Posted on 31 January 2012

Sirkel:  Namakwaland
Tak:  Hantam
Portefeulje:  Kunste & Handvlyt
Saamroeper:  Kirsten Fourie
Vergaderingdatum:  20 Januarie 2012
Beriggewer:  Janine Brynard

 

Wetenskaplike studies bevestig dat kuns 'n genesende uitwerking op die liggaam het, deurdat dit 'n mens se fisiologie en ingesteldheid verander.  Dit ontlaai spanning, vernietig vrees en bevorder kreatiwiteit en inspirasie.  Kuns en musiek verander die brein se golfpatrone en affekteer die outonome senuweestelsel, hormoonbalanse en breinfunksies.

 

As ons daarop fokus om kuns en musiek deel te maak van ons daaglikse omgaan, sou ons baie gesonder gewees het.  Want kuns en musiek affekteer elke sel in die liggaam onmiddellik, wat 'n genesende fisiologie veroorsaak, wat weer die immuunsisteem verbeter en bloedvloei na die organe verhoog.   Daarmee saam verander dit 'n mens se ingesteldheid, emosies en pyndrempel.  Dit gee hoop en 'n positiewe lewensfilosofie wat 'n mens help om jou probleme te oorkom.  

 

Kuns, net soos gebed en genesing, kom van binne elkeen van ons.  Ons liggame word slegs deur ons eie immuniteit genees wanneer dit siek is.  Dit vereis egter soms 'n reis binne-in jouself, na waar jou emosies en gevoelens in jou siel weggebêre is, sodat jy kan groei en kan begin om jouself te genees.

 

Die eerste stap is om jouself as 'n kunstenaar te sien.  Vra jouself af wat jy wil doen.  Is jy dalk 'n skilder, 'n beeldhouer, 'n musikus, 'n digter, 'n storie-verteller of 'n danser?  Wou jy al iets doen waarvoor jy eenvoudig nie tyd kon kry nie, of was jy maar nog te bang om dit te doen?

Kry vir jou 'n spasie waarin jy jou kuns kan beoefen.  Kry dan alles wat jy nodig het.  Oriënteer jouself in jou nuwe spasie.  Neem nou die eerste stap en laat die proses self gebeur.  Die kuns sal jou wys wie jy is.  Dit word 'n teken van jou transformasie en uiteindelik jou genesing. 

 

Moenie in die strik trap om self die moordenaar van jou kuns-siel te wees nie, want elkeen van ons KAN wél 'n kunstenaar wees.  Hierdie onbekende aanhaling vernietig al die leuens oor kreatiwiteit:  "In one success a thousand failures lie forgotten.  But in one refusal to try, a thousand successes may prematurely die."

 

Hardus Visagie:  As baie talentvolle storieverteller van ons kontrei, leef Hardus Visagie sy kunstigheid uit en borrel dit sommer so vanself van binne. Die vrouens by die Hantam VLV Kunste & Handvlytvergadering het letterlik aan sy lippe gehang, veral toe hy die arme, sieklike oom Isak Visagie van Agterkop se briewe loop opdiep.  Daar was nie einde aan die oubaas se ellendes nie! Heelparty van ons eie skete en kwale is dan ook sommer weggelag.

 

 

Kunssinnig: Kirsten Fourie is Hantam VLV se Kunste en Handvlytsaamroeper. In Kleinplasie op Calvinia se lieflike tuin, het sy 'n pragtige vergadering aangebied, waaronder demonstrasies in 'foil art' en jik en swart ink.  Sy het ook seker gemaak dat niemand weer agter die verskoning van 'kannie' wegkruip nie, toe sy verduidelik het dat dit binne elkeen van ons lê om kunstig te wees.  Ons is dit ook aan ons liggame verskuldig, sodat ons daardeur kan gesond bly.

 

 

Kreatief: Terwyl rustige barokmusiek in die agtergrond speel, gee Jonita van der Merwe, Annalie Steenkamp, Riana van Niekerk en Margaretha van Eeden uiting aan hul kreatiewe emosies...

 

 

Eindprodukte: ...en die resultaat wys dat almal regtig kunstig KAN wees!

  



Posted on 06 December 2011

Tak: Hantam
Portefeulje: Gesondheid
Saamroeper: Louise Brynard
Datum: 5 Desember 2011
Beriggewer: Janine Brynard

 

Daar duik gereeld nuus op van iemand wat moeilikheid opgetel het met chroniese voorgeskrewe medikasie.  Veral as dit op lang termyn gebruik is.  Met soveel verwarrende, dubbelsinnige antwoorde, weet mens nie wie om te glo nie.  Gelukkig het ons op Calvinia die voorreg om 'n uitgebreide en goéie multi dissiplinêre span te hê wat bereid is om hierdie kwelpuntjies uit die weg te probeer ruim.  Een belangrike én baie gewilde skakel in hierdie ketting is suster Sylvia (soos wat sy al oral bekendstaan).  Behalwe tuisverpleging, voor- en nageboortelike- en babasorg, rehabilitasie en fisioterapie van pasiënte met breinbeserings en nutrisie, onder andere, kan sy met gesag inligting gee oor die uitwerking van chroniese en ander medikasie op die menslike liggaam. 

 

Ons liggame verander binne én buite namate ons ouer word.  Algemeen is die lewer en niere se werking in uitskeidingsvermoë wat afneem.  Daarbenewens het sommige medikasie 'n versterkte uitwerking op die bejaarde liggaam, veral sekere hart-, water- en bloeddrukpille.  Dis die rede waarom feitlik geen dokter meer 'n chroniese voorskrif sal hernu sonder 'n opvolgondersoek om vas te stel watter aanpassings in die behandeling van 'n spesifieke toestand gemaak moet word nie.

 

Dis eweneens van kardinale belang om veral 'n chroniese pil toegewyd op die korrekte voorgeskrewe tyd te drink om maksimaal voordeel daaruit te put en 'n ongewenste reaksie in toksiese newe-effekte te vermy.  Daar is 'n doel en plek vir chroniese medikasie in vandag se lewe, maar omsigtigheid is die wagwoord. 

 

 

Suster Sylvia van Schalkwyk bied vir meer as 3 jaar alreeds 'n unieke en gespesialiseerde gesondheidsorgdiens aan die inwoners van Calvinia.  Met haar wye reeks behandelings en dienste het sy diep in ons harte en vertroue gekruip en maak sy 'n integrale deel uit van die mediese multi-dissiplinêre span.



Posted on 06 December 2011

Tak: Hantam
Portefeulje: Gesondheid
Saamroeper: Louise Brynard
Datum: 5 Desember 2011
Beriggewer: Janine Brynard
 

Mense begin besef dat dit nou tyd geword het om iets daadwerkliks te doen, want benewens ons gesondheid wat daaronder ly, wurg Suid-Afrika met 'n bord om die nek as een van die lande met die vetste mense ter wêreld. Nasionale veldtogte in leefstyltydskrifte en op die radio, spoor mense aan om te beweeg vir 'n gesonder, fikser samelewing. Die dames van Hantam VLV gryp die uitdaging aan!

 

Chené Walters is 'n fisioterapeut by Abraham Esau hospitaal op Calvinia. Sy het raad vir beweging: 'n Oefensessie begin met opwarming en strek. Daar bestaan twee soorte oefeninge wat liefs gekombineer moet word:  die meer gewilde aerobiese oefeninge soos stap, draf en swem en weerstandsoefeninge soos pilates, gewigte en fietsry.  Baie mense fokus op die opwarming en oefening en vergeet van afwarming, wat keer dat jou spiere styf raak. Dit vereis dat jy stadiger oefen en weer strek totdat jou liggaam afgekoel is. As jy onfiks is, begin stadiger en vermeerder die intensiteit en tydsduur van jou oefensessies namate jy fikser word. Onthou dat jy soveel kilojoules nodig het, as wat jy verbrand.  Eet dus kleiner etes en verbrand die kilojoules deur die dag. Water is baie goed en baie belangrik. 

 

Dis nie nodig om elke dag te oefen nie, tensy jy vinniger gewig wil verloor.  Vir algemene gesondheid is drie halfuur-oefensessies per week, goed genoeg. Onthou egter dat jy ten minste 10 minute op 'n keer moet oefen, voordat dit effek neem. Goeie nuus is dat huis- en tuinwerk goeie maniere is om die vetjies te laat smelt.

 

Fisioterapeute kan ná 'n eenvoudige fiksheidstoets 'n oefenplan uitwerk. Hiermee word die bloeddruk en polsslag geneem, trappies geklim vir drie minute, waarna die lesings weer geneem word en die fiksheid volgens 'n tabel uitgewerk word. Die uitdaging lê dan daarin om daai trappie gerééld te klim, sodat die lesings normaal kan raak. Hoe lyk dit?  Ons is mos nie bang vir 'n paar trappies nie? Wie weet, dalk word ons binnekort een van die maerste lande ter wêreld, en dit nou oor 'n paar ou trappies...

 

 

 

 



Posted on 20 September 2011

Hantam Tak
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Saamroeper: Lourine Nel
Vergaderingdatum: 16 September 2011
Beriggewer: Janine Brynard


Terwyl besoekers na die plate blomme van die Namakwaland kom kyk, is daar mense wat die veld op hul knieë bestudeer; die fynste detail soek wat ons dikwels nie eens weet bestaan nie.

 

Een van daardie mense is dr Helga van der Merwe. Sedert sy in 2004 diens verlaat het by  Natuurbewaring, doen sy langtermyn monitering van plante en blomme in die Namakwaland. Uit eie inisiatief het Helga vir prof van Rooyen by die Universiteit van Pretoria genader vir bystand en hulp met die moniteringsproses, aangesien daar niemand anders beskikbaar was om die opnames te doen nie. Saam het hulle besef dat die waarde van bykans 20 jaar se opgetekende data nie net kon verlore gaan nie. 

 

Die areas wat haar monitering insluit, is in die natuurreservate van Goegap, Skilpad en Ratelkraal naby Springbok. Hierdie proses behels herhaaldelike opnames op dieselfde plek, op dieselfde manier en op dieselfde tyd van elke jaar in Augustus en September van elke spesifieke plantjie in die afgebakende areas. Hiermee word vasgestel watter natuurlike veranderinge in die ekosisteem plaasvind en wat bv. droogte se uitwerking op verskillende spesies is. 'n Ander nuttige voordeel van hierdie monitering is, dat drakragbepalings gemaak kan word, wat insiggewend kan wees vir wildbestuur.

 

Die navorsers word soms bygestaan deur nagraadse studente wat opleiding ontvang in die veld en verskeie publikasies oor hierdie navorsingswerk het al die lig gesien in artikels en boeke. Helga se boek het juis onlangs op die rakke verskyn, wat waardevolle inligting oor die blomplante in die Tankwa-Karoo en Roggeveld bevat.  Mag dit wees dat daar voldoende befondsing sal wees om met hierdie belangrike werk voort te gaan, sodat die inligting nie vir geslagte vorentoe sal verlore gaan nie. Dalk lees ons agter-kleinkinders eendag maar net van 'n baie skaars spesie wat dan alreeds uitgesterf het...te danke aan mense soos Helga wat bereid is om nou die elemente te trotseer en die inligting te dokumenteer.

 

Lank lewe die navorsers!



Posted on 20 September 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Saamroeper: Lourine Nel
Datum: 16 September 2011
Beriggewer: Janine Brynard

 

Ons vergeet dikwels dat ons troeteldiere ook kan siek raak en dat hulle dan ook goor voel.  Gelukkig hoef ons hulle nie aan hul eie lot oor te laat nie en is daar baie wat ons kan doen om selfs te verhoed dat hulle ernstig siek raak.

 

Dr Dirk van der Merwe, wat saam met dr Lizanne de Beer deesdae na ons diere se welstand omsien, het by Hantam VLV se Landbou en Tuinbouvergadering riglyne gegee oor jou rol as troeteldiereienaar. 'n Goeie idee is om 'n gesonde, gehalte klein hondjie te koop, nadat inligting oor die ouers ook ingewin is.  Sodoende kan ingeteelde, oorgeërfde afwykings voorkom word. 

 

'n Volledige, basiese diensskedule vanaf jou troeteldier se sesde lewensweek, wat insluit inentings teen algemene dieresiektes en hondsdolheid en ontwurming elke 3 - 6 maande, is onontbeerlik.  Ektoparasiete soos bosluise en vlooie moet doeltreffend beheer word. 'n Lustelose, ooglopend siek dier kan vinnig dehidreer.  Net soos met mense-kinders, moet water- en elektrolietoplossings gereeld vir 'n gedehidreerde dier ingegee word. Indien dit te ver gevorder is, moet die dier onmiddellik na 'n veearts geneem word om binne-aarse vog te kry.

 

'n Goed gebalanseerde dieet, bestaande hoofsaaklik uit goeie gehalte droë korrels, is die mees aanvaarbare riglyn vir troeteldiere. Beperk geblikte kos, aangesien dit nie die regte hoeveelhede dierlike proteine bevat nie. Uiters belangrik egter, is om kos dig en doeltreffend te seël om muf uit te skakel. Net 'n klein hoeveelheid gemufte kos kan 'n dier ontsettend siek en selfs dood maak, omdat die konsentrasie toksienes in die muf in dierekos baie hoër is as die gewone muf wat soms in ons eie kos intrek.

 

En dan bly daar dan nog net dít: wees lief vir jou dierekind, pamperlang hom en wees fyn ingestel op hom... jy sal daarvoor beloon word.



Posted on 09 August 2011

Portefeulje: Leefstyl
Saamroeper: Adolene Nel
Vergaderingdatum: 22 Julie 2011
Beriggewer: Janine Brynard

 

Was dit dan nou nie 'n heerlike bederf om 'n slag voor 'n kaggel met 'n stomende koppie sop te vergader nie? En ja, hierdie slag het Hantam tak se VLV-vroue net loop aansit terwyl iemand anders al die harde werk gedoen het - omtrent 'n bonus!

 

Dit was onder inisiatief van Adolene Nel, saamroeper van die leefstyl portefeulje by Hantam VLV, dat ons by Karen en Chantel Steyn se nuwe teetuin, Pots & Pans by Katryn's B&B op Calvinia vergader het op 'n ysige wintersoggend nou die dag. Met die gesellige vuurtjie wat in die agtergrond geknetter het om al die gevriesde ledemate te ontdooi, het Karen vir ons 'n paar geheime verklap waarom hul vingerhappie-borde so gewild geraak het. Dis veral belangrik om te onthou dat die eetgoed vars voorgesit moet word en dat dit hoogstens 2 ure na voorbereiding nog goed sal lyk en smaak. En dis nie noodwendig nodig om 'n opgeleide chef te wees om iets interessants op te dis nie, want die tradisionele gevulde eier en komkommer toebroodjie bly maar altyd 'n wenner. 

 

Elkeen kon 'n paar oulike idees kry om self die onthaal-krane oop te draai, met gebruiksgoed én ougoed wat in ons almal se kaste opgegaar is. Wat heerlik is van die moderne manier van doen, is dat enigeen se onthaalarea besonders kan lyk, ongeag hoe kreatief jy is, of hoe groot of klein jou begroting is. Maar dis ook goed om hierdie wyse woorde van ons etiketkenner, Nataniël te onthou:  "When hospitality becomes an art, it loses its very soul." 

 

Geniet die laaste warm, winter kuiers en bederf jou mense met koesterkos, want een van die dae begin die bome bot en gaan ons almal weer in die tuine boer rondom ligte lente-slaaie.

 

 

Karen en Chantel Steyn van Pots & Pans teetuin op Calvinia het wenke gegee en demonstrasies aangebied om vingerhappies en toebroodjies aanskoulik aan te bied, waarna hulle heerlike sop en broodjies bedien het. Hulle staan links op die foto. Regs agter is Adolene Nel, saamroeper van die vergadering en Karin van der Merwe, voorsitter van Hantam VLV staan regs voor. In die middel op die tafel staan 'n paar tafeldekor-idees vir inspirasie om uit ougoed en gebruiksgoed mooigoed te maak.



Posted on 08 August 2011

Hantam VLV se projek vir 2011: Die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, waaronder die VLV geaffilieer is, het 'n beroep op al sy lede wêreldwyd gedoen om onder andere pogings aan te wend om te herwin. 

 
Die dames van Hantam VLV het besluit om die kinderafdeling by die Abraham Esau hospitaal op Calvinia aan te neem en op 'n herwinningsbasis te probeer help om die pasiënte wat daar opgeneem word, se behandelingstyd so aangenaam moontlik te maak. Die herwinde artikels wat geskenk gaan word oor 'n tydperk van 'n jaar, sluit in beddegoed, nagklere, doeke, speelgoed wat uit her-bruikbare artikels gemaak word, boeke en tydskrifte, pilledosies vir medikasie, waslappe, handdoeke en sepies wat uit afvalsepies hersmelt word en vrolike muurplakkate. 


Hierdie projek dwing ons almal om 'n slag weer kreatief te dink, om al daardie nuttelose rondlê goed te omskep in iets wat 'n kinderhartjie sal bly maak. 
 

Op foto #1: (1e skenking) staan van links Karin van der Merwe, voorsitter van Hantam VLV, verpleegster Kock, susters Olivier en Manuel en verpleegster Solomons, almal personeellede van die hospitaal.
 

 

 

Op foto #2:  (2e skenking) staan van links Sharon van der Merwe, lid van Hantam VLV en ook werknemer by Affikaap op Calvinia, wat 'n klompie nuwe baba-slaapsakkies geskenk het, saam met suster Manuel, verpleër mnr Holland, verpleegster Apols en Janine Brynard van Hantam VLV is heel regs op die foto.

  



Posted on 21 June 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Saamroeper: Emjee Louw
Beriggewer: Janine Brynard
Datum: 27 Mei 2011

 

Daar is al baie gesê van die drama, maar 'n ene Verhagen van Holland was in die kol toe hy gesê het dis 'n kunswerk wat 'n menslike gebeurtenis uitbeeld d.m.v. 'n reeks handelinge in die teenwoordigheid van 'n publiek. En was hierdie publiek beïndruk met ons kunstenaars se menslike uitbeelding van die gebeurtenis van die stoflappe!

 

Op die platteland moet 'n mens soms dinge ontbeer wat stadsjapies dikwels as vanselfsprekend aanvaar.  Hoe lekker is dit nie om in 'n stampvol Ster Kinekor teater te sit, met die walm van warm, vars springmielies in jou neus?  Of om agteroor te sit in een van Kunstekaap se leunstoele en wag vir die Grotman om op daai planke te verskyn? 

 

Al het hulle nou wel nie 800 vertonings op hul kerfstok nie, het ons eie 'Katriena' en 'Mevrou' nou die dag daar in ons eie Sorgvlietsaaltjie gesorg vir 'n paar minute se heerlike, goedvoel-vermaak, terwyl ons, ons kon verkneukel in die gemeente-tannies se ‘skanne’! 

 

Dit was tydens Emjee Louw se oulike vergadering wat Marieta Fourie haar kunstige vindingrykheid kom deel het om van weggooi-goed, eenvoudige mooi-goed te maak en Annalouise van der Colff het 'n paar mosaïekwerk geheime gedeel. 

 

Maar seker die hoogtepunt van die oggend was Willem Steenkamp se aanbieding van die drama as kunsvorm. Hy het ons teruggeneem na die ontstaan van die drama rondom 560 v.C. en die hoofelemente van die drama bespreek, wat insluit die soorte handeling, dialoog, karakters, tema en bou.  'n Drama moet nie net gelees word, om dit te kan waardeer nie, dit moet juis opgevoer word. Dis eers dán wanneer die teks tot lewe kom. 

 

Saam met Annami Brundyn, het hul aanbieding van 'n verwerking deur Hester Olivier só lewendig geword, dat ons later byna op die vloer kon rondkruip van lekker lag!  Net daar het ons besef dat, al voel dit soms of ons stedelike luukshede moet ontbeer, ons eintlik beter af is, want dis maar net op die platteland waar die dominee se sak vol stukkende, smerige stoflappe, weer skoon en heel in sy onderbroeklaai kan beland...danksy die susters van die gemeente!

 

 

Marieta Fourie demonstreer hoe om organza roosborsspelde te maak deur afvallappies te skroei met 'n kers, dit dan aan mekaar vas te ryg en op te dollie met kraletjies en knopies.

  

 

Oulike idees van dekoritems gemaak van draad en kuikennet.

 

 

Mosaïekwerk op 'n hout agtergrond met glas-pebbles en spieël.


 

Verskeie mosaïekstukke.



Posted on 21 June 2011

Alhoewel daar nie psychedelic rock-musiek gespeel het, of marijuana en LSD in sig was nie, het die Hantam VLV-dames onlangs uitgehaak in hippie-gewade.

 

Tydens die sogenaamde Hippie-era van die 1960's was daar in die Westerse wêreld 'n oplewing van belangstelling in alternatiewe denke en filosofieë. Duisende jongmense het bestaande godsdienstige en sosiale waardes en waarhede bevraagteken en alternatiewe oplossings vir lewensvraagstukke gesoek.

 

Yolandi Fourie het meer oor hierdie unieke generasie gaan uitvind. Die woord 'hippie', is afgelei van hip, wat beteken om bewus te wees van 'n situasie. Die definisie van hippie kan dus wees: "een wat bewus is" en 'n uitgebreide bewustheid was die oogmerk van dié beweging. Baie van hierdie "blommekinders" was ontnugter deur die voortslepende menseslagting in Viëtnam en die spanning van die Koue Oorlog. Hul filosofie was, in ooreenstemming met die sogenaamde New Age-beweging, dié van liefde, eenheid en broederskap as oplossing vir die wêreld se probleme. 

 

Eie aan die hippies was hul sogenaamde progressive rock-musiek. Wie kan dan nou daardie reuse musiekfees in 1969 in Woodstock, New York vergeet? Meer as 500 000 mense het opgedaag om te luister na musiek van die mees bekende groepe van die era, waaronder The Beatles, The Doors, The Who en The Rolling Stones. 

 

Dan was dit ook nie moeilik om 'n hippie in 'n groep mense uit te ken nie. Mans en vrouens het veral klokpyp-jeans gedra met sandale, terwyl sommige selfs kaalvoet geloop het. Die mans het graag baarde gegroei, terwyl die vrouens byna geen grimering gebruik het nie en het heel dikwels sonder 'n bra in die openbaar verskyn. 'n Mens het die idee gekry dat hippies 'n standpunt wou stel, deur ongewone style te dra, in helder kleure, terwyl hulle meestal die klere self gemaak het of by vlooimarkte en tweedehandse klerewinkels aangekoop het. En helaas, was geen hippie se uitrusting afgerond sonder 'n kop-serp of kop-band en lang stringe krale nie. 

 

Beriggewer:  Janine Brynard

 

 

Dit was heel duidelik dat Jonita van der Merwe deur die hippie-era se kleredrag geïnspireer is - hip and happening!
 

 

Jonita van der Merwe en Kirsten Fourie is heel vrolike blommekinders.
 

 

Jonita van der Merwe, Yolandi, Marieta en Kirsten Fourie en Louise Brynard was heel hip in die Sorgvlietsaal op Calvinia.


 

 

Louise Brynard, Jonita van der Merwe, Kirsten Fourie, Lourine Nel en Karien van Schalkwyk soos hippies vermom...



Posted on 03 May 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

 

Hoe hanteer 'n mens die trauma as jou kind sterf?

 

Vir die ouers van 'n seun wat aan Leukemie gesterf het, was die hantering van sy dood soos om met 'n valskerm uit 'n vliegtuig gestamp te word:  'Dit maak nie saak wat jy doen nie, jy gaan grond toe. Maar wat jy doen terwyl jy val, maak 'n verskil aan hoe en waar jy land...of dit in die bosse gaan wees, of veilig in die oopte, hang af van hoe jy die valskerm stuur'.

 

Wanneer 'n kind sterf, moet die ouers saam deur 'n rouproses werk. Die gevoelens wat ervaar word, sluit in ongeloof, hartseer, vrees, eensaamheid, angs, woede, spyt, skuldgevoelens, wanhoop en verlies. Iemand het eenmaal gesê:  'When a woman's child dies, a part of her dies as well'.  Jy leef vir altyd met die feit dat jy 'n kind verloor het. Patrys van der Merwe, wie se twee kinders in 'n fratsongeluk buite Victoria-Wes gesterf het, se ervaring was egter, dat die Here die pyn uit jou lyf uithaal, omdat jou lyf dit nie kan hanteer nie. 

 

Enigeen wat al deur die trauma van 'n kind se dood moes worstel, sal kan getuig dat daar nie 'n kitsoplossing bestaan nie. Elkeen moet dit op sy eie manier deurleef. Behalwe vir praktiese, besig-bly terapie soos daaglikse rituele in en om die huis, dagboekinskrywings en scrapbooking, bestaan daar ondersteuningsgroepe. Berading en  medikasie speel ook dikwels 'n integrale deel in die genesingsproses en 'n ondersteuningstelsel van mense wat jou liefhet en omgee, sal die pyn en gemis draagliker maak. Besef dat 'n ondeurdagte opmerking jou soms kan seermaak, maar fokus liewer op die goeie, mooi herinneringe. Hou vas aan die wete dat Jesus gesterf het én weer opgestaan het om die dood se mag te verbreek. En onthou: 'There is an epic in every human struggle... there is always an end.'

 

(Met dank aan Margot Steenkamp wat ons vertrou het met hul seerste seer)

Beriggewer:  Janine Brynard

Categories