Posted on 13 November 2011

Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 8 November

 

Dinsdag 8 November het De Aar tak by Essens, ‘n plaaslike eetplek, bymekaargekom om die jaarlikse afsluiting te hou. Die middag het begin met ‘n “Handsak Jag”. Letters van die alphabet word getrek en die eerste dame wat iets uit haar handsak kan haal wat met daardie letter begin wen ‘n prys. Dit het natuurlik lekker lag tot gevolg gehad en verbaasde uitroepe as iemand met iets vorendag kom wat eintlik nie in ‘n handsak hoort nie.

 

Amanda Duvenhage het vir ons ‘n besieldende boodskap uit die Bybel gehad en na 8 dames met hul verjaardae, wat in November en Desember plaasvind, geluk gewens is, is aan ‘n heerlike ligte maal gesmul.

 

Die lede kon weer hul algemene kennis toets deur ‘n vasvrae wat deur Erida v d Berg opgestel is. En die wenner was…………..Patty v d Heever wat met ‘n sertifikaat as die Flinkdinker van 2011 gekroon is.

 

Om die middag af te sluit is die pryse vir die jaar uitgedeel:

100% teenwoordig:
Rina Coreejes
Leana du Preez
Drieka Roos
Charmaine Smith
Erida v d Berg

21 Punte Wenner:
Anna van Zyl

Meeste Punte vir 2011:
Erida v d Berg

Die Bestuur vir 2012 is die volgende dames:
Voorsitter: Rina Coreejes
Visevoorsitter: Erida v d Berg
Sekretaresse: Leana du Preez
Tesourier: Charmaine Smith
Addisionele lede: Annatjie Erasmus en Issie v d Merwe

 

Die VLV vergader die eerste keer weer op 14 Februarie 2012 en die lede gaan almal rooi aantrek aangesien dit Valentynsdag is.


 

 

Erida v d Berg met die sertifikaat en beker wat sy gewen het as die lid wat die meeste punte gedurende 2011 verdien het.

 

 

Erida v d Berg, Amanda Duvenhage, gasspreker, en Francine de Klerk.

 

 

 

Linksom die tafel: Cynthia Pienaar, Anna Murray, Marie Hanekom, Estelle Hugo, Patty v d Heever en Drieka Roos.

 

 

 

Patty v d Heever, vasvraewenner.



Posted on 23 October 2011

Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Estelle Hugo
Datum: 11 Oktober 2011

 

Annatjie Erasmus was die gasvrou tydens de Aar tak se Gesondheidprogram en Sareen Faber, van Kimberley, was die gasspreker. Sy is bygestaan deur Johanna Bothma. 

 

Sareen is ‘n skoonheidsterapeut met SETA akkreditasie. Sy het die dames meer kom vertel wat vandag beskikbaar is om veroudering van die vel, nie net stop te sit nie, maar om dit selfs om te keer. Daar word gebruik gemaak van masjiene, gelprodukte en ‘n verskeidenheid ander middels. Sy vertoon foto’s van persone wat die produkte met groot welslae gebruik het. Die dames kry ook meer inligting oor laser haarverwydering en permanente grimering. Dit is interessant om te hoor dat dit tatoeëring is, maar elke 4 jaar weer opgeknap moet word aangesien dit ligter word. 

 

Een van die VLV dames ontvang ‘n produk in ‘n gelukkige trekking terwyl ‘n ander lid gratis gesigsbehandeling ontvang.  Almal se hande word gepamperlang tydens die praatjie. Daar is kure beskikbaar vir die menige velprobleme en ander toestande soos bv. slaaploosheid en stres. Sy word deur die gasvrou bedank en ‘n geskenk aan haar oorhandig.  Daarna volg ‘n prettige voorlesing van ‘n skets deur Nataniël wat sorg vir ‘n glimlag of twee en Patty van den Heever demonstreer ‘n klein weefraam wat haar baie plesier verskaf.

 

Ons neem afskeid van ‘n jarelange lid, Nicky Jansen, wat eersdaags na Bloemfontein verhuis.

 

Sareen Faber sit voor Johanna Bothma.



Posted on 19 September 2011

Beriggewer: Rina Coreejes

 

Elke jaar koop ons loslitkaartjies en die eerste byeenkoms in September doen ons iets spesiaals om dié dag aan die gestremdes in ons gemeenskap te dink. 

 

Hierdie jaar het elke dame met ‘n kierie van die een of ander aard opgedaag. Wat baie spesiaal was, was dat sommige van die kieries ‘n storie gehad het en die eienaars het dit met ons gedeel. 

 

Een van die kieries het ‘n fietsklokkie (om die leeus in die veld mee weg te jaag), ‘n klein botteltjie drank (om moed te kry om teen ‘n renoster te baklei), ‘n flitsliggie (om vir hulp te sein) en ‘n tregter met ‘n pypie aan wat tot by die grond strek (sodat, as jy ‘n man is, jy nie in die nag by die tent hoef uit te gaan as jy ‘n draaitjie moet loop nie). ‘n Ander een se handvatsel is, as jy dit afdraai, ‘n sweep. ‘n Oulike een het in ‘n stoel verander waarop jy in die veld kan sit. Dan was daar mooi uitgekerfde kieries, moderne kieries, ‘n bamboes een met ‘n stinkhoutknop en selfs ‘n kruk en ‘n loopraam met wieletjies!

 

Die lede is op ‘n toer deur die besigheid geneem en baie van die lede wat nog nooit daar was nie is aangenaam verras deur alles wat die verwerking van velle en huide behels. Bokke, veral springbokke, se velle word gereed gekry om versend te word om gebrei te word. Van die velle word ook by die leerlooiery gekleur in al die kleure van die reënboog. Daarna kom dit terug en hier word die hele vel, op die perseel verwerk in allerhande nuttige gebruiksartikels soos byvoorbeeld die mooiste onderbaadjies, kussings, plekmatjies, boekoortreksels, waterbottelsakkies en boekmerke. Dit is die ideale plek om daardie spesiale geskenk vir iemand te gaan koop.

 

Die lede was sprakeloos toe Sanet begin het om die Nguni velle wat sy gereed gemaak het vir die fees op Upington later die maand, voor die lede oop te gooi.

 

Om die middag af te sluit en vir boomplantdag, het ons twee stinkhoutbome op die terrein van Huide en Velle geplant. Millicent Venter het die twee bome geskenk en Sanet was so gaaf om die gate gereed te hê vir die okkasie. Ons hoop die bome gaan mooi groot word en jare lank skaduwee gee op die perseel.

 

 

Sanet de Villiers, Patty van Heerden, Alma v d Berg en Erika Williams in die afdeling waar skaapwol geklas en gebaal word.

 

 

VLV-lede bewonder die pragtige Nguni velle.

 

 

VLV-lede met hulle kieries.



Posted on 03 September 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Rina Coreejes

 

Wat ‘n heerlike verassing om te ontdek dat ‘n kundige skrywer in ons midde woon. Met die VLV se onlangse vergadering het Marijke Greef die dames oor skryfkuns kom “opvoed”. Ons het Marijke gevra om ons ‘n bietjie meer te vertel hoe mens te werk gaan om ‘n goeie storie te skryf.

 

Marijke Greef is op 1 Julie 1970 in Middelburg-Kaap gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan in Bothaville waarna sy by die Potchefstroomse Universiteit, Biblioteekkunde gaan studeer. Na haar opleiding begin sy as Streekbibliotekaris in De Aar te werk. Hulle verhuis na Bothaville, Kimberley, Potchefstroom, Kroonstad en eindelik verlede Desember terug na De Aar. Sy werk tans by Hoërskool De Aar terwyl sy deeltyds skryf. Haar eerste boek verskyn in 2002 by Lapa Uitgewers. Sy het intussen al sewentien boeke gepubliseer, onder meer by Lapa en Tafelberg Uitgewers. Marijke is getroud met Francois en het ‘n seun, Ruan, in graad 8.

 

Marijke het waardevolle wenke met die lede gedeel; navorsing is baie belangrik, maak seker dat jy weet waarvan jy praat en beplan baie goed. Sorg dat jou storie geloofwaardig is, moet bv nie vertel hoe die man in die motor se broek en skoene lyk as  die persoon wat na die motor kyk dit onmoontlik kon sien nie. ‘n Sinonieme woordeboek is baie belangrik sodat jy nie ‘n sekere woord te veel keer gebruik nie, maar kyk wat sy sinonieme is en gebruik dit dan eerder. 

 

As jy iewers vorentoe in jou storie miskien ‘n geweer gaan gebruik, noem vroeër in jou storie al van die geweer sodat die leser daarop voorbereid is en die geweer nie uit die niet verskyn nie. Moenie bang wees nie, waag! Vertrou jou instink! Proeflees! Lees krities! Skryf is harde werk, 5% inspirasie en 95% perspirasie……..

 

Theresa v d Walt het ons daarna vermaak met ‘n paar komiese vertellings soos net sy dit kan doen. Die dames het kort-kort geskater……….   

 

 

Marijke Greeff en Erida van der Berg.



Posted on 24 July 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Rina Coreejes

 

Twee lede en een oudlid van De Aar tak het meer kom vertel van die lande waar van hul kinders tans woon.

 

Estelle Hugo se dogter woon al 3 jaar in Dubai waar sy ‘n bourekenaar is. Sy het ons vertel dat die gemiddelde somertemperatuur in die somer bo 45° is maar dat die wat in kantore werk nie eers bewus daarvan is nie a.g.v. die goeie lugversorgers. Die winter temperatuur is so 23° wat natuurlik perfek is. Dit is ‘n Moslem land, maar 80% van die inwoners is nie burgers van die land nie. Die uitbreidings in die boubedryf is ongelooflik. Al die boumateriaal moet ingevoer word, want in die woestyn is niks beskikbaar nie.

 

 Estelle Hugo

 

Hester Venter het ons vertel hoe haar kinders al die afgelope 20 jaar in Kanada woon. Hulle woon in die provinsie van Albertha in die Rocky-gebergte en daar is ongelooflik baie mere. Dit is natuurlik in die winter alles gevries. Die foto’s wat sy gewys het van een van die warmwaterbronne was prentjie mooi. Die verskil tussen die foto’s wat in die winter en die wat in die somer geneem is, is ongelooflik. Sy het al op haar eie 3 keer Kanada toe gereis en dit neem ongeveer 24 uur om daar te kom, wat baie uitputtend is.

 

Hester Venter

 

Laastens het ons saam met Annatjie Erasmus in Amerika gaan kuier. Haar seun is met ‘n Amerikaanse meisie getroud en hulle is die trotse grootouers van 4 seuntjies! Annatjie het ons vertel hoe groot die land is en dat dit in verskillende tydsones gedeel is. Met een van hulle besoeke het hulle in New York gekuier en was verstom oor hoe GROOT alles in die wêreldstad is. ‘n Interessante feit is dat die Amerikaners, as hulle iets nie meer nodig het nie, dit op die sypaadjie sit en as jy dit kan gebruik, vat jy dit. Wat ook besonders opvallend is, is dat die land baie skoon is. Jy sien nie papiere rondlê nie.

 

Annatjie Erasmus

 

Ons het behoorlik aan hulle lippe gehang!      



Posted on 21 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Rina Coreejes

 

Dinsdag 14 Junie was Naaldwerkmiddag by die VLV  se maandelikse byeenkoms.

 

Hildegard van Zyl, Ivonne Fourie en Alma van den Berg het die dames met ‘n WOW!! die saal laat binne stap met die pragtige kwiltwerk wat hulle uitgestal het. Ure en ure se harde werk kon deur die lede bewonder word.  Hulle het die dames meer oor die stokperdjie vertel soos byvoorbeeld dat die lap altyd in duime gemeet word en nie in sentimeters  nie. Van die werk wat hulle uitgestal het was baie ingewikkeld en mens kan dit net baasraak na jare van oefen. Ander handwerk is ook uitgestal onder andere pragtige komberse wat deur Anna van Zyl gehekel en gebrei is. Erida van den Berg het die lede ‘n paar teemussies en patrone daarvoor, gewys sodat die dames geïnspireer kon word om een te brei vir die kompetisie hierdie jaar.

 

Issie van der Merwe het aan die lede “die loom” gedemonstreer (sien foto).  Dit werk soos ‘n reuse “tolletjie brei”, uit ons kinderdae, in verskillende groters en daar is selfs ‘n reghoekige een.  Sy het verskillende produkte wat daarmee vervaardig is vir die dames gewys soos byvoorbeeld ‘n pragtige kombers, serpe en kussingoortreksels. Issie sê dat dit nogal erg is as die gogga jou gebyt het, want al wat jy wil doen is “tolletjie” brei.


Laastens het die lede bietjie na die geskiedenis van weef gekyk. Dit is ‘n handwerkvorm wat stadig maar seker besig is om al minder gedoen te word… Spin en weef is so oud soos die mens self en dit is dus moeilik om te sê hoe die vaardigheid “uitgevind’ is. Dit word algemeen aanvaar dat die weefkuns uit die vlegkuns ontwikkel het. Prehistoriese mense het stokke in die grond gedruk en takke en grasse daardeur gevleg om ‘n stewige muur of heining te maak, om hulle teen wilde diere en die elemente te beskerm. Dalk het iemand op ‘n dag ontdek dat ‘n digte “mat” van dun riete of takkies ineengevleg met gras, ‘n kombers of mantel kan wees.

 

Hildegard van Zyl en Ivonne Fourie.

 

 

Die Looms waarmee grootmense tolletjie brei.

 

 

Lede is baie geinteresseerd in die produkte wat Issie van der Merwe, middel, met haar Loom gemaak het.

 

 

Lede bewonder die kwiltwerk.

 

 



Posted on 16 May 2011

Portefeilje: Kuns & Handvlyt

 

Ken jy die antwoorde op die volgende vrae:


1. In watter dorp in Suid-Afrika is die eerste krag opgewek?
2. In watter streek in Suid- Afrika is die grootste sterrewag?
3. Wanneer is die eerste Olimpiese Spele gehou?
4. In watter land is die eerste Olimpiese Spele gehou?
5. Wat was die eerste gekloonde skaap se naam?
6. In watter land is die Kreepy Crawly ontwikkel?
7. Watter gebrek het Helen Keller gehad?
8. Wie was die stigter van die Rembrandt groep?
9. In 1849 het hulle vir ‘n ene Hunt ‘n stukkie draad gegee en gesê as hy iets waardevol daaruit maak sal hulle sy groot skuld afskryf. Wat het hy daarmee gemaak wat ons vandag nog gebruik?

(antwoorde aan die einde van die berig)

 

Hierdie vrae was deel van ‘n algemene kennis toets wat Erida van den Berg opgestel het vir De Aar tak se Mei vergadering. Dit is baie lekker om bietjie jou algemene kennis te toets en jy leer iets nuuts van die antwoorde wat jy nie geken het nie………….

 

Hildegard van Zyl het ons vermaak met ‘n voorlesing uit Izak de Villiers se “Net om jou ‘n drukkie te gee”.  Sy “Snoesige Slaaptyd” het die dames kort-kort laat skater. Hy begin deur te vertel hoe hy hulle groot bed en beddegoed annekseer en dat dit maar goed is dat sy vrou nie voor hul troue sy slaapgewoontes geken het nie, anders was daar sekerlik nie ‘n huwelik nie. Hy beveel ook aan, as jy ‘n gesprek skielik lewe wil gee, jy oor slaapmaats se slaapgewoontes moet begin praat.

 

Van hierdie jaar af gebruik ons tak ‘n “flip file” om die jaar se program en ander inligtingstukke in te hou.  By hierdie vergadering was ons kreatief en elkeen het die geleentheid gekry om haar lêer “persoonlik” te maak deur dit te versier soos sy daarvan hou. Daar is geknip en geplak en idees uitgeruil vir die vale. Lint, papier, knope, prentjies, krale, ens. is gebruik. Tussendeur is raad gegee en lekker gekuier.

 

Beriggewer: Rina Coreejes

 

Antwoorde:
1. Kimberley
2. Groot Karoo
3. 776 v.C.
4. Griekeland
5. Dolly
6. Suid-Afrika
7. Doof en blind
8. Anton Rupert
9. Hakspeld  
   
 

 

Kreatiewe VLV lede.

 

 

 

Millicent Venter is klaar en baie trots op haar handewerk, terwyl die ander nog fluks besig is.



Posted on 14 April 2011

By De Aar tak se April byeenkoms het dié afkorting die maand nie ‘n kunstefees beteken nie maar: KAIRO, KONFERENSIE en KOEKBAK!!

 

Een  van ons lede het gedurende Desember en Januarie Egipte besoek, net voordat die onluste begin het, en sy het ons kom vertel van dinge wat haar opgeval het en wat ‘n mens nie noodwendig in reisbrosjures lees nie. Die eerste ding wat hulle opgeval het was die feit dat die mense nie hul huise klaar bou nie. Die hele Egipte lyk soos ‘n bouval. Daar is ‘n wet in Egipte, dat as jou huis nog nie klaar gebou en geverf is nie, betaal jy nie grondbelasting nie, so….niemand bou hul huise klaar nie!!! 

 

Die Sahara aan die westekant is woestynsand, maar die Sinai is ‘n klipwoestyn met byna geen sand nie, net die een rotsgebergte op die ander. Dit is ook die rotse wat aan die Rooi See sy naam gee, dit weerkaats in die see wat dit dan rooi laat lyk.

 

Kaïro is ‘n belewenis. Daar bly 25 miljoen mense in die stad en in die strate is 12 miljoen motors, wat aan die regterkant van die pad ry. As ‘n pad 3 bane het ry daar 5 bane motors, 2 ry oor die witstrepe. Niemand gebruik flikkerligte nie, net hul toeters. As hulle van baan verander of draai, gee die ander motoriste hom ‘n kans. En niemand word vir niemand kwaad nie!

 

‘n Ondervinding wat hulle vir niks sal ruil nie is die 2 keer wat hulle, tussen Edfu en Aswan deur die sluise in die Nyl is. Met die rit na Aswan het hulle in die sluis ingevaar en dit is vol water gepomp, sodat hulle meters opgestyg het en met die terugkoms het hulle ingevaar en die sluis is weer leeggepomp, sodat die boot kon daal om verder te vaar. 

 

Daar is verskriklik baie plesierbote op die Nyl. By die verskillende dorpe parkeer hulle, partykeer tot 7 langs mekaar, maar gewoonlik so 4. ‘n Mens loop dan deur elke boot se “lobby” tot op die kaai. 

 

Terugvoering van die jaarlikse konferensie, hierdie jaar op Victoria-Wes, was volgende op die program. (Die volledige verslag is onder Sirkelnuus – Sirkel Noord-Karoo.) Charmaine Smith het die middag afgesluit met ‘n demonstrasie van hoe mens ‘n Beetkoek in die mikrogolfoond bak en natuurlik kon die dames daarvan proe en nou gaan almal dit probeer............     

 

  

 

 Half geboude huise.

 


 

 

 Sinai Woestyn.

 

 

 

 7 plesierbote in die hawe.


 

Die boot nader die sluis, die hekke begin oopmaak.



Posted on 30 March 2011

Dinsdag 15 Maart kon ‘n mens sommer die opwinding in die lug voel toe 11 lede en 2 vriendinne die pad gevat het Richmond-boekedorp toe. 

 

In die dorp wag Johan Tolken ons in met ‘n lekker koppie tee by Marina’s gastehuis. Hy vertel ons van die dorp se geskiedenis en wys aan ons die enigste oorspronklike krip wat nog in die dorp oor is. Die perdestal met die krip is in ‘n kroegie opskep. Johan-hulle is ook besig om ‘n rolprentteater in te rig om ou 8mm rolprente te kan wys.

 

Vandaar is ons na die Vetmuis-koffiewinkel en dadelik na die eerste van die boekwinkels waar ons John Donaldson ontmoet het.  Hy is die man wat die visie gehad het om die dorp as ‘n boekedorp te bemark.  En is daar nie boeke nie. . . en ou langspeelplate. . . en “seven singels . . . hordes!!! Ons is deur 10 sulke winkels en daar is nog….

 

Na ‘n lekker middagete by die Kamalodge, ontmoet ons weer vir Johan by die museum. Saam met Wilma Visser en  Marlene Cerff dwaal ons deur en verwonder ons aan die manier waarop die mense in die verlede geleef het.

 

Ons het met ‘n seer hart afskeid geneem van die mooi Karoodorpie. Almal het al klaar besluit om beslis weer daar ‘n draai te gaan gooi en om almal wat ons paaie kruis aan te raai om die dorpie te besoek. Dankie Richmond, Johan en John vir jul gasvryheid. Dit word opreg waardeer!! 

 

 

 

 

De Aar VLV voor die Richmond Museum. 

 

 

Die enigste oorspronklike krip in Richmond.

 

 

 

Die mooi gedekte tafel in die restaurant.



Posted on 23 February 2011

Vriendskap was die tema van die eerste vergadering van die jaar op De Aar.  Van die opening tot by die afsluiting, was vriendskap die goue draadjie wat deur vergadering geloop het.  Vriendskapsmunte is ook opgeneem. 

 

Arthur Strydom was die gasspreker en het gesels oor die waarde van vriendskap.  Hy het, onder andere, die woord VRIEND geneem en die letters gebruik:


V – Verdraagsaamheid:  Ek moet verdraagsaam wees en nie maklik geïrriteerd raak nie.
R – Regverdigheid:  Ek kan nie altyd reg wees nie, ek maak ook foute en ek moet vir my vriend ruimte gee om ook foute te maak.
I – Innemendheid en Ingelig:  Ek moet belangstel en na haar luitster.
E – Ego:  Die vriendskap moet nie net oor my gaan nie maar ook oor hom/haar.
D – Dankbaarheid:  Ek moet onthou om dankbaar vir my vriend te wees en ook die Here vir hom/haar bedank.

 

 

 

Gerda Moolman, lid van die Provinsiale Wetgewer, het die dames kortliks ingelig hoekom dit so belangrik is om te registreer en te stem in die komende munisipale verkiesing.

 

 

 

 

Die laaste spreker van die middag was Annatjie Erasmus wat oor rekenaargeletterdheid gepraat het. Sy het gepraat met spesifieke verwysing na die verskillende maniere om met jou vriende in kontak te bly - e-pos, Facebook, Twitter, Skype, “chat” ens.  Die moontlikhede is onbeperk.  Daar word beoog om binne die afsienbare toekoms ‘n rekenaar werkswinkel aan te bied vir diegene wat meer wil uitvind en leer. 

 

 

Categories