaan “Tokreen”!
'n Ou graaf wat getokreen is.

Posted on
20 September 2010
Met ons September vergadering het Elvira Paul “Championship Planting” en Organiese Landbou bespreek.
Die fokus is op die effek van chemikalieë op ons Gesondheid. Plant sonder pesbestryding is belangrik.
Sy het ons geleer oor:
• Erdwurmboerdery
• Plante wat mekaar beskerm/bevorder
• Kompos maak en gebruik
• Behoud van saad, want genetiese manipulering vernietig sade
Motto: Eet slegs dit wat kan vrot word.