Posted on 16 November 2013

Sirkel: Kalahari
Tak: Mimosa
Beriggewer: Erika Linde
Datum: 15 November 2013

 
Die dames van Mimosa tak het vanjaar hul afsluiting in Vryburg gehou by Villa Brocant. Hul het 'n heerlike ontbyt geniet en ook die jaarlikse prysuitdeling terselfdertyd gehou.
 

 

Die voorsitter, Helmine Haasbroek, het dames aangemoedig om die vergaderings gereeld by te woon. Twee dames was honderd persent teenwoordig, en 2 nuwe lede het aangesluit.

 

Sy het onder meer genoem dat die dames vanjaar kon leer om met skilferkors te werk, Valentynsdag te vier saam met orgaanskenking,  sylintborduur asook laslap en kwiltwerk, geskenke keurig versier. Ook was daar 'n heerlike uitstappie na 'n taksidermis wat alles aan die lede gebied word om te geniet. Boonop is daar in mekaar se lief en leed gedeel en grappies vertel.
 
Daar is gelukkige trekkings gehou, en die betrokke dames wat 'n geskenkie ontvang het moes kekkel of kraai. Hul kon 'n voordrag lewer, liedjie sing of 'n grappie vertel. Dit het groot byval by die lede gevind.



Posted on 16 November 2013

Sirkel: Cradock

Tak: Hofmeyr

Datum: 15 November 2013

 

Adelé Vermaak van Hofmeyr het tydens die pas afgelope gradeplegtigheid Ulco die volgende kwalifikasies Cum Laude behaal.  Development Practice NQF level 4,  Certificate in ECD NQF level 4, en die Higher Certificate in ECD NQF level 5.

 

 

Adelé het haar opleiding gedoen met behulp van ‘n beurs van die Custodia Trust en het klasse bygewoon in Delportshoop in die Noord Kaap, sowat 600 km vanaf Hofmeyr. Sy was vir die hele termyn van haar studies ‘n onderwyseres by Schoombee Primêr in Middelburg distrik en ook ma van 2 woelige voorskoolse kleuters.

 

Bowendien was sy ook vir die afgelope 5 jaar die tak se sameroepster van Kunste & Handvlyt en is sy ook ‘n aktiewe bemarker van Annique skoonheidsmiddels.

 

Hofmeyr is trots op haar prestasies.  Veels geluk Adelé.



Posted on 16 November 2013

Sirkel: Noord Oos Kaap
Tak: Dordrecht
Berrigewer: Marieka Bekker

Datum: 15 November 2013

 

Om ‘n 80ste verjaarsdagpartytjie te hou is groot, maar om ‘n 80ste VLV verjaardagpartytjie te hou is besonders! Armsvol pasta is gekook, honderde wortels is gerasper, tonne aartappels is geskil en wavragte vol vleis is gekook!

 

 

Spyskaart en voorgereg.

 

In 1933 is Dordrecht se VLV gesig deur Me Munnik (President), Me Sauer (Visepresident), Mev Scholtz (Tesourie) en Me van der Merwe (Sekretaris). Die ledegeld was £2/6d wat in vandag se randwaarde R16.31is. In 2013 is die amptelike ledetal 15 en die ledegeld is so ‘n klein bietjie meer.

 

15 November 2013 het die VLV lekker partytjie gehou met 140 mense in die NG-Kerksaal te Dordrecht. Reeds die middag het dames en here stalletjies in die voorportaal gehad waar hulle allerlei items te kope aangebied het.  Van die stalletjies sluit in Llewellyn Venter met sy verskuifbare krale, Christa Venter (Met Liefde), VLV-Dordrecht, VLV-NOK, Izanne Schutte, Natalie en Lieb Strooberg (Mosaic 4 Africa),  en Elmien Cotterrell (Aloe Vera).

 

Met tafels pragtig versier, gaste vrolik en opgewonde,  en kos keurig uitgesit, het Lenie Fourie (Dordrecht takvoorsitter) die aand geopen  deur almal welkom te heet en bedanking vir elke VLV lid se harde werk en bydraes deur die jaar. Ds. Boshoff van Steynsburg het geopen met gebed. Phillip Kotze was die aand se eregas en het ‘n inspirerende toespraak met sang aangebied.

 

Daarna is die VLV-lede vereer met bekers vir die volgende plekke:

Meeste Punte vir 2013:
Lenie Fourie
Elize Rossouw
Marieka Bekker

Meeste inskrywings vir 2013:
Lenie Fourie
Elize Rossouw
Anna van Niekerk

 

Danie Fourie is vereer as die man van die jaar vir sy toespraak oor Alkoholisme in September en Anna van Niekerk is vereer vir haar 35 jaar se aktiewe betrokkenheid by die VLV. Lenie het ook aan elke lid ‘n pragtig bord met die VLV se wapen op gegee as bedanking.

 

 

Danie en Lenie Fourie – Man van die Jaar 2013.

 

Ons bedank graag die volgende borge vir hul bydraes:
Lourens Feuth, Peter Cloete, Danie Fourie, Cotterrell Constructions, Van Lil Wolkopers Dordrecht, Weirs Agri Dordrecht, TLU, Gert Goosen Versekering, OVK Dordrecht, FNB Dordrecht, JJ Fruit and Veg Dordrecht, Bob Mckenzie Studios, Annes en Hannalize Kruger, Hansie en Rene Coetzer, Clanville Boerevereniging, Kwiksave Dordrecht, Ronel Du Preez, Aliwal Ford, Aliwal Drukkers, PSG Aliwal Noord, Eldre Apteek Aliwal Noord, Metro Fruit and Veg Aliwal Noord,   Vic Uitrusters Aliwal Noord, D& E Rekenaars Aliwal Noord, Mooiuitsig Wynkelders Aliwal Noord, GSM VodaPhone Aliwal Noord, Theron Du Plessis Aliwal Noord,    The Pantry Aliwal Noord, Aliwal Toyota, Sasko, Friendly Grocer Aliwal Noord, Doran’s Apteek Aliwal Noord, Reabow Livestock Elliot, Mountain Shadows Elliot, Miracle Magnesium.

 

Ons wil ook ‘n spesiale dankie aan Lenie Fourie en Marieka Bekker gee vir hul harde werk om die borge in te samel.

 

Die aand was ‘n reuse sukses en dis met groot trots dat ons graag elke borg, gas en VLV-lid bedank. Graag wil ons ook vir die gemeenskap van Dordrecht dankie sê vir hulle getroue en lojale ondersteuning, sonder julle kan ons VLV nie so suksesvol voortbestaan nie. Dankie ook aan elke persoon wat ‘n kaartjie vir die aand gekoop het, ons waardeer dit opreg. Ons is opgewonde oor die volgende 80 jaar!


VLV-groete, Dordrecht tak.

 

 

 

Dordrect tak 2013 – LNR voor: Anna van Niekerk, Annatjie Coetzee, Lenie Fourie, Martha Schmidt, Agter LNR: Lida Rossouw, Lollie Venter, Lynette Pelser, AJ Venter, Elize Rossouw, Koekie Oosthuizen , Bertha Rossouw, Marieka Bekker en Laetitia Cotterrell (met Sonja Sauer).

 

 

Anna van Niekerk en Lenie Fourie.



Posted on 15 November 2013

Sirkel:  Weskus
Tak:  Piketberg
Beriggewer:  Riana Richter
Datum: 14 November 2013


Lede van VLV Piketberg het,  vir oulaas vanjaar,  lekker gekuier by ‘n potpourri vergadering wat deur die Bestuur aangebied is.


Die jeugleraar van die plaaslike NG Kerk,  Driaan Pretorius,  het die verrigtinge met ‘n baie gepaste boodskap geopen om die vrou van vandag te herinner aan die besondere waarde wat God aan haar heg en dit toegelig deur twee kort video’s. 

 

BADISA en die plaaslike ACVV tak het die skoenboksprojek bekend gestel en d.m.v. ‘n video die nood van behoeftige kinders uitgelig.  Bydraes is deur lede gebring en vier bokse met geskenkies vir kinders is aan hulle oorhandig.


Astrid Rousseau, ‘n plaaslike skoonheidsterapeut,  het oor die fenomenale skoonheid en medisinale waarde en gebruike van essensiële olies vir die vel gesels,  asook ‘n gesigmassering demonstreer.

 

‘n Groot verskeidenheid naaldwerkbenodigdhede en laslapmateriaal,  asook geskenke,  is deur plaaslike winkels en ‘n winkel van ‘n buurdorp uitgestal. 


Puik items in sang en kitaar,  o.a. uit The King and I en Fiddler on the Roof,  deur 2 Graad 11 leerders van die plaaslike hoërskool,  met begeleiding deur hul onderwyseres,  Alison Muller,  het die VLV jaar op ‘n hoë noot afgesluit.

 

Elzanne Richter en Anselle van Schalkwyk het lede ingelig oor die skoenboksprojek, 

  

 

Van links verskyn Dinette Lochner (sekretaris) en Nicoline Brown (voorsitter) by Anselle en Elzanne met lede se bydraes tot die projek.



Posted on 15 November 2013

Sirkel: Suid-Ooskus
Tak: Loerie
Beriggewer: Hester Marx
Datum: 14 November 2013

 
Vrolik en vir 'n volle drie ure neem ons afskeid van 2013 by Le Chameleon op Humansdorp. Verrassingspakkies (sommer twee elk) word uitgedeel. En natuurlik dadelik oopgemaak!

 

 

Tafels gedek voor die vrolikheid.


 Henry Grobler het weereens die meeste punte versamel gedurende die jaar en gaan huis toe met 'n karton vol trofeë.

 

 

Henry Grobler met haar trofeë.


Die lid van die jaar is Charlo Blignault. By haar klub vir bejaardes, Klub Cha'lo, geniet die bejaardes van Thornhill die lewe. Hulle oefen, speel speletjies en gaan op uitstappies na plekke waar hulle andersins nooit sou kom nie.

 

 

Jean Steenkamp (voorsitter) en Charlo Blignault (lid van die jaar. 


Na al die vrolikheid, herinner die voorsitter ons sowaar aan 2014 se kompetisies. Sy wil al in Januarie sekere inskrywings vir die konferensie hê. Regtig!



Posted on 14 November 2013

Sirkel: Paarl
Tak: Malmesbury
Beriggewer: Mia Louw
Datum: 13 November 2013

 

 

Links bo: Erina Myburgh, voorsitter, bedank ons twee baie bekwame beoordelaars vir hulle getroue en harde werk hierdie jaar, Lillebeth Slabber en Anna Lesch.
Onder regs: Erina Myburg die voorsitter, Lizette Lewis kry haar pap-pot  vir ‘n nuwe lid, Helna van der Spuy het ‘n 5 jaar knopie gekry, Helena Visser help en Anna Lesch doen die oorhandigings.

 


Bo regs: 4 Dogters van die Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM) het vir ons hulle Eisteddfod gediggies kom opsê. Vlnr is Corli de Clercq, Mienke Truter (Trofee wenner), Anche Louw  en Tanielle Jordaan.
Onder links: Erina Myburg, uittredende voorsitter, ontvang ‘n geskenkie van Rita Kruger onder-voorsitter. Rita bedank haar vir haar harde werk en haar bydrae tot ons tak.
Onder middel: Na die uitruil van kersgeskenkies tussen lede lag Elsa du Plessis en Nelia Kirsch saam oor Nelia se kersboomversierings wat nou gebruik word as haarknippies!



Posted on 14 November 2013

Tak: Kuruman
Sirkel: Kalahari
Studierigting: Gesondheid
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 13 November 2013

 

Marianne Vorster en haar groep het ‘n baie insiggewende vergadering aangebied en die lagspiere ook tot hul uiterste laat werk. Cindy Viljoen is die dieetkundige op Kathu en het die lede kom toespreek oor ‘n gebalanseerde dieet. Sy waarsku teen kitsdiëte waar een of meer voedselgroep heeltemal uitgelos word. ‘n Bord kos moet verteenwoordigend wees van al die voedselsoorte: proteïene, groente/vrugte, vette/olies, koolhidrate en stysel en porsiegroottes moet dopgehou word.


Waak teen die drink van groot hoeveelhede vrugtesap- die liggaam het die onverfynde vorm van die vrug nodig en vrugte bevat baie suiker waarvan jy dan onnodig baie inkry in die versapte vorm.


Eet eerder kleiner porsies meer gereeld as om jou op ongereelde basis te ooreet. Die gewig wat jy binne een week afskud keer net so vinnig weer terug. Kinders moet die gesonde leefstyl van net genoeg eet en ook gereelde oefening van kleins af aanleer. Energie wat ingeneem word (deur voedsel) moet gebruik word anders word jy vet!

Sy het kortliks verwys na die bekendste eetsteurnisse wat voorkom.

 

‘n Demonstrasie van maklike geregte in Argilla potte het almal weer bewus gemaak van gesond kook. Veral mense wat net vir een of twee moet kook, kan baat by die metode om alles in een pot gaar te maak!

 

Die lagspiere is behoorlik geprikkel deur lid Liza Burger wat die lede teenwoordig uitgedaag het om soveel as moontlik malvalekkers in hul monde te stop! Dit was ‘n groot lekkerte en gemors natuurlik, en die foto’s sal liefs nie geplaas word nie! ‘n Heerlike manier om ‘n besige jaar af te sluit!

 

 

Lede van die Gesondheidgroep wat die vergadering gereël het. Agter: Liana Muller, Liza Burger en Marianne Vorster (saamroeper). Voor: Susan van Straten en Elmarie Theron.

 

 

Liana Muller en die dieetkundige Cindy Viljoen in ligte luim na die vergadering oor eetsteurnisse.

 

 

Liza Burger (links) en Ansie Cilliers wat die lede laat skater het met 'n ysbreker toe hulle gekyk het wie kan die meeste malvalekkers in hul monde stop.



Posted on 14 November 2013

Sirkel: Weskus
Tak: Velddrif
Beriggewer: T. van Dyk
Datum: 13 November 2013

 

Kiewiet Bester van die hotel het vir ons bederf met ‘n heerlike ete. Dit was ‘n mooi aand,  terwyl almal met hulle gesinne saam kuier. Pryse is uitgedeel soos daar presteer is deur die jaar.

 

 

Here, elke belofte van U is ja en amen!
Christus word gebore in ‘n nederige stal, maar die engele juig oor die vrede wat oor die hele aarde neerdaal,
oor U welbehae Prys U Here!.

 

 

 



Posted on 14 November 2013

Sirkel: Weskus
Tak: Eendekuil
Beriggewer: Elmarie Cumpsty
Datum: 13 November 2013


Ons vier Kersfees…

 

Met sagte Kersfeesmusiek op die agtergrond hou Eendekuil tak hul afsluitingsfunksie. 

 

Die sameroeper van Leefstyl, Ilse Hanekom; Kunste & Handvlyt, Sandra van Zyl; Landbou & Tuinbou, Nellie Mouton, versier die Kersfeestafel en beeld so hul portefeuljes uit. 

 

 

Lede draai geskenkies toe deur gebruik te maak van interessante papier en/of materiaal. Kruie word ingespan as blomme op die pragtig gedekte tafel.

 

 

Mignon Cumpsty doen ‘n sjokoladedemonstrasie – hoe om sjokolademousse as nagereg te versier.

 

 

Kenteken vir  diensjare aan Ilse Hanekom – 25jr.

 

  

Ilse Hanekom, Mignon Cumpsty, Elmarie Cumpsty.

 

Mag elke VLV-lid en haar gesin die VREUGDE en VREDE ervaar hierdie Kersfees. Voorspoed vir die Nuwe Jaar!



Posted on 13 November 2013

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Beriggewer en fotograaf:  Rina Coreejes
Datum: 12 November 2013


Die verassing bly groot….sodra jy dink jy is nou in die middel van nêrens, dis net Karoobossies en skape langs ‘n treinspoor, dan moet jy weet…iets wag om die draai…..


So was dit dan met De Aar tak se laaste vergadering vir die jaar. Dinsdag 12 November daag die lede en vyf van hulle gades by Moedergemeente se saal op en almal is aangetrek om op “Safari” te gaan.  Die 55km grondpad word met 3 volgepakte voertuie aangedurf.


Julian en Martisan Theron wag ons in by hulle pragtige Lodge en ons voel soos internasionale gaste om, in die vreeslike hitte, die koelte van so ‘n pragtige plek te mag betree. Die Lodge het ‘n pragtige uitsig oor die veld en mens voel of jy tot in die verskiet kan sien. Martisan vertel ons wat dit behels om ‘n wildsplaas te bedryf en hoe die Here vir hulle die pad aangewys het om te loop.  Dit is ‘n bedryf wat die eienaars tussen Maart en September baie besig hou en tyd vir enige iets anders is daar byna nie.  Ook staaltjies met die bou van die Lodge, is met ons gedeel.  Die Lodge is vol van die pragtigste ou meubels en ons het om ‘n yslike “sleeperhout”-tafel gesit.  Na die lede haar toegegooi het onder die vrae het ons lekker tee gedrink en koek geëet terwyl ons gewag het dat dit bietjie koeler word.


Julian, Martisan en een van die lede se bakkies is toe die veld in.  Die lede was soos opgewonde kinders agter op die bakkies.  Eerste het Julian ons in sy “ram-kamp” ingeneem en ons monde het oopgehang om die pragtige Springbokramme te sien.  Daar was, buiten die gewone Springbokke, ook Swart-Springbokke, Wit-Springbokke en Koper-Springbokke.  Die ramme word apart gehou sodat Julian die bestes kan kies om mee te teel. Ander diere wat ons nog gesien het was oa Blesbokke, ‘n groot trop Gemsbokke  en Sebras. Die voëlkykers kon ‘n hele paar spesies afmerk en selfs 2 skilpaaie het verby geskuif.


Wat ‘n spesiale manier om ‘n dag te verwyl.  Baie dankie aan die Therons.

 

 

Agter:  Christie Venter, Gerard de Preez, Willie Smith, Koos Theron en Julian Theron.

Middel:  Martisan Theron, Jacoba van der Merwe, Margie Meiring, Charmaine Smith, Sannie Theron, Leana du Preez, Drieka Roos en Sorin Liebenberg.

Voor:  Millicent Venter, Welcie Kirsten, Malinda Buhrmann, Anna van Zyl, Issie van der Merwe en Marie Pretorius.

Categories