Posted on 22 November 2011

Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 22 November 2011

 

Lede van Bredasdorp VLV se bestuur, en genooide boervroue van die distrik het ‘n strategiese sessie bygewoon wat deur mnr Orton King, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Mega, gefasiliteer is. VLVK se president, mev Erika Lubbe, het ook die dag bygewoon en het waardevolle blootstelling vir VLV gegee deur aan die gaste ‘n oorsig te gee van wat VLV is en doen. 

 

Formidabel soos alle VLV-lede haar ken, het sy die gehoor aan haar lippe gehad en het sy ‘n breë prentjie geskets en só die wanpersepsie wat by baie bestaan oor VLV, uit die weg geruim. Baie het aangedui hulle het altyd gedink dis ‘n eksklusiewe groep mense en dat daar net ‘n klomp ou tannies is wat koek en tee, maar was heeltemal verras deur al die inligting wat aan hulle voorgehou is. Daar het twee nuwe lede aangesluit by die Bredasdorp tak na afloop van die verrigtinge, met nog in die vooruitsig.

 

VLV het ook baie goeie blootstelling gekry tydens ‘n radio onderhoud wat mev Lubbe gehad het met Letty-Ann Moller van Radio Overberg 98.4 fm. Daar het reeds navrae gekom na aanleiding daarvan.

 

 

LNR Lorraine du Toit (Voorsitter, Bredasdorp VLV), Eunice Joubert (Hoof Mega Events), Orton King (Hoof Uitvoerende Beampte, Agri Mega) en Erika Lubbe (VLVK President).



Posted on 03 November 2011

Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 1 November 2011

 

Vrolike kersmusiek, die allermooiste kerstafels en ‘n heerlike ligte middagete het alles gewag op die lede van Bredasdorp met die afsluitingsvergadering op Dinsdag, 1 November.

 

 

Carin Groenewald, een van die lede, het die tafels gedek en ‘n demonstrasie gedoen waar sy allerhande wenke en idees gegee het rondom die dek van ‘n kerstafel. Die dames is getrakteer op ‘n heerlike voorgereg, ligte midddagete en ook die allerheerlikste koek en tert as nagereg - alles voorberei deur Charlie Flack en haar span. Hierdie knap vrou mág maar! 

 

Barbara Mandy het ‘n paar voordragte aan die dames gelewer, terwyl Marianne du Plessis, ‘n matriekdogter van die Hoërskool Bredasdorp, die dames ook vergas het met ‘n paar sangnommertjies terwyl sy haarself begelei op die kitaar.

 

Tydens die vergadering het lede met 100% bywoning deur die jaar, erkenning gekry met ‘n klein geskenkie.  Diensknopies is ook oorhandig aan Corrie Swart (10 jaar) en Rosemarie Maytham (30 jaar). Lede van die bestuur het ook elkeen ‘n geskenkie ontvang om dankie te sê vir hulle harde werk en ondersteuning deur die jaar. Taktrofeë is ook uitgedeel om erkenning te gee aan lede vir hul deelname aan verskeie kompetisies die afgelope jaar.

 

Die volgende lede het trofeë ontvang:

Jossie Swart - Spamer-trofee (Meeste punte : Gebak)
Lettie de Bruin  -  Eksteen-trofee (Meeste punte : Naaldwerk), asook BNK-trofee (Meeste punte by Konferensie)    
Carin Groenewald  - Van Heerden-trofee (Meeste punte : Blomme)
Hetta Bezuidenhout  - Suidhoek-trofee (Meeste deelname)

 

Elke lid van die bestuur het ‘n pakkie geskenk wat uitgeloot was. Die dames kon net lekker agteroor sit en die oggend saam geniet. Almal kan nou bietjie uitspan na ‘n bedrywige VLV-jaar. Daar het ook 3 nuwe lede aangesluit tydens die vergadering!! 

 

Die nuwe bestuur vir 2012 is ook aan die vergadering voorgehou. Hulle is as volg:

Voorsitter: Lorraine du Toit
Vise-Voorsitter: Marie Spamer
Sekretaresse: Jossie Swart
Hulp-Sekretaresse: Ina Odendaal
Tesouriere: Barbara Mandy
Addisionele lede: Mia Landers, Charlie Flack, Ann Gunning, Marlene le Roux

 

Die eerste vergadering vir 2012 vind plaas op Dinsdag, 7 Februarie, om 14:00, by die Overberg Agri Opleidingslokaal. Groot dank aan Overberg Agri vir die borg van die saal.

 

 

Bestuur vir 2012 : LNR Marie Spamer, Mia Landers, Barbara Mandy, Jossie Swart (Sekretaresse), Marlene le Roux, Lorraine du Toit (Voorsitter), Charlie Flack, Ina Odendaal en Ann Gunning.

 

 

Lede wat kentekens ontvang het : Corrie Swart (10 jr), Lorraine du Toit en Rosemarie Maytham (30 jr).

 

 

Lede met 100% bywoning vir 2011: Marie Spamer, Susie Wilson, Ina Odendaal, Hetta Bezuidenhout, Lettie de Bruin, Jossie Swart, Corrie Swart en Lorraine du Toit.

 

 

Trofeewenners vir 2012 : Marie Spamer (oorhandiging gedoen), Lettie de Bruin, Jossie Swart, Carin Groenewald, Hetta Bezuidenhout en Lorraine du Toit (Voorsitter).



Posted on 17 October 2011

Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 17 Oktober 2011


Tydens die VLVK kongres gehou in Augustus te Villiersdorp, het ‘n armoedeprojek (VLVK raak hart en hande)  afgeskop met “Tekkies & Tuck” en is die afgevaardigdes versoek om tekkies en nie-bederfbare produkte saam te bring.  Hierdie skenkings is aan die 8 takke van sirkel Overberg uitgedeel wat dit in hulle onderskeie dorpe moes oorhandig aan verdienstelike organisasies en/of persone in nood.


Tydens ‘n bestuursvergadering van VLV Bredasdorp is daar besluit dat die skenking aan die plaaslike ACVV gemaak sal word aangesien hulle deeglik bewus is van waar die nood in die dorp is. 17 Oktober is die Internasionale dag vir die uitwissing van armoede en is daar besluit om dit dan ook op hierdie dag te oorhandig.  Lorraine du Toit, voorsitter van VLV Bredasdorp, het die detail agter die skenking verduidelik terwyl daar ook ‘n opname vir die nuwe Radio Overberg gemaak is.  Die skenking is ontvang deur Ansie Rabe, voorsitter van ACVV Bredasdorp, Annestine Josephs, maatskaplike werker, en Hannelie van Dyk, adminhoof van ACVV Bredasdorp.

 

VLV Bredasdorp is dankbaar om verbind te kan word met die ACVV en hulle hart en hande so te kon sterk in die groot taak wat hulle in ons dorp verrig in die verligting van armoede.

 

 

LNR Lorraine du Toit (voors. VLV Bredasdorp), Annestine Josephs (maatskaplike werker ACVV Bredasdorp), Ansie Rabe (voors. ACVV Bredasdorp), Hannelie van Dyk (adminhoof ACVV Bredasdorp) en Marie Spamer (visevoors. VLV Bredasdorp).



Posted on 17 October 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 17 Oktober 2011


Veertien lede van Bredasdorp VLV het op 11 Oktober 2011 hul jaarlikse uitstappie gehad en soos wafferse toeriste die Buffel-toer by die Nuwejaars Spesiale Bewarings Area naby Elim gedoen. Tom Ambrose het eers ‘n kort oorsig gegee en ook ‘n skyfievertoning aangebied voor die dames na die boma geneem is en hulle die buffels kon besigtig. Hulle is baie trots op die eerste baba-buffel in meer as 200 jaar wat so ‘n maand gelede op die plaas gebore is en die dames was bevoorreg om die baba van aangesig tot aangesig te beskou. Buiten vir die buffels, is daar tans zebras, rooi hartebeeste, bontebokke, elande, bergkwaggas en ook seekoeie op die plaas. Die seekoeie is in die vlei en kan tot 20km op ‘n aand loop om te wei.

 

Na ‘n ligte middagete en wynproe by Black Oystercatcher, is die dames verder na Elim waar die museum, Morawiese kerkie en ook die Elim Tehuis besoek is. Tydens die besoek aan die tehuis is daar ‘n skenking van heerlike vars groente aan hulle gemaak.  Daar is tans 52 kinders by die tehuis en dit is hartroerend om die verskillende grade van gestremdheid van die kinders te ervaar. Die versorgers kom almal van Elim. Elim is in sy geheel as Nasionale Erfenisgebied verklaar.

 

Die dag is afgesluit met tee en die allerheerlikste melktert by die restaurantjie op Elim.

  


LNR Lorraine du Toit, Ina Odendaal, Marie Spamer, Pam Donkin, Suzie Wilson, Jossie Swart, Hetta Bezuidenhout, Corrie Swart, Ada Cornelissen, Mia Landers, Charlie Flack, Riona Swart, Madalene Loubser, Johene Grobbelaar voor die restaurantjie te Elim.

 

 

 

Die Morawiese kerkie te Elim.

 


Vlnr:  Ada Cornelissen, Suzie Wilson, Marie Spamer en Peet, ons toergids vir die oggend, gereed om ons na die buffels te neem.

 



Posted on 14 September 2011

PORTEFEULJE: Landbou & Tuinbou
BERIGGEWER: Lorraine du Toit
DATUM: 6 September 2011


Tydens die onlangse vergadering van Bredasdorp VLV het Ettienne Kriel van Napier (eienaars van Moerse Pies) vir die dames vertel hoe hulle sade kan saai op ‘n eenvoudige manier deur “Palm Peet” te gebruik.  Hy gee verskeie wenke wat die saai van sade kan vergemaklik en noem dat daar gewoonlik 3 redes is waarom saad nie opkom nie:

1.  Die saad is oud;
2.  Die saad het nat ontkiem en toe droog geword. Hou altyd die saadjies klam; en/of
3.  Saad word te diep gesaai.

 

Die saad van Clivias en ook Agapanthus kan ontkiem word deur dit in ‘n bakkie met kraanwater te gooi.  Wanneer die worteltjie en eerste blaartjies gevorm het, druk jy dit eenvoudig in die grond.

 

Mev Desiree Kingwill, boervrou van Riviersonderend en kaasmaker van formaat, het die dames meer vertel van al die wonderlike kase wat sy maak. Op die koop toe en sy sommer ook gewys wat sy doen deur die hele proses in stappe te demonstreer. Gepasteuriseerde melk vat die smaak weg. Hulle hou die kieme weg deur dit te beperk tot slegs enkele mense wat met die proses werk. Kaas kan gestoor word by 14°C en hoef nie in ‘n yskas gebêre te word nie, veral nie in die winter nie. Gedurende die somer kan die kaas maar in ‘n yskas gestoor word, want ons somers is te warm. Haar kleurvolle kase is te kry by die naweekmark in Greyton, asook by Dassiesfontein. 

 

Tydens die vergadering is die trofeë wat op die onlangse VLVK Kongres te Villiersdorp verower is, ook uitgedeel. Hetta Bezuidenhout, moeder van die voorsitter, het die oorhandiging gedoen. Tydens kongres het Bredasdorp tak die trofee ontvang vir die 2de meeste punte behaal en hierdie trofee is oorhandig aan Lettie de Bruin wat 3 artikels op kongres verteenwoordig het. Die weefwerk van Marie Spamer het eerste prys ontvang met 85% en ‘n trofee word aan haar oorhandig terwyl die hekelwerk van Lorraine du Toit ‘n tweede prys ontvang met 84% vir haar gehekelde aandsakkie. ‘n Trofee word ook aan haar oorhandig.

 

Daar word ook bestuursverkiesing gehou en Ina Odendaal, Ann Gunning en Marlene le Roux word vir ‘n termyn van 2 jaar verkies. Marie Spamer word weer herkies as Visevoorsitter en Jossie Swart vir ‘n nuwe termyn as Sekretaresse. Die lede word gelukgewens en bedank vir hulle bereidwilligheid om op die bestuur te dien.

 

 

Lorraine du Toit ontvang die trofee vir ‘n tweede plek vir Hekelwerk van haar moeder, Hetta Bezuidenhout.

 

 

Van die kleurvolle kase van Desiree Kingwill.

 

 

Ontvangers van kongres-trofeë  -  Lorraine du Toit (Voorsitter), Hetta Bezuidenhout (oorhandiging van trofeë), Ann Gunning, Lettie de Bruin en Marie Spamer.



Posted on 04 August 2011

Beriggewer: Lorraine du Toit


VLV Bredasdorp vier op Saterdag, 23 Julie hulle 80ste verjaardag met ‘n swierige geleentheid op die plaas Nacht Wacht. Dames het van heinde en verre gekom om hierdie heuglike dag saam te vier – verskeie oud-lede het die dag bygewoon, sommige het van sover as Yzerfontein aan die Weskus gekom. Ons was ook bevoorreg om al die oorlewende oud-voorsitters by die geleentheid te hê.

 

Janie du Plessis, die gasspreker, het met haar eerlikheid diep in die harte van die gehoor geklim. Met die skets van haar lewensverhaal het sy by elkeen van die toehoorders iewers 'n sensitiewe raakpunt gekry en elkeen kon met 'n stadium in haar lewe identifiseer. Maar of jy nou die dogtertjie is wat soos in 'n droom met blink skoentjies in die rondte draai, en of jy die tiener met die gepunte haarstyl is, die televisie-aanbieder met die loslit-styl, die bruid wat in 'n vreemde land moet wortel skiet, die ma van twee seuntjies of 'n vrou met kanker is, Janie se raad was deurwinter:  bly getrou aan jouself en behou die droom.

 

Die dag is gekenmerk met swier en styl en kon almal hulle verlustig in die pragtige saal, dekor, blomme en ook die smulkos wat voorgesit was. Verskeie gelukkige trekkings is ook die dag gedoen asook die trekking van die taklootjies waarmee lede so ywerig gewoeker het. Die eerste prys (‘n prima takbok geskenk deur John Albertyn) is gewen deur Piet Swart van Bredasdorp; die tweede prys (‘n naweek of mid-week by Valknes, Waenhuiskrans geskenk deur Ferdie & Marie Spamer) is gewen deur Graham Grebe van Goodwood; die derde prys (‘n naweek by Langrug Lodge geskenk deur Jenny Uys) is gewen deur Hilda Albertyn; en die vierde prys (‘n handgemaakte sement tuinpot geskenk deur Loui Burger) is gewen deur Mary-Ann Landers. Ons opregte dank aan ons donateurs wat dit moontlik gemaak het om hierdie pryse te kon oorhandig.

 

Die dag is afgesluit met ‘n lewendige vertoning van Bredasdorp se eie Idol, Luhann Groenewald. Hy het behoorlik die dames op hulle voete gehad. Sy innemende geaardheid het ook geen onderskeid getref tussen die jonges wat hom gewoonlik begroet en die ouer, meer volwasse gehoor by hierdie geleentheid nie. Hierdie jong man het ‘n spesiale talent en ons vertrou dat hy net van krag tot krag sal gaan.

 

Oor tien jaar maak ons beslis weer so!


 

 

Lorraine du Toit saam met Ere-lede, Magda Bellingan (voor) en Marie Spamer.

 

 

Lorraine du Toit (Voorsitter) en Hermien van Zyl (Overberg Sirkelpresident) klink ‘n glasie op Bredasdorp se 80 jaar.

 

 

Al die oud-voorsitters teenwoordig:  vlnr Lorraine du Toit (huidige voorsitter), Ann Gunning, Ronel Swart, Cornelia van der Merwe en Marie Spamer.

 

 

Janie du Plessis, gasspreker en Luhann Groenewald, gaskunstenaar tydens die verjaardagviering op Nacht Wacht.



Posted on 03 August 2011

Beriggewer: Lorraine Du Toit

 

As takprojek het die lede van VLV Bredasdorp vanjaar kombersies gebrei en gehekel en het ons in samewerking met Kindersorg op 21 Julie veertien kindertjies se hartjies bly gemaak toe ons die kombersies by die Graad R-klassie by die EK Primêre Skool op Ouplaas, in die distrik Bredasdorp, gaan uitdeel het. Die dames van Kindersorg het eers aan hulle ‘n poppekasvertoning gelewer oor die keuse wat hulle het wie aan hulle liggame mag vat. Amanda Beyers, een van ons bestuurslede, het toe aan elke kindjie ‘n kombersie en ‘n lekkergoedpakkie gegee en aan hulle verduidelik hoekom elke kombersie anders lyk – omdat hulle elkeen UNIEK is. Hulle het daarna vir ons ‘n dansie gedoen om dankie te sê.

 

Na die skoolbesoek, het ons ook ‘n groepie plaasvrouens van die Huisvroueklub op die plaas, Komarsekraal, besoek waar ons aan hulle wol en breipenne oorhandig het sodat hulle vir hulself ‘n sak kan brei. Ons het hulle gewys hoe om steke op te sit waarna ons heerlik saam met hulle koekies en koelderank geniet het. Verstommend om te sien hoe ‘n blinde vrou steke opsit en sommer fluks begin brei – beslis ‘n geval van: “waar ‘n wil is, is ‘n weg”!

 

Die blydskap op die kindergesiggies en die vreugde van die plaasvroue oor die wol wat hulle ontvang het, maak alles beslis die moeite werd.

 

 

Amanda Beyers (sameroepster van Gesondheid) en Lorraine du Toit (voorsitter) saam met die kindertjies wat kombersies ontvang het.

 

 

 

Die plaasvrouens van Komarsekraal Huisvroueklub besig om te brei aan hulle sakke.



Posted on 11 June 2011

Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 10 Junie 2011

 

Tydens ons Junie-vergadering met Mia Landers as konvenor, het Sylvia Clutten, ‘n kindersielkundige van Blouberg, ons meer kom vertel van sandbak-terapie. Dit is ‘n vorm van terapie wat al in die 50’s ontwikkel is. Dit is ‘n spesifieke grootte sandbak waarmee  kinders veilig en gemaklik voel. Sommige kinders bou in hulle verbeeldingswêreld, terwyl ander weer ‘n realiteitswêreld bou. Sy wys ook ‘n paar foto’s om aan te sluit by haar praatjie.

 

Bome is baie belangrik in die sandbak en wys dat hulle emosioneel gekonnekteer is. Enige iets in ‘n sirkel, wys dat hulle besig is om heel te word. Wanneer hulle water gebruik, dui dit op ‘vloeding’ en skoonmaak. Krokodille lei altyd tot intense kwaad en aggressie. Gewoonlik kan ‘n probleem binne die bestek van 6 – 12 sessies met die sandbak opgelos word. Sy sien gewoonlik kinders tot 12, 13 jaar, maar kry ook soms kinders van 18 jaar.

 

Rynette Simons, lid van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, het ons bietjie meer kom vertel hoe sy betrokke geraak het met die organisasie en ook wat dit vir haar beteken het toe sy die konferensies in Finland en Amerika bygewoon het. Sy sing ook vir ons “The Song of Peace” en lees vir ons ‘n gedig voor wat sy geskryf het. Nou weet die lede ook bietjie meer waarvoor die vriendskapsmunte gaan, wat ons ook by die vergadering ingesamel het.

 

Om die vergadering mee af te sluit, het Barbara Mandy ‘n paar voordragte gelewer, waarna almal verdaag het vir heerlike sop en broodjies om die koue so bietjie te verdryf.

 

 

 

Sylvia Clutten, ons gaspreker.

 

 

Rynette Simons wys haar onderskeie balkies.

 

 

Barbara Mandy besig om ‘n voordrag te lewer.



Posted on 02 June 2011

Op Vrydag, 27 Mei 2011, het dit al vroegoggend geklink na ‘n vrolike jollifikasie by die B&M Garage op Bredasdorp waar die plaaslike ouetehuis, Suideroord, ‘n groot fondsinsamelingsprojek gereël het ter stuiwing van hulle fondse. Mense kon vir ‘n tydperk van 15 minute deelneem aan ‘n matrasspring en ons het besluit dis nou die regte ding om dit sommer ook as bietjie span-bou te geniet. Bredasdorp VLV het hul deel gedoen om te help deur ‘n span van 5 in te skryf. Ons het selfs een van ons VLV-mans ook ingespan.

 

Niemand het geweet wat om te verwag nie, maar watter heerlike dag was dit nie! Vrolike musiek het gespeel, daar was heerlike pannekoek, koffie en tee en ander lekkernye te koop en so tussen deur was daar die hele tyd iemand besig om te spring. Die reël was dat jy net die hele tyd aan die beweeg moet bly, jy hoef nie fisies te spring nie! Op die maat van die heerlike musiek was dit nogal nie moeilik om aan die beweeg te bly  nie, en het ons ook ‘n paar gym-passies uitgehaal!

 

Verskeie besighede, skoolgroepe, klubs en selfs al die predikante het kom spring. ‘n Bekende meubelwinkel het twee splinternuwe matrasse geskenk, maar of hulle die dag sou deurmaak, was ‘n ope vraag.  

 

Hierdie poging was ‘n vernuftige manier om fondse te in en terselfdertyd kon oud en jonk heerlik saamkuier.

 

Beriggewer: Lorraine du Toit

 

 

Voor die groot spring, (LNR) Lorraine du Toit, Amanda Beyers, Marie Spamer en Ina Odendaal.  Voor is Tertia de Villiers.

 

 

 

Fluks aan die spring, (LNR) Hennie Odendaal, Lorraine du Toit, Amanda Beyers, Tertia de Villiers, Marie Spamer en Ina Odendaal.

 

 

Amanda Beyers, Marie Spamer, Lorraine du Toit en Hennie Odendaal.



Posted on 06 May 2011

Portefeulje: Kuns & Kultuur

 

Tydens ons onlangse Kuns & Kultuur vergadering het Riana Uys van die plaaslike winkel “The Craft Shoppie” ons kom leer hoe om te werk te gaan om ‘n spieëlraam te mosaïek. Beplanning, sowel as kleurkombinasie is baie belangrik. Gebruik enige houtlym wanneer jy op hout werk en op glas kan jy silikon gebruik. Wanneer jy begin met mosaïek, is jou enigste groot uitgawe die aankoop van ‘n tang waarmee jy die teëls sny. Jy kan egter sonder dit klaarkom omdat jy deesdae jou teëls klaar gesny en verpak kan kry. Sy bied ook klasse aan vir belangstellendes.

 

Ada Cornelissen het ‘n paar wenke voorgelees vir die neem van winterfoto’s. Onthou om jou batterye warm te hou, want koue batterye sal glad nie werk nie. Wanneer jou lens toewasem, los dit sodat dit self ontwasem voor jy die kamera gebruik. Moet dit nie probeer afvee nie, dit sal net weer toewasem. Onweer kan sorg vir die mooiste winterfotografie.

 

Tydens die vergadering is die trofeë wat tydens die afgelope konferensie ontvang is, oorhandig aan die volgende lede: 

  • Lettie de Bruin - Reneé  Fourie trofee  :  Hoogste punte Borduurwerk
  • Lettie de Bruin  - Elma de Kock trofee  :  Mees Uitstaande artikel : Handwerk
  • Pam Donkin – Rapportryers trofee  :  Wisseltrofee vir bevordering van kultuurhistoriese artikels wat kan uitsterf, spesifiek die Ringkussing 
  • Marie Spamer - Fransie Smith trofee  :  Meeste punte vir Kongresartikels 
  • Mia Landers - Dupie Beyers trofee  :  Meeste punte Naaldwerk 
  • Jossie Swart - Hugo trofee  :  Meeste punte behaal vir alle Konferensie kompetisies 
  • Lorraine du Toit - Presidentstrofee  :  Takprestasie    

 

Jossie Swart en Ann Gunning is die gelukkige lede wat die maandlootjies gewen het.  Lede kuier heerlik saam om ‘n koppie tee na afloop van die vergadering.

 

Om aan te pas by VLVK se tema, word die vergadering afgesluit met die volgende gedagte:  “Wanneer die wêreld sê, “Gee op”, fluister Hoop, “Probeer nog een keer.”

 

Beriggewer: Lorraine du Toit

 

LNR:  Mia Landers, Lettie de Bruin, Marie Spamer, Lorraine du Toit en Jossie Swart met die trofeë wat hulle ontvang het. Afwesig: Pam Donkin wat die Rapportryers trofee ontvang het vir haar ringkussing.

  

 

Van die pragtige mosaïekartikels wat vertoon is.

  

Categories