Posted on 07 June 2011

Portefeulje: Vele

 

“‘n Mens is nooit te oud om te leer nie.” Dit het die lede van Citrusdal tak weereens besef toe ons ook die stap na rekenaargeletterdheid geneem het. Die grootste gedeelte van die lede is wel rekenaarvaardig, maar ‘n klein groepie moes nou ook “bykom”. Elkeen wat nog nooit voorheen op ‘n rekenaar gewerk het nie, het selfs aan die einde van die “klas” ‘n kort briefie getik en daarna ‘n speletjie gespeel. Ons dank aan Hoërskool Citrusdal wat hierdie geleentheid vir ons moontlik gemaak het. 

 

Die tak het ook onlangs klem gelê op Volkskultuur. Daar is aan ons vertel van vroeëre jare se Volkspele- en sanggroep wat bestaan het. Citrusdal se groep het ongelukkig ontbind en is daar baie min van hierdie groepies nog aktief. Die nuwe generasie stel nie in hierdie kultuurerfenis van ons volk belang nie. Daar is rokke en geborduurde onderbaadjies vertoon asook ‘n video van Suid-Afrikaanse groep wat Holland en België besoek het. Ons groep het ‘n kring gevorm en op samesang van volksliedjies is 3 variasies van volkspele gedoen. Twee lede het belowe om die VLV te leer rieldans! Die VLV hou die kultuurerfenisse in ons land lewendig.

 

Die afgelope 80 jaar was daar wonderlike tye, harde werk met fondsinsamelings en baie vriendskappe wat in die vereniging gesluit is. Ons vier ons 80 jarige bestaan van Citrusdal Tak met ‘n “high tea”. Ons gasspreker Louwna Hoving, sirkelpresident van VLV Weskus, het gesê dat dit ‘n voorreg is om 80 jaar te word. Sy het beklemtoon dat ons elkeen met ‘n Godgegewe talent gebore is wat ons met ons medelede kan deel met ‘n gesindheid van leergierigheid. Erkenning aan mekaar, betrokkenheid, om jouself uit te leef in ideale en begeertes - maar tog jou eie identiteit te behou en bereidwilligheid was van die hoofpunte in haar toespraak. ‘n Heerlike voorgereg, Tuna Timbale, is deur Magdaleen Pellegrom gedemonstreer. Die verjaardag is gevier met ‘n glasie vonkelwyn en die middag is afgesluit met ‘n pragtige teetafel vol heerlike eetgoed.

 

Beriggewer: Minette du Toit

 

 

 

Leergierige VLV lede voor die rekenaars.

 

 

Volkspele kry herlewing met Citrusdal VLV lede.

  

 

Marianne van der Merwe oorhandig blomme aan Mev Louwna Hoving.

 


 

Ons tak se pragtige en heerlike verjaardagkoek.



Posted on 06 March 2011

Die jaar 2011 is afgeskop met ‘n gesellige braai op Karnemelksvlei. Hierdie geselligheid is deur al die VLV lede en hul gades en kroos bygewoon. Daar is verskeie speletjies gespeel en heerlik gesels rondom drankies en heerlike kos. Afgevaardigdes is vir konferensie verkies, ledegelde betaal en VLV projek is bekend gemaak. Een van ons lede se dogter is getroud en daar is ook ‘n nuwe baba oppad.

 

Ons Kunste en Handvlyt vergadering is aan huis van ons Voorsitter gehou. ‘n Mimiek op maat van musiek is deur Yolanda Basson uitgevoer. 3 Bedankingskaartjies in variasie van Teesakkievouwerk asook sjokolade rolkoek, halwe ingelegde perskes, registertafel-middellap en blommerangskikking om ‘n bruidspaar te verwelkom was maar ‘n paar van die items wat op die kompetisielys was. Daar is hulde gebring aan ons erelid Kath Soar wat op 4 Februarie 2011 oorlede is. Sy was 66 jaar lank lid van die VLV en ‘n gereelde deelnemer aan kompetisies. ‘n Baie onverwagse haelstorm het die res van die vergadering gekelder en alle aandag was op die natuur gevestig. Ons het egter instruksies vir die laproos demonstrasie gekry en elkeen het toe tuis haar laproos gaan maak. 

 

2010 is afgesluit met ‘n baie lekker, maar ook warm en bedompige kuier op De-Lovely se stoep. Pryse is uitgedeel, nuwe bestuur gekies en ‘n pragtige viooluitvoering deur Desré Smit is ook gelewer. Daarna is ‘n heerlike ligte ete baie smaakvol deur Salomé Benadé van The Grapevine bedien. 

 

Beriggewer: Minette du Toit

 

Bestuur

 

Landbou & Tuinbou se uitstalling

  

 

Gades kuier om die braaivleisvuur 

 



Posted on 15 November 2010

Annatjie Viljoen en Ronel Smit het 5 jaar gelede ‘n kwiltkursus bygewoon.  Die gogga het hulle gebyt en daar is met die stokperdjie begin.  Daar is verskillende maniere van kwiltwerk doen: die Engelse metode, die Japanese metode, die Amerikaanse metode en Dolaswerk.  Verskeie van hierdie twee dames se kwilte is vertoon – almal erfstukke!  ‘n Besonderse stukkie werk is die een van ‘n John Deere Trekker wat Annatjie vir haar seun gemaak het.  Daarna het al die VLV lede ‘n voorbeeld van die Japanese metode van kwiltwerk gemaak.

 

Dr Frans Truter het die belangrikheid van gesond leef om hartverwante siektes te voorkom beklemtoon.  Die meeste sterfgevalle in Suid-Afrika is a.g.v. hartaanvalle.  Risiko gevalle is byvoorbeeld oorgewig, cholesterol, rook, hoë bloeddruk, stres, min oefening, suikersiekte, ens.
 

Marie Hanekom het meer inligting verskaf oor die trauma-eenheid van die polisie.  Sy het ook meer vertel oor wat die “veilige huise” projek behels.  Estelle MacGregor het die 15 syfers van die nommer verskaf om jou selfoon onskadelik te maak, indien jou selfoon sou wegraak.  Ook het sy inligting verskaf oor die gratis biblioteekdiens vir swaksiendes en blindes.

 

Marianne van der Merwe het troeteldier eienaars gewaarsku oor oorgewig troeteldiere en wat die nagevolge daarvan is. 

 

Die Sitrus Winkel is ook besoek.  Hier het Johannes ‘n kaas- en wynproe aangebied.  Johannes en sy vrou, Anyas, se passie vir kos en drank het duidelik gespreek uit die manier waarop hy die proe aangebied het.  Anyas en Getruida het daarna die heerlikste koeke en tee voorgesit.  Almal het dit terdeë geniet.

 

‘n Pannekoek bak is gehou om fondse in te samel.  Daar is heerlik saam gekuier rondom die bakkery.

 

Beriggewer: Minette du Toit

 

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 22 June 2010

Citrusdal se Landbou & Tuinbou vergadering is deur Minette du Toit geopen.  Hierna is al die formele verrigtinge afgehandel.  Desiré Smit het vir ons 2 pragtige viool items gelewer. Onder andere was die tweede item Salu D’More van Algo.  Van ons ouer lede sal hierdie stuk onthou as die Mrs Ball’s advertensie se kenwysie. 

 

 

Ons gasspreker was Susan de Kock.  Met haar graad in Natuurbewaring werk sy vanaf ‘n tuiskantoor en het al van die Kaap tot by die Namibiese grens, sowel as in die Karoo, werk verrig.  Sy werk baie nou saam met die Departement van Landbou met betrekking tot bewaring.  Dit behels dat sy impakstudies doen op gedeeltes van landbougrond waar nuwe aanplantings of selfs pakhuise beoog word. Natuurlike veld raak minder en meer bedreig. ‘n Voornemende kliënt kontak haar en sy doen dan die impakstudie. Dit behels ook dat sy saam met ‘n Botanis die grond besoek. Indien daar bedreigde of miskien nuwe spesies ontdek word, beteken dit dat die boer nie die grond sal kan ontwikkel nie.  Sy het ook melding gemaak van ‘n nuwe omgewingsbewaring wet wat nou beskikbaar is en wat ontwikkelings op sensitiewe areas beperk. 

 

Ons voorsitter, Marlene Dirkse van Schalkwyk, het elkeen bedank vir haar harde werk tydens ons jaarlikse snoekbraai wat teen einde Mei plaasgevind het.

 

Uitstallings is gehou deur Openbare Sake: padtekens, Landbou & Tuinbou : boeke oor inheemse blomme en bome.  ‘n Gelukkige trekking is gehou. Ons almal moes dan ook tydens hierdie vergadering “outyds” aantrek en daar is heerlik gelag vir party uitrustings. 

 

Ons 5 minute praatjie deur Kuns en Handvlyt het gehandel oor ‘n lewenskets van die skilder Dawid Botha. Hy is ‘n skilder en grafiese kunstenaar. Sy skilderye word gekenmerk deur straattonele van die Kaap en Stellenbosch omgewing, asook stillewe.  Hy doen ook linosnee werke.

 

Ons sekretaresse lees vir ons uit ou notule boeke voor. Onder andere is daar met elke vergadering ‘n item gelewer, soms sommer 2!  Baie sang solo’s, klavier solo’s en duette, boekvoorlesings, voordragte en vasvrae was gereeld op die vergaderings gehou. Demonstrasies deur onder andere Nestlé, Sasko en Vleisraad het ook plaasgevind. In 1972 is selfs ‘n wynproe aand gehou. 100 Kaartjies teen 50c elk is verkoop ten bate van VLV Citrusdal se eie kas.

 

Ons het afgesluit met ‘n heildronk op ons tak se 79ste verjaardag.

 

 

Berig deur Minette du Toit.

 

 

 

 

Drie Lede geklee in hul "oytydse" uitrustings.

 

  

 

Desiré Smit



Posted on 20 May 2010

Onder leiding van Mev Sannie Laing het ons ‘n leersame vergadering in April gehad.  Sanel van Eeden en Nicolene du Plessies het vir ons alles kom vertel van Home Base Care.

 

Die projek behels dat ‘n hele aantal tuisversorgers daagliks uitgaan na wonings toe om die swak pasiënte tuis te gaan versorg.  Hulle gee ook elkeen se medikasie – wat natuurlik ‘n lang gewag by die kliniek uitskakel.  Verder sien hulle ook toe dat die persone wat in nood verkeer gehelp word en deel kospakkies, komberse, klerasie, ens aan elke behoeftige uit. 

 

Daar was fondse van ‘n oorsese land om dit te begin, maar die befondsing is egter intussen gestaak en hulle  moet nou self die mas opkom. Die hartseer is dat een van hierdie tuisversorgers haar werk gaan verloor, omdat daar nie genoegsame fondse vir haar salaris beskikbaar is nie.  Dit was ‘n baie moeilike keuse, want elkeen van hierdie tuisversorgers is baie toegewyd aan hul werk en moet in moeilike omstandighede hul taak verrig.

 

‘n Pragtige Rooibostee uitstalling is gehou, wat ook vir elke portefeulje punte besorg het.  Die kompetisies was onder andere ‘n rooibostee marmalade brood, rooibostee tamatie uitjies, rooibostee koek, asook rooibostee appelkooslekkers.  ’n Poprok, gebreide boekmerk en ‘n gehekelde armband was ook deel van die kompetisie en rangskikkings “met ‘n kruis” het die verbeelding aangegryp, so ook die stillewe potloodsketse.

 

Kaartjies is uitgedeel vir ons fondsinsameling, ‘n snoekbraai wegneemete op 28 Mei 2010.

 

 

 

 

 Sanel van Eeden & Nicolene du Plessis oor Home Base Care.

 

 

 

Rankskikking met 'n kruis deur Minette du Toit.

 

 

Citrusdallers het ‘n lekker mengelmoes vergadering gehad op 13 Mei 2010.

 

’n Item is deur Charné Carstens gelewer waarmee sy by ons Eistedford ‘n baie goeie plek behaal het.  Sy is ‘n plaaslike leerling en baie goed in toneelspeel, voordrag, ens.  Sy het ons vermaak met ‘n stuk “Pa, my siel”. 

 

‘n Pragtige roosboom is uitgeloot en Mev Ester Olivier moet plek maak in haar tuin vir die boom. ‘n Uitstalling deur Kunste en Handvlyt is oor die skilder Portchie se werke gehou. ‘n Afdruk van een van sy skilderye, ‘n skinkbord, ‘n muurbehangsel en ‘n groetekaartjie is ten toon gestel.  Sy CV was ook beskikbaar vir die wat meer oor hom te wete wou kom. 

 

 

Daar was ook ‘n Vader Clarehout afdruk en inligting oor die Clanwilliam Kunshuis.  Marlene Dirkse van Schalkwyk het haarself as André Rieu vermom en Marianne van der Merwe het met haar ‘n onderhoud gevoer.  Hierdie twee dames het dan ook sy konsert in Kaapstad bygewoon en vertel aan ons dat dit ‘n belewenis was.  ‘n Musiek dvd van André Rieu is vertoon en ons almal het hierdie pragtige musiek geniet. 

 

 

Joan Mouton het ‘n praatjie oor Argentinië gelewer.  Dit was baie interessant om te hoor hoe daardie mense lewe.  Marianne van der Merwe het vir ons vertel van haar 3 weke vakansie in Australië, onder andere hoe baie kangaroos daar doodgery word en hoe die baba kangaroos dan eers in pleegsorg geplaas word, voor hulle later weer in die natuur vrygelaat word. 

 

Uitstallings oor Argentinë sowel as Australië is ten toon gestel.  Die heerlikste sjokolade fudge was op die kompetisie lys asook pragtige rangskikkings “herfsvreugde” en huweliksuitnodiging kaartjie vir ‘n eie troue. 

 

Mev. Mara van Niekerk het die vergadering afgesluit met die lees van die VLV gebed in Engels.

 

  

 

Portchie Uitstalling Kunste & Handvlyt.

 

 

 

Marianne van der Merwe en Marlene Dirkse Van Schalkwyk as André Rieu.

Categories