TAGTIG jaar oud vanjaar, maar met genoeg geesdrif om met haar inskrywings die trofee vir die meeste aantal punte voor die neuse van 13 ander takke weg te raap.
Dít is VLV Durbanville, gasvroutak vir die 44ste konferensie van Sirkel Tygerberg, gehou by Eensgezind op 10 Maart 2011. Daar is hard gewerk om van hierdie dubbele geleentheid iets spesiaals te maak.
Die spogsentrum, gewild vir troues, was nommerpas vir vanjaar se kompetisietema: Die bruid. Die swart-en-wit kleurskema was dramaties en stylvol.
Onder die eregaste was mev.Erika Lubbe, president van VLVK, wat ook die trofeë oorhandig het, asook oud-voorsitters van VLV Durbanville.
Die geleentheidspreker, me. Nicky Abdinor, is die verpersoonliking van die VLV-leuse vir 2011: Aanhouer wen/"Never give up". Me. Abdinor, wat gebore is sonder arms en met verkorte bene, is 'n kliniese sielkundige wat haar eie praktyk bedryf. Sy bestuur haar eie motor, aangepas vir haar behoeftes. Sy het haar toespraak toegelig met video's.
Die driegangete was smullekker en prentjiemooi. 'n Pronkveer vir Marina Louw en haar personeel.
Mev. Caro Ekermans, 13 jaar lank sirkelsekretaris, is verkies tot sirkelpresident en neem die leisels oor by mev. Marie Louw wat 12 jaar in dié amp gedien het.
Beriggewer: Marietta van Manen, VLV Durbanville, Sirkel Tygerberg
Kyk net die spoggerige verjaardsdagkoek!

Egte Franse sjampanje is gebruik vir die heildronk.

Hester Geringer, pryswenner borduurster van Durbanville tak, hier saam met VLVK President Erika Lubbe en Mariana Rabie, die bemarkingsbestuurder van Agri-Expo en VLV-borg.

Die bestuur is van links voor Hester Geringer, Ester de Bruyn, Marlene MacDonald en Marietta van Manen. Agter is Annelien Jonker, Johanna Steyn, Rina du Toit, Esmé van Vuren en Annette Conradie, voorsitter. Naomi Koch was afwesig. Foto: Rita Nightongale.
