Posted on 08 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Christel Steenkamp
Datum: 20 September 2011

 

Griekwastad tak het, as deel van die takprojek, ‘n ligte oggendprogram by Huis Heldersig, plaaslike Tehuis vir Bejaardes, aangebied. Dit was ook deel van die Mandeladagvieringe van die tak.

 

Senior burgers uit die gemeenskap is genooi om saam te kuier en tee te drink. Nuwe gelamineerde naamkaartjies vir die inwoners se deure is laat maak en by die geleentheid aangebring. Die saamroeper vir Landbou en Tuinbou, mev. Yvonne Ludwick, het gaste vermaak met ‘n prettige voorlesing en mev. Elize Snyman het trekklavier gespeel. Vaderlandswilge is as deel van boomplantdag in die tuin aangeplant.

 

Eetgoed is saam met die tee bedien en almal het lekker saam gekuier, waarna koekies as geskenk aan al die bejaardes gegee is.

 

 

Links is mev Yvonne Ludwick,  saamroeper vir Landbou en Tuinbou by mev. Hester Duvenhage, erelid van Griekwastad tak, wat steeds verantwoordelik is vir ‘n groot gedeelte van Heldersig se tuin.



Posted on 25 July 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Christel Steenkamp

 

Tydens die Leefstyl vergadering van Griekwastad tak, onder leiding van saamroeper Romi Ludwick, het mev. Elmi Bean van Kimberley ‘n werkswinkel oor die maak van piouter artikels aangebied.

 

Piouter is die vierde mees duursame metaal waarmee gewerk word.  Dit is ‘n samestelling van lood en tin wat baie sag is. Nagemaakte piouter is egter nie so sag soos die egte produk nie. Daar kan van ‘n lae of hoë reliëfmetode gebruik gemaak word. Tydens die werkswinkel is van die lae metode gebruik gemaak.  Met hierdie metode word areas nie met ‘n spesifieke stof soos byewas of eksterne kraakvuller gevul nie en enige patroon kan gebruik word. 

 

Piouter het ‘n voor- en agterkant. Om die voorkant  te bepaal word ‘n toets met patina, ‘n vloeistof met ‘n blou kleur, gedoen. Die kant wat die donkerste verkleur is die voor of regte kant. Patina word ook op voltooide piouterprodukte gebruik om dit finaal af te werk deur dit ‘n verouderde voorkoms te gee. Die patina gee ‘n swarterige voorkoms. Die voltooide produk word met brasso en daarna met ‘n deurskynende olie poleer.

 

Almal wat die werkswinkel bygewoon het hul eie stempel op die piouterhartjie wat deurgaans gemaak is, afgedruk. Elkeen se eindproduk was uniek en het iets van haar eie persoonlikheid weerspieël.

 

 

Hanna van der Linde, voorsitter, en Yvonne Ludwick, sekretaris. Huishoudelike sake is afgehandel en die skilder van die maand, Maggie Laubser, is behandel.

 

 

Van links mevv. Helena Barnard, Marina Steenkamp, Mariska van Zyl, Esmarie Venter en Romi Ludwick druk besig om hul piouterhartjies te maak.

 

 

Van links mevv. Elize Jordaan,  Liesbet Swiegers en Henriëtte de Villiërs konsentreer ernstig op hul hartjies.



Posted on 14 June 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

 

Mev. Henriëtte de Villiers het haar ervaring van ‘n onlangse besoek aan Texas in die VSA tydens vergadering met die lede van Griekwastad tak gedeel. 

 

Die rede vir die De Villiers-gesin se besoek was hoofsaaklik die troue van hul seun met ‘n Amerikaanse Katolieke meisie. Henriëtte het haar emosionele ervaring as Ma en haar vrese en vreugdes met ons gedeel.

 

Inligting oor die kultuur, eetgewoontes en leefstyl van hierdie nuwe “ver” familie het almal interesseer. Die “come and go” huweliksonthaal het almal fassineer. Dit is gebruik dat net sekere groepe gaste na sekere gedeeltes van die huweliksonthaal genooi word. Dit was vir Henriëtte ‘n geweldige vreemde gedagte teenoor die vorm van huweliksonthale in ons omgewing. Sy het dit nou egter self beleef en gesien dat dit verseker in daardie Amerikaanse streek so gedoen word, aangesien gaste spontaan kom en gaan volgens hul uitnodigings.

 

Marina Steenkamp het wenke gegee oor die bou van ‘n goeie selfbeeld. Deur te fokus op die goeie in ons lewe en ons sterk punte kan ons mettertyd ons selfbeeld verbeter. Selfbeeld is in leke taal ’n reeks prentjies en gevoelens wat ‘n persoon oor ‘n lang tyd oor haarself bymekaarmaak. Hierdie beeld en gevoelens bepaal dan hoe ons oor onsself dink en voel. Met geloof en hoop kan ons ‘n swak selfbeeld verbeter deur ons fokus te verskuif.

 

Beriggewer: Christel Steenkamp

 

 

LNR Henriëtte de Villiers, spreker, Marina Steenkamp van die Opvoeding en Kultuurgroep en Hanna van der Linde, voorsitter.



Posted on 08 December 2010

Die jaarlikse afsluiting van die Griekwastad tak was vanjaar 'n afsluiting met 'n verskil.  Die taktradisie is dat daar afwisselend een jaar 'n funksie vir lede gehou word waar ons net VLV en dan weer 'n geleentheid vir die hele gesin.  2010 het egter heel anders verloop deurdat ons tak al die dames in ons gemeenskap uitgenooi het om ons damestee te kom geniet.  Ons is bevoorreg om ons president,  mev Erika Lubbe,  wat ook ons voormalige sirkelpresident is, naby te hê en het haar genooi om as gasspreker op te tree.

 

Op kenmerkend positiewe wyse het mev. Lubbe dames inspireer om hul drome as uitdagings te sien, daaraan te werk en vol te hou totdat die drome 'n suksesvolle werklikheid word.  Lubbe het ook die VLVK tema vir 2011, Aanhouer Wen, as leuse aan elke dame gegee om haar drome te kan bewaarheid.

 

Sy het gewaarsku dat passie, harde werk en weer probeer tot die einde toe van die belangrikste aspekte van sukses is.  Sukses is nie altyd iets wat maklik is om te bereik nie,  maar met 'n positiewe houding en hope dryfkrag is enige iets moontlik. Sy het afgesluit met die woorde van staatsman Sir Winston Churchill,  "never,  never,  never give up".

 

Die oggend is afgesluit met 'n modeparade deur plaaslike kleremaker,  Romi Ludwick.  Dogters uit ons gemeenskap het die modeparade voorafgegaan met ballet,  moderne dans en “actif energy” items. Stalletjies met klere, kuns,  snuisterye,  juwele en vele meer het almal geleentheid gegee om hul Kersinkopies kuier-kuier te doen.

 

Van links mevv. Yvonne Ludwick,  uittredende voorsitter,  Melana Moller, sirkelpresident Griekwaland-Wes,  Erika Lubbe,  VLVK president en Hanna van der Linde,  voorsitter 2011.

  

 

 



Posted on 11 April 2010

Griekwastad tak se Kuns en Kultuur vergadering was 'n leerskool vir almal.

 

'n Kunstenaar uit eie geledere, Deon Viljoen, het aan almal geleer hoe om 'n gesigstudie te teken:  teken eers 'n kruis om die balans en plasing reg te kry, die oë word geplaas waar die kruis se dwarshout kom, dan 'n ovaal om die vorm reg te kry. Die gesig word in derdes verdeel. 

  

 

 

 

Die koor van die VGK het waarlik almal se harte aangegryp, met hulle lieflike sang.

  

 

vlnr Ugie Momberg, Yvonne Ludwick (Takvoorsitter) Gerda Visser, Linda Jansen, Christel Steenkamp (Vise sirkelpresident), Ansie Scholtz, Romi Ludwick

 

 



Posted on 31 October 2009

Die Campbell en Griekwastad takke het hul viering van die tagtigste bestaansjaar van VLVK gesamentlik op die plaas Kaalkol, tuiste van mevv. Hettie en Romi Ludwick aangebied.


 
Die buurtakke deel in die ryke geskiedenis van VLVK.  Die vieringe is effe somber begin deur 'n kranslegging in die Griekwastadkerkhof.  Kranse is op grafte van vorige sirkelampsdraers gelê.  Mev. Hanna van der Linde, 'n vorige voorsitter van Griekwastad tak en huidig sirkelbestuurslid,  het 'n krans op die graf van haar moeder, ook 'n voormalige takvoorsitter en sirkelpresident,  gelê.  Nog 'n krans is op die graf van wyle mev. Hester Duvenhage, jarelange sirkelpresident en takvoorsitter en suster van die huidige takvoorsitter,  mev. Yvonne Ludwick, gelê. 

  
 
Na die kranslegging het die dames na die plaas Kaalkol in die Campbell distrik vertrek waar hulle gesellig saam gekuier het.  Mev. Gio van Eck, voormalige voorsitter van Campbell tak, het die heildronk op VLVK ingestel nadat sy kortliks oor die geskiedenis van VLVK gepraat het.  Sy het die heildronk op die "waardige ou dame wat soveel lewens verryk en verruim het oor die afgelope tagtig jaar"  ingestel.  Van Eck het ook haar waardering vir dit wat VLVK aan lede gebied het en haar geloof in die toekoms van die organisasie, uitgespreek.


 
Tydens 'n demonstrasie deur mev. Magda Vlok van Douglas, is 'n spyskaart wat uit geregte waarin filodeeg gebruik is, gedemonstreer. Dames kon so baie nuwe idees vir hul kersspyskaart versamel.  Vlok het interessante geregte soos biltongslaai, wildsfilet met feta en spinasie in filo, bedien met uiemarmelade,  Bistilla,  Kefta Brioats,  gevriesde suurlemoenroom en kantpannekoek met aarbeie, om maar 'n paar te noem,  is gedemonstreer.


 
Ruikers is aan besonderse vroue wat baie jare positiewe diens aan VLVK in die Griekwaland-Wes sirkel gelewer het, oorhandig.  Mevv. Selma Vorster, ere sirkelpresident,  Gio van Eck,  voormalige takvoorsitter en sirkelsaamroeper,  Martha Haumann,  jarelange takvoorsitter en Hanna van der Linde,  oud-takvoorsitter en sirkelbestuurslid is op hierdie wyse vereer.

 

 

Van links op die voorgrond mevv. Elize van der Schyff, Selma Vorster, Yvonne Ludwick, voorsitter, en Hanna van der Linde tydens die kranslegging op Griekwastad.

  

 Magda Vlok demonstreer

 

 

 Van links mevv. Martha Hauman,  Gio van Eck,  Yvonne Ludwick,  Hanna van der LInde en Selma Vorster

 

Categories