Posted on
26 November 2011
Beriggewer: Sharon Mac Donald
Datum: 25 November
Mev. Essie Fick was in 1951 as die 7de voorsitter van Alexandria tak gekies. ‘n Pos wat sy vir 14 jaar gevul het. Sy het ook vanaf 1951 tot 1974, vir 19 jaar, op Sirkel Middelland se bestuur gedien. Sy was sameroeper van Opvoeding en daarna sekretaresse. Tannie Essie is ‘n erelid van Alexandria tak en het so pas haar 70 jaar kenteken ontvang.

Die lede het kolwyntjies gebak en dit in ‘n vorm 70 gepak. Hulle het saam met haar en die inwoners van Huis Diaz, waar sy inwoon, gaan kuier.
Alexandria tak is trots op tannie Essie se besonderse mylpaal.

Die voorsitter, Sharon Mac Donald, steek die 70 jaar kenteken vir tannie Essie aan.

Kolwyntjies uitgepak om 70 te vorm.

LNR agter: Hannalie Nel (lid), Mara van der Mescht (sameroepster – Openbare Sake), Louise van Vuuren (tesourier), manlike inwoner van Huis Diaz, Ria Schoeman (sekretaresse). Voor, saam met tannie Essie, sit nog ‘n inwoner en haar agterkleinkind.
Posted on
07 November 2011
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Anlouise O'Connell
Datum: 27 Oktober 2011
Op 27 Oktober 2011 het vier van Alexandria tak se lede deelgeneem aan Die Vrou van die Boer kompetisie, geborg deur die Landbou Ko-operasie van Alexandria.
Beoordelaars vanaf Steytlerville en Alexandria distrikte het die kandidate, Sharon MacDonald, Heila de Villiers, Hester Oosthuyzen en Ria Schoeman, aan 'n streng keuring onderwerp. Die klem het geval op die vrou se ondersteuning aan haar man, haar aktiewe bydrae tot, kennis van en gesindheid teenoor die boerdery, asook haar maatskaplike betrokkenheid by die werknemers op die plaas.
Alexandria tak is trots op hulle lede wat elk in hulle eie omstandighede goed gevaar het. Almal dra hulle gelukwense oor aan Sharon MacDonald, wat as die wenner aangewys is.

Sharon MacDonald (voor) wenner van Vrou van die Boer kompetisie, hier saam met die 3 beoordelaars, Lucia Dorfling, Christelle Knoesen en Marius Human(verteenwoordiger van BKB).

Sharon MacDonald, Heila de Villiers, Hester Oosthuyzen en Ria Schoeman saam met Lucia Dorfling en Christelle Knoesen.
Posted on
23 July 2011
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Anlouise O'Connell
Datum van gebeurlikheid: 23 Julie 2011
Alexandria tak het op 23 Julie 'n Damesoggend aangebied met die tema Olie in my Lamp. Die spoggerige geleentheid het plaasgevind in Boknesstrand se Gemeenskapsaal. Daar was 149 dames en selfs 3 manne wat die oggend bygewoon het.
Die geselligheid is afgeskop met ‘n modeparade. Formele uitrustings en slenterdrag van Foschini, Out of the Blue en Milady's is deur lede van die tak vertoon. Die modelle het gewissel van jonk tot oud, slank tot mollig. Dyllis Roe het gedemonstreer hoe om treffende rangskikkings met pampoene te maak. Annelie Botes, bekende skryfster, het met haar eenvrouvertoning die gehoor se harte gesteel en sommer nog baie aanhangers bygekry. Pieter Rademeyer het menige tante se knieë lam gehad met sy pragtige stem. Die verrigtinge is afgesluit met heerlike sop en vars broodrolletjies.

Rangskikking van rooi hibiskusse (deel van die kleurskema) deur Hannelie Nel.
Hier vertoon Linda Putzier 'n slenterdrag uitrusting van Foschini.

Artikels, deur die lede gemaak uit herwonne materiaal, word uitgestal.
Posted on
10 June 2011
Die Leefstyl Portefeulje van Alexandria tak bied 'n heerlike damesoggend aan op Saterdag, 23 Julie. Die geleentheid sal plaasvind in die Gemeenskapsaal te Boknesstrand. Die oggend behels 'n modeparade en 'n uurlange eenvrouvertoning, Die Olie In My Lamp, deur die alombekende skrywer, Annelie Botes.

Omring deur die lig van kerse neem Annelie Botes die gehoor met grepe uit haar rubriekwerk vir ’n uur lank op die paaie van toentertyd. Paaie waarop ons almal al gereis het. En soms in die stil middernaguur gepleit het: Give my oil in my lamp, keep me burning till the break of day … Dis ontdaan van swets, politiek of oppervlakkige ligsinnigheid. Dit gryp aan die hart en is rukkend-menslik. Dis vir elke aardsling onthutsend om in die ounag gestroop te staan voor sy berge en dale; om te kyk na die weerkaatsing van sy eie siel en gewete.
Maar andersyds ook om bly te wees en ’n hosanna te neurie oor dae toe die lewe mildelik gegee het. Die lewe is nie altyd ewe maklik nie, sê Annelie. Tog, die lewe is ook nie so eindeloos moeilik nie. Ons moet alleenlik maar versigtig werk met die olie in ons lampe. Sodat die uur voor dagbreek ons nie in donkerte vang nie.
Daar sal verversings beskikbaar wees en die VLV lede sal hulle kunstige handewerk uitstal. Dit alles vir net R50.00 pp.
Vir meer inligting kontak: Anlouise Tel.046 6540447/ 083 960 4973.