Posted on
24 January 2012
Beriggewer: Alet Colyn
GOODWOOD het die jaar afgeskop met 'n heerlike potpourri vergadering.
Ses lede het hulle kunsvaardighede gewys en verduidelik hoe dit gemaak word. Gina Hutton het haar teddiebere gewys, Magdeleen Joubert het die dek van haar mooi teetafels gewys, Zylia Fourie het 'n interessante webwerf met alles wat 'n vrou wil weet, aan ons bekend gestel. Wilna Swart het mooi kaartjies en blikkies gewys, Enola Venter wys haar juwele en Alet Colyn het haar découpage kersballe en borde gewys.


Lede tydens die vergadering - dis BAIE warm!
GOODWOOD SE ERELID, Jessie Sandilands-Nel is sedert 1944 lid van VLV. Sy het destyds by Beaufort-Wes aangesluit en haar eerste kompetisie-inskrywing was vars rose uit die tuin. Sy was sedert 1967 voorsitter en sekretaris en soms sommer penningmeester ook.
Erelidmaatskap is aan haar toegeken vir haar toegewydheid aan VLV en haar tak. Ons respekteer haar vir haar volgehoue getrouheid aan die tak en al die waardevolle insette gelewer in die uitbou van VLV Goodwood.

Posted on
16 November 2011
Tydens GOODWOOD se afsluitingsfunksie op 15 November het 5 lede kentekens ontvang. LNR Leonie Theron (10 jr), Annemarie Kable (20 jr), Alet Colyn (20 jr), Verona Burger (35 jr) en Wera Gerstner (35 jr).

GOODWOOD se bestuur vir 2012 is LNR Magdaleen Joubert, Wenda Preuss (voors), Karin Marais, Charlotte Huysamer, Tina Muller, Alet Colyn (visevoors), Enola Venter, Bes van Zyl (tesourier) en Connie Marais (sekr).

Die bekerwenners: LNR Martie Beneke (masjien-, borduur- en hekelwerk), Rose Heyne (masjienbrei), Tina Muller (breiwerk), Wenda Preuss (gebak, gebottel, kookkuns, mikrogolf en landbou) en Lettie Hoffmann (blomme en kuns en handvlyt) Lettie het die trofee vir die meeste punte ontvang, Wenda die skild vir die 2de grootste totaal en Martie was 3de.

Posted on
05 November 2011
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Marietjie Albrecht het 'n werkswinkel by Goodwood tak aangebied.
Daar was 14 dames wat onder Marietjie se bekwame hande vlytig, fluks en kreatief was met doodgewone goed wat omtower is in engeltjies, geskenkdosies, geskenketikette van klei, vlinders en 'n lint met knopies wat foto's vasknyp.
Dit was ‘n prettige oggend en die dames het hulle gate uit geniet!

Baie besig.

Die groep vrolike dames.

Die klaar artikels.
Posted on
19 October 2011
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Alet Colyn
Tydens GOODWOOD se maandvergadering op 18 Okt. het Jan Lategan, 'n onafhanklike wetenskaplike navorser in Natuurlike Gesondheid sy kennis met die lede kom deel.
Hy praat oor die voorkoming van siektes met behulp van leefstyl, dieet en natuurlike aanvullings. Net soos jy jou blou oë en rooi hare van jou ouers of voorouers erf, so erf jy ook hulle kwale. As jy dus 'n familiegeskiedenis van bv. diabetes of kanker het, moet en kan jy die nodige voorsorg tref met die regte leefstyl en sekere aanvullings om te voorkom dat jy ook die siekte opdoen.
Kanker slaan toe as jou immuniteit laag is. Jou immuniteit is laag as jy o.a. meer as een keer ‘n jaar griep of gordelroos kry. Dit kan weer a.g.v. 'n swak dieet of spanning wees. Hy beveel aan dat jy o.a. gerookte vleis, asyn, polonie, suikervrye koeldranke skimmel op kos en sonbeddens vermy. Die risiko om kanker op te doen word verminder deur o.a. borrie, aspersies, rooi druiwesap, rooiwyn, knoffel, uie, rooipeper en suurlemoensap in te neem.
Sy lewensfilosofie is: As enkeling kan ek nie die wêreld verander nie, maar ek kan die wêreld van 'n enkeling verander!

Mnr. Lategan met 2 van sy publikasies.
Posted on
23 September 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Alet Colyn
Die vennote van MPV Boedeldienste, mnre. Koos van Zyl en Sakkie Pieters, het Goodwood tak se lede ingelig oor besparings ten opsigte van die vernaamste kostes verbonde aan die afhandeling van ‘n boedel. ‘n Boedel kan met die regte hulp vinniger, goedkoper en sonder onnodige komplikasies afgehandel word.
Volledige boedelbeplanning en ‘n prakties uitvoerbare testament is van uiterste belang en word dikwels afgeskeep. Daar is sekere kostes verbonde aan die bereddering van ‘n bestorwe boedel. Eksekuteursfooie en oordragkoste in die geval van vaste eiendom, boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en inkomstebelasting is van die vernaamste kostes. Vanaf 1 Maart 2007 is daar geen boedelbelasting betaalbaar op 'n boedel met 'n netto waarde van minder as R3,5 miljoen nie.
‘n Testament kan deur die erflater of ‘n ander persoon geskryf word. Daar is egter sekere risiko’s verbonde aan die erflating indien die ander persoon, wat die testament skryf, ook as ‘n erfgenaam benoem is. Dié persoon sal net kan erf tot die bedrag wat hy of sy intestaat (indien daar nie ‘n testament was nie) vanaf die erflater sou geërf het.
MPV Boedeldienste het tot stand gekom met die uitsluitlike doel om verskeie besparings in veral pensionarisse se boedels te bewerkstellig. Hulle neem geen vergoeding vir nadoodse inkomste, wat tydens die beredderingsproses ingevorder word nie. MPV onderhandel ook met prokureurs om die oordrag van vaste eiendom teen ‘n spesiale tarief te doen.
Koos van Zyl, Mara Binedell (Sameroeper) en Sakkie Pieters.

Posted on
05 September 2011
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Alet Colyn
Goodwood tak het op 2 September 'n koue en reënerige lentedag, 'n Koorsboom by die plaaslike laerskool, Koos Sadie, geplant.
Die voorsitter, Wenda Preuss, vertel aan 'n paar van die senior leerlinge waaroor die seremonie eintlik gaan. Die kinders was baie ywerig en vol belangstelling. Ons tak het 'n kompetisie geloods in verskeie ouderdomsgroepe en aan hulle die geleentheid gegee om hulle bydraes te lees. Pryse sal by hulle saalbyeenkoms oorhandig word.

LNR Karin Marais (Landbou sameroeper), Wenda Preuss (voorsitter), Maryna Brits (lid), Mnr.Laubscher (opsigter) en mnr. Albie Smith (skoolhoof). Voor is van die leerlinge ywerig besig met die plantery.

Voor is die "amptelike boomplanter", mnr. Peter Preuss.

Groot plesierigheid het geheers terwyl die reën in vlae neerval.
Posted on
24 August 2011
Tydens Goodwood se TUISTESKEPPING-vergadering het "spysenier" en "sjef" Anna Bindeman, 'n paar borde as voorbeelde van garnering voorberei. Na die vergadering het die lede sop en brood genuttig, asook heerlik aan die mooi eetgoed gesmul. Huishoudelike wenke is uitgeruil en die dames het ook hulle troufoto's ten toon gestel - heerlike pret!

Posted on
20 July 2011
Goodwood se voorsitter neem 333 breiblokke saam na die kongres op Villiersdorp - het ons nie uitgehaal en gebrei nie?!

Posted on
20 July 2011
Alta Visagie
20-09-1937 - 23-06-2011
Alta was 'n afgetrede onderwyseres en goed bekend en bemind in Goodwood. Sy het in 2008 by ons tak aangesluit en was sedert 2009 die sameroeper van Kultuur. Sy het die VLV met ywer en entoesiasme gedien en sal ook daarvoor onthou word.
Ons gaan Alta mis!

Posted on
21 June 2011
Goodwood se Kunste en Handvlyt vergadering op 21 Junie 2011.
Marietjie Albrecht het die allermooiste artikels van herwinningsmateriaal vir die lede gewys, o.a. engeltjies, kershouers, kersversierings, ens.

Rina Erasmus (sameroeper) Marietjie Albrecht en Verona Burger (sameroeper).

Die lede het skryfbehoeftes vir Ruyterwacht se preprimêre skool geskenk - een van ons omgee-projekte.

'n Uitstalling van artikels wat lede van herwinningsmateriaal gemaak het.