Posted on 27 December 2010

In ons gejaagde lewe van geld en goed, vergeet 'n mens gou om 'n slag stil te word en weer die gawes van die natuur te waardeer.  'n Gemanipuleerde, onnatuurlike foto van 'n blom op jou rekenaarskerm, kan nie kompenseer vir die voorreg om 'n rare, wilde berg-orgideë'tjie op jou knieë te ontdek, waar dit verskuil in 'n doringbos iewers op die Hantamberg groei nie.   Maar toe sy, met soveel liefde en bewondering die delikate plantjie vir ons kom wys het, wat sy as snuffelitem spesiaal gaan soek het tussen die klippe en bosse, kon enigeen opnuut besef dat Alfreda Visagie haar nie laat meesleur het in die maalkolk van 'n wêreld wat afgestomp geraak het nie.  Nee, tot die dag wat sy gehaal is, om in die hemelse blomtuine te blom, het sy in fyn aanvoeling gelewe met die natuur om haar, en het sy haar passie en liefde daarvoor uitgeLEEF!

 

Diegene wat die voorreg gehad het om saam met Alfreda op Saaihoek te kon kuier, sou hierdie passie kon beleef.  In haar geliefde groentetuin.  Tussen haar kleurryke blombeddings.  Onder haar hoenders en hans melkbokke, wat élkeen 'n naam het.  In die honderde vrugtebome.  Op haar spensrakke wat nou nog kreun onder die gebottel uit haar eie tuin.  In haar kombuis vol lag en kuier en lekker kos... 

 

In die gemeenskap was sy 'n geliefde inwoner, wat nooit te haastig was vir 'n geselsie nie.  As ywerige lidmaat, was geen taak ooit te veel gevra vir die gemeente nie.  Vir menige VLV-vriendin, was sy, vir byna 30 jaar 'n inspirasie met haar onblusbare lus om te werk, te lei, te kompeteer, maar bowenal om te gee:  van haar tyd, haar idees, haarself.  Haar plek is leeg in ons harte en in ons midde.  Ons betreur haar heengaan, maar gun haar hemelse rus, waar pyn en siekte nie meer bestaan nie. 

 

Vir Henta was sy 'n getroue, ondersteunende eggenote.  Vir Anneri en Jan-Paul 'n liefdevolle moeder.  Vir haar vriende 'n lojale vriendin.  Mag haar nagedagtenis voortleef in ons harte, en mag ons nooit vergeet hoe sy ons menswees aangeraak het met haar omgee nie. 

 

ALFREDA  VISAGIE, ons snuffelaar. . .

 



Posted on 24 December 2010

Adolene Nel het tydens Hantam VLV se jaareind-vergadering haar Oberammergau-ervaring gedeel.  M.b.v. 'n dataprojektor, kon almal saamstap deur groen woude, eeue oue kastele besoek, deur smal kobbelsteen strate drentel en met verwondering na muurskilderye staar.  Maar bowenal kon niemand ongeraak staan voor die boodskap van Goddelike genade en versoening wat die 5 000 inwoners van 'n dorpie in die Beierse Alpe in Suid-Duitsland aan die wêreld wil oordra nie.

 

Volgens Josef Forstmayer is die passiespele "'n poging om die verhaal van Jesus se lyding op 'n sigbare wyse te vertoon aan gelowiges, maar ook ongelowiges, twyfelaars en soekendes."  Volgens die honderde duisende mense van regoor die wêreld, wat vanjaar se passiespele in Oberammergau bygewoon het, was dit 'n lewensveranderende, hartgrondige ervaring.

 

Gedurende die veertiende en agtiende eeu het duisende mense in Europa van die SWART DOOD, die mees gevreesde builepes, gesterf.  Voorsorgmaatreëls is getref om die verspreiding daarvan te keer, waaronder peswagters, wat moes keer dat die pes hulle geledere binnesypel.  In Oktober 1632 was daar 'n Kerktoewydingsfees in Oberammergau en Kasper Schisler, wat elders gewerk het, het begeer om tuis te wees.  Hy het die peswagters gefnuik en by sy familie aangesluit.  Kort daarna het hy en talle mense siek geword en gesterf.  Desperaat het die kerkleiers 'n gelofte gemaak, om Christus se lyding elke tien jaar met 'n opvoering uit te beeld, indien die plaag sou verdwyn.  Dit het gebeur soos hulle geglo het!

 

Tot 1939 is die opvoerings gehou op 'n verhoog in die kerk se begraafplaas waarna die ouditorium met 4750 sitplekke gebou is.  Die opelugverhoog is 45m breed, waarop tot 800 spelers én selfs donkies, honde en duiwe, gelyk kan verskyn.  Slegs inwoners, wat in Oberammergau gebore is, of alreeds 20 jaar daar bly, mag aan die passiespele deelneem.  Ter voorbereiding, onderneem die spelers 'n pelgrimstog na Israel en word hulle deur 'n Joodse professor onderrig in die omstandighede rondom Jesus en die Nuwe Testament. Die regisseur, Christiaan Stuckl, skep verskillende invalshoeke, waarop die spele baie lewensgetrou vertolk kan word, wat meebring dat kykers se ervaring daarvan verskil.  Onteenseglik egter, is dat dit 'n besonderse, intense en  persoonlike ervaring is.  Mens besef dat, benewens Jesus se geboorte, Paasfees die grootste bewys van God se genade is.  Die gemeenskap van Oberammergau het daardie belangrike boodskap tasbaar gemaak.  Mag ons elkeen 'n passievolle Christusfees ervaar!

Beriggewer: JCB

 

 

Oberammergau ('n lugfoto van die dorpie).

 

 

Die ingang van die ouditorium waar die passiespele aangebied word.

 



Posted on 23 December 2010

Dis die gebruik by Paarl Aandtak om die einde van die jaar af te sluit met 'n ontbyt of soortgelyke viering. Einde 2010 is 'n ontbyt gehou op lid Annemarie Stanton se pragtige plaas, Daizyview in die Paarl. Lede is trakteer op 'n heerlike ontbyt deur voorsitter Hetta van der Merwe, geskenkies is uitgeruil, toiletware ingesamel vir Rusthof-ouetehuis in Paarl-Oos en 'n DVD van Andre Rieu is vertoon.

 

Beriggewer: Una Engelbrecht

 

 

Tersia Pretorius, Martell Swart, Stella Mullineux

 

 

 

V.l.n.r. Gerbrecht van Rhyn, Geretha Brand, Petro Boshoff, Elzette Coetzer, Charlotte le Grange (staande), Lorraine van Staden, Hester Coetzee, Ebeth Basson

 

 

 



Posted on 22 December 2010

 

Die Leefstyl en Naaldwerk-komitee van Paarl Aandtak het onlangs 'n interessante spreker en demonstrasie aangebied.

 

Sharon Wilson van Wemmershoek doen al 10 jaar lank kralewerk, 'n aktiwiteit wat sy oorspronklik begin het as terapie vir rumatoide artritis. Van die inryg van krale het sy gevorder na "off-loom beading", waar elke kraal afsonderlik met gare geheg word. Sy gebruik hoofsaaklik Japannese silinderkrale, saadkrale, Swarovski-kristalle en gepoleerde krale wat sy invoer.

 

Haar praatjie het gehandel oor die geskiedenis van kralewerk deur die eeue en die kulturele en godsdienstige betekenis van kralewerk op 'n gemeenskap.

 

Pragtige kersversierings, gemaak deur haar, is vertoon en te koop aangebied. Sharon Wilson het 'n huiswinkel waar sy ingevoerde krale verkoop en sy bied ook klasse aan.

 

 

 

 

 

 

Stella Mullineux, Una Engelbrecht (sameroeper), Lina Prinsloo, Sharon Wilson (spreker), Amarie le Roux.



Posted on 21 December 2010

Bekende persoonlikheid en spysenier van Wellington, Retha Rix, was die gewilde spreker by Paarl Aandtak se Openbare Sake vergadering. Sy het staaltjies vertel van haar kollege-dae in die Paarl en haar beroep as spysenier. Die aanwesiges het aan haar lippe gehang.

 

Beriggewer: Una Engelbrecht

 

Agter - Hetta v.d. Merwe, voors. van Paarl Aandtak, Rentia Bartleman, Annie Wiese. Voor - Marinda Rall, Sirkelpresident van Paarl, Retha Rix - spreker.

 

 



Posted on 19 December 2010

Op Donderdag 18 November 2010 het Vredendal hul tak se tagtigste verjaarsdag gevier. 

 

Die Lyndans groepie onder leiding van Mev. Eileen van Dyk was ‘n fees om na te kyk. Dit het soms gevoel of ons ook kan opspring en saam dans en nie net tone te sit en tik op die maat van musiek nie. 

 

Mev. Sanet Ras voorsitter van die tak het ook by die geleentheid kentekens aan die volgende lede oorhandig:  10 jaar:  Dirkie de Jongh, Vilene de Kock en ons sekretaresse Elmarie Fouche    20 jaar:  Lettie Botha en dan was dit ook die voorreg van ons voorsitter Sanet Ras om aan haar moeder Mev. Suzaan de Wet wat al 89 jaar is en nog gereeld aan kompetisies deelneem, haar kenteken te oorhandig. 

 

Daarna het Mariana Pretorius eers vir ons twee pragtig liedere gesing sodat die emosies onder beheer kon kom.  25 jaar:  Ook vir ons sekretaresse Elmarie Fouche  was dit ‘n groot voorreg om ook aan haar moeder Mev. Johanna de Beer haar kenteken te oorhandig. Pat de Waal en Mariaan Stoumann het ook hul kentekens ontvang.  35 jaar:  Kotie Lintveldt en Sophia van Schalkwyk   55 jaar:  Dr. Anna Louw een van ons erelede.  Haar leuse is dat sy nog nooit ‘n vergadering bygewoon het waar sy nie iets uit geleer het nie. 

 

Mev. Rita Eitner het vir ons afgesluit met ‘n humoristiese voorlesing “So is ons – of hoe”.  Daarna het Elmarie Fouche net al die bedankings gedoen en het Mev. Sanet Ras ‘n tafelgebed gedoen.  Na die verrigtinge van die dag kom ons ‘n heerlike laat ontbyt geniet wat deur die bestuur en lede voorberei is en is daar heerlik saam gekuier.

 

Dankie aan elke lid wat van Vredendal VLV ‘n sukses maak. Wat dit ook al is dit is voorwaar ‘n wenresep.

 

Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 19 December 2010

Donderdag 18 November 2010 het Vredendal VLV tak ‘n heuglike dag gevier, want hulle was tagtig jaar.  Die tak is op 29 November 1930 gestig, slegs ‘n jaar nadat die Vroue Landbouvereniging van Kaapland deur Mev. Jossie Ackermann gestig is.

 

Ds Jan Fourie open met skriflesing en gebed. Hy wens die VLV tak geluk met die mylpaal wat hul bereik het.

 

Mev. Sophie Malan het tak se geskiedenis vervolgens in herinnering gebring.  Daar is 8 kerse opgesteek wat elk ‘n dekade voorstel. Die kerse is as volg aangesteek:  Eerste kers: Dr. Anna Louw   Tweede kers: Myrtle Beukes   Derde kers: Bertha Botha   Vierde kers:  Rita Burger  Vyfde kers:  Hendrika Louw   Sesde kers:  Hettie van Zyl   Sewende kers: Reinette Thiart en die Agste kers: Beatrice  van Zyl

 

Die vroeë geskiedenis van die vereniging sorg vir interessante leesstof.  Om net ‘n paar dinge te noem  wat tot stand gekom het as gevolg van die visie en energie van die verskillende voorsitters en lede deur die jare: ‘n Gesondheidsvereniging is in die dertigerjare gestig. In 1948 is nie minder as 250 bome in die dorp aangeplant. Spoedbeperkingsborde is in die dorp aangebring en die Kommetjie by Strandfontein is veilig gemaak vir kinders om te speel. Die Bloedoortappingsdiens is oorreed om ‘n kliniek op Vredendal te hou. Die eerste konserte is gereël met bekende kunstenaars soos Gé Korsten en Groep Twee.

 

Daar was omtrent nie ‘n enkele ontwikkeling in Vredendal en omgewing waarin die VLV nie ‘n  rol gespeel het nie. Wanneer ‘n mens die ou notules van die vergaderings lees, staan jy verstom oor die visie, talente en vaardighede waaroor die vroue wat lede was van die tak beskik.  Hulle het voorwaar nie hul talente onder die maatemmer verberg nie, sodoende het hulle ‘n wonderlike positiewe invloed in die gemeenskap uitgeoefen.

 

Tannie Hannetjie van Schalkwyk ‘n lid van die tak het ‘n spesiale gelukwensings boodskao geskryf. Graag deel ek dit met julle.  VLV VRDENDAL baie geluk met hierdie spesiale verjaarsdag!  Die 80ste!  Nog vele vrugbare jare en kreatiewe aktiwiteite toegewens!

Voorspoed!

 

“Alle dinge in hierdie wêreld is geskenke en tekens van God se liefde vir ons.  Die hele wêreld is ‘n liefdesbrief van God aan ons.

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 12 December 2010

Op 2 Desember om 19.00 het Langebaan tak die Afsluiting en Prysuitdeling gehou.  Dit was heerlik om 'n aandfunksie te hou.  Al die lede het dit vreeslik geniet om hulle feesklere en "Aspoestertjie" skoene aan te trek, en het hulle nie pragtig gelyk nie.  Die tafels was pragtig gedek, elkeen met 'n Kerstema.
 

Na die prysuitdeling is 'n ligte ete bedien.  Die lede het heerlik saamgekuier en was glad nie haastig om huis toe te gaan nie.
 

Almal was dit eens dat die aandfunksie groot bygeval gevind het, selfs by die oudste lede!

 

 
 

 

Al die pryswenners het "Sparkles" ontvang en dit gelyktydig aangesteek.  Dit het 'n feestelike atmosfeer geskep.

 

 

Lede wat kentekens ontvang het: Hilary Nepgen 25jr., Hanita le Roux 50jr. en Cora du Toit 40jr. Estelle du Plessis, Voorsitter het die kentekens oorhandig.

 


 

Pryswenners:

  • Mariaan van Niekerk - 3de - Blommerangskikking, 3de Handvlyt, 1ste Huisvlyt, Ywerigste nuwe lid
  • Dienie Rust - 3de - Blommerangskikking, 1ste - Naaldwerk
  • Hetta Mans - 2de - Blommerangskikking, 1ste - Handvlyt, 2de - Huisvlyt
  • Estelle du Plessis - 1ste - Blommerangskikking,1ste - Huisvlyt, 2de - Naalwerk, Meeste punte 

 

  

 

 

Motiveringsprys:  Grieta Truter en Trudie de Goede.

 

 

 

Die voorsitter, Estelle du Plessis het vir elke ou bestuurlid 'n teemussie gebrei om dankie te sê vir die jaar se harde werk.

 

 



Posted on 10 December 2010

Hier is 2 foto'tjies van Hantam-dames wat 'n werkswinkel oor teesakkievouwerk gedoen het.  Hulle het die tegniek aangeleer en geoefen, sodat hulle kan deelneem aan die kompetisie-artikel. 

 

Jonita en Janine besig met die vouery.


 

Sharon, Kirsten en Jonita besig om die vouwerk in mekaar te pas.

 

 



Posted on 10 December 2010

Die VLV tak van George het op 25 November 'n baie spesiale partytjie gehou vir Grace Seale, 'n erelid van die tak, wat haar 99ste verjaardag gevier het. Grace het reeds haar 70 jaar dienskenteken ontvang.

 

Blomme, ballonne en geskenkies - alles in pienk - en heerlike fyn eetgoed tesame me 50 gaste het 'n vrolike atmosfeer in Bergville Aftreeoord se eetsaal geskep. EN natuurlik die swartpotjies! Inwoners onder leiding van Anna du Toit het vir Grace gesing, onder meer die bekende liedjie Amazing Grace.

 

Haar dogter, twee kleinkinders, twee agterkleinkinders, suster en twee susterskinders het ook die geleentheid bygewoon.

 

Grace woon steeds in haar eie huis in Bergville Aftreeoord en is selfversorgend, danksy Nakkie, haar jarelange hulp en die gemeente van die Sewende Dag Adventiste. Grace stap nog onafhanklk met haar driewiel en lees graag haar Bybel en die plaaslike koerant. Grace het selfs aangebied om te help opruim na die partytjie!

 

Benjamin Franklin wrote: "We all wish to live long; ironically we don't want to grow old" Golda Meir said: "Age is like an aeroplane flying through a storm. Once you're on broad ther's nothing you can do about it."

 

Gracie, we love you, we honour you, we pray for you, we wish you lots of love and also lots of laughter. HAPPY BIRTHDAY!

 

Beriggewer: Henriette Stander

 

 

 

 

 

 

 

 

Grace by haar familie.

Categories