Posted on 26 September 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Rina Coreejes

 

Colesberg tak se September vergadering het vele interessante gesprekke en besprekings opgelewer.

 

Mev. Legonda Vorster, eienaar van die Ketelfontein Kwekery op Colesberg, het gesels oor veral bome en struike wat eie is aan die Karoo. Voorbeelde in die vorm van takkies is deur die loop van haar interessante praatjie omgestuur sodat dames dit van nader kon aanskou. 'n Ideale boom vir Colesberg is dan ook die Honey Locust, omdat die bome nie baie water vra nie.

 

Om die vergadering af te sluit is 'n belangrike stukkie korrespondensie - 'n tipe van 'n CV - voorgelees van 'n ywerige, hardwerkende VLV lid wie in 1951 by die VLV aangesluit het en in 2002 deel geword het van Colesberg tak. 'n Dame wat graag help met die bak van pannekoek. Mev. Bossie van Heerden is vereer met 'n oorkonde vir 60 jaar lidmaatskap en het haar 60 jaar kenteken ontvang. Daarmee saam het sy dan nou ook erelidmaatskap verkry.

 

Om dit te vier was haar dogter, Ronel Rossouw, as eregas aan tannie Bossie se sy en het dames 'n glasie vonkelwyn/vrugtesap geklink op hierdie spesiale VLV lid.

 

 

Colesberg se dames klink 'n glasie op tannie Bossie se 60 jaar van lidmaatskap.

 

 

 

Juanita du Plessis het die oorkonde aan tannie Bossie oorhandig.

  

 

Tannie Bossie spog met haar oorkonde by die spesiale koek vir die geleentheid.



Posted on 24 July 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Vigs is ‘n ongeneeslike siekte en die jeug moet betyds gewaarsku word.

 

Colesberg tak het een van hul portefeuljes, Opvoeding en Kultuur gebruik om uit te reik na die seuns van Hoërskool Colesberg. Mev. Sandra Nolte, Sirkelpresident, het al die pad vanaf Loxton gereis vir die vergadering.

 

Min wetend waaroor die spesiale geleentheid gaan, is die seuns eers verras met ‘n heerlike eetdingetjie en gepaste boodskap op hul stoele.  Me. Emerentia Pretorius, personeellid en VLV-dame, het almal welkom geheet en die Hoërskoolkoor het ook ‘n bydrae gelewer deur die sing van een van Mozart se werke en dit boonop in Latyn.

 

Die seuns het toe gehoor dat hulle na ‘n DVD gaan kyk wat handel oor keuses wat jong mans moet maak. ‘n Mens bou lewenslank aan ‘n karakter en dit neem ongelukkig net een vinnige en verkeerde keuse om dit alles in ‘n kort oomblik af te breek. Haar boodskap was duidelik dat jy as jong man altyd weer moet opstaan, maak nie saak wat gebeur nie.

 

Sy het afgesluit met die volgende woorde: JY MAG NOOIT – opgee as jy teleurstel nie; ophou wanneer jy verloor het; bly lê as jy geval het nie;  in die steek gelaat word as jy vertrou het nie. JY MAG ALTYD – leef met die wete dat jy vir ‘n groter doel hier is en baie spesiaal is.

 

Die DVD, In Your Face” wat aan die seuns vertoon is, het aan hul die gevare uitgewys van seks hê met meer as een meisie; die opdoen van VIGS en die nagevolge daarvan. Jy mag dalk weet dat jy gesond is, maar jy kan die virus opdoen by jou maat. Die vraag is: wil jy ook ‘n slagoffer wees van die skelwoord VIGS? Skokkende foto’s is vertoon van hoe slagoffers lyk en die seuns se aandag is daarop gevestig dat nie eens die gebruik van ‘n kondoom, as veilig beskou kan word nie. Daar bestaan nie so iets soos beskermde seks nie – pas jou liggaam op, want soos die aanbieder in die DVD dit stel:  “Jy het nie oefening nodig om die dag as jy (blakend gesond) die regte persoon ontmoet en getroud is, gelukkig te hou nie. Dis die moeite werd om te wag!!”

 

 

Lede van Colesberg tak saam met die jongmanne van hulle dorp.



Posted on 02 May 2011

Portefeulje: Gesondheid


Colesberg tak het besluit om Britstown tak se uitdaging te aanvaar! Daar gaan gepoog word om 'n hele bussie vol te laai met dames om te gaan vir 'n mammogram. Die dames is ook vuur en vlam om VLVK se projek te ondersteun om blokke te brei vir KANSA, wat dan saamgevoeg sal word om komberse te maak. 


Die produk “Lifegain” is aan die lede bekend gestel. Dit is ‘n poeier wat aangemaak word met melk of water en in die plek van ontbyt gedrink kan word. Die gebruiker daarvan word nie maklik honger deur die loop van die oggend nie. Die produk word gebruik vir herstel na ‘n siekte, dit breek cholesterol af, bou die pasiënt op tydens kankerbehandeling, verleen diabetiese bystand, en help vir immuun- en hormonale probleme. Dit bevat ‘n groot verskeidenheid vitamines en is nie ‘n medisyne nie, maar wel ‘n dieetaanvulling wat energie aan die gebruiker teruggee.

 

Tydens hierdie vergadering is daar ook kentekens oorhandig aan getroue en lojale lede. Hulle is LNR: Mathilda Steynberg (15 jaar), Marié Botha (25 jaar), Aletta Venter (45 jaar), Mariana Behrens (10 jaar) en Hannie Pretorius (20 jaar).

 

 



Posted on 26 April 2011

Portefeulje: Leefstyl

 

Tydens April se Leefstyl vergadering op Colesberg het Emerentia Pretorius aan die lede gedemonstreer hoe om ‘n maklike en heerlike sjokoladekoek binne 6 minute in die mikrogolfoond te bak. Die droë bestanddele en vloeistof word eers apart gemeng en dan bymekaar gevoeg. Die mengsel moet dan net geroer word tot alles gemeng is en nie geklits word nie, anders word die bakpoeier te veel geaktiveer en die beslag mag oorkook in die oond. Die bakpoeier veral, moet baie akkuraat afgemeet word, anders is die beslag ook geneig om oor te kook. Die sterkte van die oond is ook belangrik. Hoe hoër die werkverrigting van die oond, in Watt gemeet, by hoe ‘n laer kragstelling (bv. “medium high” of “medium”) moet die koek gebak word - as dieselfde lengte tyd gebruik word. ‘n Sousie word oor die koek gegooi sodra dit uit die oond kom en die resultaat is ‘n heerlike, klam koek.

 

Marianna Behrens het tydens dieselfde vergadering ‘n demonstrasie op die borduurmasjien gelewer. Die masjien word geprogrammeer met behulp van ‘n rekenaar. Die artikel of materiaal word oor ‘n borduurraam gespan, die gare word ingeryg, ‘n paar knoppies word gedruk, en jy kan terugsit en kyk hoe die masjien op sy eie die borduurwerk voltooi. Wanneer ‘n nuwe kleur gare benodig word, laat die masjien jou weet en jy kan die nuwe tol gare insit. Op die skerm word gewys hoe groot die voltooide ontwerp sal wees, hoeveel steke gebruik gaan word en hoe lank dit sal neem om te voltooi.

 

Almal was dit eens dat dit ‘n baie interessante en leersame vergadering was.  Hierdie naweek sal daar in menige VLV-huis in Colesberg sjokoladekoek op die tafel wees. Oor die borduurmasjien kan die meeste van ons net droom ...

 

 

Emerentia Pretorius

 

 

Marianna Behrens



Posted on 02 February 2011

Die Droom Meisie-Droom Vrou projek is 'n sirkelprojek van die VLVK Noord-Karoo. Verlede Saterdag het die VLV dames van Colesberg ongeveer 100 meisies in Grade 10-12 onthaal. Tydens die geleentheid is al ses portefeuljes van die VLV as volg gedek:

 

Kunste & Handvlyt : Elke dogter het Psalm 23 krale armband gemaak.

 

Gesondheid:  'n DVD getiteld  "In Your Face" is aan die meisies vertoon.

 

Opvoeding & Kultuur:  Mev. Rosa Conradie het met die meisies gepraat oor selfbeeld.

 

Leefstyl:  Aandag is gegee aan kleredrag as onderwerp en mev. Elize Havenga, bekende naaldwerkster op Colesberg het aan die meisies raad gegee oor die keuses en waarna gekyk moet word, met die uitkies van jou kledingstuk.

 

Openbare Sake: Mens is nooit te jonk om te leer van 'n begroting nie, want al is jy 'n kind kan 'n begroting op 'n kindertoelaag wel uitgewerk word en boonop balanseer. 'n Kort opvoering is ook gehou.

 

Landbou & Tuinbou: Die dag se verrigtinge is afgesluit met 'n bydrae tot die Hoërskool se roostuin deurdat die matriekmeisies 'n roosboom "Dream Dolly" geplant het en onderneem het om mooi na Dolly te kyk deur gereeld water te gee.

 

'n Droom geleentheid vir 'n meisie vol drome oor hoe sy eendag 'n Droom Vrou gaan wees - 'n mond vol drome.

 

 

 

Die VLV-Colesberg bestuur hier saam met die matriekmeisies.

 

 

Georgina Jansen, mev. Juanita Du Plessis (VLV Colesberg Voorsitter), Geneve Ross, Amy Seherieen, Abigail Louw.

 

 



Posted on 12 November 2010

Vanjaar 200 jaar gelede, is Frédéric Chopin  gebore. Chopin was een van die grootste komponiste van die Romantiese tydperk, en staan vandag uitsluitlik bekend as komponis van klavierwerke. As een van die eerste nasionale komponiste het hy die Volksmusiek van Pole tot konsertsaal-status verhoog met sy Mazurkas, Walse, Nocturnes, Polonaise, Etudes en Preludes.

 

Hy is in 1810, as die enigste seun van 4 kinders, naby Warschau gebore en bring 20 jaar in Pole deur. Reeds as kleuter was Chopin emosioneel baie fyngevoelig en het hy ‘n buitengewone aanvoeling vir musiek gehad.

 

Nes Mozart, was Chopin self ‘n wonderkind van musiek. Sy klavierlesse begin nog voor hy kon lees, en hy het reeds eenvoudige Poolse dansies gekomponeer nog voordat hy kon skryf!  Voor sy 9de verjaardag neem hy deel aan sy eerste groot openbare uitvoering, wat gelei het tot menige uitnodigings. Chopin was liggaamlik nooit baie sterk nie, en het dus voor klein waarderende groepe opgetree. 

 

Op 21 vestig hy hom permanent in Parys. Hy sterf op 17 Oktober 1849 aan tering. By sy begrafnisdiens word Mozart se bekende Requiem uitgevoer. 



Posted on 09 November 2010

Colesberg se plaaslike veearts, Dr. Charmaine Rous, gee belangrike feite oor Slenkdalkoors.

Alle plaasdiere, met uitsondering v.d. vark, word geïnfekteer deur muskiete en steekvlieë. Dis onwaarskynlik dat die mens deur die muskiet besmet word, maar wel deur oop seerplekke wat in aanraking kom met besmette karkasse, asook die gasse wat vrygestel word wanneer ‘n besmette karkas oopgesny word. Om Slenkdalkoors by diere te voorkom, moet hulle jaarliks ingeënt word. Daar is tans geen teenmiddel vir die mens nie, behalwe in Amerika.


Hierdie siekte hou 3 gevare in vir die mens:


           1.  Die virus kan die oë aantas, wat permanente skade veroorsaak.
           2.  Die brein en senuweestelsel kan aangetas word, maar lei nie tot die dood nie.
           3.  Die lewer word aangetas, wat veroorsaak dat die organe begin bloei, wat lei tot die dood.

Muskieteiers kan tot 30 jaar bewaar bly. Wanneer daar bogemiddeld reën val saam met voldoende hitte, broei die eiers uit. Omdat hierdie virus redelik swak is, word dit maklik vernietig. Moet liefs nie ongepasteuriseerde  vars melk drink nie. Verkoel ‘n skaapkarkas vir 24 – 48 uur voor die vleis gaargemaak word. Die lig en lug waaraan biltong blootgestel word, is voldoende om die virus te vernietig.

 

 

 

Dr Charmaine Rous en Juanita du Plessis, Voorsitter Colesberg.



Posted on 22 July 2010

Mev. Elize Havenga, ’n lid van Colesberg tak, het onlangs namens die VLV ’n praatjie met die matrieks gehad ter voorbereiding van die Matriekafskeid. Sy het spesifiek met die dogters gepraat oor die keuse van die regte rok en bykomstighede vir hierdie spesiale geleentheid. Daar is ’n paar belangrike punte wat in gedagte gehou moet word.

  • Finansies
    Gesels eers met jou ma en pa oor die koste van die rok. Dit is nie nodig om die duurste rok te koop om baie mooi te lyk nie. Onthou dat ’n ontwerper baie duur is.
  • Keuse van patroon en materiaal 
    Die patroon, jy en die materiaal moet by mekaar pas. As jy ’n prentjie gesien het, onthou dat jy nie presies soos op die prentjie kan lyk nie, want dit is nie jy nie en jy is nie gebou soos die vrou op die prentjie nie. Die kleur van die rok is baie belangrik.  Jou eerste keuse moet wees die kleur waarvan jy die meeste hou en dit moet pas by jou geaardheid. As jy nie ’n ekstrovert persoonlikheid het nie of nie daarvan hou om in die kollig te wees nie, moet jy bv. nie ’n bloedrooi rok aantrek nie. Sorg dat jy ook ’n tweede en derde keuse het, want ’n mens kry nie altyd presies wat jy soek nie.   Dink ook aan praktiese dinge, bv. dat dit moeilik is om te sit met ’n baie wye feetjierok. Die rok moenie op die grond sleep nie, want ’n mens trap dit maklik vas en dit verniel baie. Onthou dat dit nie jou trourok is nie, so dit is goed as jy die rok weer agterna kan dra. ’n Goeie idee is om twee rompe by ’n toppie te laat maak, ’n lange en ’n korter een, dan kan dit weer later vir verskillende geleenthede gebruik word.
  • Bykomstighede
    Moenie baie hoë skoene dra as jy sukkel om daarmee te loop nie. Die skoene moet by jou voete pas. Moenie juweliersware kies voordat jou rok klaar is nie, want jy weet nie wat by die rok gaan werk nie. ’n Handsak is nie regtig nodig nie en is dikwels ’n relatief duur item. As jy graag ’n handsakkie wil dra, koop liewer ’n goedkoop een en versier dit self met kraletjies om by jou rok te pas.
  • Hare
    Kleur jou hare lank voor die tyd as jy dit oorweeg, want die kleur het ’n invloed op hoe jy in die rok lyk. ’n Ander kleur as waarmee jy oorspronklik die rok se kleur gekies het, werk nie altyd nie. As jy bv. krulletjies wil dra, moet dit by die rok werk.  Toets vooraf verskillende style uit en kyk wat werk die beste by jou rok.

 

Die dogters het die praatjie baie geniet en sommige het reeds agterna weer vir mev. Havenga gekontak om nog raad te vra. Ons glo hierdie praatjie sal help om hulle aand baie spesiaal te maak.



Posted on 19 May 2010

VLV Colesberg het besluit om 'n bydrae aan die ACVV te maak. 

 

 'n Koekverkoping is gehou en is die mooi bedrag van R620 ingesamel wat tydens hul maandvergadering aan mev. Elsa Jacobs (voorsitter van die ACVV Colesberg) oorhandig is.  Die ACVV op Colesberg verrig 'n onbaatsugtige diens op maatskaplike gebied en is ook dankbaar vir hierdie mooi gebaar.

 

Juanita du Plessis en Elsa Jacobs

 



Posted on 02 September 2009

Rina Coreejes, skakelbeampte van Sirkel Noord-Karoo, skryf:

 

Bestuur:

 

Marié Botha
Hoofbestuurslid:  Visepresident en Leefstyl en Naaldwerk:
Posbus 258, COLESBERG, 9795
Tel en Faks:  051 753 0046, Sel:  082 841 8162
e-pos:  bothaweb@xsinet.co.za
 
 
Juanita du Plessis  
Voorsitter: Portefeulje:  Openbare Sake 
Posbus 302, COLESBERG, 9795 
Tel en faks:  051 753 1314. Sel:  071 190 7521 
e-pos:  antondup@telkomsa.net

 

 

 

 

 

 

 

VLV Colesberg is een van die takke in die Noord-Karoo sirkel.  Ons bestaan uit 24 lede. Omtrent almal van ons is werkend, hetsy dit in die opvoeding- en gesondheidsektore is of as entrepreneurs. Soos oral, knyp die ekonomie ook in ons dorp en sien jy hoe die belt stywer getrek word. Dit demp nie ons geesdrif om iets vir ons dorp en ons vereniging te doen nie. Pragtig versierde asblikke is oral in die dorp geplaas as ʼn poging tot ʼn skoner dorp.

 

   

Ons neem geesdriftig saam met die res van Suid Afrika deel aan die borskanker veldtog. Ons bied “the  walk of hope” aan en stap op van ons plaaspaaie vir 5 of 10 kilometer. Ma’s, pa’s en kinders neem deel, koop pienk bandanas en ondersteun ons worsbroodjie stalletjie. “Journey of hope” se dames op Harley motorfietse ry van Johannesburg na Kaapstad en doen ook by ons aan. Dit was vir ons lekker om aan hulle ‘n donasie te oorhandig.

 

 

  

Die plaaslike NG Kerk benodig nuwe kollektesakkies en tydens ʼn vergadering waar die predikant as spreker optree, bied ons aan om dit vir hulle te laat borduur en te maak. So word VLV net meer en meer sigbaar in ons gemeenskap.

 

 

 

 

 

Agter vlnr:  Estelle Jacobs, Marié Botha en Mathilda Steynberg.  Middel vlnr:  Elna Strauss, Hannie Pretorius, Anna-marie Wessels en Ettorina Stoop.  Sittend: Juanita du Plessis en Emerenthia Pretorius

 

  

Om ons fondse te styf, bak ons pannekoek buite Foodzone supermark op die laaste Saterdag van elke maand. Hier is dit ‘n geval van een hand was die ander. Die bestanddele vir een baksel pannekoek word deur die supermark aan ons geskenk. Terwyl ons bak vir fondse, trek hulle kliënte, oulik nè? 

 

Al moet ek erken dat ons nog in ons winterslaap is met lekker koue nagte, beplan ons 'n heerlike verjaarsdagpartytjie vir ons 80ste verjaarsdag met 80 gaste – selfs ou lede word genooi. Die ikoon van borduur, tannie Ragie van  Rensburg is hier gebore en getoë. Haar kleindogter is lid van ons tak. Op ons partytjie sal sy ʼn huldeblyk aan tannie Ragie bring en sal ons ʼn krans op haar graf gaan lê.   

 

Die VLV COLESBERG hou die dames behoorlik warm van binne en buite.  Die sirkelpresident van die Noord-Karoo, Sandra Nolte  het ons besoek.  Dit was heerlik om geïnspireer te word deur haar entoesiasme en passie vir die VLV en die lewe.  Dit is wonderlik om deel te wees van ‘n groep vriendinne wat dieselfde passies as jy deel en elke keer lekker pitkos te kry, van dinge wat jy nie geweet het nie te leer of jou belangstelling weer te prikkel om met nuwe belangstelling na dinge te kyk. 

Ons is mekaar se wat iemand anders se leed en vreugde moet raaksien. Ons moet hulle ondersteun of sommer net saam met hulle lag en elke dag met nuwe entoesiasme aanpak.  Die VLV vriendinne het hulle kennis verbreed, is bemoedig met huweliksraad, raad oor kinders, tuinmaak en aangemoedig om hulle skeppingsdrang uit te leef en deel te neem aan kompetisies.   Is jy so ‘n  juweel vir jou vriendinne?

 

Het jy geweet hoeveel byvoeglike naamwoorde is daar vir vrugte? Sag, hard, sappig, vlesig, waterig, lekker, suur, bitter, tropies. Aan hoeveel kan jy nog dink?

 

 

Watter een van die vrugte is jy, as jy dink hoe jou lewe lyk en proe. Is jy die lekker sappige appel wat altyd beskikbaar is en waarop almal kan staatmaak, of die heerlike pienk waatlemoen wat net suikerwater is?  Tesame is ons  ‘n bak vrugteslaai vol van kleure en smake en sappe.

 

 

Geniet hierdie bak vol vrugteslaai-vriendinne in jou lewe met entoesiasme, sodat hulle ook graag van jou sal wil gebruik maak in die slaai.

 

   

Openbare Sake

Na ‘n heerlike vergadering het ons verskuif na die museum en daar 'n heerlike koppie tee geniet by die nuwe koffiewinkel wat geopen is ter aanvulling van die museum se nuwe plan om meer toeganklik te wees vir die publiek.  Die museum is in proses van restourasie en ons sien uit daarna om ons pragstuk met sy ryk geskiedkundige erfstukke te besoek.

 

                                                     

Opvoeding

Ettorina Stoop besoek die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein en lig sekere werke uit wat op ‘n permanente buite uitstalling is. Daar is werke van draad, hout, mosaïek en vele meer. Daar is gereeld nuwe uitstallings van verskeie kunstenaars in die Reservoir wat in 2002 gerestoureer is.  Dit was ‘n water opgaararea wat 14 x 33 x 3,2 m in beslag geneem het en kon 1440 kubieke meter water hou. Die dak, 450 vierkante meter, word gestut deur twee rye van vyf pilare uit gekapte dolomiet mnet twee beton drabalke waarop ‘n gewelfde dak rus. Besoek hierdie stukkie kultuur en aanskou die besondere boustyl wat behoue geblry het vir die nageslag.

 

   

 

Watersake

Waterbesparing word deesdae ‘n dringende probleem. Jannie Pienaar , ‘n plaaslike boer,  installeer die groen watertenks en ‘n pomp wat outomaties aanskakel as daar geen watertoevoer is na jou huis toe nie. Die tenk werk met ‘n inlaatklep wat toedruk as die tenk vol is.  Dit kos ongeveer R5 000+, afhangende van die tenkgrootte en of jy besproeiing daaraan wil koppel. Kry van die begin af ‘n groot genoeg tenk vir latere uitbreiding en besproeiing.

 

 

 

Op die foto is lede en gaste wat uitgenooi was om die dag saam met ons te deel.  Lede woon ‘n baie interessante praatjie by oor die vrou wat so sterk is soos ‘n klip en wat altyd net kan aanhou.  Die volgende spreker, ‘n plaaslike dokter, het gepraat oor die prosedures wat die hospitaal volg as daar ‘n verkragtingspasiënt, vroue en ook mans, by die hospitaal aankom en die polisie die verklaring daar kom afneem.  Dit is baie belangrik dat die toerusting steriel moet wees en dat enige bewyse wat ingesamel word, steriel hanteer moet word.

 

  

 

 

Die volgende spreker is Wikus Koen, van die visteelstasie by die Gariep dam. Hy vertel meer van die oes van eiers van die katvis.  Die mannetjies word doodgemaak om die saadselle te kry, want hulle kan nie gemelk word soos die wyfies nie.  Hulle voorsien aan baie projekte duimlengte vissies teen R6 per vissie. Die wyfies word ingespuit met hormone om almal op dieselfde tyd gereed te wees om gemelk te word. Die eiers word in spesiaal verhitte tenks aangehou tot hulle groot genoeg is om verkoop te word.

  

 

Categories