Posted on 20 September 2011

Portefeulje: Gesondheid en Leefstyl

Beriggewer: Linda Jordaan

 

Augustus was weer 'n bedrywige maand vir Dordrecht se VLV tak.

 

Op die 9de het ons Vrouedag gehou saam met gassprekers Helen Noorman, wat ons kom vertel het van lagterapie, asook Isabel du Toit wat ‘n potpouri praatjie propvol wenke en idees gehou het. Vir die geselligheid moes die dames hoedens opsit en Mariaan Feuth het die prys gewen vir die kreatiefste hoed!  Van die dames het stalletjies gehou en na die praatjies het ons lekker tee en koffie en kolwyntjies geniet.

 

Die 24ste het ons Leefstyl en Naaldwerk vergadering gehad. Hannelize het vir ons gewys van die nuwe herlaaibare warmwatersakkies wat te koop is. Daarna het elke dame ‘n blommetjie leer hekel, wat as versiering of selfs as borsspeld kan dien. Dit was ‘n baie lekker vergadering en ons is ook bly om Mev. Bertha Rossouw as nuwe lid te verwelkom.

 

Ons volgende vergadering is die 22ste September 2011 in die N.G. Kerksaal.



Posted on 01 August 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt, Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Linda Jordaan

 
Julie was weer ‘n bedrywige maand vir Dordrecht tak. Ons het sommer twee vergaderings gehad asook ‘n mosaïekkursus.


Eerstens het ons Kunste en Handvlyt vergadering gehad waar Koekie Coetzee vir die dames ‘n bietjie meer van die fynere detail van lapverf vertel het.


Later in die maand was ons Burgersdorp toe vir ‘n lekker uitstappie en kursus oor mosaïek. By die taalmonument het Hantie Jordaan ook vir ons voorgegaan met ‘n kort praatjie oor ons taal en die erfenis daaraan wat dan gedien het as ons Opvoeding en Kultuur vergadering. Elke lid daar teenwoordig het ook ‘n gedig of mooi versie voorgelees. 


Dordrecht tak beplan om op Vrouedag, die 9de, ‘n heerlike damestee te hou. Gassprekers vir die dag sal wees, Helen Noorman wat die dames gaan kom vertel van lagterapie en Isabel du Toit wat ‘n potpourri-praatjie sal lewer. Daarna sal die dames ‘n heerlike koppie tee en verversing geniet. Die koste hiervan is R35 per kaartjie. Graag wil ons al die dames nooi om die dag saam met ons te kom geniet. Daar sal ook stalletjies wees.

 

 

 

Linda Jordaan en Elanie Jansen van Rensburg.

 

 

Lenie Fourie, Christa Venter en Ellen Clark.

 

 

 

Marta Schmidt en Hantie Jordaan.

 

 

Annatjie Coetzee, Anna van Niekerk en Elanie Jansen van Rensburg.




Posted on 01 March 2011

Dordrecht se VLV het die jaar afgeskop met ‘n administratiewe vergadering in Januarie 2011.
Sameroeper en voorsitter, Lenie Fourie, het die vergadering geopen en voorgegaan. Daar is aan almal hul pligte vir die jaar uitgedeel en enkele sake aangaande die konferensie is bespreek en die afgevaardigdes is gekies.

 

Hantie Jordaan en Linda Jordaan gaan as afgevaardigdes en Lenie Fourie en Anna van Niekerk gaan as dagbesoekers die 16de Maart Ugie toe. Kursusse wat beplan word vir die jaar vorentoe was ook bespreek. Die beplande kursusse sluit in: Tokreen, Lapverf, Naaldskilderkuns oftewel Lintborduur en “Scrapbook”.

 

Februarie was ‘n besige maand. Ons het die 16de Openbare Sake vergadering gehou waar Ansie Labuschagne die sameroeper was. Gasspreker vir die dag was Barrie Badenhorst wat ons kom vertel het hoe om ons huise te beveilig. Dit was ‘n baie insiggewende praatjie en ons is verskeie “tips” gegee oor hoe om dit veiliger te maak in en om ons huise. Ons wil hom hartlik bedank vir sy bydrae wat hy lewer tot die gemeenskap. Dit gaan nie ongesiens verby nie!

 

Op die 26ste Februarie het ons ‘n heerlike Tokreen kursus gehad wat aangebied was deur Christa van Lady Grey. Die dag was bygewoon deur 16 dames wat beide  lede en nielede ingesluit het. So tussen die plak en verf deur het ons heerlik tee gedrink en verversings geniet. Sonja Pautz het ook vir ons haar “scrapbook” goedjies kom uitstal. Baie dankie aan Christa wat hierdie nuwe stokperdjie met ons kom deel het. Ons het die dag terdeë geniet.

 

Beriggewer: Linda Jordaan

 

 

 

 

 

Categories