Posted on 04 October 2011

Huldeblyk aan Valerie Terblanche.
Saamgestel deur Mimi Lategan.
Tak: VLV Graaff-Reinet


Aan die begin van die skooljaar 1951, het Valerie Quixley van die Paarl, die pos aanvaar as die eerste Huishoudkunde onderwyseres aan Hoërskool Aberdeen. Haar koms was ‘n groot bate vir die skool, want sy het nie net uitgeblink as ‘n goeie onderwyseres nie, sy het die dogters ook die fynere kuns van blommerangskikking geleer, hoe om tafels stylvol te dek vir verskillende geleenthede en het voor gevat met die reël van spyseniering vir skoolfunksies. Sy sluit aan by die plaaslike VLV-tak, waar sy die beoordeling van die maandelikse kompetisie- artikels behartig. Sy was ook voorsitter van dié tak.

 

Sy ontmoet Etienne Terblanche, ‘n boer uit die Aberdeen distrik. Hulle tree in die huwelik in Paarl, haar tuisdorp. Die egpaar vestig hulle op Klipdrif in die Aberdeen distrik en verhuis in 1972 na Glen Cliffe in die distrik.

 

Uit die huwelik is drie kinders gebore, Etienne, Johan en Adél.  Haar man besluit om verder te studeer in Pretoria, waar hy ‘n doktorsgraad in Landbou behaal. Hulle verhuis na Somerset-Oos en Queenstown, waar hy ‘n tweede doktorsgraad behaal.

 

In Port Elizabeth waar hulle ook woonagtig was, was Valerie gekies tot voorsitter van die Summerstrand tak en ook visevoorsitter van Sirkel Middelland. Sy was ook president van die Port Elizabeth Women’s Club. Later was haar eggenoot verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch.

 

Valerie het vele lande besoek en sy het oor ‘n uitgebreide kennis beskik en kon ‘n baie goeie toespraak maak by geleenthede waar sy gevra was om op te tree. By aftrede het hulle weer op Glen Cliffe gaan boer, maar het later teruggekeer na Graaff-Reinet. Haar man is in 2005 oorlede en begrawe op Aberdeen.

 

As gevolg van gesondheidsredes vestig sy haar in die Brenda Horwitz Court, Graaff-Reinet, waar sy haar wooneenheid smaakvol inrig en haar tuin altyd vol blomme was.  Sy was altyd omring deur vriende. Haar kinders, agt kleinkinders en twee agterkleinkinders sal haar onthou as ‘n baie besondere ouma.  Sy was ‘n besondere intelligente, stylvolle dame met baie deernis vir haar medemens, asook ‘n troue vriendin.

 

VLV Graaff-Reinet verloor ‘n  erelid. Sy was 60 jaar lank ‘n lid van die VLV. Na haar heengaan op 4 September 2011 is sy Donderdag, 8 September, langs haar oorlede man op Aberdeen ter ruste gelê deur Ds. Abe Beyers van Aberdeen. ‘n Dankdiens is in die NG Grootkerk te Graaff-Reinet gehou deur Ingrid Boshoff.

 

Ons eer haar nagedagtenis.



Posted on 09 November 2010

Graaff-Reinet tak met op 5 November 2010 hul afsluitingsfunksie in die vorm van ‘n braai gehou. 

 

Nadat die voorsitter, Ria Krause, almal welkom geheet het, het Adri Landman die Kersverhaal voorgelees.  Die voorsitter het verslag oor die jaar se gebeure gelewer waarna die wenners van die verskeie kompetisie afdelings bekend gemaak is. Bekers, koopbewyse en VLV-lepeltjies/koekvurkies is uitgedeel as pryse. 

 

Helen die Wet was die algehele wenner met die meeste punte behaal deur die jaar.  Peggy Visser het 2de geëndig met Mariëtte Slabbert in die 3de plek.  Diensknopies van 60 jaar en 35 jaar is onderskeidelik aan Joey van Wyk en Hannatjie Pieterse oorhandig. 

 

Die bestuur is bedank vir die interssante, leersame programme en demonstrasies wat hulle aangebied het. Daar het uitstekende sprekers deur die loop van die jaar opgetree. 

 

Waardering is aan die Sekretaris/Tesourier, Leonie van der Merwe, wie uitgetree het, gerig vir haar entoesiasiese en ywerige deel wat sy as bestuurslid verrig het.  

 

Die lede se mans is ook bedank vir hul bystand aan hul vrouens verleen. Die nuwe Programboekie vir 2011 met die tema, Aanhouer Wen, is aan lede uitgedeel. 

 

Tussen die kuiery het Natasha Fynney en haar eggenoot, Mark, die ouer garde wysgemaak om kerskaartjies met hul eie foto op, op die rekenaar te maak wat hulle aan hul kinders kan pos aangesien rekenaargeletterdheid ñ VLVK projek vir 2010-2011 is.

 

Die bestuur vir 2011 is as volg:  Ria Krause, Natasha Fynney, Sinnie van Rensburg, Mariëtte Slabbert, Mimi Lategan, Marenda Lückhoff, Gerna Kleyn, Peggy Visser en Adri Landman.

 

Berriggewer:  Ria Krause

 

Helen de Wet (L), Ria Krause (Middel), Peggy Visser (R)

 

 



Posted on 04 September 2009

Elke jaar word 'n ander land bespreek.  Vanjaar was Engeland aan die beurt.  Die spreker, Brain Charles, het ons van sy wedervaringe vertel wanneer hy by sy kinders gaan kuier.

 

Die Sirkelpresident, Lynette Martin, het hul toegespreek en benadruk dat mense meer bewus gemaak moet word van die aktiwiteite van die vereniging.

 

Carla Pohl, welbekende Internasionale sangeres het die Engelse Volkslied, "God Save The Queen", gesing en 'n tipiese Engelse kinderverhaal is voorglees deur Sinnie van Rensburg.  Tee en eetgoed, ondermeer Engelse komkommertoebroodjies, is deur die lede voorberei en aangebied.

 

vlnr: Sinnie van Rensburg, Joey van Wyk, Marenda Luckhoff, Brain Charles, eerwaarde Nancy Charton, Elizae Theron, Lynette Martin (president, Middelland Sirkel) en Ria Krause (voorsitter Graaff-Reinet-tak).

 

 

Categories