Posted on
22 February 2012
Sirkel: SWD
Tak: Heidelberg
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Driekie Uys
Datum: 21 Februarie 2012
Sersant Van der Heyden (Bullet) het wenke en riglyne gegee vir jou eie voorkoming van moontlike misdaad.
Huisveiligheid:
• Hek en deur is jou veiligheidsbuffer tussen jou en misdadiger: sluit of maak toe as jy daardeur gaan. Misdadiger monitor hoe jy deur oopmaak, en vir wie jy dit oopmaak.
• Bêre jou handsak en sleutels in ‘n kassie en NIE op kas by voordeur of op tafel in kombuis.
• Verander roetine van inkom en uitgaan uit erf, nie altyd dieselfde ure en dae nie.
• Meld vreemde persone in straat by polisie aan: ouderdom, kleur, hoe hy/sy beweeg in straat of omgewing.
• Let op vir verdagte voorwerpe soos cokeblikkies of ander merkers.
• Hou ‘n hond aan, hy is ook ‘n veiligheidsbuffer vir jou.
Inkopies:
• Los jou kosbare juweliersware tuis as jy gaan inkopies doen.
• Maak seker jou motor se deur is gesluit as met afstandbeheer gesluit word.
• Moenie enige kosbare artikels of geld op sitplek los in motor nie.
• Hou jou handsak en beursie toegerits teen jou lyf.
Veiligheid by OTM:
• Moenie praat met vreemdelinge nie.
• Kloning van kaarte gebeur na ure.
• As kaart moet kanselleer gebruik tolvrynommer links van teller.
• As slot van teller verdag lyk of onveilig voel, kanselleer opdrag VOORDAT jy geheime kode indruk.
• Moenie met baie kontant by jou loop nie.
Polisieprosedure vir aanmeld van sake:
• Neem pen en boekie saam en SKRYF neer met wie jy almal praat vandat jy die saak aanmeld.
• Hulle is veronderstel om jou via sms op hoogte van die saak te hou.

LNR Helene van Rensburg (voorsitter) Sersant Riaan Van der Heyden, Nellie Venter (sameroeper Openbare Sake).

Twee nuwe lede, mev. Carol Wessels (oorhandiging van kentekens), Annatjie Keyser (30 jaar lid), Helene van Rensburg (25 jaar lid).
Posted on
27 October 2011
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Driekie Uys
Datum van vergadering: 25 Oktober 2011
Tydens Heidelberg tak se afgelope vergadering het Hanlie Uys en Maretha Wessels ‘n groep besoekers, wat huiswerkers, skoukombuis-hulpe en Badisa se vrouegroep, bederf deur interessante resepte te demonstreer. Elkeen het ‘n verrassingspakkie gekry wat bestaan het uit bestanddele om ‘n gereg tuis te gaan maak. Dit was ‘n heerlike kuiermiddag.
Brood is as basis gebruik in die volgende resepte:
- Heerlike soutigheid: smeer Bovril op broodsnye, smelt 250g margarien tot sag en meng met een pakkie uiesoppoeier, smeer op bo-oor Bovril. Sny snye brood elk in 4 vingers en droog soos beskuit in oond.
- Gewone ‘french toast met ‘n twist’: druk ‘n patroon (hartjie) uit in die middel van die sny, doop sny in geklitste eier, braai in warm olie en breek eier in die oop deel van die sny en bak tot gaar.
- Baie kos vir baie mae: benodig: hamburgerrolletjies, tamatiesous, 1 pakkie toppers/maalvleis/vis/fyn hoender klaar voorberei, witsous. Die rolletjies word gehalveer en onderste dele word op gesmeerde plaat gepak. Smeer tamatiesous oor een helfte van die rolletjie, gevolg deur ‘n lepel toppers/maalvleis/vis/ens. mengsel en bo-op witsous. Plaas ander helfte van die rolletjie bo-op en gooi orige witsous bo-oor en bak in oond.
- Broodbroers (soortgelyk aan koeksisters): benodig ‘n ou brood, koue stroop (4k suiker + 1k water, laat goed oplos en voeg 2,5 ml kremetart by en kook vir 5 minute). Sny brood in dik snye en verwyder korsies en sny in vingers. Braai in olie tot goudbruin en dompel in koue stroop.
Maklik en tog baie lekker met min.
Verrassing: Miena Conradie, wat ‘n bekende is op RSG se versoekprogram, het ook kom kuier en vertel hoe sy te werk gaan om haar versoeke in te stuur. Sy maak haar dag se verjaarsdaglysies en stuur ‘n maand s’n vooruit. Sy het onlangs moeite gedoen om op Ceres te gaan kuier vir Dawid Slinger. Sy werk op Heidelberg en is altyd baie vriendelik as jy haar sien of groet.

Besoekers tydens vergadering.

Maretha demonstreer broodbroers.

Maretha en Hanlie.

Miena Conradie en Hanlie Uys.
Posted on
06 December 2010
Die VLV van Heidelberg het op 16 November 2010 afgesluit met ‘n heerlike Kersfees gevoel. Elkeen van die VLV lede het ‘n versierde hoed gedra en almal het tog te fraai gelyk met die verskeidenheid van hoede. Daar was weer - soos altyd - die heerlikste eetgoed en niemand kon wag vir die klomp geskenke wat uitgeruil is onder mekaar nie.
Die jaar is verby en nou gaan die lede ‘n heerlike ruskans neem om uit te rus vir volgende jaar waar daar weer ‘n vol program voorlê.
VLV Heidelberg wil net aan almal ‘n Geseënde Kersfees en ‘n Voorspoedige Nuwejaar toewens.

Voor LNR: Mei Heyns, Suna Jonker, Corrie Bennett, Nellie Venter
Middel LNR: Annatjie Uys, Hanlie Uys, Helene van Rensburg, Ronelle Carstens, Joy Wessels
Agter LNR: Carine Dippenaar, Maretha Wessels, Nicky Gosling, Neelie Jacobs, Carol Wessels, Lenie Zietsman
Posted on
09 November 2010
Die VLV tak van Heidelberg het Dinsdag die 19de Oktober 2010 vir ‘n heerlike uitstappie na Karringmelk se Eureka Meulens toe gegaan.
Dit is ‘n familie besigheid en is in 1998 gestig deur twee plaas boere naamlik Lafras en Petrus Uys. Daar is vir die dames gewys hoe die koring gemaal word en om gesit word tot meel. Die produkte wat hulle maak is wit brood meel, bruin brood meel, koekmeel, egte Rye meel en volgraan. Eureka Meulens se produkte word sover as die Wes Kaap, Oos Kaap, KwaZulu Natal en Gauteng versprei.
Vlnr: Neelie Jacobs, Ronelle Carstens, Joy Wessels, Suna Jonker, Hanlie Uys, Carol Wessels, Maretha Wessels, Nico Steyn van Eureka Meulens, Driekie Uys, Helene Van Rensburg en Mei Heyns.

Posted on
12 October 2010
Relay for Life, fondsinsameling vir KANSA, het op 2 Oktober te Heidelberg plaasgevind. Soos gewoonlik het die VLV ook as ‘n span deelgeneem. Dit was weereens ‘n groot sukses – inteendeel, dit was ‘n weghol sukses! Natuurlik danksy elke persoon wat dit bygewoon het en elke span wat deelgeneem het. Die gees en entoesiasme van beide deelnemers en ondersteuners, was aansteeklik.
Die spanne was kleurvol aangetrek in al die kleure van die reënboog en die baniere het vroegdag al in die windjie gewapper. Stalletjies is opgemaak en die vure is sommer vroeg al brand gesteek. Daar was heerlike eetgoed en VLV Heidelberg het pannekoek gebak. Die pannekoek-wins is ook aan KANSA geskenk.

Vlnr. Maretha Wessels Nicky Gosling, Helene van Rensburg, Neelie Jacobs, Mei Heyns, Joy Wessels, Hanlie Uys, Driekie Uys, en Nellie Venter
Posted on
16 September 2010
Die VLV tak van Heidelberg het besluit om vir die kliniek op die dorp kniekombersies en mussies te brei. Lede het fluks ingespring en die breipenne uitgehaal. Hulle het blokke gebrei en Mei Heyns het van die blokke aanmekaar gehekel. Ander lede het weer self hulle kombersies aanmekaar gewerk. Die komberse en mussies is op 4 Augustus aan Deseré van Deventer van die Heidelberg Kliniek oorhandig.
Hier sit van die lede wat ook vrywillig help by die kliniek met van die mussies en kombersies.
Links agter vlnr: Suna Jonker (VLV), Vrywillige Versorgers van Kansa is Frieda Hendricks, Bonita Page, Nellie Roberts, Fenita Fielies, Angela Pieterse, Elizabeth Pieters, Mei Heyns (VLV)
Voor vlnr: Nellie Venter (VLV) Petru Heunis van Kansa, Nolene Gelderblom, Margater Swartbooi en Deseré van Deventer van Heidelberg Kliniek.
