Posted on
02 September 2011
Portefeulje: Leefstyl / Kunste & Handvlyt
Die Leefstyl en Kunste & Handvlyt Saamroepers het gesorg vir 'n propvol program toe, Louwna Hoving, President van Sirkel Weskus, Graafwater tak besoek het.
Carol Loubser het huishoudelike wenke gedeel met die lede en 'n baie interressante uitstalling gehad van verskillende fokuspunte in 'n vertrek. ‘n Blommerangskikking is nie noodwendig altyd nodig nie. Leë bottels, flesse, klippies, krale en selfs 'n mooi nekdoek kan gebruik word.
Amanda Maritz het haar pragtige selfgemaakte quilt duvet, handsak en muurbehangsels vertoon.
Tertia van Zyl het boeke soos o.a. Vier Seisoene van Wilna Adriaanse en Hoogty, geskryf deur E.Kotze, vir lede aanbeveel. Sy het ook 'n voorlesing gedoen oor die "verstrooide vrou". Hoe gebeur dit dat jy om 08h00 loop om die plant te gaan natmaak en teen 20h00 is hierdie plant nog steeds droog. Is dit verstrooidheid, ouderdom of bloot omdat ons net te veel dinge, op pad na die plant, raaksien wat gedoen moet word?
'n Paar jeugdiges van die plaaslike gemeenskap het gesorg vir groot vermaak toe hul die rieldans uitgevoer het onder leiding van Avril Heine.
Die vergadering is afgesluit met tee en heerlike verversings, nadat Elize 'n geskenk namens die lede aan Louwna oorhandig het.

Posted on
09 August 2011
Portefeulje: Leefstyl
Berriggewer: Marna Lambrechts
Datum: 2 Augustus
Magda Kotze, bekend vir haar heerlike koeksisters, het gesorg vir groot pret, toe sy die dames ingespan het om self koeksisters te vleg en te bak, gedurende 'n Leefstyl vergadering van VLV Graafwater.
Die Leefstyl Saamroeper, Marietjie Visser, het lede aangemoeding om deel te neem aan die 2011 kompetisies en ‘n paar wenke met ons gedeel o.a. oor die kook van die lemoenskil konfyt.
Carol Loubser het 'n uitstalling gehou van glase, van antiek tot nuwerwets. Wat drink jy uit watter glas? Nou ja, as dit so koud is maak dit seker nie saak uit watter glas die ou "soetetjie" gedrink word nie. Veral as daar 'n bak vol koeksisters staan, gereed om verorber te word.

Op die foto verskyn Marietjie en Magda en die enetjie wat agter uit loer is Marieta de Klerk.

En kyk net hoe konsentreer Elize en Steffi!.
Posted on
20 June 2011
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Teesakkievouwerk was maar 'n bra onbekende kunsvorm vir die lede van VLV Graafwater toe dit aangegee is as een van die kompetisie artikels vir 2010. Na ure se geswoeg is daar darem 'n paar voltooi.
Tydens 'n Kunste en Handvlyt vergadering is hierdie kaartjies vertoon en lede is 'n kans gegun om hul vernuf en vingers in te span om hierdie piepklein kaartjies te vou.
Die saamroeper, Marna, het ook gedurende die vergadering hulde gebring aan Lucas Maree en Bettie Cilliers-Barnardt.
Helen Visser, het gewys watter pragtige rangskikkings 'n mens kan optower met droë stompies, riete, selfs tarentaalvere en herfsblare, wat juis nou so volop is, veral as die blomme maar skaars is. As jy geïrriteerd raak met die nimmereindigende huiswerk, maak jou eie mooi rangskikking vir die huis, plaas dit waar jy dit heeldag kan bewonder en siedaar, jy kry sommer weer moed vir die skottelgoed en stoflap.
Hier demonstreer Helen van haar rangskikkings.


Posted on
31 May 2011
Portefeulje: Leefstyl
Magda Kotze, bekend vir haar heerlike koeksisters, het gesorg vir groot pret, toe sy die dames ingespan het om self koeksisters te vleg en te bak,gedurende 'n Leefstyl Vergadering van VLV Graafwater. Die Leefstyl Saamroeper, Marietjie Visser, het lede aangemoeding om deel te neem aan die 2011 kompetisies en paar wenke met ons gedeel o.a oor die kook van die lemoenskil konfyt.
Carol Loubser het 'n uitstalling gehou van glase, van antiek tot nuwerwets. Wat drink jy uit watter glas? Nou ja, as dit so koud is maak dit seker nie saak uit watter glas die ou "soetetjie" gedrink word nie.Veral as daar 'n bak vol koeksisters staan, gereed om verorber te word.
Op die foto verskyn Marietjie en Magda en die enetjie wat agter uit loer is Marieta de Klerk.

En kyk net hoe konsentreer Elize en Steffi!.

Posted on
10 May 2011
Portefeulje: Gesondheid
Rosa Lintvelt kon kwalik ophou giggel, terwyl haar ma Claudie, Graafwater tak se saamroeper van Gesondheid, tydens 'n vergadering 'n voetmassering op haar voete gedemonstreer het. Wie se voete is dan nou nie kielierig nie!

Masseer die voete met sagte bewegings, maar oefen effens druk uit, want dit verbeter die sirkulasie en streel spanning weg. Gebruik die eerste twee vingers van albei hande en masseer in sagte sirkelbewegings om enkelbeen. Streel voet drie keer van bokant tot tone. Buig voet agteroor en knyp buitewand van hak tot by kleintoontjie. Roteer tone een-een drie keer in albei rigtings, terwyl jy voet met ander hand stilhou.
Oefening is noodsaaklik vir wintervoete. Stap soveel moontlik kaalvoet, buig en strek tone en voetbrug. Tel 'n potlood op met jou tone terwyl jy sit. Roteer enkels drie keer na regs en na links om swak bloedsomloop teen te werk.
Claudie het ook ander nuttige wenke aan lede gegee:
Gebarste lippe is 'n tipiese winterprobleem. Lippe het wintervertroeteling nodig, bedags sowel as snags, of dit nou 'n lipstiffie, lipbalsem of die goeie ou petroleumjellie is. Skaf 'n antivirus koorsblaar salf betyds aan en wend dit aan sodra jy 'n tinteling op die lip voel. Sodoende kan jy die koorsblaar uitboul voordat dit
verskyn.
Pasop vir te veel parasetamol. Hou by die voorgeskrewe dosis. Gevaar tree in wanneer jy meer as een soort medikasie gebruik, omdat jy so onwetend die voorgeskrewe dosis kan oorskry. Kenners sê so min soos 5.7 g parasetamol per dag kan noodlottig wees. Mense wat nie behoorlik eet nie, behoort ekstra versigtig te wees.
Posted on
26 April 2011
Marlene van Zyl van VLV Graafwater is 'n ywerige boervrou. Sy hekel pragtig en is 'n kranige bakster van mosbolletjies.
Hier ontvang Marlene haar 20jr kenteken van Elize Koortzen.

Posted on
26 April 2011
George Maas, voorsitter van die Boerevereniging, het die lede van Graafwater toegespreek tydens 'n Landbou en Tuinbou vergadering.
By hierdie geleentheid het hy die dames van VLV Graafwater genader om 'n aandete vir 350 gaste by 'n Boeredag op 'n nabygeleë plaas, voor te berei en te bedien.
George word bedank deur Steffie Maree.

Boeredag - VLV Graafwater se kelnerinne in hul wit en swart uitrustings.

Posted on
28 February 2011
Tertia van Zyl, saamroeper van Graafwater tak se Opvoeding en Kultuur portefeulje, het tydens die Februarie vergadering oor Verhoudings gepraat. Sy het lede gevra om te dink aan die vyf belangrikste verhoudings in hul lewens en dit in volgorde van belangrikheid te rangskik.
Verhoudings is nie noodwendig goed nie. Ons behoort gedurig aan verhoudings te werk in ons huisgesinne , werksplekke en veral ook aan verhoudings met diegene wat ons nie so goedgesind is nie.
Lede het geluister na 'n opname van Elsabe Aldrich oor Vonkel-verhoudings. Jy sal probleme met verhoudings ervaar wanneer jy nie 'n goeie verhouding met jouself het nie.
Twee voorlesinge uit "Op die Vrou af " deur Andre Le Roux het die verhouding met ons huweliksmaats beklemtoon en 'n bietjie humor aan die vergadering te verleen.
Tertia het ook foto's en video’s vertoon oor die vloed in die Oranjerivier en by die Augrabies waterval. Lede het ook hul vakansiefoto's uitgestal.
Elize Koortzen, voorsitter van Graafwater Tak, steek Tersia se 20jaar kenteken aan.

Posted on
16 September 2010
Wêreldbekersokkertoernooi 2010 ... Ses jaar in die toekoms - en toe skielik is alles verby. Maar die gees van opwinding en vreugde, die opgewondenheid oor die wêreld in ons land, die mengelmoes van landsvlae, die gezoem van vuvuzelas en die deel wees van 'n eens-in-'n-leeftyd ervaring, gaan ons vir altyd koester.
Om vir oulaas dié sokkervreugde te ervaar, was VLV Graafwater onlangs op 'n "sokker-safari-ete" in "Duitsland, Spanje en Nederland" - die 3 lande wat onderskeidelik 3e, 1e en 2e in die toernooi geëindig het.
Lede, hul mans en kinders het heerlike Duitse worsies, mosterdsous en pretzels as voorgereg in "Duitsland" (die plaas Rustig van Johann en Marcia de Jongh) geniet nadat die voorsitter, Elize Koortzen, mooi herinneringe aan 'n maand toe almal net sokker gekyk, geleef, gepraat en geniet het, opgeroep het. T-hemde van gunsteling lande is gedra, motorspieëltjies is met vlagsokkies getooi en landsvlae met trots gewaai.
Die hoofgereg, 'n maalvleisdis en gevlegte brode, is in "Spanje" (op die plaas Heerenlogement by Gert en Steffie Maree) geniet. Die laaste bestemming was "Nederland" (Dagbreek, die plaas van Koos en Tertia van Zyl) waar heerlike stroopwafels en appeltert met room geniet is.
Met die blaas van die laaste vuvuzela was almal dit eens - ons kon trots wees - TROTS SUID-AFRIKAANS, want Suid-Afrika het vir die wêreld gewys ons kon die grootste sporttoernooi in die heelal met sukses aanbied. En VLVK was indirek deel daarvan...



Posted on
02 August 2010
Emma Gerritsen, sekretaresse en tesourier van VLV Graafwater se kombuis was in rep en roer tydens 'n Leefstyl-en Kunste & Handvlyt vergadering.
Lede moes self inspring en pannekoekvulsels maak, sonder resepte en met die minimum bestanddele tot hul beskikking. Kreatief was hierdie dames gewis. Die gewone opgerolde kaneel pannekoek was nie te sien nie. Alhoewel 'n " bietjie skop" kort gekom het, was hierdie sout/soet kombinasie smullekker.
Marietjie, die Leefstyl saamroeper, se inset vir die dag, was 'n waarskuwing teen die drink van te veel koffie.
Marna, Kunste & Handvlyt, het lede meer omtrent die "Tea Bag Folding" kompetisie ingelig.
Terwyl almal die pannekoeke en 'n koppie tee geniet het, het sy video's van vorige VLV uitstappies vertoon.
