Posted on
05 November 2011
Beriggewer: Helene Hugo
Brackenfell tak het op 3 November die groot eer gehad om vir Kay Schietekat, jare lange tesourier, 'n verrassingspartytjie - presies op die dag van haar tagtigste verjaarsdag - te reël.
Die bestuur het as gasvrouens die tafels pragtig gedek. Isabel Swanepoel, 60 jaar lank reeds 'n getroue vriendin en mede VLV lid, het 'n koek gebak waarvan geen krummel oorgebly het nie. Heerlik verby! Daar was ook 'n groot koek wat '80' uitgebeeld het. Ander eetgoed is in ware VLV tradisie in oormaat voorsien. Die lede het almal hul liefde en waardering vir Kay getoon deur 'n kontantgeskenk saam met 'n pragtig versierde lêer aan haar te gee. Die lêer bevat bydraes van elke lid wat hul besondere gelukwensings aan Kay verwoord.
Vir elkeen wat haar ken, sal Kay altyd die verpersoonliking wees van wat mooi en goed is. Haar liefde vir haar Skepper straal uit alles wat sy doen en sê. Sy skroom nie om 'n vreemdeling aan te spreek as sy reken dat hy skade gaan doen nie. 'n Voorbeeld hiervan, waarvan 'n lid kan getuig, is toe sy 'n straatloper aangespreek het wat 'n brandkraan wou oopdraai vir water: "Moenie oopdraai wat jy nie weer kan toedraai nie. Jy gaan nog baie trane stort oor hierdie vermorste water!" Sy het al soveel ingebou in ander se lewens - ons kan net baat deur meer Kay se voorbeeld te volg.
Doen so voort, Kay, en bly die pragtige mens wat jy is!

Groepfoto van Brackenfell tak.

Kay Schietekat & Fanny le Roux (Voorsitter).
Posted on
12 October 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Elsabe Swart
Tydens ons Oktober vergadering het Mev. Ann O’Donovan van die projek “Precious Treasures” ons besoek om 81 truitjies in ontvangs te neem wat deur ons lede gebrei is. Daar is nog truitjies oppad en ons sal graag uiteindelik 100 wil brei.
Die voorsitter, Fanny le Roux, het aan Mev. O’Donovan ‘n groot doos vol babatruitjies vir die prematuur vigsbabas wat in die Tygerberg hospitaal gebore word, oorhandig. “Precious Treasures” is ‘n projek wat hulle al vir 10 jaar beywer om klere vir die prematuur vigsbabas by Tygerberg hospitaal in te samel.
Ann vertel dat dit soms gebeur dat mammas na geboorte huistoe gaan met ‘n baba wat in koerantpapier toegedraai word en onder die ma se T-hemp teen haar lyf gedra word vir warmte, omdat sy doodeenvoudig geen klere het vir die baba nie. “Precious Treasures” probeer ‘n “doeksak” pak vir babas wat bestaan uit die volgende: 1 kombersie, 1 frokkie, 1 babygrow, 1 truitjie, 1 prematuur baba weggooi doek en ‘n sagte speelding. Die sakke en baie van die kleertjies word deur die vrywilligers self gemaak. Sy probeer elke maand 20 tot 30 sakke na die hospitaal neem.
Ann O’Donovan kan gekontak word by 021 9756956 indien van die ander takke belangstel om te help met babakleertjies – oud of nuut.

Posted on
07 August 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Thea Weyers
Die Sirkel Tygerberg het besluit om as projek naaldwerkmateriale in te samel sodat dit gebruik kan word om agtergeblewenes te help om vir hulself te sorg. Omdat die projek weens siekte 'n ander rigting ingeneem het, het die dames van Brackenfell tak voldoen aan 'n versoek van Bracken Natuurreservaat om vloerkussings van 'n gedeelte van die materiaal te maak. Die saaltjie wat vir skool- en ander groepe gebruik word vir opvoeding het net 40 stoele. Kinders moet soms op die koue vloer sit.
Charmaine Pio en ander VLV helpers het ingespring om 40 pragtige kussings te maak. Sommige lede het saam met haar en die voorsitter, Fanny, op Vrydag, 5 Augustus die geskenk oorhandig aan die dankbare personeel van Bracken Natuurreservaat. Daar is toe ook die behoefte raakgesien vir tafeldoeke, en die besluit is terstond gemaak om mooi natuurtemas daarop in te werk vir nog 'n skenking!
Die publiek is welkom om enige tyd gratis in die reservaat te kom stap of te piekniek. Op Saterdag 10 September word die jaarlikse Lenteviering daar gehou, met kos- en kunsstalletjies, kinderkompetisies, vermaak, potjiekoskompetisie, uitstallings ens. Almal welkom. Vir inligting, skakel die kantoor by 021 982 1323.


Die persone saam met Fanny le Roux (voorsitter) en Charmaine is Tshepo Mamabolo, bestuurder van die reservaat, en Alana Hendricks, Intern vir Omgewingsopvoeding.
Posted on
29 July 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Annemarie Taljaard
Op Donderdag, 21 Julie 2011, het Brackenfell tak Paarl-skool gaan besoek, waar die hoof, mnr Johan Basson, ons ontvang het. Ons is op tee getrakteer met teetafel wat keurig en innoverend gedek was.
Mnr Basson het ons meer van die geskiedenis van die skool vertel. Die skool was Maandag, 18 Julie, 33 jaar oud en is trots om die verjaarsdag met Madiba te deel. Die gedagte vir die skool het sy ontstaan aan ouers van die Paarl self te danke, wat die nood vir so 'n skool, wat neuraal- en fisies-gestremde leerders kon akkommodeer, besef het.
Grond is ook beskikbaar gestel daarvoor, maar die Onderwysdepartement het gevoel dat die skool nader aan die stad geleë moes wees, sodat alle behoeftes makliker ondersteun kon word. Daar is op Brackenfell besluit en het die skool sy naam gekry ter ere van die plek en sy mense wat die droom laat waar word het. Die getal leerders staan tans op 325, waarvan 32 in die koshuis gehuisves word. Die skool is ook reeds 45% getransformeer.
Brackenfell tak help die skool en koshuis met naaldwerk, soos hulp met die maak van tafeldoeke, gordyne en ander middels tot versiering van lokale. Die dames is op 'n toer deur die skool geneem om te sien waar hul handwerke benut word.
Ten tye van hierdie besoek is daar ook 'n boom geplant in die Grondslagfase leerders se speelarea. Met bloedige warm somers in Brackenfell het die kinders 'n groot behoefte aan skaduryke bome. Die keuse het dus op 'n Johannesbroodboom geval, wat bladhoudend, vinnig-groeiend en skaduryk is en dus heeltemal aan hierdie behoefte voldoen. As sameroepster van Landbou, het mev. Judith Lubbe dit gereël .
Ons is diep geraak deur wat ons kon waarneem en hoor met hierdie besoek. Elkeen het met groot dankbaarheid en omgee by die skool se hekke uitgegaan en moedig ander takke graag aan om self so 'n besoek te reël.
Posted on
07 July 2011
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Frieda Lagrange
Ons leef in ‘n eeu van vooruitgang waarbinne voortdurende veranderinge plaasvind.
Met vanoggend se spanwerk tydens Brackenfell tak se vergadering fokus ons op meer as die alledaagse:
- ignoreer alle reëls
- dink en doen anders
- vermeng kleure……. Die wagwoord is EENVOUD!
Die wisseling van seisoene het elkeen sy eie bekoring met uitdagings……
LEGIO………
Dis nie nodig om elke keer ‘n onsterflike kunswerk te skep nie……….NEE….
Laat die verbeelding losloop….sonder blomme was ‘n verwelkomende atmosfeer verkry met:- vrugte en loof!!
Onthaal is ‘n baie ou en grasieuse kuns wat formeel, of informeel, beoefen word. Vanoggend se ligter aanslag dra die boodskap van *OMGEE en *ELKEEN is SPESIAAL.
Die natuur bied oneindig baie plantmateriaal met buitengewone:
-vorms, lyne, kleure en teksture wat die skeppingsdrang stimuleer, waar wegbeweeg was na iets nuut en vars.
Kyk met nuwe oë na wat die natuur ruimskoots bied.

Posted on
27 June 2011
Beriggewer: Annemarie Taljaard
Op 'n heerlike sonnige wintersoggend het 22 lede van Brackenfell tak, tydens ons Junie-uitstappie, die skilderagtige dorpie Philadelphia besoek.
By "de Malle Meul" het ons koek & tee genuttig terwyl mede-eienaars, Karien & Madeleine, ons 'n kort oorsig oor die dorp se ontstaan asook lewe van skilder, Pieter van der Westhuizen, gegee het. Die heerlikste suurlemoenkoek is voorgesit, gebak deur die plaaslike tandarts - hy kan voorwaar sy praktyk sluit en voltyds bak!
Daarna kon lede op hul eie tyd die volgende besoek: die geskiedkundige NG Kerk, Gemstone edelgesteente winkel, Klereboetiek, Ceramic Studio, Die Blikhuisie, Helena se hoekwinkel en by Annemarie se weef werkswinkel inloer.
Middagete is te Pepper Tree Art Stable & Coffee Shop genuttig. Die eienaar, Annalet Aspeling, se watertand pannekoeke met vulsels asook "pot pie" hoenderpastei was voorwaar uit die boeke - om nie van die appeltert & room nagereg te praat nie!!
Die uitstappie is deur ieder en elk geniet en ons kan 'n besoek aan die pragtige dorp en sy mense aanbeveel.

De Malle Meul: Mede-eienaars Karien & Madeleine.

Pepper Tree: Lede in gesellige luim.

Weef: Lede by Annemarie se weef werkswinkel.
Posted on
07 May 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Tydens Brackenfell tak se Mei vergadering was Dr S T Potgieter ons gasspreker. Dr Potgieter is 'n bekende sielkundige met wye ervaring. Hy het sy meestersgraad in Kliniese Sielkunde gedoen, maar sy belangstelling in ander aspekte van die sielkunde inspireer hom om 'n internskap in Opvoedkundige Sielkunde te deurloop. Hy tree gereeld op in radioprogramme en is bekend vir sy bydraes en insette in koerante en 'n verskeidenheid van tydskrifte. Hy het sy eie praktyk in Bellville, en word dikwels gevra om as spreker by funksies op te tree om die boodskap van hoop en inspirasie oor te dra.
Sy inspirasie om die boek, "Staan op vir jouself" te skryf, het hy uit talle sessies en waarnemings met mense in sy praktyk gekry. In die praktyk ondervind en hoor hy dikwels hoedat mense se eiewaarde en drome vertrap word deur die aanmerkings, kritiek en minagting van ander. Mense wie se sterre in hul oë mettertyd vervaag met 'n hart waaruit drome verdwyn as gevolg van omstandighede. Die letsels en seerkry van die lewe sny soms diep. Dikwels verloor jy koers en bevraagteken die betekenis van jou bestaan. Ons lewe inderdaad in tye waar wanhoop, depressie en moedeloosheid dikwels die oorhand kry. Met die boek wil hy vir elkeen weer hoop bring, die vonk aansteek en as rigsnoer dien om vir jouself op te staan en jou potensiaal uit te leef.
Ons wil almal uit die ashope van die lewe opstaan. Ons droom daarvan om seerkry en ellende agter ons te sit, vorentoe te kyk en ons potensiaal te ontgin. Die vrees vir mislukking en kritiek weerhou egter soveel mense om voluit te lewe. Mense leef dikwels in die put van wanhoop en vernedering maar weet nie hoe om daaruit te ontsnap nie. Dit het tyd geword om die juk van swak selfbeeld en verlore drome af te skud. Moenie toelaat dat jou eiewaarde verder in die stof vertrap word deur ander se aanmerkings en verwerping van jou idees nie. Die tyd het aangebreek vir die ontwaking van jou siel, liggaam en gees.
Dit was voorwaar 'n heerlike oggend saam met Dr Potgieter. Ek nooi elke lid uit om aan te teken op sy webwerf www.pitkos.co.za om weekliks 'n gratis inspirerende boodskap per epos te ontvang.
Beriggewer: Annemarie Taljaard

Posted on
30 May 2010
Kenridgelaan 51, huis van Kees Beukman en sy vriend Evert Veenstra, was die bestemming van Brackenfell lede vir ‘n genoeglike en kunsgevulde oggend.
Lede was in die lowerryke tuin ontvang en kon hulself verlustig in die versteekte hoekies met tuinpaadjies wat kronkel, ‘n waterlopie en beelde wat tussen helderkleurige blomme uitloer.
Met die tema, WAAR TALENTE SAAMWERK, het Kees en Evert die samevoeging van kosbare kunsstukke, ornamente, skilderye en ameublement op luisterryke wyse oorgedra. Hulle passie vir kuns, in en om die huis, word duidelik weerspieël in die omgewing en die warmte van hul gasvryheid. Lede kon ook deel in hul reiservarings deur verskeie lande. Drie veteraanmotors, wat gebruik word vir troues en matriekafskeide, was deel van die kosbaarhede wat lede kon besigtig.
Die sameroepster se boodskap vir die oggend was dat sy glo, “dat elkeen besef om nie die towerkrag, vreugde en genot te verloor, wat kuns in ons ontlok nie”. Die gasvroue, Frieda, Yvonne, Riana, Susan en Nicolette, het heerlike nagereg keurig in wynglase aangebied. Elkeen het ook ‘n gedig oor die 4 seisoene gekry.
