Posted on 28 February 2012

Sirkel: Cradock
Tak: Hofmeyr
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Teresa Opperman
Datum: 27 Februarie 2012


Marius Whelan, 'n onderwyser wat vir 3 jaar in Korea skoolgehou het, het die Hofmeyr VLV vroue toegespreek.  Hy deel mee dat Boeddhisme die belangrikste geloof in Korea is, en dat rys die hoofsaaklike opbrengs is.  Rys word op elke stukkie grond wat beskikbaar is verbou - en selfs onder plastiek in die winter. 

 

Besonderse kenmerke van die Koreane wat hy uitgelig het is die feit dat die mense van Korea baie klein van liggaamsbou is, en geen liggaamshare het nie.  Die nasie is baie gekultiveerd en netjies, die vroue lyk baie eenders en trek ook dieselfde aan, en almal se haarstyle en kleur stem ooreen.  Dit is 'n welvarende gemeenskap.  Japan en China is hul gunsteling vakansiebestemming en vir hulle is Afrika die donker kontinent.  Koreaanse vroue wil nie kinders baar nie, want dit verniel hul postuur.  Filippynse en Japannese vroue word ingevoer as 'comfort women'.  Daar bestaan geen individualiteit, almal moet dieselfde wees.  Rys is hul basiese voedsel, daar word selfs 'n  tipe ryspap voorgesit vir ontbyt.

 

Die Koreane vier 2 feeste - die Chinese Nuwe Jaar en die Voorvaderfees.  Dit is die oudste skoondogter se plig om na die voorvaders om te sien en ook na alle ou mense in die gesin.  Die ou mensies in Korea is almal kromgetrek en loop met kieries, terwyl die jong mense ernstig oorgewig is aangesien hulle nie meer aktief werk op die rysvelde nie, en net Westerse ryk kosse wil eet.  Loofkool word as groente geëet, dit word ingelê en is regdeur die jaar op die spyskaart.  Seekat word ook gedroog en as lekkerny beskou, en in die laatsomer word hondevleis berei om hul kragte op te bou vir die winter wat voorlê. 

 

In Korea lyk elke dorp presies dieselfde, die geboue ook, as jy dus een dorp ken, sal jy nêrens weer verdwaal nie. Alles is eenvormig. 

 

Die Koreane is geweldig gesteld op prestasie in hul skoolopset.  Skool is van Maandae tot Saterdae en na skool word daar tot 8 uur saans ekstra buitemuurse klasse aangebied, wat verpligtend is. In hul af tydjies speel die kinders net rekenaarspeletjies - geen kind speel ooit meer buite nie.

 

Tweedehandse artikels word nie herverbruik in Korea nie - dit word eenvoudig buite gelaat vir iemand wat dit sou nodig hê, en indien nie, word dit eenvoudig tot niet gemaak.  Daar is slegs 34 Engelse onderwysers in Korea - en hulle word spesiaal gekeur.  'n Buitelander word soos 'n buitelander behandel - want buitelanders lyk anders.  Marius sien Amerika as die eerste wêreld, Korea as die tweede wêreld en Suid Afrika as die derde wêreld.

 

Hy waarsku voornemende toeriste om nie koffiehuise in Korea te besoek nie - dit is vanwaar die prostitute werk.

 

 

Marius Whelan lewer 'n insiggewende praatjie oor sy jare as onderwyser in Korea.

 

 

Susan Vermaak en Estelle Kruger tydens Hofmeyr se 'groen' vergadering.  Estelle hou die Mary van der Linde trofee vas wat deur wyle Mary van der Linde, wat vir 70 jaar lid van Hofmeyr VLV was, aan die VLV nagelaat is.

 
Hofmeyr tak het 'n kleurprogram waarvolgens almal genooi word om volgens 'n spesifieke kleur aan te trek vir die vergadering. Die afgelope vergadering was die Groen vergadering.  Groot was die verrassing toe Estelle Kruger, sekretaresse, daar opdaag met 'n groen uitrusting wat 50 jaar oud is.  Sy het die pakkie by 'n vriendin van haar gekry toe hulle nog op skool was, en voorwaar, Estelle pas nog in die uitrusting.  Hoeveel VLV vroue kan daarop roem?

 

 

Hofmeyr in groen.



Posted on 25 February 2012

Sirkel: Namakwaland
Tak: Hantam
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Saamroeper: Emjee Louw
Datum: 24 Februarie 2012
Beriggewer: Janine Brynard

 

Dis deesdae 'n hele 'kop-in-die-grond'-filosofie wanneer dit by kind grootmaak kom.  Kundiges moedig ouers aan om 'uitsit-tyd' toe te pas waar die kind vir homself moet gaan uitwerk hoekom hy nie sy emosies kon beheer nie.  Dan is die siekte van ons tyd natuurlik dat ons te min tyd het om werklik tyd te maak vir ons kinders.

 

Kan dit die rede wees waarom ons met 'n onopgevoede, rebelse generasie sit wat geen respek het vir gesagstrukture nie?  Waar middelmisbruik en losse sedes aan die orde van die dag is?  Waar kinders eenvoudig nie meer weet hoe om te speel nie, wat nog te sê van lees? 

 

Die antwoord klink dalk eenvoudig, maar dít kan juis die wortel van die probleem wees:  Ons luister eenvoudig nie meer na ons kinders nie.

 

Iemand wat hierdie waarheid op die harde manier moes leer, is Elize Roodt.  Sy is die nuutste lid van Hantam VLV, wat tydens Emjee Louw se Opvoeding en Kultuurvergadering haar hart kom oopmaak het en haar ervaring as onderwyseres in 'n verbeteringskool met ons kom deel het. 


Elize was letterlik aan die diep kant ingegooi, toe sy geen benul gehad het dat die meisieskool waarvoor sy aansoek gedoen het nie 'n "normale"  of gewilde skool was nie.  Bitter gou moes sy leer hoe om te oorleef tussen geharde kriminele en misdadigers, lesbiërs en selfs sataniste.  Sy het besef dat 'n stukkie raad wat een van haar kollegas vir haar gegee het, naamlik om die kinders te ignoreer, die verkeerdste raad kan wees vir sulke getraumatiseerde jongmense.  Haar filosofie was om te LEER om na die kind te luister.   

 

Moenie 'n moeilike kind ignoreer nie.  Vra eerder wat wil hy vir jou vertel?  Die klein stemmetjie binne-in 'n kind praat soms harder as die kras uiterlike woorde en iemand wat uiterlik baie sterk en grof probeer lyk, is heel dikwels binne-in baie seer en broos.  Dalk wil hulle net graag gehoor word, sodat hulle gehelp kan word.  Moenie te gou oordeel nie!



Posted on 23 February 2012

Sirkel: Tygerberg
Beriggewer: Alet Colyn
Datum: 23 Februarie

 

Sirkel Tygerberg se lede het fluks kaste skoon gemaak en ons kon heelwat dose klere sorteer vir Ruyterwacht, Alta du Toit Sentrum en Stikland hospitaal.  Dit is deel van die armoedeverligtingsprojek wat hierdie jaar geloods word. 

 

Die sakke en dose klere wat tot dusver ingesamel is, het ons President se karavaan vol gelê - dit was nogal 'n gesig om te aanskou.

 

 

Hard aan die werk: Elmarie Human, Danela Smit, Caro Ekermans (pres), Karin Marais en Marinda du Toit.



Posted on 22 February 2012

Sirkel: Kalahari
Tak: Vryburg
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum: 21 Februarie 2012

 

Erika de Villiers, omgewingskonsultant en voorsitter van Stella VLU, het Vryburg VLV toegespreek oor water as bedreigde bron.

 

Suid-Afrika is ‘n semi-ariede land en alle varswaterbronne is onder druk, veral met die lae reënval, intense sonbestraling en hoë verdampingstempo. Vleilande, wat dien as natuurlike suiweraar van water, word toenemend uitgewis.  Standhoudende riviere het verander na seisoenale vloei, dit lei tot verlies aan biodiversiteit, plante en diere op die rooi datalys word uitgewis en indringerspesies neem toe. Plaaslike munisipaliteite voldoen nie meer aan die vereistes vir watervoorsiening en sanitasie nie.

 

Elke huishouding kan egter ‘n bydrae lewer om water te bespaar. Herstel lekkende krane en toilettte, gebruik skottelgoedwassers en wasmasjiene oordeelkundig, stort en bad in minder water en vang water uit die warmwaterkraan op vir latere gebruik. Plant waterwyse plante, verbeter grondvog deur kompos, maak een keer per week saans deeglik nat  en versamel reënwater.

 

Demonstrasies: Eurika Byleveld wys hoe om samoosas te vou en te vul. Gebruik gemmer, knoffel en masala saam met hoender of beesvleis. Trudie Kok verduielik die voordele van ‘n lugbraaier en wys hoe vinnig en gesond voedselsoorte gaargemaak kan word. Slegs ‘n klein hoeveelheid olie word gebruik en dit smaak net so voortreflik as gebraaide of gebakte disse.

 

 

Eurika Byleveld, Arine Bosch, koördineerder van die vergadering, en Erika de Villiers.

  

 

Arine, Ora, Daine en Charlotte.



Posted on 22 February 2012

Sirkel: SWD

Tak: Heidelberg

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Driekie Uys

Datum:  21 Februarie 2012

 

Sersant Van der Heyden (Bullet) het wenke en riglyne gegee vir jou eie voorkoming van moontlike misdaad.

 

Huisveiligheid:

• Hek en deur is jou veiligheidsbuffer tussen jou en misdadiger:  sluit of maak toe as jy daardeur gaan. Misdadiger monitor hoe jy deur oopmaak, en vir wie jy dit oopmaak.
• Bêre jou handsak en sleutels in ‘n kassie en NIE op kas by voordeur of op tafel in kombuis.
• Verander roetine van inkom en uitgaan uit  erf, nie altyd dieselfde ure  en dae nie.
• Meld vreemde persone in straat by polisie aan: ouderdom, kleur, hoe hy/sy beweeg in straat of omgewing.
• Let op vir verdagte voorwerpe soos cokeblikkies of ander merkers.
• Hou ‘n hond aan, hy is ook ‘n veiligheidsbuffer vir jou.

 

Inkopies:
• Los jou kosbare juweliersware tuis as jy gaan inkopies doen.
• Maak seker jou motor se deur is gesluit as met afstandbeheer gesluit word.
• Moenie enige kosbare artikels of geld op sitplek  los in motor nie.
• Hou jou handsak en beursie toegerits teen jou lyf.

 

Veiligheid by OTM:
• Moenie praat met vreemdelinge nie.
• Kloning van kaarte gebeur na ure.
• As kaart moet kanselleer gebruik tolvrynommer links van teller.
• As slot van teller verdag lyk of onveilig voel, kanselleer opdrag VOORDAT jy geheime kode indruk.
• Moenie met baie kontant by jou loop nie.

 

Polisieprosedure vir aanmeld van sake:

• Neem pen en boekie saam en SKRYF neer met wie jy almal praat vandat jy die saak aanmeld.
• Hulle is veronderstel om jou via sms op hoogte van die saak te hou.

 

 

LNR Helene van Rensburg (voorsitter) Sersant Riaan Van der Heyden, Nellie Venter (sameroeper Openbare Sake).

 

 

Twee nuwe lede, mev. Carol Wessels (oorhandiging van kentekens), Annatjie Keyser (30 jaar lid), Helene van Rensburg (25 jaar lid).



Posted on 22 February 2012

Sirkel: Worcester
Tak: Robertson Aandtak
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Dianne Coetzee
Datum: 21 Februarie 2012

 

Lede van die Robertson Aandtak het op 21 Februarie 2012 by die kunstenares, Edna Fourie, se galery op Mcgregor gaan kuier.

 

Edna was eers in die onderwys betrokke, waar sy onder andere kuns as vak aangebied het. Omdat sy iemand is wat van die stiltes hou, en in die stad bure vanaf die hel gehad het, het sy besluit om die onderwys te los en daardie stilte te gaan soek. Dit het sy op Mcgregor gevind. Sy skilder voltyds en vertel aan die lede van die veertjie wat haar altyd die regte besluite laat neem het. Die veertjie word dus ook op haar skilderye gesien.

 

Sy doen ook koppie-en-blom skilderye met die allermooiste detail. Besoek gerus haar webwerf by www.ednafouriegallery.co.za

 
Op die foto is Cecile Claassen (sameroeper Aandtak) en Edna Fourie voor 'n gebarste glas kunswerk en 'n koppie met blom skildery.

 



Posted on 22 February 2012

Sirkel: Tygerberg
Tak: Goodwood
Studierigting: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Alet Colyn
Datum: 21 Februarie 2012

 

Tydens Goodwood se Landbouvergadering het Antoinette le Roux, 'n lid van Panorama tak en ook 'n Opvoedkundige Beampte by Tygerberg Voëlklub, die lede kom inlig oor die migrasie van voëls. Jy kry trekvoëls, hulle trek weg en kom weer terug;  standvoëls trek nie weg nie en endemiese voëls is voëls wat net in sekere areas voorkom.
 

Sy het vertel van die "rekordhouer", nl. die Arktiese Sterretjie.  Hy vlieg die verste van alle voëls - vanaf die Arktiese broeiplekke na Australië en Antarktika.  Een Sterretjie is gering in Engeland en 3 maande nadat hy die nes verlaat het, is hy 22 000 km verder in Melbourne,  Australië gevang.  Daar word gereken dat die Bandstertgriet die langste, ononderbroke vlug oor die Stille Oseaan kan onderneem, 10 000 km sonder om te rus oor die oop see.


 

 

LNR Joey Redelinghuys, Antoinette le Roux (spreker) en Karin Marais (sameroeper).



Posted on 21 February 2012

Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 21 Februarie 2012


Soos almal weet, het die VLV se armoede-projek gedurende Augustus 2011 afgeskop met die tema: VLVK raak hart en hande. Afgevaardigdes van oor die hele Kaapland het almal se stoutste verwagtinge oortref met al die tekkies en nie-bederfbare produkte wat hulle saamgebring het na kongres te Villiersdorp. Hierdie produkte is later in die Overberg versprei aan behoewende persone  en organisasies.

 

As deel van hierdie armoede-projek, het PEP STORES ook aan boord gekom deur 20 geskenkbewyse ten bedrae van R250 elk te skenk wat op hul beurt aan die 8 takke in Sirkel Overberg uitgedeel is.

 

Bredasdorp-tak was gelukkig om 3 bewyse te kry en het die bestuur dit goedgedink om die name van al die skole in die Bredasdorp-distrik in ‘n hoed te gooi en so seker te maak niemand word bevoordeel nie en dus ‘n regverdige keuse te kon maak. So is die name van 3 skole getrek uit die hoed en is die bewyse dan ook gepas aan die Graad 1-leerkragte van onder andere Struisbaai Primêr, Wagenhuiskrantz Primêr en Zoetendal Akademie oorhandig. Die leerkragte van die onderskeie skole kan hierdie geskenkbewyse gebruik om skryfbehoeftes aan te koop vir gebruik in die klas.

 

‘n Groot dank aan PEP STORES vir die geskenkbewyse – dankie dat julle die VLV se hand gesterk het in hierdie projek. ‘n Reuse dank ook aan die skole wat bewyse ontvang het vir die groot taak wat hulle verrig om die toekoms van ons land, ons kinders, op te voed. Mag hierdie oorhandiging ook die leerkragte in staat stel om ‘n merkbare verskil te maak.

 

    

 

Lorraine du Toit (Voorsitter : VLV Bredasdorp) oorhandig ‘n geskenkbewys aan me. Melissa McDonald (Gr 1-leerkrag) en me. Maryna de Villiers (Skoolhoof by Struisbaai Primêr).

 

   

Lorraine du Toit (Voorsitter : VLV Bredasdorp) oorhandig ‘n geskenkbewys aan me. Prins (Gr 1-Leerkrag) en mnr. Marthinus (Skoolhoof by Wagenhuiskrantz Primêr).

 

Lorraine du Toit (Voorsitter : VLV Bredasdorp) oorhandig ‘n geskenkbewys aan me. Marlene Stemmet (Leerkrag : Gr 1-3, Zoetendal Akademie).



Posted on 20 February 2012

Circle: Tygerberg
Branch: Joostenberg
Field: Lifestyle
Correspondent: Juanique Vorster
Date: 20 February 2012

 

February is the month of love and in the spirit of Valentine’s Day the February theme was flower arrangements.

 

Member Anelda Louw (co-owner of A&A Flora in Joostenbergvlakte), gracefully opened her shop doors, in aid of teaching us the art of making a beautiful flower arrangement.

 

As the members arrived, each girl was issued her pre-selected flowers carefully prepared by A&A Flora. With aprons and scissors in hand, we were ready to start.

 

Anelda explained the “layers” to arranging flowers, starting with the greens using them as a frame as well as a filler. Once the frame was established, Anelda continued to explain the art of placing the selection of “highlight” flowers in uneven numbers strategically within your arrangement. Anelda gave useful tips with regards to using every last piece of the flowers and leaves, alleviating any wastage.

 

Once done, the girls could once again not believe what they were capable of creating.

 

Anelda’s mom Naomi (co-owner of A&A Flora), judged all of the arrangements, and prizes were given to the surprised winners.

 

The three winners will be representing Joostenberg branch at Conference, partaking in the beginner’s class for flower arrangements on the 7th.

 

A&A Flora Joostenbergvlakte:

Tel:  021-988 4138 / 021-988 1518
Address: 66 Owl Street, Joostenbergvlakte
Facebook: http://www.facebook.com/pages/AA-Flora/123796257641112
  

 

 



Posted on 18 February 2012

Weskus Sirkel
Tak: Graafwater
Beriggewer: Marna Lambrechts
Datum: 17 Feb 2012

 

Op maat van Ray Dylan en Elizma Theron se lied " Ons soek net country" het die VLV dames behoorlik die hitte trotseer en jolig saam "gewikkel", want oefening is uiters belangrik vir 'n gesonde liggaam en dit keer die gloede, aldus Claudie, die Gesondheidsaamroeper. Dit was nogal pret om die eerste vergadering van die jaar so loslittig af te skop. Vrugteslaai met roomys daarna , was 'n heerlike lafenis.

 

Dit was egter 'n Gesondheidsvergadering en ons het na Claudie se gesondheidskennis geluister.

 

Hier is haar sespuntplan teen depressie:


1. Probeer om weer normaal te slaap. Probeer eers boererate - 'n glas warm melk (met whisky).
2. Eet versigtig. Sekere kossoorte kan depressie aanbring. Speel speurder en snuffel jou depressie-
kosse uit. Hou boek van wat jy eet en hoe jy die volgende dag voel.
3. Vermy enige vorm van afsondering. Moenie alleen by die huis sit nie. 'n Vakansie op 'n afgesonderde plek is petrol op die vuur vir depressie.
4.Reken op jou familie om 'n bskermende kringetjie om jou te vorm. laat hulle jou gerusstel dat alles weer sal regkom. Dit sal.
5. Wees fisiek besig. Doen iets met jou hande. Spit in die tuin of hamer spykers êrens in. Vlug in
bedrywigheid in vir die swart hond wat jou agtervolg.Vir soveel vroue is werk hul verweer teen
depressie.
6. Behou jou geloof. Moenie dat die moegheid en angs jou daarvan weerhou om te bid nie.

 

Categories