Posted on
21 November 2011
Beriggewer: Rina Coreejes
Die Karoo winters is ontsettend koud en dit raak veral die haweloses die ergste. Britstown VLV het gehoor van die Good Night and God Bless slaapsak-projek en het besluit om nou al by die projek betrokke te raak, sodat meer haweloses die komende winter warm kan slaap.
Die Good Night and God Bless slaapsakke is deur Jo Maxwell van die Kaap ontwerp en dit word as ‘n tydelike noodmaatreël gebruik om haweloses warm en droog te hou. Die Rotariërs van Claremont het die plastiek en kleefband geskenk. Volksblad het 300 koerante geskenk en afgelewer in Britstown.
Britstown VLV en Britstown Nightingale Hospice Vrywilligers het Dinsdag 15 November saamgespan om die Good Night and God Bless slaapsakke te maak. Die koerante word eers oopgevou en in lae van 4 aan mekaar vasgekram. Agt van hierdie lae word aan elke kant van een groot duursame en waterdigte plastieksak vasgemaak met kleefband. Hierdie sak word nou binne-in ‘n ander sak geplaas en die bopunt word omgevou en vasgeplak.
Van die slaapsakke is geskenk aan Britstown Nightingale Hospice en die ander gaan aan organisasies in die distrik wat gemoeid is met haweloses.

Britstown VLV saam met Nightingale Hospice Vrywilligers.

Jo De Klee, vrywilliger vanuit Skotland wat tans by Gentlecare uithelp, het ook kom help met die slaapsakke.

Spanwerk is die geheim van die Good Night and God Bless slaapsakke.
Posted on
13 November 2011
Beriggewer: Michelle van Rensburg
Vergadering: 2 November 2011
Britstown tak se afsluitingsvergadering het op die 2de November plaasgevind. Nege lede is gevra om ‘n Kersboom te maak en die oorspronklikste bome het hul opwagting gemaak! Hulle is eers as tafelversierings gebruik en is toe uitgedeel in die dorp aan openbare en privaat instansies.
Essie Welkom, ‘n verkeersbeampte van Britstown Verkeer, het ons geheue verfris in verband met verkeersveiligheid .
Wilma Strauss het ons ingelig oor herwinning. Elke lid het ‘n brosjure ontvang van hoe sy ‘n verskil kan maak. ‘n Versamelingspunt is gevestig op ons dorp waar batterye, gebruikte motorolie en gloeilampe gedeponeer kan word.
Ivonne Gentle het gedemonstreer hoe om ou CD’s te gebruik as ‘n basis vir ‘n kershouer. Dit reflekteer die mooiste kleure wanneer ‘n kers daarop geplaas word en aan die brand gesteek word.
Elsa Human het 200 kg koerantpapier vanaf Volksblad ontvang en ons gewys hoe om die koerant slaapsakke te maak.
Amanda van der Merwe het 11 ingelegde pastaslaaie kom beoordeel.
Die prysuitdeling het gevolg waar lede erkening gekry het vir verskeie prestasies wat hul gedurende die jaar behaal het.
Handgemaakte kersgeskenke is uitgeruil en ons het afgesluit met ‘n heerlike middagete wat almal help maak het.


Posted on
20 October 2011
Beriggewer: Michelle van Rensburg
Britstown hou “High Tea” en plant ‘n boom saam met Huis Dhaneel
Op die 19de Oktober het Britstown VLV ‘n “High Tea” gereël by Huis Dhaneel (Tehuis vir Bejaardes). Dit was ‘n uithanggeleentheid waar elke inwoner mooi kon aantrek, hoed en al.
Dit was ook ‘n geleentheid om dankie te sê aan die beheerliggaam en personeel vir hul toewyding aan en harde werk vir Huis Dhaneel en sy inwoners.
Die hoogtepunt was ‘n konsert aangebied deur twee jong boere van die kontrei. Johan en Munnik Botha het met hul pragtige stemme, lieflike sang en ‘n grappie of drie, almal se harte aangeraak.
Na ‘n heerlike kuier is ‘n Kareeboom voor Huis Dhaneel geplant. Gelukkig was daar ‘n galante heer wat ons gehelp het om die gat te grawe!

Uitgevat vir die "High Tea".

En in die gat is daar 'n boom! Ds Kriek het die VLV gehelp om die boom te plant.

Munnik en Johan Botha sing vir Huis Dhaneel.
Posted on
19 September 2011
Portefeulje: Gesondheid en Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Rina Coreejes
Britstown se lentevergadering het o.a. gefokus op die menslike sintuie van sig en reuk.
“Toe maak hul ogies vir my” sing Freddie Nest en Ideka Visser maak ons attent op ons oë tydens ons Gesondheidsprogram. Die oog se bou en struktuur is behandel asook siektes wat die oog kan opdoen. Ons het toe na prente gekyk wat ons oë kul. Alta en Kat Myburg was ons gaste vir die dag en Alta het ons vertel van haar oogtoestand, nl. ‘n makulêre gat (of blasie) in die oog. Dit het veroorsaak dat sy slegs met ‘n vergrootglas groot druk kon lees. Na ‘n onlangse suksesvolle operasie op die een oog kan sy al groot druk sonder ‘n bril lees. Sy het aan ons verduidelik wat die operasie behels, en haar eggenoot, Kat, het die lang herstelproses, wat haar genoodsaak het om vir 5 dae koponderstebo te loop, aan ons verduidelik. Binne die volgende week gaan sy vir ’n operasie op die ander oog.
Ivonne Gentle het tydens die Kunste en Handvlyt gleuf aan ons gedemonstreer hoe om lekkerruiksakkies vir die linnelaai te maak. Sy het 3 geure aangemaak en elkeen kon ‘n organza sakkie volmaak en huis toe neem.
Benodighede: oorskiet seep - grof gerasper, en hawermout
• Mengsel 1 – pypkaneel(stukkies gebreek), naeltjies, klein stukkies gedroogde lemoen/nartjieskil, rooibostee.
• Mengsel 2 – gedroogde laventel en jasmyn blommetjies, laventel essense, rooibostee.
• Mengsel 3 – gedroogde marigold blommetjies, mango essense, rooibostee
Bogenoemde mengsel (1, 2 of 3) word by die seep en hawemout gevoeg en dan goed gemeng.

LNR Ivonne Gentle, Margarethe Brown en Anita Rust help met die lekkerruik mengsels.

Kat en Alta Myburgh, ons gassprekers vir die dag.

Lente teetafel.
Posted on
15 August 2011
Elsa Human (Leefstyl) het ‘n skoolbus vir ons toer gereël en sommer ook bestuur. Op 3 Augustus is by die Kaapse stasie opgeklim. Die eerste stop was Clanwilliam.
Hier het Michelle Jansen v Rensburg (Landbou/Tuinbou ) ons ‘n vinnige oorsig gegee van tee en sy geskiedenis, hoe dit verbou word en die verskillende tee’s op die mark. Alle tee’s (groen tee, wit tee, oolong tee, swart tee en puerh tee) is afkomstig van die Camella Sinensis Teeplant. Slegs die knoppie met die boonste twee blare word gepluk en dan gedroog. Omdat ons in die Rooibos wêreld was, het ons ook meer te wete gekom van hierdie kruietee wat so gewild geword het. Elke passasier kon na hartelus tee proe vir die res van die reis.
Volgende stop was Carnarvon. Hier het Pieter Snyman, skakelbeampte van SKA (dis die radioteleskoop wat in Carnarvon gebou word om die heelal vannuit die suidelike halfrond te karteer) ons ingelig van die 3 verskillende fases van hierdie projek. Die tweede deel, MEERKAT, begin teen die einde van die jaar. Die impak van hierdie projek hou baie voordele in vir die dorp self en die omgewing, asook vir die wetenskaplikes van SA. Die nadele van die projek, naamlik dat daar geen radio golwe in die omtrek mag wees wat ‘n nadelige effek op die sensitiwe apparaat kan hê nie. Dit sluit in selfone en DSTV. Die dorp self sal nie geraak word nie, slegs enkele boere. Niemand se reg tot kommunikasie sal geraak word nie.
In Vosburg se kroeg het ons na ‘n uitstekende vertoning van Petro le Roux , “Die nalatenskap van Giel Cilliers – van Ferdinand Deist” geluister.
Omdat ons deur Afrika oppad was, het Ideka Visser (Gesondheid) ons vertel van malaria. Esme Esterhuizen het saam met Anitha Blomerus ‘n kamp uitstalling gehou en vertel wat alles nodig is en hoe daar gemaak moet word indien jy in Afrika wil kamp. Alles van dokumentasie tot stort is gedek.
In Kairo aangekom is ons verwelkom met “Salaam Habibi” deur ons Egiptiese toergids (Rina Coreejes van De Aar).
Ons toer is afgesluit met ‘n Morrokaanse ete. Ons gasvrou was Didi Raath.

ALL ABOARD vir die toer.

Teetafel met ROOIBOS!

Ivonne Gentle en Sandra Nolte kuier lekker.
Posted on
20 May 2011
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Op die 11 Mei het Danie Ferreira, weerkundige van De Aar, ons tak ‘n kykie gegee in sy onlangse ekspedisie van 3 maande na Antarktika, as deel van die SA Nasionale Antarktiese Program (SANAP). Dit was sy derde besoek aan hierdie koue wêreld as deel van die weerkundige span van SANAP.
SA beheer basisse op Antarktika, sowel as die Marion en Gough Eilande. Marion en Gough Eilande beheer hoofsaaklik meteorologiese programme.
Voor sy vertrek moes Danie eers aan mediese en sielkundige vereistes voldoen. Hy moes ook oor tegniese en wetenskaplike vaardighede beskik om deel uit te maak van die wetenskaplike uitstappie. Na ongeveer 24 dae op see kon hul voet aan wal sit. Geen afvalmateriaal mag agterbly nie – alles moet weer terug SA toe verskeep word. Tydens hierdie 3 maande word die permanente span vervang met nuwes wat eers opgelei moet word, wetenskaplike toetse en data word verwerk, herstelwerk gedoen, ens.
Kommunikasie met die buitewêreld is minimaal en duur. Slegs ‘n e-pos kan vanaf ‘n sentrale beheerkamer gestuur word. Telefoon oproepe word net in noodgevalle gedoen.

SA Agulhas

Sanae-basis
Posted on
18 April 2011
Die betowerende klassieke klanke van Andrè Rieu het Britstown tak in ‘n ander wêreld geplaas tydens die Opvoeding en Kultuur gleuf, behartig deur Christie Viljoen en Elna Kriek. Sy biografie is kortliks behandel en d.m.v. verskeie snitte uit DVD’s kon ons na ‘n groot verskeidenheid van die meester se verwerkings kyk en luister.
Tydens die Landbou/Tuinbou gleuf het Michelle Jansen van Rensburg ons ingelig oor die Nasionale Voëlweek wat van 3-8 Mei plaasvind. Die Nasionale Voël vir 2011 is die Europese Swaeltjie. Birdlife SA streef na die bewaring van voëls en hul habitat. Interessante feite en projekte vanuit hul webblad, naamlik, www.birdlife.org.za, is genoem. Spesiale klem is gelê op die klein flamink wat, veral na die goeie reëns, by baie van die panne en damme in die Karoo sigbaar is.
Esmè Esterhuizen, ons eie Argus Fietstoer ghoeroe, het ons touwys gemaak in die sportsoort en vertel hoe om vir die Toer voor te berei.
Vir die Kunste en Handvlyt afdeling het elkeen van ons, onder leiding van Ivonne Gentle, ‘n Rotskuns artikel gemaak. Elkeen het ‘n groot klip gekry. ‘n Prent/motief is uitgeknip uit ‘n servette. ‘n Laag Modge Podge is oor die klip geverf en toe is die motief versigtig met die vingerpunte teen die nat klip plat gevryf. Dit word met ‘n paar lae Modge Podge weer geverf, elke laag in ‘n ander rigting. Wanneer dit droog is kan dit met fyn skuurpapier geskuur word en dan met ‘n lag vernis gespuit, en siedaar ‘n pragtige klip vir ‘n deurstop of in die tuin.
Ivonne het ook vir ons gewys hoe om kershouers van sement te maak. Meng 1 koppie sement met 3 koppies sand en meng met water tot regte digtheid. Gooi dit in silikoon koek/muffin houers en maak ‘n gat vir die kers. Los oornag en giet uit. Dit kan geverf word om by jou tema te pas.

Christie Viljoen, Nico Kriek en Elna Kriek het vir Andrè Rieu aan ons voorgestel.

Esme Esterhuizen, ons fietsry ghoeroe.

Moderne Rotskuns.
Posted on
23 March 2011
08:00 die oggend van 16 Maart het sowat 40 Britstowners in hul voertuie saamgekom om die “Geskiedkundige Toer” mee te maak, gereël deur die VLV. Elsa Human, ‘n VLV lid, het gesorg dat elke detail van die toer sorgvuldig beplan is. Die toer het gestrek deur veldpaaie wat oor ‘n paar plase strek tot by die Smartt Sindikaat Dam.
Barry Raath, ‘n Britstowner, het by die eerste stop vir ons vertel van indrukke uit sy kinderdae van die massiewe pan, Gelukspan.
Volgende stop was die opstal, Gelukspan. Dys Taljaard het daar vir ons vertel dat vroeg in die 1900’s het dit ’n skool gehuisves waar menige plaaskinders hul skoolopleiding ontvang het. Later jare het die eienaar dit gelykop gedeel tussen sy twee dogters. ’n Landmeter moes kom om seker te maak dat die grond en huis presies in die helfte gedeel moes word. En vandaar loop die lyndraad presies deur die middel van die huis!
En toe kom ons by die Smartt Sindikaat Dam uit! Adrian Louw, die sekretaris van die Waterraad, is passievol oor die dam en het al ‘n studie van die geskiedenis van die dam gemaak en opgeteken. Thomas Smartt het reeds in 1888 die visie gehad om ‘n dam te bou in die Karoo. Hy het gesê “Given water, anything can grow in the Karoo.” In 1895 is toestemming deur Cecil John Rhodes gegee om voort te gaan met die bou van die dam. Destyds was dit die grootste dam met ‘n grondwal in die Suidelike Halfrond.
Ons is ook gewys hoe die sluise werk, hoe die kanale aangewend word vir besproeiing, en hoe alles haarfyn beplan moet word om die water te bestuur.
Die toer eindig met ‘n middagete by Dillys Trollip. Vir ons jongeres was dit ‘n aktuele geskiedenis les wat ons trots maak om Britstowners te wees, vir die seniors in ons groep was dit ‘n vuur van herinnering waarlangs hul kon vertoef.

Britstowners wat die toer meemaak.

Diep indrukke is gelaat by die Smartt Dam.

Ou Grasieue huis van Gelukspan.
Posted on
06 February 2011
Die 2de Februarie was die eerste VLV vir die nuwe jaar. Na 'n vrolike teedrinkery en weersiens geselsery het almal reggeskuif om te luister na Ankia du Plooy, al die pad van De Aar, wat kom gesels het oor Vier jou Vrouwees. Ons is aangemoedig om die reis na die einde van die jaar te geniet, om die jaar 2011 met vreugde aan te pak, daardie vreugde wat slegs die Here kan gee ten spyte van jou omstandighede.
Ons moes diep in onsself kyk. Ons leefwêreld, wat geneig is om ons te laat voel "ek is nie goed genoeg nie", moenie ons kriteria wees waarvolgens ons, ons lewens meet nie. Ons is geskep om vrou te wees, geroep om vrou te wees. Dis genoeg om net "ek" te wees. Die uitdaging is om te wees soos wat God dit bedoel het - om jy te wees - niemand anders nie. Kom ons kies om vreugdevol vrou te wees in 2011. Kom ons gaan stap sagte vrouespore in hierdie harde wêreld.
Vir die res van die program het Ivonne Gentle gewys hoe om van foto's gelamineerde plekmatjies te maak en Anita Rust het ons modewys gemaak vir 2011.
Marthie Oosthuizen, 'n VLV lid van Vosburg, het vir ons gedemonstreer hoe om van die swembadchloor drywende houers 'n messegoed houer te maak deur net die deksel, wat deeglik vassit, af te haal. Sy het ook vir ons kom wys hoe werk ECO-WIPES, 'n lappie wat so groot soos 'n pil is, wat oopvou sodra jy 'n bietjie water daarop gooi - ideaal vir die reistas of piekniekmandjie.
Ons kom weer die 2de Maart bymekaar met gemaklike klere en skoene aan, baie drinkgoed, 'n sonhoed en muskietolie - want ons gaan op 'n toer deur ons omgewing om dit beter te leer ken………
Bestuur vir 2011, vlnr Marinda vd Merwe, Elna Kriek, Wilma Strauss, Michelle v Rensburg, Elsa Human, Christie Viljoen, Ivonne Gentle, Sunel v Rensburg (Voorsitter) en Ideka Visser.
+en+Ideka+Visser.jpg)
Ankia Du Plooy en Ideka Visser.

Lillie Fourie, 'n gas vir die dag.

Posted on
28 October 2010
Die inwoners van Huis Daneel in Britstown was baie opgewonde oor die VLV se besoek op 6 Oktober. Die VLV lede het daar gaan vergadering hou en ‘n driegang pannekoek-ete voorgesit. Die inwoners het konsert gehou vir die VLV lede. Riana, Willa en die personeel het ontsettend baie moeite gedoen om iedere inwoner betrokke te maak. En was die lede verras met die aanbieding!
Na die openingsgebed het Oom Jan Viljoen (80+) die vermaaklikhede afgeskop met ‘n nommertjie op sy mondfluitjie. Die inwoners in die siekeboeg het ‘n item gelewer met die tema ‘Uit my jongdae’. Tannie Gentle, in ‘n deftige pienk tabberd, was eerste aan die beurt oppad matriekafskeid toe. Sy is gevolg deur ‘n lid van die Springbokspan, ‘n hippie, ‘n swanger tiener kompleet met kleintjie in die stootwaentjie, ‘n hupse tiener en ‘n skooldogter.
Daar was ook ‘n pragtige uitstalling van borduurstukke en medaljes wat sy verower het tydens VLV kompetisies in haar jongdae, deur tannie Agie van Zyl (75), voorheen van De Aar. Tannie Suzy Swiegers het ‘n pragtige stuk, ‘Wat dink Ouma?’ geskryf en voorgelees deur tannie Lonie Floyd en dit sonder ‘n bril! Tannie Ralie Schlemmer het ‘n rugbyspeler met mimiek voorgestel - met ‘n skop wat enige volstruis jaloers sal maak. Tannie Grieta Louw verskaf die ‘geseënde einde’, weer voorgelees deur tannie Lonie Floyd.
Te gou was die konsert verby, waarna die inwoners weggelê het aan pannekoek as voorgereg, hoofgereg en nagereg. Nie net ‘n vergadering met ‘n verskil nie, maar voorwaar ‘n lekker dag vir oud en jonk!
+en+Wilma+Strauss+(regs)++tydens+die+bakkery.jpg)
Marinda van der Merwe (links) en Wilma Strauss (regs) tydens die bakkery.

Tannie Gentle, oppad Matriekafskeid toe.

Borduurwerk deur Tannie Agie van Zyl, voorheen van De Aar.