Posted on 10 April 2013

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer; Rina Coreejes
Datum: 9 April 2013


Daar is niks so verrykend soos ‘n VLV vergadering nie en as die byeenkoms jou as vrou nog bemagtig en laat groei as mens en Christen is dit net soveel meer die moeite werd om dit by te woon.

 

Hierdie maand was ons “Opvoeding” vergadering en die komitee wat dit gereël het was: Millicent Venter, Sannie Theron, Ivonne Fourie en Alma van den Berg.  Die spreker was ds. Douwe Ganzevoort wat met die dames oor “onderdanigheid” in die huwelik kom gesels het. 

 

Ons het almal, mans, vroue en kinders, die selfde waarde, maar ons het nie dieselfde posisie nie.  Elke lid van die gesin het sy eie posisie.  Ds. Ganzevoort het die voorbeeld van verskillende sambrele bo mekaar gewys en elke sambreel beskerm die volgende een.  Heel bo is God wat die man beskerm, die man beskerm die vrou en die vrou beskerm haar kinders.

 

Die Bybel gee aan die vrou die opdrag om aan haar man onderdanig te wees en vir die man om sy vrou lief te hê.  Dit is vir altwee die geslagte moeilik om aan die opdrag uitvoer te gee, maar as die vrou onderdanig is aan haar man maak dit, dit vir hom makliker om haar lief te hê.  As sy die Bybelse opdrag uitvoer sal sy ook so haar man vir die Here wen, as hy nie glo nie. As jou man dalk nie optree soos hy moet nie BLY NET STIL, nie soos in stilstuipe nie, maar as jy nie reageer nie gaan jou man bietjie dink oor sy optrede en self begin verander. 

 

Die resultaat van dit alles:  Groei in Christus!

 

Welcie Kirsten het in haar “Loslip”-beurt vir ons ‘n taalles in “Nama” (San) ‘n Namibiese taal, gegee.  Sy het die taal as kind geleer en kan die taal vlot praat en ons het behoorlik aan haar lippe gehang.  Sy het vir elke lid ‘n fotostaat van ‘n leesboekbladsy in die taal en dieselfde bladsy in Afrikaans gegee.  So kon ons almal sien hoe ‘n moeilike taal dit regtig is. Hier en daar het iemand probeer om, met Welcie se hulp, ‘n woord uit te spreek, maar ons monde en tonge wou nie die klanke voortbring nie.

 

Die middag is op ‘n ligte noot afgesluit met ‘n humoristiese voorlesing deur Hildegard van Zyl.     



Posted on 13 March 2013

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 12 Maart 2013

 

Dit is vir ‘n vrou baie belangrik om haaself te versorg en om die dames ‘n bietjie aan te moedig om met nuwe oë na hulle self te kyk, het ons eerstens vir Ricardo Fortuin gevra om ons wenke te gee oor hoe ons, ons hare behoort te versorg.


Hormone beïnvloed jou haargroei en of jy hare verloor. As jou hare onnatuurlik baie uitval moet jy na jou dokter gaan en vra dat jou hormone getoets word. Ander dinge wat die toestand van jou hare kan beïnvloed,  is jou dieet, die seisoen van die jaar en watter chemikalieë jy gebruik. Raad wat hy gegee het sluit onder andere die volgende in: vir ‘n droë kopvel spoel jou hare af met ‘n mengsel waarin ‘n disprin opgelos is. Vir glans spoel jou hare met asyn of suurlemoensap en om chemikalieë van jou hare af te kry, moet jy dit “tease” en dit is ook natuurlik nodig om gereeld die punte te sny. Indien jy jou hare elke dag was, maak seker dit is met ‘n sjampoe wat spesifiek sê dit is vir elke dag se gebruik.  Dit is baie belangrik om te weet dat jy nie jou hare mag kleur, “highlight” en perm op een dag nie, aangesien dit jou hare baie sal beskadig.


Jacoba v d Merwe het vir die lede gedemonstreer hoe om vir jouself ‘n “facial” te gee. Eerstens is die belangrikheid van skoonmaak onder ons aandag gebring en om jou vel een maal per week te skrop en ’n masker aan te wend.  Daarna moet jy ‘n saamtrekmiddel aanwend en bevog. Sy het Leana du Preez, wat as model opgetree het, ook gegrimeer en haar laaste wenk was om van jou saamtrekmiddel (toner) oor jou grimering aan te spuit om dit langer te laat hou. 


Daar is verslag gedoen oor die konferensie wat op Murraysburg gehou is, 6 en 7 Maart. Alma v d Berg se foto het ‘n derde plek op die konferensie gekry  en die lede het gehoor dat hul tak die Presidentskild verower het.

  

 

Lede geniet die vergadering.

 

 

Die teetafel gedek deur Nicolette Louw.

 

 

Leana du Preez en Jacoba v d Merwe.

 

 

Leana du Preez en Ricardo Fortuin.



Posted on 13 February 2013

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Beriggewer:  Rina Coreejes
Datum: 12 Februarie 2013

 

Ken jy die antwoorde?
1. Wat kan ‘n mens uitwas wat die son die kan uitdroog nie?
2. Ek het ‘n perd, hoe verder ek ry hoe korter word sy stert?
(Antwoorde aan einde van berig.)


De Aar se Vriendskapvergadering het begin deur die “betaal van ‘n boete”, elkeen wat ‘n vriendin het of ‘n vriendin is,  moes R10 Vriendskapsmunte betaal vir die Wêreldbond van Plattelandse Vroue.


‘n Ysbreker is net die ding om ‘n nuwe jaar te begin, al die gaste tuis te laat voel en net dalk besluit hulle om aan te sluit, wat wel die geval was met die meeste.  Elkeen teenwoordig het ‘n geskenkie saamgebring, waarop ‘n goue gedagte geplak was. Ons het in ‘n sirkel gesit en dit op maat van Patty van Heerden se musiek aangestuur, die pakkie wat in jou hande was die oomblik toe die musiek stop, was joune en jy moes die gedagte lees wat daarop verskyn het, bv.  “Ek kan geen groot dinge doen nie – net klein dingetjies met groot liefde – Moeder Teresa”, of “‘n Vriend is iemand wat vra hoe dit gaan en dan sowaar luister na wat jy antwoord.”


Elkeen het ook, as sy klaar haar gedagte gelees het, ‘n beurt gehad om te sê met watter bekende sy graag vriende wou wees en hoekom. Van die antwoorde het ons nogal verras, want tot Malema se naam het opgeduik.  Daar was Gerrie Pretorius (2x) vir sy mooi stem en omdat hy die lede so baie aan Bles Bridges herinner. Die skrywer Nina Smit en haar man Johan, vir hulle insprerende boeke. Koning Dawid vir die liedere wat hy geskryf het en Mandela, om die lid te leer hoe om so vergewensgesind te wees en Oprah Winfrey vir haar humanitêre leefwyse, was van die ander.  


Loslip was volgende aan die beurt: Leana du Preez het ‘n paar raaisels gevra en ons was nogal verbaas dat al die raaisels geantwoord kon word. Annatjie Erasmus het op haar beurt ‘n paar kindergediggies met die lede gedeel, wat almal laat skater het. Erida van den Berg het meer oor kruie verte, o.a. Laventel wat goed is vir passie.

 

Rina Coreejes het ‘n paar bekende vrienskappe uitgelig. Een van die bekende vrienskappe is byvoorbeeld die van CS  Lewis (The Cronicals of Narnia) en JR  Tolkien (Lord of the Rings). Hulle is altwee bekend vir die wêrelde wat hulle geskep het.  Lewis se fantasiewêreld van Narnia en Tolkien se Middle Earth.  Hulle het nie net hulle geloof in mites gedeel nie, maar ook dieselfde Christelike geloof.  Hulle het baie briewe aan mekaar geskryf en het ‘n vriendskap gehad wat net so bekend soos hulle skryfwerk was. Ander bekende vriendskappe: Abraham Lincoln en Joshua Speed, Ernest Hemmingway en Gertrude Stein, Oprah Winfrey en Gayle King, Sherlock Homes en Watson, Dawid en Jonatan en op ‘n ligter nood….Shrek en Donkey en Fred Flinstone en Barney Rubble.

 

Wat ‘n lekker gesellige middag waarin die lede mekaar ‘n bietjie beter kon leer ken en ook lekker FAK liedjies, Sarie Marais, Bobbejaan klim die berg en Die blink Vosperd, saamsing.

 

Wie onthou nog die?:

 

As dit fluit-fluit gaan
Dit was ‘n bitter dag vir my
Dié Sondag in die kerk.
Waar ons sit, in die middelry,
Word alles opgemerk.

Die dominee hou skielik op;
die ouderlings kyk om;
rooi-skaam laat sak my ma haar kop,
want almal lyk verstom.

Wel, tuis het ek ‘n pak gekry,
En huil my byna hees.
Maar dit was darem, glo vir my,
‘n lekker fluit gewees!
A G  Visser

 

Antwoorde:  1.  Botter.  2.  Naald en gare.

 

 

Patty van den Heever besig om die lede lekker te laat saamsing.

  

 

Die rooi en wit teetafel met VLV De Aar se Vriendskapsvergadering.



Posted on 14 November 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Beriggewer:  Rina Coreejes
Datum: 13 November 2012


Terug skool toe was dit vir die lede van De Aar tak. Die dames is gevra om iets aan te trek wat ‘n mens aan skool herinner en die dames het lekker saamgespeel soos op die foto’s gesien kan word. Die twee wat nie skooldrag aangehad het nie, het almal dadelik stil gemaak en hulle R5 elk betaal, want hulle het civiedag gehad.


Met hulle aankoms is elke “leerder” se “tas” (handsak) geweeg, sodat gesien kon word wie haar boeke by die huis gelos het en wie AL haar boeke saamgebring het. Jacoba se handsak het net 0.4kg geweeg en Leana en Nicolette s’n het elkeen 2kg geweeg. Almal het ‘n sjokolade gekry - die swaarstes omdat hulle so graag wil leer en die ligste een het ‘n aanmoedigingsprys gekry. 


Elkeen het by haar sitplek ‘n notaboekie, potlood, uitveër en vertkryt gekry. Binne in die boekie was ‘n eksamenvraestel en ‘n stembriefie vir ‘n hoofmeisie. Eerstens het almal gestem vir wie hulle dink die oorspronklikste aangetrek was en Alma het vêr gewen. Sy het ‘n speldjie as hoofmeisie gekry. Daarna het een van die “leerders”’ vir die res gewys hoe dek jy ‘n skinkbord met 13 artikels vir jou siek ouma. Dit is toe toegegooi en almal moes toe die 13 artikels op hulle vraestel inskryf. 2 lede het alles reg gehad. 


Die hoogtepunt die middag was ons gasspreker, Martha Gravett, wat geopen het met ‘n Gebed vir Onderwysers, wat ons elkeen wat kinders of kleinkinders het ook op onsself van toepassing kon maak. Daarna het sy ons vermaak met staaltjies uit haar lang loopbaan in die onderwys en ons het gelê soos ons lag. Een voorbeeld was ‘n stuk wat ‘n leerder geskryf het oor Florence Nightingale. Hy begin deur te sê: “Die soldate het die oorlog veroorsaak en ek het ‘n verkoue wat nie wil uitmasel nie. Aan die einde van die stuk is gevra wat die afkorting vir dokter is. Die antwoord was “staff nurse”.  Baie dankie Martha, ons het dit BAIE geniet!


Die prysuitdeling was volgende aan die beurt. Martha het die sertifikate oorhandig:

100% Bywoning met kenteken: Rina Coreejes, Leana du Preez, Erida van den Berg, Drieka Roos en Anna van Zyl.

Meeste Punte, Wisseltrofee: Erida van den Berg.

21 Verdienstelike Punte: Marie Hanekom, Nicolette Louw, Alma van den Berg, Erida van den Berg en Issie van der Merwe.

 

Kentekens:
5 Jaar: Alma van den Berg, Margie Meiring, Marie Hanekom, Annatjie Erasmus, Issie van der Merwe en Rina Coreejes.

10 Jaar: Sannie Theron

15 Jaar: Leana du Preez

25 Jaar: Millicent Venter

 

Soos dit ‘n goeie “skool” betaam het al die “leerders” sertifikate gekry en die wat nie by bostaande ingesluit was nie, het die volgende sertifikate gekry:
Francine de Klerk:  Beste Sopkoker
Linda de Wet: Meerste Buitelandse Reise
Welcie Kirsten: Beste gemoedopkikker in die tak
Charmaine Smith:  Beste Ledewerwer
Patty van Heerden:  Passie vir die Lewe


Skoolkinders is mal oor hamburger en skyfies en daarom is die middag daarmee afgesluit terwyl die “leerders” lekker saam gekuier het.

 

2013…..hier kom ons………..

 


Alma v d Berg, Linda de Wet, Drieka Roos en Patty van Heerden.

 

 

Annatjie Erasmus, Leana du Preez, Rina Coreejes, Erida v d Berg en Issie v d Merwe.

 

 

Francine de Klerk, Millicent Venter, Margie Meiring, Welcie Kirsten en Marie Hanekom.

 

 

Sannie Theron, Nicolette Louw en Charmaine Smith.



Posted on 10 October 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Openbare Sake en Leefstyl
Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 9 Oktober 2012


Ons as verbruikers het baie regte en dit was ‘n voorreg om Dina de Carvalho by ons vergadering te hê om ons daar omtrent in te lig.  Die nuwe Verbruikerswet het in April 2012 in werking getree en dit sal alle mense baat om dit onder oë te kry, sodat mens weet wat jou regte is.  Dina het, onder andere gesê dat ‘n selfoonmaatskappy nie na 2 jaar net kan aangaan met jou kontrak en dit weer vir 2 jaar sonder jou toestemming, hernu nie.  Hulle moet jou voor die tyd laat weet dat jou kontrak binnekort tot ‘n einde kom en of jy belangstel om daarmee voort te gaan. 

 

As jy byvoorbeeld plek bespreek het vir ‘n vakansie en dit betaal het, maar jy word siek en word in die hospitaal opgeneem of sterf, moet die instansie AL die geld wat jy al betaal het, terugbetaal.  Ook, as jy per ongeluk iets in ‘n winkel breek, mag jy nie gedwing word om daarvoor te betaal nie.  Die winkel moet kan bewys dat jy nalatig was. Indien jy iets voetstoots verkoop, moet jy die koper oor enige gebreke inlig en indien jy dit nie gedoen het nie, moet jy die koper se geld teruggee as hy agterkom die produk is nie wat jy gese het dit is nie.

 

Enige kontrak kan binne 5 dae gekanseleer word, as jy besluit jy wil dit nie hê nie en jou geld moet aan jou terugbetaal word. As jy byvoorbeeld ‘n paar skoene gekoop het en na 5 maande lê dit nog in jou kas sonder dat jy dit ooit gedra het, kan jy dit ook terugneem voor 6 maande om is en jou geld terugeis. Soms word ‘n produk geadverteer en as jy dit bestel, is dit glad nie wat die advertensie gesê het dit is nie, dan mag jy dit terugstuur en die koste moet deur die verkoper gedra word.

 

Dorette Combrinck van Karoo Country Guest House, waar die vergadering gehou is, het ‘n kort demonstrasie gehou oor die gebruik van oorskietkos.Dorette het gewys dat jy ertjies kan fynmaak en dit bo-op bv. steak kan skep vir kleur. Sy maak ‘n eiervla waarin sy fyngemaakte oorskiet blomkool meng en in klein bakkies bak vir ‘n bykos. ‘n Ander idee is om oorskiet hoender, spek en dik witsous met 2 eiergele te meng, die eierwitte te klits (nie te styf nie) en daarby in te vou en dit ook in klein bakkies te bak. Heerlik!!  

 

 

Dorette Combrinck

 

 

Dina de Carvalho



Posted on 12 September 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Opvoeding en Openbare Sake
Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 11 September 2012

 
Adjudant Offisier Johan Jacobs is iemand wat passievol is oor selfverdediging en die lede het aan sy lippe gehang toe hy ons bietjie inligting daaromtrent kom gee het.  Sy vrou Kaptein Annamarie Jacobs het hom bygestaan in die aanbieding.
 

Die eerste probleem rondom selfverdediging is dat die meeste mense nie glo dit sal met hulle gebeur nie en daarom is hulle nie versigtig nie.  Staar realiteite in die oë en verwyder jou masker. Moenie wat jy vandag gehoor het net vir ‘n week onthou nie.
 

Moenie meer laataand alleen buite op die stoep sit nie,  en moenie kamervensters laat oopstaan as jy nie in die kamer is nie. 


As ‘n mens geskrik het is dit baie moeilik om die alarm se knoppie te druk of om ‘n nommer op jou selfoon te bel.  As jy dit wel reggekry het om alarm te maak, kan dit ‘n rukkie neem voor hulp opdaag en daarom moet jy intussen iets doen om jou self te help.  Jou beste wapen wat jy het is jou brein.  Probeer reaksie uit jou versteende liggaam kry en probeer afstand tussen jou en jou aanvaller kry.  Afstand is tyd en tyd is opsies.  Probeer omstandighede beheer. Praat met hom, wen tyd. Gebruik jou liggaam soos byvoorbeeld jou naels, druk jou vinger teen sy oogbank en krap sy oog letterlik uit.  As hy jou arms vashou draai jou arm na sy duim se kant toe want ‘n mens se duim is swak en so kom jy los, skop hom dadelik tussen sy bene met jou knie en as hy dan afbuig slaan jou knie hard teen sy kop.


Sorg dat daar ‘n kamer in jou huis is met ‘n deur wat kan sluit. ‘n Badkamer is ‘n goeie opsie want as jy reeds seergekry het is daar handdoeke waarmee jy die bloeding kan stop en daar is ‘n spieël wat jy kan breek om ‘n wapen te kry.


Toekie Ganzevoort het met ons haar paadjie na herstel kom deel na sy borskanker opgedoen het en sy ‘n dubbele mastektomie ondergaan het.  Sy het met ons gedeel dat sy dadelik geweet het dit is kanker toe sy die knop in haar bors gevoel het en wat sy alles moes deurgaan, soos byvoorbeeld dat hulle met die naaldbiopsie die naald sonder verdowing in jou bors druk.  Die dokters het ook eers gedink dat die kanker na haar longe en rug versprei het en sy het 8 dae lank met die swaard oor haar kop geloop.  Spesiale vriende wat die Here oor haar pad gestuur het op wonderbaarlike wyse, het haar geestelik gedra en gehelp om die paadjie te loop.  Toekie sê sy moes leer om haarself weerbaar te maak teen die aanslae van die satan deur die volgende maniere:  1.  Trek elke dag God se wapenrusting aan.  2.  Dans voor die Here.  3.  Sing ‘n nuwe lied, elke dag.  4. Oefen om jou gedagtes te beheer – pasop wat jy dink.  Ons is so bly om te hoor dat sy elke 5 maande gaan vir ‘n ondersoek en dat sy nog steeds kankervry is.  Ons bid haar net die beste en mooiste toe.


Die middag is afgesluit deur ‘n boom te plant op die kerkterrein waar ons al vir jare elke maand vergader .       

 

 

Kaptein Jacobs, Nicolette Louw en AO Jacobs.

 

 

Toekie Ganzevoort en Millicent Venter.

 

 

Boomplantdag 2012: Drieka Roos, Charmaine Smith, Rina Coreejes, Hildegard van Zyl en Erida v d Berg.



Posted on 15 August 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak:De Aar
Portefeulje: Landbou en Tuinbou en Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 14 Augustus 2012


‘n Baie interessante middag het afgespring met Hildegard van Zyl wat  demonstrasies gehou het oor plante in houers en mandjies. Dit beteken baie om te sien presies wat sy doen, soos om ‘n hangmandjie saam te stel deur plante wat oorhang te kombineer met plante wat blom in die middel van die mandjie. ‘n Baie oulike idee is om ‘n paar kort geute onder mekaar te hang, teen ‘n muur by jou kombuisdeur. Daarin plant jy dan al die kruie wat jy gereeld gebruik. As jy nie blomme het om in ‘n glasvaas te sit nie maak dit vol met suurlemoene en sit ‘n bietjie loof by. Dit skep ‘n baie mooi kleurvolle fokuspunt.


Clivia’s is ‘n baie besonderse plant en het spesiale behandeling nodig.  Annatjie Erasmus het ‘n besonderse liefde vir die plante en sy besit 120 boslielies. Clivia’s is ‘n plant wat van skaduwee hou en die ideale plek om hulle te plant is onder bome of in potte op stoepe of patio’s waar min son kom.  Hulle hou nie daarvan om versteur te word nie en moet nie onnodig verdeel word nie. Rooi, oranje en geel is die kleur van die blomme waarin mens die plant kry.


Die middag is afgesluit met ‘n musiekvasvrae. Die dames het saam gestem dat, al was die vrae moeilik en was die beste punt 7 uit 15, het ons almal iets nuuts geleer deur die vrae wat Erika Williams vir ons opgestel het. Het jy geweet dat ‘n simfonieorkes uit 63 lede bestaan en dat ‘n mondfluitjie, wêreldwyd die topverkoper is van alle musiekinstrumente? 

 

 

Hildegard van Zyl gee die dames goeie potplantraad.

 

 

 

Gebruik 'n geut vir 'n kruietuintjie.



Posted on 18 July 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 17 Julie 2012

 

Met die geur van sop in die lug het die lede een vir een by ons Kunste en Handvlyt vergadering opgedaag.  Almal kon hulle vergaap aan Patty van den Heever se pragtige kunswerke.  Sy het ons later vertel hoe sy van haar ouer skilderye opgekikker het deur 3D stukke by te voeg. Sy het byvoorbeeld kraletjies op rose geplak en ‘n ogiesdraadhekkie by ‘n tuintoneel.  Sy het vertel hoe sy van die rame gemaak het met afvalhout en hoe sy dit verouder het.  Patty het die lede gewys hoe om ‘n krale boekmerk te maak, lede kon elkeen self een maak.  Ons is bevoorreg om so ‘n talentvolle lid te hê.

 

Erida van den Berg het die lede die geleentheid gegee om nog ‘n boekmerk te maak en hierdie keer is magnete gebruik.  Mens neem ‘n strook papier, vou dit in die helfte om oor ‘n bladsy te pas. Daarna versier jy dit volgens jou keuse en plak dun magnete regoor mekaar aan die binnekant van die 2 punte van die gevoude papier. Siedaar, jy het ‘n boekmerk wat nooit jou plek sal verloor nie.

 

Vir die VLVK-projek, VLV Raak Hart en Hande  het ons tak besluit om, onder andere, lappies te brei om komberse te maak vir minderbevoorregte mense. Met die vergadering kon ons al aan die lede die eerste kombers wys.  Die meeste blokkies is deur Anna van Zyl gebrei en die kombers is aanmekaargewerk en gevoering deur Issie van der Merwe. Die kombers gaan aan ‘n bejaarde wat dit baie nodig het.

 

Om die vergadering af te sluit het heerlike sop en broodjies vir die lede gewag.

 

Ons volgende vergadering is 14 Augustus, 14:30 in Moedergemeente se kerksaal.  Alle dames is welkom.     

 

 

Patty van den Heever by van haar skilderye.

 

 

Anna van Zyl met die kombers waarvan sy die meeste blokkies gebrei het.

 

 

Bettie Booysen, Tarien, Margie Mering, Charmaine Smith en Sannie Theron ernstig besig om kraleboekmerke te maak.



Posted on 13 June 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Gesondheid, Opvoeding en Leefstyl
Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 12 Junie 2012

 

Ons vergadering het afgespring met Suster Booysen en Tarien de Kock, ‘n dieetkundige wat ons meer inligting kom gee het oor diabetes.

 

Diabetes kan oorerflik wees of kan deur verskillende ander oorsake geaktiveer word, soos byvoorbeeld oorgewig. Die heel beste manier om vas te stel of iemand diabetes het is deur ‘n bloedtoets wat na ‘n vasperiode gedoen word. ‘n Mens moet jouself baie mooi oppas as jy ‘n diabeet is, want as ‘n seerplek aan die been of voet nie dadelik behandel word nie,  kan dit gebeur dat jy jou voet of been verloor deur amputasie. Oë is ook ‘n orgaan wat baie mooi opgepas moet word en gereelde besoeke aan ‘n oogarts is baie belangrik. 

 

Tarien het aan die dames ‘n blaadjie uitgedeel met ‘n robot op om te help verstaan hoe ‘n diabeet moet eet. In die rooi lig van die robot het gestaan:  “geen suiker” (geen lekkers, poedings, koek, konfyte, ingelegde vrugte, koeldrank en vrugtesappe). Jy mag wel dieetkoeldrank en versoeters gebruik. In die oranje lig staan: “min vet” (moenie botter of margarine by kos voeg nie, vermy diervet, vermy harde margarine, moenie 2 soorte vette saam gebruik nie, vermy melkmengsels en koffieverromer. Gebruik laevet produkte, sagte margarine, vetvrye melk, kaas net 3x per week, stoom of rooster jou kos.  In die groen lig staan:  “eet genoeg vesel”, kies hoë vesel stysel, bruin- of volkoringbrood, oats i.p.v. wit pap. Groente en vrugte is hoog in vesel, eet dit met hul skille, eet meer as 5 porsies daarvan per dag.  Droë bone, lensies, ertjies en soja is ook hoog in vesel.

 

Vir Opvoeding is die lede gevra om soos ‘n beroep aan te trek en die volgende beroepe het opgedaag:  ‘n verpleegsuster, landros, iemand wat in ‘n melkery werk, ‘n operasangeres, en ‘n fabriekwerker.  Die res van die lede het glo in hul  “ouma”- beroepsklere opgedaag… Sannie Theron het oor kleinkinders gesels en daaroor voorgelees. Dit is baie belangrik dat grootouers deel van kinders se lewens moet wees, want hulle het ‘n goeie invloed op die kinders. Hildegard het die lede laat skater van die lag met ‘n voorlesing oor “mot- en magrietjie-vroue” soos beskryf deur Maretha Maartens.

 

Die middag is afgesluit deur Leefstyl met meer inligting oor olyfolie.  Leana du Preez het die dames ingelig dat daar op die oomblik ‘n gedagtegang is dat olyfolie nie eintlik verhit moet word nie en dat jy dit eerder by jou kos moet voeg nadat dit klaar voorberei is.  Annatjie Erasmus het ‘n voorbeeld van ‘n nuwe “squeeze” olyfolie bottel gewys.  Dit is ‘n sagte bottel met ‘n klein gaatjie en jy kan net soveel olie uitdruk as wat jy nodig het.  Sy het baie lekker broodjies gehad wat gemaak is van broodjies wat in die oond gerooster is met olyfolie en kruie. 

 

Rina Coreejes het op die Internet  ander gebruike vir olyfolie opgespoor, o.a. ‘n paar druppels in jou badwater,  ewe veel olyfolie en byewas gemeng en ‘n druppel geurige olie daarby gemeng is ‘n goeie lipsalf,  gebruik ‘n druppel op ‘n rits wat nie wil werk nie en op ‘n skarnier wat raas,  spuit jou tuingereedskap om dit later maklik skoon te maak, en spuit dit op maatkoppies en maatlepels as bv stroop en botter afgemeet word.  ‘n Paar druppels oor jou kat se kos sal keer dat hy “hairballs” opbring en ‘n slukkie daarvan voor mens gaan slaap keer dat jy snork.           

 

     

 

Margie Meiring, Sr Booyens en Tarien de Kock.

 

  

Patty van Heerden - operasangeres, Rina Coreejes - fabriekswerker, Hildegard v Zyl - melkman (vrou), en Suster Alma v d Berg.



Posted on 09 May 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: De Aar
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Rina Coreejes
Datum: 8 Mei 2012

 

Michelle van Rensburg van Britstown, is ons Sirkel se sameroeper van Landbou en Tuinbou en sy het ‘n passie om fracking in die Karoo te keer en het ons daaroor kom inlig (en baie bekommerd gemaak).

 

Fracking (of hidroliese rotsbreking) is ‘n boormetode wat gebruik word om gas in die skalie rotslaag te bereik wat onder die Karoo en ander dele van Suid-Afrika voorkom.  Die boorgat kan tussen 4-5 km diep strek en daar kan deur die Karoo se grondwater geboor word om die skalielaag te bereik. Wanneer die skalie rotslaag bereik word, draai die boor om horisontaal deur die rotslaag te boor.  Water gemeng met gevaarlike chemiese middels, word dan onder hoë druk in die boorgat ingepomp. Hierdie proses kraak die skalie rotslaag en stel die gas vry. As die booromhulsel beskadig word, kan die gas en die chemiese water die ondergrondse varswater bereik en besoedel. 

 

Daar word 15 tot 20 miljoen liter water gebruik per boorgat tydens fracking en die proses kan 12 keer plaasvind per boorgat. Ten minste 35% van die toksiese fracking vloeistof bly ondergronds en miljoene liter van hierdie water moet as afvalwater behandel word. Die boorwerk veroorsaak ook skade aan die oppervlak, aangesien daar baie swaarvoertuie en vragmotors betrokke is, tot 1 500 per boorgat!!

 

So raak Fracking ons - dit kan:
• die ondergrondse water van die Karoo besoedel
• skaars waterbronne opgebruik
• ons lug besoedel
• gesondheidrisiko’s skep vir mense en diere
•  die Karoo se boerderygemeenskap affekteer
• die huidige paaie en infrastruktuur beskadig
• toerisme negatief beïnvloed
• ons kanse vir die astronomie projek in die wiele ry
• ons kulturele erfenis beskadig
• die Karoo se biodiversiteit skade aandoen
• mensgemaakte klimaatsverandering vererger
• Suid-Afrikaanse belastingbetalers verder met biljoene rande belas, om verskeie redes
• groot ongerief en ontwrigting veroorsaak in plaaslike gemeenskappe in die vorm van lig- en klankbesoedeling, padverkeer, verlaging van eiendomswaardes
• ‘n plek so rustig, tydloos, waardevol en skoon soos die Karoo in ‘n lelike industriële landskap omskep en dit vir ewig geskend te laat.

 

Die gas sal waarskynlik net tussen 5 en 12 jaar hou.  Direkte werk wat geskep word, sal hoogs gespesialiseerd wees en nie na plaaslike mense gaan nie.  Indirekte werk wat geskep word sal nie meer as ‘n paar jaar winsgewend wees nie.

 

Die Franse regering  het ‘n volledige verbod op fracking ingestel. Die VSA se Environmental Protection Agency het ‘n massiewe ondersoek begin wat handel oor die gevare van fracking, omdat dit reg oor Amerika probleme veroorsaak het. Die verslag sal in 2012 vrygestel word. Ons moet wag daarvoor.

 

Inligting gekry uit  Treasure the Karoo action group  se brosjure. Hulle webwerf is:  www.treasurethekaroo.blogspot.com   

 

 

Agter links staan Hildegard van Zyl met Michelle van Rensburg (spreker) en Annatjie Erasmus sit voor met Leana du Preez wat heelagter loer wat aangaan.  

Categories