Posted on 22 August 2010

VLVK het verlede jaar besluit om 'n spesiale, nuwe portefeulje vir  Huis & Haard te ontwikkel.  Hiermee saam het die webwerf én Huis & Haard 'n splinternuwe, moderne blaadjie omgeslaan.  Deesdae kan ons werklik trots wees op hierdie wêreldgehalte handelsmerke, wat tred hou met nuwe tegnologie en tendense.

 

Ons lewe vandag in die eeu van die rekenaar,  asof dit die natuurlikste hulpmiddel ter wêreld is. Maar agter die ingewikkelde masjien wat jou in staat stel om hierdie woorde te lees, lê ’n lang en fassinerende geskiedenis.  Tydens die Huis & Haard-vergadering, het Janine Brynard die Hantam VLV-vroue teruggeneem tot by die ontstaan en ontwikkeling van dit wat ons vandag ken as die rekenaar, en daarmee saam ook die wonderlike wêreld van die internet.

 

Lank voordat wiskundige berekenings met knoppies gedruk kon word om op 'n skerm te verskyn, het die Grieke en Romeine klippies gebruik om te tel.  Oor die eeue heen is allerhande toestelle gebruik om berekeninge te doen, maar die wêreld se eerste volledig elektroniese rekenaar, wat met die Tweede Wêreldoorlog in die 1940's die lig gesien het, het meer as 167 m² volgestaan.  Die koms van die mikroprosesseerder het rekenaars soveel kleiner gemaak dat bekostigbare persoonlike rekenaars teen 1975 hul pad na klein ondernemings, skole en huise regoor die wêreld begin vind het.  Vandag loop mense letterlik met hul rekenaars in hul hempsakke. Voorwaar 'n wonderwerk as in ag geneem word dat hulle eens op 'n tyd 'n paar vertrekke vol gestaan het!

 

Die Internet is ’n wêreldwye stelsel van rekenaarnetwerke wat met mekaar verbind is en data uitruil.  Dis ’n netwerk van miljoene private en openbare, akademiese, regerings- en sakenetwerke wat verbind word deur glasvesel- en koperkabels, inbelverbindings, Wi-Fi, satteliet, 3G-selfone of kabellose verbindings.  Nadat die World-Wide-Web-projek in 1991 gepubliseer is, het dit 'n wêreldwye fenomeen geword met die karakter van 'n massamedium.  Dit is die mees gebruikte kommunikasiemiddel ooit, omdat miljoene mense vinnige, maklike toegang het tot 'n oneindige verskeidenheid aanlyn inligting, sosiale kletsnetwerke, professionele dienste en aanlyn aankope. 

 

'n Klompie sprekers het die verskillende internetdienste m.b.t. ons eie VLV tak kom bekendstel, waaronder Sunet Dodd - Internetverbindings; Karien van Schalkwyk - die VLV-webwerf; Margot Steenkamp - ons eie Facebook-profiel; Joey Rootman - Skype; James Basson - SARS E-filing; Bridget Scheffers - Internetbankdienste.  Die doel was nie om enigeen toe te gooi met 'n spul groot woorde en hogere inligting nie.  Slegs 'n breukdeel van die reuse WWW daar buite is beloer, en daar is nog miljuisende ander dinge wat ons kon bespreek.  Maar ons het elkeen goed besef, dat daar 'n legio moontlikhede is om te gaan ondersoek.  Die geheim is egter om nie bang te wees om te eksperimenteer nie.  Meestal klink dit moeiliker as wat dit werklik is, en dis gewoonlik so voor die hand liggend, dat mens maar net die instruksies noukeurig moet volg.  Verbeel jou maar net jy's op 'n internasionale lughawe iewers in Europa... as jy nie lees en oplet nie, sal jy verdwaal.  En as jy dan nou verdwaal, selfs al hét jy goed gelees, geniet dan maar net die reis!  Want 'n opwindende reis is dit gewis...


JCB

 



Posted on 30 June 2010

HANTAM VLV OPVOEDING en KULTUURVERGADERING

 

Die meeste van ons, kan met pure nostalgie terugdink aan daardie heel eerste skooldag, ver in  ons stowwerige geheues.  Dalk het jy met 'n oorgroot skooltas in die hand, splinternuwe skoolrokkie of  -broek, 'n haasbekkie en bokstertjies in die voortuin gestaan en bewerig geglimlag vir pappa se kamera om dié geskiedkundige oomblik te verewig.  En daarmee saam duik die herinneringe aan die graad een juffrou wat voor in die klas gestaan het op, wat ontelbare male die letters en klanke ingedril het by haar gretige groot-ogies. 

Maar tog is daar heelparty mense, wat eerder terugdink aan die tallose kere wat hulle rooigesig moes vra vir aanwysings of verduidelikings, omdat hulle eenvoudig net nie kon lees wat in die mengelmoes vreemde letters voor hul oë gestaan het nie.  Die Hantam VLV vroue het tydens Sharon van der Merwe se Opvoeding en Kultuur vergadering, weereens besef hoe dankbaar ons moet wees vir die geleenthede ons gegun.

 

Elize van Niekerk, het einde 2009 volwasse opvoeding onder werklose, ongeletterde mense van Calvinia gedoen.  Dié gratis drie maande program, is geïnisieer deur die Departement van Arbeid, wat dit kon befonds deur buitelandse skenkings.  'n Mens sou kon dink dat die belangstelling daarvoor goed sou wees, aangesien daar soveel ongeletterde mense is, wat nooit die geleentheid gegun was om hulself te bemagtig met skoolopleiding nie, maar Elize moes omtrent bontstaan om genoeg inskrywings vir die program te werf.  Die redes hiervoor was o.a. dat die mense, wat alreeds tussen die ouderdomme van 45 en 80 was, skaam was om te erken dat hulle ongeletterd is, en daarmee saam ook die vrees vir spot en verkleinering deur hul jong, mede familielede wat nou wél op die skoolbanke is, en ander het eenvoudig alreeds in die ongeletterdheidsgroef verval, met geen begeerte om daaruit te kom nie.  En hoe ironies dit ook al mag klink, het die 24 mense wat uiteindelik die moed gehad het om die program te voltooi, dit só geniet dat hulle nou hul vriende inspireer om deel te neem, indien daar weer 'n program aangebied sou word.

 

 

Elize moes 'n intensiewe opleidingskursus in Kimberley voltooi, om die groep studente te onderrig, waarvan slegs drie tot graad 3-opleiding ontvang het.  Die redes vir hul ongeletterdheid, kon wees dat die mense se ouers, self ongeletterd,  eenvoudig nie die nodigheid daarvan ingesien het om hul kinders skool toe te stuur nie, maar heel dikwels kon die kinders nie tyd kry om klas te loop nie, omdat hulle hul kleiner boeties of sussies moes grootmaak as hul ouers vroeg gesterf het.

 

Die studente moes letterlik heel voor begin, deur te leer hoe om 'n pen reg vas te hou, aangesien die meeste van hulle nog nooit geskryf het nie.  Alhoewel daar seker legio woorde is waarmee hulle kon wegspring, het Elize hulle geleer om hul naam, van en handtekening te skryf.  Wat vir die meeste van ons baie vanselfsprekend is, het vir hierdie groepie studente 'n gevoel van menswaardigheid gegee, en daarmee saam trots, omdat hulle nooit in hul lewens weer gevra sal word om 'n kruisie te trek op die stippellyn nie.
Hierna het hulle weggespring met die alfabet, kleinletters, hoofletters en selfs klanke.  Die hele groep studente is opgedeel in 4 kleiner groepies, na gelang van hul vordering in die verskillende moeilikheidsgrade, die groepe is gemonitor en dienooreenkomstig nuwe werk gegee.  Binne 'n maand kon almal al woorde skryf, kort daarna het sinne gevolg, hierna paragrawe en selfs kort briewe, en almal moes 'n eksamen aflê om hul nuutgevonde inligting weer te gee, waarvoor hulle 'n sertifikaat ontvang het. 

 

Volgens Elize was dit 'n lewensverrykende ervaring om die kursus te kon aanbied.  Sy herinner ons daaraan, dat, alhoewel hierdie ongeletterde mense was, 'n mens soveel by hul ryke lewenservaring kon leer.  En natuurlik hul deursettingsvermoë.  Die begeerte van die studente was maar net om hul eie dokumente te kon teken, hul eie banksake te kon doen, gereeld die koerant te lees, maar veral om hul Bybels self te kon lees.  Nooit weer kan ons maar net onverskillig staan voor die voorreg om te kan lees, skryf en verstaan nie.

JCB



Posted on 28 April 2010

Nee, dis nie 'n spelfout nie, die Hollanders spel hul weergawe van die liefde met 'n "v".  En as 'n mens hierdie eeue-oue wonder-woordjie 'n bietjie gaan ontleed, besef jy gou dis met goeie rede dat hulle dit só spel. 

 

Magda Kotze is 'n Naturopaat van Wellington, wat spesialiseer in 'n holistiese benadering tot gesondheidsorg, meer spesifiek in energieke medisyne.  Sy het vir die Hantam VLV-dames kom verduidelik tydens die Gesondheid-vergadering o.l.v. Louise Brynard, hoe hierdie spesialisveld aangewend word om siektes te genees.  Dit is vir Magda 'n voorreg om met mense te kan werk, terwyl sy probeer om hulle gesond te maak.  Sy glo egter dat God die enigste werklike Geneesheer is, en dat ons slegs menslike hulpmiddels gebruik om ons liggame te help om self weer gesond te word. 

 

Die meeste van ons is gewoonlik fyn genoeg ingestem om agter te kom wanneer daar fout is met ons liggame, en meestal kan ons self uitwerk wát die fout is.  Die probleem kom egter in dat ons nie weet hóé om die fout self weer reg te kry nie. Dit is hier waar Magda met haar QXCI-masjien en -rekenaarprogram inkom.  'n Elektrode-bandjie word om jou kop en arms vasgemaak, waarna ligte elektriese golwe deur jou liggaam gestuur word, sodat dit volgens  'n wiskundige tabel op 'n hardeskyf gekalibreer kan word.  Die program spoor blokkasies in jou liggaam op wat gevorm word deur negatiewe dinge soos trauma waardeur jy al moontlik in jou lewe moes gaan.  Ons liggame krop hierdie negatiewe energie op, en 'n blokkasie vorm wat ons fisies en geestelik baie siek kan maak, omdat die essensiële voedingstowwe nie na hul werkplekke kan beweeg nie.  Wanneer 'n blokkasie opgespoor word, word hulpmiddels soos o.a. gebed, akupunktuur, homeopatie, frikwensies en klankgolwe ingespan om die pasiënt te behandel. 

 

Daar is egter ook heelparty dinge wat 'n mens self ook moet doen, om die behandeling effektief te maak:  Drink genoeg water en oefen elke dag om jou liggaam skoon te hou.  Bou jou immuniteit op, veral voor die winter, deur o.a. geel groentes te eet wat ryk is aan Vit. A.  Neem die regte aanvullings in korrekte dosisse.  Eet reg en gesond  volgens jou bloedgroep.  Moenie jouself alles ontsê waarvan jy hou of voor lus het nie - handhaaf egter altyd 'n  balans.  Spandeer daagliks ten minste 20 sonskermlose minute in die oggend- of namiddagson, sodat jou liggaam sy Vit. D, Potassium en Kalsium kan gebruik vir volgehoue energie.  Moenie rook nie, en gebruik alkohol matig.  Beskerm jou vel teen die son en wind.  Hou jouself besig met 'n stokperdjie en spandeer genoeg tyd aan jou geliefdes.  Lag baie en bid nog meer - dit is die beste energieke medisyne ooit.  Huil sommer gereeld en treur wanneer dit nodig is;  sit dit egter agter jou wannneer jy klaar getreur het en beweeg vorentoe.  Omring jou met liefde, die natuur en alles wat jou hart vasvang, want onthou, dis ENERGIE, en dit maak jou heel. Hê vrede in jou lewe, en gaan leef dit uit, dan kan jy alles hanteer wat op jou pad kom.

 

En dis op hierdie puntjie wat die Hollandse woordjie LIEVDE betekenis kry: 
LEEF!  Baie van ons is al dood terwyl ons nog asemhaal; 
Wees 'n INNIGE, opregte mens;
Ons vorm 'n EENHEID en kan nie alleen deur die lewe gaan nie;
Lewe met VREDE,
DANKBAARHEID  en
vir die EWIGHEID.

JCB



Posted on 20 April 2010

Die vasskop van die rekenaar in ons lewens, het 'n nuwe wêreld vir ons laat oopgaan.  Maar enigeen wat al vir langer as 'n uur voor die skerm vasgenael was, kan daarvan getuig dat daar ook 'n eina kinkel in die kabel bestaan - twee groot vyande genaamd hoofpyn en, onvermydelik, rugpyn.  En, alhoewel die verskillende terapeute deesdae oorval word met die skete van ons tyd, kan dit dalk net lonend wees om 'n slag jou fisioterapeut te besoek. 

 

Sanet Myburgh is alreeds vier jaar 'n fisioterapeut by Abraham Esau Hospitaal op Calvinia.  Sy het vir die Hantam VLV dames, tydens die Gesondheidsvergadering, o.l.v. Louise Brynard, verduidelik dat fisioterapie nie slegs die behandeling van seer spiere en rugpyne behels nie, maar dat 'n veel wyer veld gedek word.  Sy benadruk dat dit nie nodig is om elke dag met ondraaglike pyn te probeer saamleef nie; dat die fisioterapeute regtig kan help, hoe klein jou skeet ook al mag voorkom. 

 

Dit is natuurlik die ideaal om eerder voorkomend op te tree, en daarom moedig Sanet enigeen aan om die fisioterapie-afdeling te besoek, selfs al het jy nog nie pyne of skete nie, om sodoende inligting in te win vir o.a. goeie postuurgewoontes. 

 

'n Fisioterapeut is 'n eerstelyn-praktisyn, daarom is dit onnodig om deur 'n dokter daarheen verwys te word.  Sanet verduidelik dat dit belangrik is om alreeds 'n fisioterapeut te spreek, wanneer jy bewus word van 'n klein foutjie of pyn, sodat die behandeling daarvoor onmiddellik kan begin. Sodoende word onnodige akute pyn en ongemak verminder.


 
Aangesien ons in die era leef van kitsoplossings vir al ons probleme, verwag die meeste mense ongelukkig dat hulle skete moet verdwyn na slegs een behandelingsessie by 'n fisioterapeut.  Die verlangde resultate sal egter eers na drie tot vyf sessies verkry word.  So, as jy al by die punt van chroniese pyn verby beweeg het, maak jou maar reg vir 'n lang en innige verhouding met jou fisioterapeut.  Maar moenie bevrees wees nie - dit mag dalk net 'n lewensomkeerbare verhouding wees, een waarvan pyn nie meer sal deel wees nie.  En vir die enkele gelukkiges wat nie weet waarvan ek praat nie, het jy al gehoor van ons fisioterapie-afdeling se gewone rug- en nekmassering sessies?  NIE??  Het jy werklik nog nie onder hul pamperlang deurgeloop nie??? 

 

Wel, vind vandag nog daaroor uit, maar wees gewaarsku!  Dis erg verslawend...

 

JCB 

 

Tydens die pas afgelope Konferensie van Sirkel Namakwaland, het Hantam VLV die trofee vir die tak met die vyfde meeste punte ontvang.  Me Janine Brynard ontvang twee trofeë vir die Boekbespreking en Handvlyt-afdeling, en me Riana van Niekerk een vir die Snoepery-afdeling.  Me Adolene Nel ontvang hier die tak se trofee, en sy het ook goeie uitslae gekry vir haar inskrywings.

 



Posted on 24 March 2010

Aangesien die VLV oor baie meer as koek-en-teepartytjies gaan, het die saamroeper van die Kunste en Handvlyt vergadering, me.Adolene Nel, dit goed gedink om vir ons 'n besonders unieke kunsvorm aan te leer.  Of ten minste het sy probeer om ons te leer, want ai!  dit sit beslis nie in enigeen se broek, of liewer voete nie!

 

Me. Belinda Fisher is 'n klein vroutjie met 'n groot hart vir haar mense en hul kultuur.  In 1998 het sy die bestaande rieldans-groepie wat op Calvinia was, onder vlerk geneem om hulle die fynere kunsies van dié besonderse tradisionele dans-styl te leer.  Alhoewel sy nie self meer dans nie, rig sy deesdae 'n senior- en juniorspan af, en sien selfs kans vir die kleintjies ook. 

 

Nadat hul uitsonderlike talent in 2007 tydens 'n optrede by 'n gemeenskapsgeleentheid raakgesien is, het die paadjie na sukses vir hulle ontvou.  Slegs 'n jaar later, met hul heel eerste amptelike kompetisie-optrede, het hulle alreeds 'n trofee verower.  Belinda het gou besef dat hulle iets unieks in hul danse sou moes inwerk om die beoordelaars se harte te steel, aangesien die kompetisie straf is en die ander deelnemers net soveel talent het.  Sy het besluit om die groepies 'n "tema" te laat uitbeeld in hul danse, wat 'n nabootsing is van die werklike stories in die kultuurerfenis.   Dit lyk asof sy die situasie goed gelees het, want hierdie tema-dansery laat die trofeë instroom.  Soveel so dat hulle deesdae kan spog met die titel as Suid-Afrika se kampioen rieldansers! 

 

Belinda het al meer as 50 kinders afgerig in hierdie besonderse dans-styl, die jongste daarvan maar 5 jaar oud.  Gamat Julies, bekende musieklegende van Calvinia, begelei die spannetjie op sy kitaar, en selfs hy is al beloon vir sy harde werk met die David Kramer-trofee vir die beste riel-lied.  Luister 'n mens so na hul afrigter, kry jy duidelik die boodskap dat hierdie maar nog die begin van groot dinge is vir ons eie Hantam-sitstappers.  Want soos Belinda self sê:  "Die kinders is bitter voorbarig, maar hulle gee regtig net hul beste!"  En nadat ons hulle in aksie op daardie ligte voete gesien het, kan ons daarby byvoeg: hulle is bitter, bitter goed!

 

 

Dankbaar dat daar genoeg talentvolles in ons distrik is om dié tradisie te laat voortleef, het ons opgewonde geraak oor die musiek- en leeskringe wat vanjaar aangebied gaan word.  Me. Marieta van Tonder het met groot smaak vertel van al die lekker en interessante boeke en temas wat voorlê.  Sy sluit af met 'n aanhaling uit een van die besprekings-boeke van Chris Barnard - Oulap se blou: 
"Jy kan 'n land se geskiedenis herskryf, maar jy kan dit nie verander nie.  Ons het ontstaan uit stof...dalk moet jy eers stof raak om die land waarin jy leef, oplaas, van binne te leer ken."

JCB

  

Die groep rieldansertjies o.l.v. me. Belinda Fisher wat tydens die Hantam VLV se Kunste en Handvlytvergadering opgetree het.  Nou weet ons ook inderdaad hoekom hulle kan spog daarmee om die nasionale kampioene te wees, want hulle is bitter goed!

 



Posted on 04 February 2010

Gedink dis sommer aanstellerig as 'n verfynde dame haar pinkie in die lug gooi terwyl sy tee drink?  Nog maar altyd geglo dis net die koninklikes in vervloë dae wat werklik High Tea-partytjies gehou het?   Dink weer.  Want alhoewel die High Tea soos ons dit vandag ken wél in die Victoriaanse era ontstaan het, het die werkersklas, eerder as die adel van dié tyd, gestalte gegee aan hierdie eietydse, daaglikse noodsaaklikheid.  En as ons vandag nog die korrekte tee-etiket reëls wil nakom, sal ons pinkies ook maar na bowe moet vlieg.

 

Op 15 Januarie het me. Margot Steenkamp 'n volledige, tradisioneel korrekte High Tea aan die Hantam VLV-dames bedien in die tuin van me. Marieta Strauss, Leefstyl saamroeper, op Kleinplasie in Calvinia.  Lank reeds voordat die Hertogin van Bedford in 1840 ontdek het dat 'n toebroodjie, bedien saam met haar vieruur-teetjie smiddags, die lae bloedsuikervlakke herstel, het die mynwerkers húl namiddag teebreek met 'n ligte ete verwyl.  Daar was nie veel tyd vir leeglê nie, en hierdie versnapering is dikwels sommer staande of by hoë kroegstoeltjies met tee of bier afgesluk.  Die amptelike benaming van hierdie laatmiddag maal as High Tea het, voorspelbaar genoeg, in Engeland ontstaan.

 

Daarteenoor is die Afternoon Tea as 'n ligte, elegante tee vir spesiale geleenthede bedien, meestal met swierige koeke en botterbroodjies.  Dit was egter ook Low Tea genoem, omdat dit by lae tafeltjies bedien is, en in die middag van 15:00 tot 17:00 wanneer die liggaamsritme op sy laagste was.

 

Maar of dit nou High Tea, Low Tea of Afternoon Tea is, deesdae behoort die bywoning van só 'n geleentheid 'n hoogtepunt op enigeen se sosiale kalender te wees.  Solank jy net hou by die etiketreëls:  moenie praat met kos in jou mond nie; moenie jou elmboë op die tafel rus nie; moenie slurp nie; moenie jou vinger in die koppie se oor haak nie - knyp dit eerder tussen jou duim-, wys- en middelvinger vas (en sien hoe jou pinkie outomaties opvlieg!); moenie hard kou nie; moenie jou botterbroodjie in die tee doop nie; moenie jou teekoppie rondswaai terwyl jy praat nie; moenie jou teelepel in die koppie los nie; moenie die tee gebruik om jou mond mee uit te spoel nie, en moet asseblief tog nie die teekoppie omkeer om te kyk waar dit vervaardig is nie!

 

Genadiglik het tye verander, en daarmee saam die streng voorskrifte van ons neus-in-die-lug voorsate.  Of jy nou 'n High Tea met toebroodjies, pasteitjies en botterbroodjies bedien soos dit veronderstel is om te wees, met tee, koffie of koeldrank, is dit belangriker om te onthou dat dit geniet moet word. 

 

Want wat is dan nou lekkerder as 'n lekker koppie tee saam met vriende?

JCB



Posted on 07 December 2009

Aangesien VLVK vir die volgende drie jaar 'n projek loods om al haar lede in rekenaarfundi's te verander, moes die Hantam-dames sommer met 'n megagreep wegspring.  Op 20 November, tydens Hantam tak se Landbou en Tuinbou portefeulje vergadering, het  Annalouise van der Colff die oulikste groen "webwerf" vir ons tuine geskep,  WWW.TUIN.COM. Maar moenie probeer om dit op die komper te soek nie, want ons spesiale virtuele ruimte het maar net vir die dag bestaan, daar in die binnehoffie van Jonita van der Merwe se huis, omring deur die ongelooflikste tuinskatte, gebore uit eie innovasie.

 

Wat maak ons in November?  Plant groente en vrugte, bemes alle plante en veral jou grasperk en sorg dat alles goed nat bly.


Wurmplaas - Maak organiese kompos deur spesiale erdwurmpies in 'n swart vullishouer aan te hou.  Hulle leef van nat karton en afvalskille, maar suiwel, vleis, lemoenskille en uie sal hulle laat vrek.  Die verwerkte materiaal kan net so in die grond gewerk word as kompos en die wurmtee wat afgeskei word, kan verdun word as ekstra voeding vir potplante.


Weg met insekte - Maak 'n groen inseksproei van uie, knoffel, brandrissie, skottelgoedseep en kookolie om veral brommers van jou plante weg te hou, maar behou steeds die blomme se reuk.
Tuinvriende - Lok voëltjies weg van jou vrugtebome deur vir hulle interessante, helderkleurige lekkernye op ander plekke in die tuin te hang.


Uitwys van swak kolle - Maak 'n vleituin van waterfonteintjies en 'n verskeidenheid waterplante op daardie hoekie waar niks anders wil groei nie.


Inspirasie - Raadpleeg gerus die Tuin tydskrifte vir oulike bykomstighede idees wat self gemaak kan word, en dan ook as geskenke gegee kan word.


Nuut op die mark - Bly op hoogte van nuwe produkte vir nuwe lewe in jou tuin.


Coriandrum Sativum - Plant koljander in jou tuin; die moontlikhede daarmee is legio en sluit in slaaisouse, geurmiddels in geregte, 'n strelende gesigpap vir probleemvelle, spuitstof vir plantluise en die blomme is 'n skoenlappermagneet.


Omgee - Gesiggies is fyn en pragtig in die tuin, maar kan ook as geskenkies en garnering gebruik word as dit versuiker word.


Maak planne - Ons woon nie naby groot tuinsentrums nie, maar dit hoef ons nie te keer om ook oulike planne maak deur net kreatief te dink nie.

 

So, of jou tuin so groot en baldadig soos die wêreldwye web is, of maar beperk tot 'n paar potte op 'n balkonnetjie, niks kan jou meer keer nie om jouself uit te leef daarin en dit in 'n lushof te omskep. Gaan bos, maar onthou, gaan GROEN!

JCB



Posted on 27 October 2009

Hantam, Nieuwoudtville, Calvinia en Loeriesfontein van Sirkel Namakwaland het onderskeidelik deelgeneem aan die SARIE teetafelkompetisie.

 

Loer ‘n bietjie na Hantam tak se partytjietafel en koek.  Elize van Niekerk het die tafel gedek en Sharon van der Merwe het die koek gebak. 

 

Op die foto is Jonita van der Merwe links, Riana van Niekerk, Elize van Niekerk en Janine Brynard.  Agter staan Adene Vlok.  

 



Posted on 02 October 2009

Adolene Nel van Hantam tak, het haar 30-jarige lidmaatskap-kenteken van Namakwaland Sirkelpresident, Karien van Schalkwyk ontvang.

 

Links op die foto is Karin van der Merwe, Hantam takvoorsitter, Karien (ook VLVK visepresident) en Adolene op regterkant.

 



Posted on 01 October 2009

Wanneer 'n klompie vrouens bymekaar kom rondom 'n heerlike koppie koffie, word daar gou aangeneem dat die gesprekke maar sal drentel rondom die huis, kinders en nuutste modeneigings.  Maar op Vrydag, 11 September, het dinge so effe anders uitgedraai.  Die Hantam VLV dames het wél by Koffie en Candlelight op Calvinia vergader, daar is beslis heerlik koffie gedrink én gekuier, maar gewigtige sake is bespreek...

 

Me. Marcelene van Rooyen is 'n Merinoskaap boervrou van Calvinia.  Sy verduidelik vir ons presies wat Laparoskopiese kunsmatige inseminasie en Kunsmatige inseminasie (KI) behels.  Dit is 'n redelik ingrypende handeling waar reproduksiefisiologie aangewend word vir optimale reproduksiedoeltreffendheid in 'n volhoubaar doeltreffende vleis- en wolreproduksiestelsel. 

   

 

KI, as sulks, verhoog die aanteeldoeltreffendheid, genetiese vordering geskied vinniger en dis meer ekonomies, omdat semen van slegs 'n paar top ramme geoes hoef te word, i.p.v. om te veel in een duur ram te belê.  Baie meer ooie word in 'n korter tyd gedek, die lamseisoen word aansienlik verkort, en die lam-proses kan beter gekontroleerd en vinniger afgehandel word.  Teeldoelwitte kan ook vinniger bereik word as goeie gene gouer vasgelê word. 

 

Die enkele nadele aan KI is dalk dat die konsepsie laer kan wees as met natuurlike paring, die koste per ooi kan hoog voorkom, sonder inagneming van die verbetering in die vleis- en wolproduksiestelsel en geneties oordraagbare foute word gouer ingeteel, voor dit opgespoor word.

  

 

Die verskil tussen die genoemde prosedures lê daarin dat bevrore óf vars semen met 'n gespesialiseerde tegniek, laparoskopies deur 'n spesialisveearts vir super geovuleerde ooie oorgeplant word, versus die boer wat met 'n pipet slegs vars semen kan deponeer in die servikskanaal met KI.

  

Nadat ons die teoretiese afdeling onder die knie had, verduidelik mnr. Bertus Visagie, ook 'n skaapboer van Calvinia, presies hoe die proses van Kunsmatige Inseminasie verloop - vanaf die ooie wat saam op hitte moet kom, die tap van vars semen by 'n ram met 'n kunsvagina, tot die inseminering van die semen met 'n spekulum en pipet agter die slymvliesnappie van die ooi se serviks.

  

Met sy ondervinding van die proses, het mnr. Visagie agtergekom dat die nadele aan KI kan wees dat dit meer arbeidsintensief in 'n langer, tydrowende proses kan wees, maar hy stem met me. Van Rooyen saam dat dit die moeite, én die geld werd is, om optimale reproduksiedoeltreffendheid te verseker.

 

Gewigtig gewis!  Vir die meeste van ons was dit voorwaar 'n openbaring om te kon leer hoe die vordering in die mediese wetenskap ook op boerderygebied 'n ál meer gewilder moontlikheid begin raak.  So, manne: moenie volgende keer maar net aanneem dat ons vrouens oor lekker resepte en nuwe waspoeiers staan en klets in die kombuis nie - julle mag dalk verbaas wees waaroor ons deesdae kán praat!

 

JCB