Posted on 08 November 2011

Beriggewer: Betty Knipe

 

Gansbaai tak se afsluitingsvergadering was ‘n vrolike hoedepartytjie met ‘n oorvloedige teetafel. 

 

Die jaar se harde werk is beloon met ‘n tafel vol trofeë en die gebruiklike “dun” teetafel is vervang met ‘n oorvloed spoggerige soetgebak.

 

Die bestuur het besluit om die dames wat deur die jaar so getrou op hul pos is te bederf met koek en tee en keurig gedekte tafels. Die nuwe voorsitter, Rienie Ludick, het ook by die geleentheid die leisels by SD Fourie oorgeneem.

 

Na die jaarverslag en ‘n voorlesing van ‘n gepaste kersverhaal het Charlene le Roux, beoordelaar, die trofeë aan die wenners oorhandig. Baie geluk aan al die dames. 

 

Geseënde Kersfees en voorspoed in die nuwe VLV-jaar.

 

 

LNR Miempie du Plessis, Francetee Cellie-Malan, Esmé van Dewenter en Christie Groenewald - wenners!

 

 

Charlene le Roux oorhandig een van Christie se vele trofeë.

 

 

Annatjie Liebenberg, Marie Uys en Christie Groenewald in vrolike luim tydens die hoedepartytjie.



Posted on 12 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: SD Fourie
Datum: 4 Oktober 2011
 

Die afgelope Landbou-vergadering onder leiding van Mary Badenhorst en haar gasvroue was ‘n aangename verrassing.  Die saal was getooi soos ons streek – blommeprag vanaf die verhoog tot op die tafels en in tipiese landboustyl was erdwurmboerdery die onderwerp van bespreking

 

Susan Lochner van Grootbos het met ‘n pittige voorlegging die gebruiklike vroulike grillerigheid vir wurms die nek in geslaan en aan die dames verduidelik hoe dié boerdery se eindproduk jou plante laat gedy. Erdwurmtee is die beste plantvoedsel vir enige tuin of potplant. Om aan te sluit by potplante, het Mary op haar beurt weer verduidelik hoe om van ou koerante en sement  potte te maak.

 

Tydens die vergadering is die nuwe bestuur vir 2012 verkies:
Voorsitter – Rienie Ludick
Visevoorsitter – Charlene le Roux
Sekretaresse – Esmé van Dewenter
Tesourier – Annatjie Liebenberg

Die addisionele lede is: Naomi Nel, Francetta Cillie Malan, Miempie du Plessis en Mary Badenhorst.

 

Die bestuur het na die algemene vergadering die VLV Kaapland se Armoede-projek, Raak hart en hande, plaaslik van stapel gestuur. Tydens die VLVK-Kongres op Villiersdorp het alle takke vanoor die hele Kaapland bygedra tot die projek se tema, Tekkies en Tuck. Die tekkies en kospakkies is aan al die takke in Sirkel Overberg beskikbaar gestel. VLV Gansbaai het  hulle deel plaaslik versprei. Twee skole het reeds tekkies ontvang en nog twee kleuterskole, Die Kleine Gansies en Cool Kids, het tekkies asook koopbewyse van Pep Stores ontvang. Pep Stores se hoofkantoor het R5 000 aan VLVK geskenk vir dié projek en dit is onder alle takke in die Sirkel verdeel om na goeddunke te versprei.  Die ontvangers van al die broodnodige skenkings, het ‘n opregte dank teenoor VLV uitgespreek. Van die skole wat tekkies ontvang het, het laat blyk dat daar soveel as 55% van die leerders nie tekkies besit nie. 

 

 

Mnr. Volkwyn, skoolhoof Gansbaai Primêr, en SD Fourie tydens die oorhandiging van tekkies.

 

 

 

LNR Mariëtte Zeelie van Cool Kids, SD Fourie (voorsitter) en Lanita Marais van Die Kleine Gansies, tydens die oorhandiging van hul Pep Stores koopbewyse en tekkies.



Posted on 15 September 2011

Beriggewer: Betty Knipe

 

Die kratte met die Tekkies & Tuck was geberg in Villiersdorp, totdat takke dit kon gaan haal. Gansbaai tak het hulle s’n gehaal op die 4de September en toe by eerste vergadering uitgedeel aan sameroepsters van die bestuur.

 



Posted on 29 June 2011

Gansbaai tak het hul geliefde manslid verloor.


Kallie Liebenberg was die afgelope 15 jaar ‘n ingeskrewe lid van Gansbaai tak. Hy  wou nie net ‘n VLV-vriend wees nie, maar ‘n volwaardige lid met sy eie VLV kenteken. Die Here het hom op die 20ste Junie baie skielik kom haal. Die VLV dames is hartseer oor die heengaan van hierdie geliefde vriend van hulle. Hy was ‘n minsame, opgewekte, vrolike en baie behulpsame mens. Hy was baie trots op sy vrou, Annatjie, wat vir jare die voorsitter van die tak was en nog steeds op die bestuur dien en die sekretaresse/tesouriere van die Sirkel is.


Hy het geglo dat daar werklik iets verkeerd moet wees met ‘n vrou wat nie ‘n VLV-lid is nie. Die hoogtepunte van sy VLV -jaar was die mansuitstappie by ‘n kongres. Hy het dit verskriklik geniet en so baie vriende daar gemaak.

 

Hy het dan ook met baie opgewondenheid uitgesien na Kongres wat Sirkel Overberg hierdie jaar in Villiersdorp gaan aanbied. Hy het besluit hy gaan reeds vanaf die 10de Augustus saam met sy vrou na Villiersdorp sodat hy kan “gaan hand gee”, soos hy dit genoem het. Hy was ook baie opgewonde oor die Hoofbestuur se snoek en patataand waarvoor hy die Maandagaand verantwoordelik sou wees. Hy sou ook as mede-toerleier die mansuitstappie meemaak.

 

Sy volgehoue betrokkenheid by die aktiwiteite van hierdie tak en Sirkel Overberg sal altyd onthou word deur almal in die Sirkel.




Posted on 17 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Betty Knipe

 

 

Kinnie Schutte het tydens Gansbaai se Leefstyl vergadering die oorhandiging en onthulling van die nuwe takvaandel waargeneem. Sy was ook die ontwerper en skepper van die unieke kwilt kunswerk. Die vaandel is in opdrag van die lede gedoen, maar tydens die oorhandiging het sy die vergadering verras deur dit aan VLV Gansbaai te skenk. Baie dankie, Kinnie. Ons is trots op ons unieke vaandel wat die hele Gansbaai kultuur en gemeenskap  so treffend uitbeeld en dit gaan spoggerig by Kongres vertoon word.

 

Miempie du Plessis en haar gasvroue was vir die ‘n interessante Leefstyl vergadering verantwoordelik. Die geleentheid is afgeskop met ‘n kooksessie deur Jonathan Engelbrecht van Benguela restaurant. Jonathan is ‘n uitstekende sjef en die dames was verstom deur sy knaphandige voorbereiding van risotto geregte. Hy het binne veertig minute ‘n voorgereg, hoofgereg en nagereg  in die kombuis - met die hele vergadering om hom – voorberei. Na die proesessie kon mens sien dat die toehoorders met nuwe oë na die sjarmante sjef  kyk.  Benguela gaan beslis binnekort ‘n toeloop van VLV-dames beleef.

 

Volgende was Rienie Ludick aan die woord met skitterende wenke oor die gebruik van kombuispapier, Miempie het Pins & Needles se nuwe wol en verskillende breidraad verduidelik en Marie van der Merwe se uitstalling van haar smokwerk bekendgestel.

 

Die voorsitter het al die kongres-organisasie en Gansbaai-tak se verpligtinge aan die vergadering voorgehou.  Vir diegene wat nie vergadering kon bywoon nie:

  • Daar is nog plek vir dagbesoekers by Kongres (16-18 Augustus).
  • Registrasievorms en geld voor 24 Junie by Annatjie Liebenberg.
  • Alle konfyt vir Kongres moet Dinsdag 21 Junie om 15h00 by Annatjie se kantoor wees. Spuit asb. alle dekseltjies wit. Indien u reeds nuwe goue deksels het, kan u dit so laat.
  • Lewer asseblief ook minstens 20 tot 30 klein seeklippies by Annatjie af. Dit is deel van Gansbaai-tak se bydrae.
  • Elke lid is ook verantwoordelik vir ‘n inkopiesak en ‘n paar breiblokke (KANSA).  Mate van breiblokke – 20cmX20cm. Skakel Esme van Dewenter vir meer besonderhede – tel: 0283880776. Die breiblokke en inkopiesak moet voor einde Julie by Annatjie afgelewer word.
  • Gansbaai tak is ook verantwoordelik vir 50 X 200g sakkies beskuit. Die vergadering het eenparig besluit dat elke lid R10 bydra i.p.v. self bak. Die beskuit sal dan eenmalig, gebak, verpak en versend word. Die bydrae moet so gou as moontlik by Annatjie Liebenberg afgelewer word.

 

Volgende VLV-vergadering Dinsdag 2 Augustus om 15h00. SD Fourie sal haar nuwe boek, Die Lanternswaaier, bespreek. Onthou ook die marktafel tydens die vergadering.

 

Uitslae Kompetisies:
Gebottel: Mosterdsuurtjies:  Francette Cillie Malan
Kookkuns: Bobotie – eie resep: Eerste – Christie Groenewald; tweede – Miempie du Plessie; derde- Dina Jooste; vierde – Esme van Dewenter; vyfde  - Francette Cillie Malan.
Mikrogolf: Mieliebrood: Eerste – Dina Jooste; Tweede – Christie Groenewald; Derde – Francette Cillie Malan; vierde – Esme van Dewenter.
Hekelwerk – Sleutelhouer: Miempie du Plessis.
Blomme – tafelruiker van veldblomme: Christie Groenewald.

  

 

 

 

 



Posted on 06 March 2011

Portefeulje: Gesondheid

 

Met die Gesondheid vergadering, Dinsdagmiddag 1 Maart 2011,  was dit min of meer “Gesondheid in die rondheid en alle VLV vroue in die blomtyd”. Naomi Nell en haar gasvroue was vir die geskiedkundige eerste middagvergadering verantwoordelik. Hulle het alle nuwe besparing voornemens oorboord gegooi en die gaste trakteer met ‘n skitterende juwele uitstalling, handsakke om van te droom en alles afgerond met vrolike rangskikkings van fynbos uit ons kontrei.  ‘n Keurige teetafel was die kersie op die koek.

 

Alles was darem nie net frivole ontspanning nie. Elnette du Toit van KANSA het ‘n
In diepte bespreking oor die groot K aangebied. Een uit elke drie persone is of was al betrokke by kanker daarom raak dit bykans elke persoon. Sy het die dames gewaarsku teen die gebruik van plastiek – veral wanneer dit verhit word. Volgens navorsing het dit ‘n negatiewe uitwerking op die liggaam en kan dit as een van die oorsake vir die bevordering van kankerselle  beskou word. Plastiese bababottels hoort nie in die mikrogolfoond  nie en dié bietjie oorskietkos in die vrieskas moet liefs in ‘n glashouer verhit word. Die ou pyrex bakke van weleer kry deesdae ‘n tweede kans.

 

Charlene le Roux, Miempie du Plessis en Rienie Ludick sal die plaaslike tak by die konferensie (Hermanus, 16 Maart 2011) verteenwoordig.  SD Fourie is afgevaardig om Gansbaai tak by die Kongres (Villiersdorp, 16-18 Augustus 2011) te verteenwoordig. Sterkte aan die afgevaardigdes asook alle deelnemers aan die kompetisies.

 

Kinnie Schutte het ingewillig om ‘n nuwe takvaandel te ontwerp en te kwilt. Dit is ‘n jaar lange projek waarvoor almal skriftelike insette voor die volgende vergadering kan lewer. Kinnie sal daarvolgens haar ontwerp beplan. Baie dankie, Kinnie.

 

Uitslae van kompetisies:
Gebak: Souttertjies – Miempie du Plessis
Mikrogolf:  3 somervrugte stukkonfyt – Christie Groenewald en Esmé van Dewenter
Kuns: 3 kaartjies met verskillende “teabag folding” tegniek – Miempie du Plessis

 

Uitstaller: Cora Helberg. Baie dankie vir al jou moeite.

 

Volgende vergadering: 3 Mei 2011 om 15h00.

 

Die middagvergadering was ‘n groot sukses – byna soos die bioskoop matinee van ouds.  Prettig en gesellig – ongelukkig sonder vryers en springmielies!

 

 

 

Elnette du Toit KANSA en Naomi Nel.



Posted on 16 February 2011

Gansbaai tak se  Kuns en Handvlyt vergadering, aangebied deur Rienie Ludick en haar span, was baie suksesvol. Dries en Susan van Heerden, gassprekers, is twee pittige sprekers wat mekaar uitstekend aanvul.

 

Dries se uitstalling van sy werk het baie belangstelling gelok en sy insiggewende vertelling oor sy stokperdjie wat later ‘n bron van inkomste geword het, het almal inspireer. Hy is ook ‘n eksperimentele kunstenaar wat gebruik maak van verskillende mediums.  Dries, wat sy eie houtskool maak, is ‘n man van vele talente en is ook ‘n skrywer en digter van formaat. 

 

VLV Gansbaai se maandelikse vergadering sal voortaan elke eerste Dinsdag van die maand om 15h00 in die Pretoriussaal plaasvind. Kompetisie artikels moet reeds om 14h00 by die saal ingehandig word.  Die besluit is geneem omdat baie van die dames enkellopend is en die aandvergadering ‘n veiligheidsrisiko is.

 

Rienie Ludick, sameroeper van Kuns en Handvlyt, het ‘n versoek gerig dat alle oortollige boeke na toekomstige vergaderings gebring moet word.  Die tak beplan om die biblioteek van Academia Hoërskool aan te vul. 

 

Daar is ook besluit om voort te gaan met ons woekeraksie van 2010.  Die aksie is ten bate van ons eie fondse aangesien elke tak in die sirkel ‘n verpligte finansiële bydrae  lewer vir die kongres wat vanjaar deur Overberg sirkel aangebied word.

 

Die uitslae van die aand se kompetisies is:
Gebak: Rosynebrood – Miempie du Plessis 1ste, Dina Jooste 2de en Esmé van Dewenter 3de.
Gebottel: Uie marmelade – Christie Groenewald 1ste, Miempie du Plessis 2de en Esmé van Dewenter 3de.

 

Die volgende vergadering is Dinsdag 1 Maart om  15h00.  Naomi Nell is die sameroeper.

 

Beriggewer: B. Knipe

 

 

 Dries & Susan

 

 

 

 

 



Posted on 30 November 2010

Die jaarlikse VLV afsluiting het vanjaar met ‘n vrolike Kersmaal, Strandveldse Kersspel en die bekendstelling van ‘n plaaslike bundel Kersverhale geskied.  Die trofee wenners en nuwe bestuur is ook by die geleentheid aangekondig.

 

‘n Strandveldse Kersspel deur een van ons lede, SD Fourie, is deur Gansbaai se plaaslike Snaterteater onder spelleiding van Sylvie Agenbach  opgevoer. Carine Badenhorst het ‘n gedig van SD getoonset en ook die begeleiding tydens die opvoering waargeneem.  Die eenvoud van die vertolking deur die jong spelertjies van Blompark het almal se hartsnare geroer.  Die Kersspel was ‘n weninskrywing van VLV Gansbaai tydens vanjaar se konferensie op Bredasdorp.

 

 

Sylvie en SD

 

 

Jan en SD Fourie het tydens die geleentheid hul nuwe bundel Kersverhale, Kersklokkies oor Branderbaai, bekendgestel.  Kersklokkies oor Branderbaai is plaaslik beskikbaar by Gansbaai Boekwinkel en die Strandveld Museum.

 

 

Die gasvroue het aangesluit by die idee van ‘n egte plaaslike Kersfees en die tafels was keurig versier met handgemaakte versiersels, skulpe en takke.

 

SD het Annatjie Liebenberg, wat na 16 jaar as voorsitter van VLV Gansbaai, tydelik aftree, bedank.

 

 

Die nuwe VLV bestuur vir 2011 is:
Voorsitter: SD FOURIE
Ondervoorsitter: Charlene le Roux
Sekretaresse: Esme van Dewenter
Tesourier: Annatjie Liebenberg
Naomi Nell, Miempie du Plessis, Mary Badenhorst, Rienie Ludick, Francetta Cillie-Malan
Betty Knipe (fotograaf).

 

Trofeë vir 2010 is deur Annatjie oorhandig aan die volgende lede:
Gebak  Esme van Dewenter
Mikrogolf: Francetta Cillie-Malan
Kookkuns: Francetta Cillie-Malan
Kuns:  Marie van der Merwe

 

Christie, Marie en Esmé.

 

 

Gebottel, Lekkers, Breiwerk, Naaldwerk, Hekelwerk, Handvlyt, Blomme, Tweede in Kookkuns,  Meeste 1ste plekke en Meeste punte is almal deur Christie Groenewald gewen. Christie is reeds 56 jaar lid van die VLV – dus geen wonder dat sy almal uitstof nie!  Baie geluk aan haar.

 



Posted on 22 August 2010

VLV Gansbaai het geskiedenis gemaak toe hul Opvoedingsaand in die restaurant van Academia Hoërskool plaasgevind het. Dit het dan ook lede die geleentheid gebied om nader kennis te maak met Gansbaai se nuwe hoërskool. 

 

Mnr Tommy Wilson, die nuwe skoolhoof sedert Julie 2010, is met tipiese VLV-warmte verwelkom.  Hy is bederf met ‘n pakkie wat van ‘n potjie konfyt - vir die soet in die lewe, tot ‘n wyntjie - om te kan filosofeer, tot ‘n gebed vir ‘n onderwyser - om wysheid en geduld, bevat het. Hy vertel dan ook dat sy koms na Gansbaai werklik ‘n roeping is om Gansbaai Academia ‘n skool van uitnemendheid te maak.

 

Vervolgens kon die besoekers die pragtige sang o.a. “Unchained Melody” van die skoolkoor o.l.v Liezel Mostert geniet.

 

Anneri Harding-Male, die onderwyseres in Gasvryheidstudie, vertel hierna met groot geesdrif  hoe die leerders in hierdie vak opgelei word om reeds op skoolvlak met die industrie kennis te maak  Hul leer nie net om die kos voor te berei nie, maar word ook opgelei om ‘n aangename atmosfeer te skep op ‘n bekostigbare wyse en die geregte op ‘n smaakvolle wyse voor te sit. Die leerders kry geleentheid om dit wat hul in die teorie leer op hul restaurantaande, wat op ‘n Woensdagaande plaasvind, prakties toe te pas. Op ‘n toer deur die kombuis moes almal saamstem dat dié modern toegeruste kombuis elke sjef se droom is!

 

‘n Mens voel werklik dat met sulke entoesiastiese en toegewyde leerkragte elke leerling van Academia inderdaad die geleentheid kry om hul vlerke te sprei, soos die leuse van die skool lui. Belangrik is egter dat ‘n skool nie kan floreer as dit nie die ondersteuning van sy gemeenskap geniet nie.

 

Gansbaai Spar het vir heerlike nostalgie gesorg deur ‘n kosblikkie met gesonde lekkernye aan die besoekers te voorsien vir teetyd. Dankie Spar! Die besoekers is egter daaraan herinner dat ‘n mens se opvoeding ‘n lewensreis is en nie by die laaste pouse-toebroodjie ophou nie.  Olga Swanepoel se kunsuitstalling kon hiervan getuig. Uit haar skoolhoujare en werk by kwekerye het die belangstelling in Botanie ontstaan. Daaruit het weer die begeerte ontstaan om dit kunstig uit te beeld. Nou hou sy haar sinvol besig met haar belangstellings saamgevat in haar skilderye!

 

Die aand is afgesluit met ‘n Gansbaai Geskiedenisles.  Daar is vertel van die klok wat op die plaas, Moeraskloof, van oom Danie Fourie, (nou ‘n deel van Korsika) gelui is, as iemand iets in die plaaswinkel benodig het. Dié klok het die begin van die administratiewe deel van die byeenkoms aangedui!

 

Die volgende VLV byeenkoms vind op Dinsdag, 7 September 2010, in die Pretoriussaal plaas.

 

 

 

 

 

Tommy Wilson, Juanita Malan en Eliza de Lange, Opvoeding sameroepster

 

 

 

Anneri Harding-Male



Posted on 31 March 2010

Riaan Buys en Cassie Carstens van Overstrand Medical Response was die gassprekers tydens die Gesondheid portefeulje, o.l.v. Naomi Nel, se vergadering. Die dames was baie verras toe hul hoor van die wonderlike en noodsaaklike diens wat hierdie twee persone in die dorp en omgewing verrig.  Hul kantoor is reg langs Doves Begrafnisondernemers in Hoofweg en u kan gerus daar gaan inloer en lid word van hierdie nooddiens.

 

Me Mariana Meyer van Quilt Creations in die White Sharkgebou te Dirkie Uysstraat, het ‘n uitstalling gehad van haar naaldwerk en spesifiek van haar pragtige laslappiewerke.  Haar telefoonnommer is 0834684995 en u kan gerus daar gaan inloer en haar ondersteun.

 

Die verrigtinge is opgevolg deur ons Kuns en Handvlyt vergadering.  Me SD Fourie is hier die sameroeper en haar gasvroue het die dames bederf deur die heerlikste koeke, wat geen kalorieë bevat nie, voor te sit met regte, egte moerkoffie.  Me Carien Badenhorst was die gasspreker van die aand en het ook haar pragtige skilderye uitgestal.  Sy en mnr HB Bester het ook ‘n kerslied, wat sy getoonset het nadat SD Fourie dit geskryf het, gesing.  Die kerslied is ‘n deel van ‘n kersspel kompetisie wat die VLV Kaapprovinsie aanbied en waarvoor SD ingeskryf het.  Ons is almal baie trots op hierdie befaamde VLV skryfster van ons en wens haar voorspoed toe vir die pad vorentoe.  Me Marilé Geldenhuys van Gansbaai Boekwinkel, geleë in die Sportzone Gebou, het ‘n boekuitstalling gehad en het ook ses pryse geskenk aan gelukkige VLV dames.

 

Die jaarlikse VLV Sirkel Konferensie het vanjaar op 17 Maart te Bredasdorp plaasgevind.  Mev Annatjie Liebenberg het vir die 5de agtereenvolgende jaar as sirkel sekretaresse die konferensie bywoon.  Mevv Charlene le Roux, Esme van Deventer en Bertha Lambert het die tak as afgevaardigdes verteenwoordig.

 

Baie welkom aan ons nuwe lede wat aangesluit het, me Nonnie Geldenhuys, Rista Groenewald en Ronel Swart.  Ons verwelkom ook me Mariana Meyer as VLV vriendin.  Ons hoop hul sal elke oomblik van hul lidmaatskap geniet.  Graag wens ons weereens al die dames van Gansbaai en omgewing uit te nooi om ons vergaderings elke eerste Dinsdag in die maand by te woon.  Dit word in die NG Kerk se klein saaltjie gehou en begin 6.30 vir 7.00 nm.  Hou asb in gedagte dat, a.g.v die skoolvakansie, daar geen vergadering in April sal plaasvind nie.

 

Mnr. H. Bester en Mev. S. Fourie 

Categories