So ‘n paar jaar gelede het ek ‘n spreekbeurt by Kongres gehad. Tydens teetyd kom daar toe ‘n redelik bejaarde afgevaardigde na my toe om te vra of ek “die dametjie van Kwa-Kwa” is. Sy wou ‘n paar woorde met my wissel, maar omdat sy redelik agter in die saal gesit het, kon sy nie so lekker sien en hoor nie. Sy’t net geweet sy moet soek vir iemand met sulke “rooi, stokkieshare”. Nodeloos om te sê, sy’t my gevind, want die hare kon sy seker nie miskyk nie en sedertdien is die Acqua lede as die Kwa-Kwa’s bekend.
Nou ja, die Kwa-Kwa’s het gisteraand weer ‘n feestelike vergadering van epidérmiese proporsies uitgepak! Jy’t net (trou)klokke hoor lui by die King Edward Hotel. Jy kan maar sê ons het ‘n ‘internasionale’ bruilofsfees van ‘n vergadering gehad. En soos dit enige sodanige feestelikheid betaam, was dit nie net mooi nie, maar buitensporig vrolik. Synde Opvoeding & Kultuur se beurt het ons gepoog om kennis te neem van ander kulture se tradisies en gebruike om ‘n paartjie in die eg te verbind.
In die Moslem geloof is dit die vrou wat met die hulp van ‘n tussenganger die man om sy hand vra. Eens hy die huweliksaansoek aanvaar het, gee hy ‘n mahar (meher, mahr) aan die bruid. Dit is ‘n geskenk en behels ‘n finansiële ooreenkoms tussen die bruid en bruidegom. Die bruid dikteer die waarde en aard van haar geskenk, wat kontant, eiendom of juweliersware kan wees. So ‘n geskenk is uitsluitlik vir haar persoonlike gebruik en waarborg haar ‘n mate van vryheid in die huwelik. Baie Moslembruide dra tradisionele wit trourokke, maar daar is tog ook baie ander wat die rooi shalwar-gameez verkies. Henna word gebruik om die bruid se hande en voete te versier. Die tradisie kom uit ‘n tyd toe daar geglo is, dat dit die bruid teen die “evil eye” sal beskerm.
’n Bruilof in die Griekse kultuur is ‘n groot fees, wat reeds met die verlowing begin. Die verloofringe, wat ook as troupande dien, word twee keer geseën. Voor die huwelik word die ringe aan die linkerhand gedra. Tydens die huwelikseremonie word die ringe vir die 2de keer geseën, maar dan word die ringe na die regterhand verskuif. Versuikerde amandels word direk na die seremonie, in onewe getalle, aan die gaste gegee om te bevestig dat die paartjie onafskeidbaar is. Daar is twee danse wat groot betekenis inhou vir die bruidspaar. Hulle doen die Isaiah dans tydens die seremonie en neem deel aan die Kaslamantiano, ‘n sirkeldans wat tydens die onthaal gedoen word.
Griekse troues is jolige affêres, maar Acqua het gisteraand nie ’n duit teruggestaan toe dit by joligheid gekom het nie! Evy Eflambiou het die Kaslamantiano gedemonstreer en kort voor lank het die Kwa-Kwa’s soos wafferse Grieke ge-step en ge-kick op die maat van die meesleurende Zorba. Ons het tot borde gegooi (gebreek en dit was bisque-borde!!)) om ons waardering te toon vir die dansers.
Maar wat is ‘n troue dan nou ook sonder ‘n aangenaamlike jong man? Mnr. SA 2010, Denver Burns, het ‘n vinnige draai gemaak om te vertel van die kompetisie, die beoordeling en wat hy in die vooruitsig stel vir sy jaar as rolmodel en ambassadeur. Sowat van glimlaggende gesigte toe hy agter die mikrofoon inskuif, het jy lanklaas gesien.
Kwakkie, Acqua se “mascot”, was getooi in ‘n ontwerpers trourok, spesiaal vir haar gemaak deur haar eie ontwerper, HEINZ, van Heinz InStyle. Kwakkie het natuurlik ook nie die geleentheid om saam met Mnr. SA 2010 afgeneem te word, laat verbygaan nie.
NS
Die venue was mooi getooi, soos dit 'n onthaal betaam!

Tafeldekor, versorg deur Angelic Wonders en Flower & Gift Shop (Acqua lede, natuurlik)

Kwakkie saam met Denver Burns. Laat 'n man darem nou so 'n mooi meisie in die arms kan hê!

Mnr. SA 2010 saam met 4 van Acqua se Sexy Seven, Wanita, Annelize, Lezinda & Brenda
