Posted on
19 November 2011
Beriggewer: Teresa Opperman
Datum: 15 November 2011

Voorsitter van Hofmeyr VLV, Susan Vermaak, word hier bygestaan deur 'n baie honger kleinseun, Derek Vermaak, terwyl sy die nagereg skep tydens die afsluitingsfunksie van Hofmeyr VLV.
By die geleentheid was gades en kinders ook welkom, en Susan se skoondogter, Collette Vermaak, is ook VLV lid, daarom kon Derek ook die geleentheid bywoon en vir Ouma kom help om die heerlike poeding te skep.
Posted on
02 October 2011
Beriggewer: Teresa Opperman
Hofmeyr tak het sommer drie geslagte by een vergadering, wanneer Penny, haar dogter Marguerite en die kleingoed Amorey en Christiaan nader staan vir 'n vergadering.
Marguerite is 'n flukse jong lid - sy neem ywerig aan alle kompetisies deel, en haar ma staan ook glad nie terug nie. Penny se hande staan vir niks verkeerd nie en sy skep die pragtigste kunsartikels uit weggooigoed.
Marguerite is saam met Teresa Opperman ook verantwoordelik vir die opheffingsprojek onder armes in Hofmeyr, en Penny is daar ook behulpsaam. Sy bied klasse aan om armes te bemagtig, en die drie vroue voorsien ook aan talle van die armes in die gemeenskap se behoeftes. Etes, kos, beddegoed en opleiding word verskaf, en die produkte wat vervaardig word, word deur die vroue bemark.
VLV se tema vir 2012 is nie verniet "Bou 'n brug" nie, hier op Hofmeyr bou ons reeds 'n geruime tyd brûe.

Marguerite Hattingh (met Christiaan op die skoot), Penny Els (haar ma) met Amorey op die skoot tydens 'n VLV vergadering op Hofmeyr.
Posted on
02 October 2011
Beriggewer: Teresa Opperman
Datum: 19 September 2011
Hofmeyr tak het tydens hul onlangse vergadering 'n lentekonsert aangebied.

Ds. Attie van Wyk, begaafde musikant van Cradock, het tydens die geleentheid opgetree. Die vergadering was Hofmeyr se jaarlikse ope vergadering, en talle gaste vanuit die dorp en distrik het die geleentheid bygewoon. Op die manier bemark Hofmeyr VLV hulself, en glo en vertrou dat nuwe lede mettertyd sal aansluit.
Die tak is bevoorreg dat talle jong lede, met voorskoolse kinders, aktief vergaderings bywoon. Omdat Hofmeyr egter nie oor 'n skool beskik nie, verlaat hierdie jong lede ongelukkig die VLV sodra hul kinders skoolgereed is. Die mammas moet op Maandae en Vrydae skoolkar ry, en kan dan nie nog ritte inpas om VLV vergaderings by te woon nie.
Posted on
27 August 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Teresa Opperman
Verkeersbeampte Munroe van Cradock Verkeersdepartement het by die onlangse VLV vergadering op Hofmeyr die dames toegespreek rondom AARTO, oftewel die administratiewe beoordeling van die Verkeersoortredings Wet van 1998.
Deur middel van die aktiewe toepassing van hierdie dokument wil die Verkeersdepartement 'n veiliger verkeerstelsel bewerkstellig, met geen padsterftes. Wetsgehoorsame burgers sal beloon word terwyl burgers wat die verkeerswette oortree swaar gestraf sal word, en uiteindelik uit die verkeersnetwerk verwyder kan word, indien hulle nie gewillig is om veiliger bestuurders te word nie.
'n Inligtingstuk is aan alle lede uitgedeel, en hulle is ook genooi om insette te lewer rondom die wetgewing, deur te skakel met Basil Nkhwashu by 012 809 5316 of per e-pos na BasilN@rtmc.co.za. 'n Tolvrye nommer is ook beskikbaar vir kommentaar, te wete 0861 400 800.

Estelle Kruger, sameroepster Openbare Sake van VLV Hofmeyr, saam met verkeersbeampte Munroe van die Cradock kantoor.
Na afloop van die insiggewende gesprek, het Annarien van der Merwe die Kongresverslag gelewer. Lede wat Kunste & Handvlyt artikels ingeskryf het vir die pas afgelope kongres hier met die tweede posisie trofee wat Hofmeyr verower het te Villiersdorp.

Agter: Adele Vermaak, Estelle Kruger, Karen Fletcher
Voor: Susan Vermaak (Voorsitter) en Teresa Opperman
Posted on
23 June 2011
Portefeulje: Vele
Tydens die onlangse VLV vergadering is lede gevra om hul gunsteling pop of sagte speelding uit hul kinderjare saam te bring. Pragtige poppe, sommige in ontwerpersuitrustings het die vergadering bygewoon. Talle sagte speelgoed is ook uitgestal en klein Nasie Vermaak, seun van Adéle Vermaak en kleinseun van Ouma Susan Vermaak (voorsitter van die tak) kon die versoeking nie weerstaan om tussen die speelgoed in die mandjie te klim nie.
Die poppe wat ten toon gestel was, was Graaff-Reinet poppe tot meer onlangse modelle en daar was ook handgemaakte lappoppe en porseleinpoppe. Lede het kaartjies aan die poppe geheg om die poppe se geskiedenis uit te beeld en sommige lede is gevra om hul poppe se stories te vertel. 'n Insiggewende geleentheid.

Elmien Downey demonstreer tydens die onlangse vergadering hoe sy haar strooikussings nuwe jassies aantrek vir die nuwe seisoen. In die somer kry die strooikussing koel kleure en in die winter warm kleure. Die los oortreksels word dan afgerond met 'n gespe of 'n materiaalroos. Blitsvinnig tower sy haar sitkamer om, om spiksplinternuut te lyk vir die nuwe seisoen.

Ywerige jong lid, Adéle Vermaak, demonstreer hier hoe sy pragtige artikels uit Tokreen klei vervaardig. Adéle is 'n Gr. R onderwyseres en het twee voorskoolse woelwaters, maar woon getrou elke vergadering by. Sy lewer gereeld inspirerende praatjies en deel graag haar kennis met die ouer garde.

Posted on
26 April 2011
Portefeulje: Gesondheid
Francisca Bekker het op uitnodiging van Dada de Jager, sameroepster van Gesondheid, met Hofmeyr lede gesels oor ooghigiëne. Franciska, ‘n optometris van Steynsburg, het ook talle vrae rakende oogprobleme hanteer. Sy het ook foto's vertoon, sodat die VLV lede meer duidelikheid kon kry oor verskeie oogsiektes en afwykings.
Optometris Francisca Bekker saam met Dada de Jager, regs.

Posted on
28 March 2011
Pierre Marais het die toekenning as Mnr Hofmeyr Junior Skou ontvang, terwyl Marike Marais die toekenning as Mej Hofmeyr Junior Skou ontvang het tydens Hofmeyr VLV se 3-10 jaar junior kompetisie by die Hofmeyr skou.

Beoordelaars Cornette van Heerden van Tarkastad en Ezelle Marais van Kookhuis was totaal en al onbewus van die feit dat die twee boetie en sussie is - elke deelnemer aan die skou het egter met 'n toekenning weggestap.
Rick Downey (Mnr Bakgat Peuter)
Zanelle Philps (Mej Persoonlikheid)
Anné Philps (Beste uitrusting)
Margot Viviers (Mej Selfvertroue & Mej Pikant)
Nasie Vermaak (Mnr Persoonlikheid & Mnr Kleuter Model)
Minke Vermaak (Mej Kleuter Model)
Shani Froehlich (Mej Fantasie Karakter)
Lize Marais (Mej Bakgat Peuter)
Pierre Marais (Mnr Selfvertroue, Mnr Willewragtig & Mnr Hofmeyr Junior Skou)
Marike Marais (Mej Hofmeyr Junior Skou)
Anrich Lategan (Mnr Fantasie Karakter)

Johan Meyer (as die Vaderfiguur), Baby Muller as homself en Johan Marais (as die Moeder) tydens VLV Hofmeyr se baba-, kleuter- en kinderkompetisie by Hofmeyr skou.
Posted on
11 March 2011
Verteenwoordigers van Hofmeyr tak, sewe altesaam, het sowat 480 km afgelê om VLV Sirkel Cradock se konferensie in Pearston by te woon. Hul moeite is beloon toe Hofmeyr tak met altesaam 7 trofeë weggestap het.
Op die foto verskyn:
Agter v.l.n.r: Susan Vermaak (Voorsitter Hofmeyr tak), Vivian Labuscagne (Saamroepster Opvoeding Hofmeyr tak) Teresa Opperman (Visepres.Sirkel Cradock)
Voor: Rika Pienaar (Leefstyl Saamroepster Hofmeyr tak), Estelle Kruger (Openbare Sake Saamroepster Hofmeyr tak), Heillie Marais (Oud Voorsitter Hofmeyr tak), Dada de Jager (Saamroeper Gesondheid Hofmeyr tak en Saamroeper Gesondheid Sirkel Cradock).

Hierdie rangskikking vir 'n kombuistee in 'n teepot is deur Hofmeyr tak ingeskryf by die konferensie te Pearston en het 'n punt van 80% behaal vir die tak, asook die 3de plek op Sirkelvlak.

Posted on
06 March 2011
Erina Roux en Isabel Wilken het die Hofmeyr VLV dames vertel van hul toer na Turkye. Erina het ook 'n PowerPoint aanbieding gedoen waarin die verskeie plekke wat hul besoek het, vertoon is.
Artikels van Turkye is uitgestal tydens die vergadering.

Posted on
22 February 2011
Hofmeyr VLV het aan twee lede van die gemeenskap spesiale Eretoekennings oorhandig. Hierdie twee lede is Lizette Jordaan en Gert du Plessis.
Die twee Hofmeyr inwoners is verantwoordelik vir die instandhouding van die plaaslike begraafplaas. Dit is alombekend dat Hofmeyr se begraafplaas in hierdie tye die netjiesste begraafplaas in die omgewing is, en talle besoekers besoek daagliks die terrein om na afgestorwenes se grafte te soek. Lizette en Gert ken ook die begraafplaas so goed, dat hulle binne 'n oogwink 'n besoeker na die grafte kan neem waarna hulle soek. Hierdie diens word as liefdesdiens aan die Hofmeyr gemeenskap gedoen, teen 'n baie geringe vergoeding. Hiervoor het Hofmeyr VLV hul bedank.
Susan Vermaak, (Voorsitter Hofmeyr VLV), Lizette Jordaan en Teresa Opperman (Visepresident Sirkel Cradock en Landbou sameroepster Sirkel Cradock) tydens die oorhandiging van die Eretoekenning aan Lizette Jordaan.

Gert du Plessis en Susan Vermaak (Voorsitter Hofmeyr VLV) tydens die oorhandiging van die eretoekenning aan Mnr du Plessis vir sy diens aan die gemeenskap van Hofmeyr.
