Posted on 27 July 2010

Ansie Maas verruil De Aar vir Pretoria.  Sy het by De Aar tak in 1960 aangesluit en verlaat ons nou in 2010!

 

Ansie…..

 

Ons gaan jou beslis baie mis, nie net al die kere wat jy bereid was om jou deel as VLV-vriendin te doen nie, maar omdat jy, jy is.

 

Baie dankie vir al jou liefde deur die jare, jy was baie lank by ons werksaamhede betrokke, ons het baie by jou geleer en kon altyd op jou staatmaak.  Geen byeenkoms of funksie gaan ooit weer dieselfde wees sonder jou nie.

 

Jou plekkie gaan leeg wees, maar wees gerus, ons sal jou nooit vergeet nie, net baie mis.  Dankie vir al die kere wat ons saam kon lag, huil, bly wees of werk.  Dankie dat jy altyd daar was as ons jou nodig gehad het.

 

Jy is die beste vriendin wat iemand kan hê, ons vriendskap met jou sal ons nooit berou, maak nie saak wat die toekoms vir ons inhou.  Ons vertrou dat jy gelukkig sal wees waar jy nou gaan woon, dat die Heer jou sal lei en onderskraag en dat jy wel vir ons sal kom kuier.

 

Ons wens vir jou:

Genoeg geluk om lief te he;
Genoeg beproewings om jou sterk te hou;
Genoeg verdriet om jou menslik te hou;
Genoeg hoop om jou gelukkig te hou;
Genoeg welslae om jou ywerig te hou;
Genoeg vriendinne om jou te troos;
Genoeg rykdom om in jou behoeftes te voorsien;
Genoeg ywer om jou vooruit te laat sien;
Genoeg vasberadenheid om elke dag beter te maak as die vorige.


Baie liefde
VLV De Aar

 

 



Posted on 21 June 2010

Annamarie Rich het met ons die tema: “Binnehuisversiering met wat jy het” kom deel  onder die volgende punte:

1. Skuif jou meubels ‘n slag op ‘n ander manier.
2. Pak reg, weg en raak ontslae van oortollige goed.
3. Kyk wat is op jou kombuis se werkoppervlaktes, op jou bedkassie en badkamerkassie, pak die oortollige goed weg.
4. Ruil van tyd tot tyd die goed wat jy uitstal om met ander wat jy nou gebêre het.
5. Dit maak regtig ‘n groot verskil aan jou binneversiering as die plek netjies is.
6. Gebruik bêrehouers en maak dit deel van jou dekor.
7. Sorg dat die balans op n tafel, rak en in die kamer reg is.
8. Gebruik ou goed op ‘n nuwe manier.  Bv doilies op ‘n tafeldoek of deken was gewerk.
9. Gebruik spieëls op verskillende maniere, sit dit in ‘n ou raam of in die middel van ‘n tafel met ‘n blompot vol blomme daarin.
10. Kussings:
                  Ou kussings sit bv. kraletjies, koort of tossels aan en hul het ‘n nuwe lewe;
                  Ou gehekelde tafellappies kan in kussingslope verander word;
                  Werk  ‘n kantjie aan ‘n kussingsloop en trek die boonste kussing daarmee oor;
                  Maak lang kussings vir ‘n verandering.
11. GEBRUIK jou goed!!!!!!! Moenie dit bêre vir jou kinders of die 2de vrou nie. Hulle gaan dit nie waardeer nie!!



Posted on 01 June 2010

Gaan loer op die blog (bydrae deur Rina Coreejes) vir hulp met TEESAKKIEVOU.



Posted on 01 June 2010

Rina Coreejes skryf:

Die De Aar tak van die VLV het ‘n in diepte oorsig van heuning en heuningboerdery gehad. Annelise Willems van Stellenberg in die Wes-Kaap, was die spreker.

 

Sy het vanaf 25 miljoen jaar gelede gedek; deur die Romeine wat  drie maal per dag heuning geëet het en die Grieke wat heuning as betaalmiddel prakties gevind het, tot waar Suid-Afrika tans 6 000 by spesies het waarvan slegs 6 spesies heuning maak.

 

Die mees algemene spesie van heuningby in die Wes-Kaap is die Capensis. Die Scuttellata word in die Noord-Kaap aangetref.  ‘n Swerm heuningbye bestaan uit 10 000 tot 60 000 bye. Van hulle onderskei ons die koningin, hommels en werkerbye. Die werkerbye is vanaf dag 1 selskoonmakers wat ook larwes voer. Dit verander van dag 6 tot 13 wanneer hulle die koningin en babas voer asook hulle eerste vlugte as jong bye maak. Daarna dra hulle die rommel uit die nes vanaf dag 12 tot 20, pak stuifmeel, waai heuning ryp en bou was en propolis. Dis eers vanaf dag 18 tot 28 dat ons werkers sien stuifmeel, water en nektar versamel. ‘n Besondere loopbaan vir die vroue van die bye.

 

Wanneer Annelise oor heuningboerdery praat onderskei sy tussen boer met heuning, stuifmeel of swerms.

Duidelike riglyne vir heuningboerdery is aangestip
1.  Jou broeikas moet 10 rame hê en n “super” wat ook 10 rame het
2.  Jy moet staanplekke kies wat gereeld gekontak kan word met ‘n motor
     of bakkie
3.  Kry ‘n swerm
4.  Beskermende klere is nodig
5.  Jy kan nie sonder ‘n roker goed werk nie
6.  Onthou potjies om die heuning in te hou
7.  Woon kursusse by

 

Sy het ook vlugtig aan ons verduidelik hoe om ‘n swerm te verskuif na ‘n nuwe broeikas.

 

Ter afsluiting is die proses van hoe om heuning uit te swaai en te bottel, verduidelik. Veral die feit dat heuning nie meer as 37 grade celsius verhit moet word nie, is goed om te weet. By hoër grade verander die heuning se smaak.

 

Die kersie op die koek was ‘n video van ‘n werklike heuning uithaal proses. Al die voorbeelde is toegelig met telefoonnommers en organisasies waar ‘n byeboer prakties hulp kan kry. Pitkos vir VLV vroue.



Posted on 20 April 2010

Dinsdag, 13 April het die dames van De Aar tak, ‘n nuwe stokperdjie geleer, naamlik teesakkievou, wat een van die kompetisie artikels van 2010 is.  Ons moet sê dat die gogga ‘n hele paar dames erg gebyt het.

 

Die kunsvorm het in Nederland ontstaan waar Tiny van der Plas eendag met ‘n teesakkie-koevertjie gesit en “speel” het. Sy het agtergekom dat dit ‘n oulike “medaljon” maak as sy dit op verskillende maniere vou en dit geometries aan mekaar las.  Die kunsvorm het in so ‘n mate ontwikkel dat regte teesakkie-koevertjies, deesdae maar selde gebruik word.  Spesiale Teesakkievou-papier word ontwerp en gedruk vir die kunsvorm.  Dit kom in so baie kleure en ontwerpe voor dat dit baie moeilik is om te besluit wat die mooiste is en wat om te gebruik!!

 

Terminologie:
Tiles / Teëls: Vierkantige blokkie van, gewoonlik, 4 x 4cm                                                    
Fold / Vou: Vou van die teël op verskillende maniere om, as dit aan mekaar gelas word, dit ‘n medaljon vorm
Medallion / Medaljon: ‘n Stel gevoude teëls wat aanmekaar gegom is

Benodighede:
Teesakkievou-papier (teëls)
Liniaal en skêr of kunsmessie en snymat
Gom en tandestokkie (om gom mee aan te sit)

 

Die vou wat ons geleer het was die Pylpunt-vou (Arrowhead, 3 variasies) en twee variasies op die vou.  Ander Voue is bv. Diamant (Diamond, 2 variasies), Vlieër (Kite, 4 variasies) en die Blom (Flower, 1 variasie).  Mens kry ook “Soom-voue” om jou bladsy mee af te rond.

 

Ons hoop dat ander takke dit ook al beproef het en dit net so baie soos ons geniet het!

   

 

Twee variasies op die Pylpunt-vou

 

 

 

Blom-vou variasie



Posted on 22 March 2010

De Aar tak se Maart vergadering was weer ‘n fees.

 

Hanlie du Plessis (Landbou en Tuinbou) stel die 2 bome van die jaar aan ons bekend. Alhoewel die bome glad nie in die Karoo aard nie, was dit baie interessant om meer daaroor te leer.

 

Kaapse Katjiepiering:  n aantreklike, kleinerige boom met roomkleurige blomme in die somer, die blomme ruik soet en dit dra ronde vrugte.  Hul ligging is van die kus van die Suid Kaap tot Noord Zoeloeland.
Tonga Kierie:  groei so 5,4m hoog en aard vanaf Zoeloeland tot Swaziland.  Hulle blom in Oktober en November.  Hul vrugte bly aan die kaal boom in die winter.  Die boom ruik baie sleg en word nie in digbewoonde gebiede aangeplant nie.  Die wortels word vir medisinale doeleindes gebruik.

 

Die Leefstyl dames, Ivonne Fourie en Hildegard van Zyl, demonstreer “Magic” appliek aan die lede.  Dit is ‘n papier wat aan albei kante gegom is.  Trek die ontwerp op die papier af, knip uit en stryk dit aan die lap vas.  Trek die papier af en sit die gomkant op jou agtergrond vas en stryk weer.  Werk die rand af met komberssteek.  Elke dame het ‘n voorbeeld gekry om op te oefen.  

 

Die laaste spreker was Kaptein Annemarie Jacobs van die SAPD, vir Openbare Sake van Nicolette Louw.  Sy het ons meer kom vertel van haar werk as vrou in die polisie.  Dit bied baie uitdagings en verantwoordelikhede.  Haar gesin is vir haar baie belangrik, want dit help om die stres van die werk te ontlaai.  Dit is baie belangrik vir ‘n vrou in die SAPD om ‘n goeie balans te handhaaf en die vroue in diens ondersteun mekaar baie.  Wedersydse respek tussen die SAPD en die publiek is baie belangrik.  Dit was baie duidelik dat sy gebore is om die werk te doen.



Posted on 12 March 2010

Lian Drotsky, Carlè v Zyl,Carien Zietsman en Suzette Viviers

 

Ons was so bevoorreg om deur die plaaslike Hoërskool se Verbruikerstudie (Huishoudkunde) onderwyseres, Me Carien Zietsman, en 2 van haar leerders besoek te word. 

 

Dit was baie interessant om te hoor waaroor die vak deesdae handel:  Eerstens gaan dit oor die mens in sy geheel en dit dek onder meer die volgende: 

 
1. Interieur: bv. goeie smaak, tekstuur, messegoed, breekware, glas, ens
2. Kleur in die huis
3. Balans
4. Kleding: bv. watter liggaam, watter klere , versorging van klere
5. Voeding:  bv. die voedingsbehoeftes van mense van 0 – 100 jaar
6. Praktiese Wetenskap van kos:  bv. hoe werk bakpoeier, verskillende gaarmaakmetodes
7. Wat is n goeie verbruiker

 

  

Die vergadering is ook toegespreek deur Me Lian Drotsky wat die bestuur van die plaaslike Farr-kantoor oorgeneem het.  Haar werk behels onder meer die skakel met klinieke, probleme in die gemeenskap, die gesels met tienerdogters om hulle in te lig waarom hulle nie so jonk moet swanger raak nie en natuurlik die probleme rondom alkoholmisbruik in die gemeenskap en veral onder swanger vroue.



Posted on 20 November 2009

De Aar tak het Borskanker maand gevier deur almal pienk aan te trek na die Oktober vergadering.  Ons het meer inligting oor borskanker gekry. Hester Venter het deeglike navorsing gedoen en ons meegedeel dat daar selfs deur kenners verskil word oor die oorsake van borskanker.  Die een groep sê jou leefstyl is van kardinale belang en die ander groep sê jou leefstyl het niks daarmee te doen nie.

 

Lorette Stalk het ons ingelig oor die uitdagings wat die bestuur van ‘n diereskuiling in die gesig staar. Seker een van die grootste hoofbrekens is natuurlik finansies, maar ook kos, mediese sorg vir die diere en hulp is uitdagings wat op ‘n daaglikse basis die hoof gebied moet word. 

 

 

  ………..toe sit ons sommer die pienk tema van Oktober voort met ‘n pragtige pienk tafel vir ons viering van VLVK se 80ste.

 

 

 

 

Dan is ons ook baie trots op ons VLVK vroue-entrepreneur kompetisie wenner.  Alma van den Berg het haar afdeling gewen met haar onderneming waar sy opleiding aan jong dogters verskaf. Sy stel hulle in staat om ‘n verskil in hulle gemeenskappe te maak.  Twee van die dogters op hulle plaas help haar om “Psalm 23” armbandjies te maak.  Die krale armbandjies het ’n kaartjie aan met die betekenis van elke kleur.  Die dogters spog graag by hulle skool en is baie trots daarop dat hulleelke jaar hulle eie skoolgeld kan betaal. Baie geluk Alma, van ons almal. 

 

 

Met ons afsluitingsvergadering het ons meer oor koffie geleer. Elke dame het 2 geskenkies saamgebring vir die inwoners van die ouetehuis, asook klere en speelgoed vir die kinders van ons plaaslike Farr-huis. 

 

Die volgende dames het pryse gewen:

100%  Bywoning: Millicent Venter, Hildegard van Zyl
     
21 Punte: Leana du Preez, Alma van den Berg, Ivonne Fourie

Sasko Beker: Ansie Maass

Meeste Punte: Alma van den Berg

 

Ons hoop almal het ‘n Geseënde Kersfees en dat die Nuwe Jaar net die mooiste en beste inhou! 



Posted on 13 September 2009

Ons het ons Augustus vergadering by die plaaslike weermagbasis gehou.  Daar het die bevelvoerder ons meer vertel oor hulle werksaamhede by die basis. Ons is op ‘n toer deur die museum geneem en op ‘n wildbesigtigingsrit.

 

 

 

  

 

De Aar tak koop altyd loslitplakkers. Tydens die vergadering naaste aan loslitdag doen ons dan altyd iets om dit te ondersteun.  Vanjaar moes ons ‘n hoed opsit wat enige iets van “Toeka tot Nou” verteenwoordig.  Die dames het dit baie geniet!

 

 

 

 



Posted on 27 August 2009

DE AAR TAK, SIRKEL NOORD-KAROO

Rina Coreejes skryf:

Ivonne Fourie en Hildegard van Zyl het 'n Leefstyl middag met 'n pampoen-tema aangebied.  "Pampoenliedjies" het gespeel met die inkomslag,  waarna hulle 'n paar demonstrasies gehou het met al die verskillende goed wat mens met 'n pampoen kan aanvang.

  

 

Annatjie Erasmus bied 'n praatjie aan oor die toestand van Gesondheidsdienste in ons land, hoe ons kan help en waar ons kan kla.

  

Gail Fereira het haar passie vir fotografie met die lede van De Aar gedeel.  Sy het raad gegee vir die neem van boomfoto's met die oog op die kompetisie, hierdie jaar.

  

 

Hierdie foto wys Margaret Sequeira besig met die demonstrasie van 'n tipiese Portugese dis.  Sy het met groot entoesiasme en liefde oor die Portugese kultuur en tradisies met ons gesels, op Dinsdag 9 Junie 2009.  Sy het gefokus op die eiland Madeira, waar hulle familie vandaan kom.