Posted on
05 December 2011
Beriggewer: Elna Slabber
Datum: 5 Desember
Hopefield tak se hoogtepunt van die jaar was 'n welwillendheidstee, waarheen ons die bejaardes van die gemeenskap genooi het. Daar was heerlike eetgoed op pragtige gedekte tafels met musiek deur plaaslike talent.




Posted on
26 October 2011
Beriggewer: Elna Slabber
Datum: 24 Oktober 2011
Hopefield tak se afsluitingsvergadering was gevul met humor en stuitigheid, want elkeen moes iets snaaks aantrek. Oorspronklikheid was aan die orde van die dag. Let veral op vir Leonie Rossouw (heel links) met haar oorspronklike dag- en naguitrusting. Tot haar grimering pas hierby aan.

Almal het gewonder wat presies Engela James kan sien en hoe warm kry Sophie Rust in haar uitrusting.

Erkenning word jaarliks aan lede gegee wat 100% bywoning handhaaf gedurende die jaar. 2011 was geen uitsondering en al 14 op die foto het dit bereik.

Lucy Carstens ontvang haar 40 jaar kenteken van die voorsitter Anita Cronjé.

'n Gesellige "Dankie-sê" ontbyt vir die dienende, uittredende, pas verkose bestuurslede asook beoordelaars by die Blouwaterbaai Lodge te Saldanha.

Posted on
31 August 2011
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Elna Slabber
Datum: 29 Augustus 2011
Miems Swanepoel (74) was die gasspreker tydens Hopefield se onlangse vergadering. Sy het iedereen verryk met haar entoesiastiese aanslag op die lewe - 'n Gesonde Gees Huisves 'n Gesonde Liggaam. Miems, 'n maatskaplike werker, 55 jaar getroud met 4 kinders en 10 kleinkinders, vertel dat sy tans verslaaf is aan swem. Sy doen tot 40 lengtes op 'n slag! Sy sê dis harde werk om jou liggaam gesond te hou! 3 G's is vir haar uitstaande nl. Geluk, Gesondheid en Genade. Elkeen van ons moet geleenthede geniet met die liefde wat ons soos 'n suurstoftent oor ander uitstrooi. Sy gee vir ons elkeen Galasiërs 5:22 en sê dat ons die vrug van die Gees moet leef. Miems was vir ons almal 'n besieling met haar positiewe houding teenoor die lewe.
Freda de Kock het ons kortliks vertel van die wonderlike ondervinding wat dit vir haar was om te kon deelneem aan die Tienerkok kompetisie 2011 te Upington. Sy behaal 'n algehele derde plek, maar 'n welverdiende eerste plek met haar besondere kreatiewe voorlegging van die voorgeskrewe portefeulje. Freda is nie net die plaaslike Hoërskool se trots nie, maar ook 'n groot bonus vir ons Hopefield tak. Ons beste wense vergesel haar vir haar studies by die Cape Peninsula University of Technology se Hotel School.
Helena van der Westhuizen, ‘n kenner van skoonheidsmiddels, het na jare se navorsing in Amerika besluit om na haar tuisdorp Hopefield terug te keer en het dadelik by die VLV aangesluit. Sy vertel ons dat al haar skoonheidmiddels, "simply bee", net natuurlik produkte bevat bv. Byewas, Propolis, Tea Tree Oil, Vit. E, ens. Daar is hand- en voetroom, gesigreinigers, seep en allerhande produkte om ons jonger te laat lyk en voel

Voorsitter Anita Cronje, Hester Stone, Engela James (Saamroeper Gesondheid) en Miems Swanepoel (Gasspreker van die middag).

Drie nuutverkose bestuurslede: Zelda Baard (Opvoeding), Annatjie Coetzee (Leefstyl-Naaldwerk), Sophie Rust (Landbou &Tuinbou).

Zelda Baard, Brenda de Kock (Freda se ma), Freda de Kock en Dianne Hitge.

Susan Fouché wat beslis die meeste blokke vir die Kansa komberse op Hopefield gebrei het, toegepak onder die breiblokke.
Posted on
20 July 2011
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Elna Slabber
Datum: 19 Julie 2011
Tydens Hopefield tak se Leefstyl: tuisteskepping vergadering kon lede die fynere kunsies van die bewerking van vye leer. Die plaaslike Hoërskool leerders was ook by die vergadering betrokke.
“Vyevreugde Figfun” is ‘n onderneming wat daarop fokus om vye te preserveer. Karen Knoetzen en haar “Vyevreugde Figfun” vennote het hul sukses met oorskiet vye met die tak kom deel.
Slegs prima kwaliteit vye word voor sonop gepluk, verwerk en verpak. Die vars vye word binne 2-3 dae versend vir uitvoer na Engeland. Die boervrouens het egter die geleentheid gesien om die vye wat nie geskik is vir uitvoer nie, te verwerk in die wonderlikste produkte.
Alles word met die hand (in handskoen gehul) gedoen. Geen preserveermiddels word gebruik nie en die resepte is deur hulle self of naby familielede ontwikkel. Produkte vir diabete is sterk in aanvraag. Daarbenewens sluit hul produkte ook heel vye in stroop, vyekonfyt, vye in sjokolade, jogurt heel vye, vyeblatjang en gedroogde vye in.
Leandi Theart, gr 10 leerder, het haar mondeling projek oor buikdans voorgedra. Dit is ‘n dansvorm wat uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika afkomstig is. Buikdans is ‘n isolasie dansvorm waar die verskillende liggaamsdele onafhanklik van mekaar beweeg, met die klem op die heup en bekkengebied. Hierdie dansvorm is geskik vir alle ouderdomme, baie goed vir swanger vroue en veral goeie oefening om osteoporose in ouer vroue te voorkom.

Agter: Elizabeth en haar ma, Engela James
Voor: Marie Heyns, Marie van der Merwe en haar kleindogter, Anri Labuschagne. Besig met beoordeling!!

Die drie “Vyevreugde Figfun” vennote by hul produkte saam met Dianne Hitge (links) en Sandra de Beer (regs).

Leandi Theart - gr 10 leerder van Hoërskool Hopefield besig met 'n buikdans.
Posted on
01 December 2010
Dit was voorwaar 'n aangename ondervinding om ons afsluitingsvergadering in die rekenaarklas van die Hoërskool Hopefield te hou. Elke lid kon voor 'n rekenaar sit, 'n brief tik en is verder deur ons instrukteur, Mnr Hannes de Beer afgeneem. Daarna het ons gesellig saam verkeer in die personeelkamer, waar die toekennings en dankies uitgedeel is deur Mev Henriëtta Melck. Dit was haar laaste vergadering saam met Hopefield VLV aangesien hulle Langebaan toe verhuis het.
Hulle werk hard terwyl die vergaderings aan die gang is om die kompeteerders die regte punt toe te ken. Vlnr: Johanna Turner, Bets Smit, Henriëtta Melck, Marie Heyns, Bettie Krüger en Marie van der Merwe, Lucy Carstens was afwesig.

Aanhouer wen! Getroue lede word beloon. Vlnr: Anita Cloete (30jr) Johanna Turner (10jr) Henriëtta Melck (45jr) Elsa Teubes (25jr) Marion Cumsty (10jr) Tokkie Carstens (45jr) Zelda Baard (40jr) en Dianne Hitge (25jr)

Joey Heyns, Picy Theron en Marion Cumsty in die rekenaarklas.
.jpg)
Sophie Rust het klaar haar brief getik en kan vir Mnr de Beer glimlag.
.jpg)
Elizabeth Dreyden ook voor die rekenaar.
.jpg)
Posted on
19 October 2010
Geraldine Parker het na aanleiding van haar 4-jarige gehoorgestremde seuntjie met 'n kogliëre-inplanting vir die lede van Hopefield tak kom vertel wat die aanpassings en impak op haar lewenswyse is. Sy wys ons ook 'n DVD van die wonderlike werk wat daar by die Carl du Toit Sentrum gedoen word.
Corna Olivier, internasionale fotograaf, wat vir van ons lede klas gegee het in fotografie, help ons om 'n foto-uitstalling asook 'n baie suksesvolle veiling ten bate van die Carl Du Toit Sentrum te hou.
Beriggewer: Elna Slabbert

Geraldine Parker en Corna Olivier geniet 'n ligte oomblik saam met Benjamin.

Elsa Teubes, Anna-Mari Slabber, Bettie Krüger en Henriëtta Melck geniet die foto's by die uitstalling.

Ou en nuwe lede nl. Anita Cronjé, Elize Roodt, Hester Stone, Anita Cloete en Engela James by die foto-uitstalling.

Doreen Malgas, Lucy Carstens en Marie van der Merwe besig met beoordeling.
Posted on
10 September 2010
Die "Groen" boer, Quartus Laubscher, het sy droom dat alle boere saamstaan om groen te boer met Hopefield se VLV dames kom deel. Hy het 'n uitgebreide studie van uile en vlermuise gemaak. Ons land het 12 uilspesies. Die Nonnetjiesuil (barn owls) met sy hartvormige gesig en een oor wat laer as die ander sit, is 'n spesialis muisvanger.
Na berigte in vele tydskrifte, asook praatjies het boere oral begin om uilhokkies op te sit waar daar muisplae voorkom. Quartus het voorheen tussen 50-100kg gif uitgestrooi, deesdae gebruik hy minder as 1kg. Dus 'n besparing van meer as R70 000.
Laubscher het ook begin eksperimenteer met die gebruik van vlermuise om vrugtevlieë te bestry. Vlermuise is die enigste soogdier wat vlieg. Hy is oortuig dat die toename in kanker verband hou met die gebruik van gifstowwe. As almal begin saamstaan om groen te boer kan ons die plae in totaliteit bestry.
Anita Cloete en Elize Schoeman saam met ons groen boer Quartus Laubscher.

Quartus Laubscher, George Cloete, Tjoekie Viljoen, saamroeper land- en Tuinbou, Pieter Cilliers en Charl Baard lustig aan't gesels na vergadering.

Posted on
11 August 2010
Foto's en nuus uit Hopefield. . .
Emma Viljoen, een van ons lede het onlangs haar eie kinderboek geskryf. Zelda Baard het die voorlesing daaruit gedoen tydens ons Kuns en Handvlyt vergadering. Vlnr. Emma Viljoen en Zelda Baard.

Twee nuwe lede wat onlangs aangesluit het is vlnr. Susan Fouche en Hester Stone.

Die spreker tydens ons Opvoedingsvergadering was Margie Gordon. Haar onderwerp is " Leer om jou doelwitte te bereik deur jou hele brein te gebruik, asook jou natuurlike talente te ontwikkel".
Sy verduidelik dat jou regterbrein verbeelding en emosie verskaf. Die logiese linkerbrein - beplanning, orde en taal. Sy doen deur middel van " Brian Mayne's Goal Mapping " regter- en linkerbrein ontleding deur 'n vraelys aan die lede te verskaf. 'n Interessante feit is dat die weefsel tussen die linker- en regterlob helftes, by mans dunner is in teenstelling as met vrouens. Daarom is die vrou meer taakgerig as die man.
Vlnr. Elna Slabber, Margie Gordon, Anita Cloete en Linzy Kotzé.

Posted on
04 September 2009
Annelies van Rijswyk is tans verbonde aan die Snap-sentrum in Durbanville en het oor die outistiese kind gepraat en noem dat dit 4 keer meer by seuntjies voorkom. Bekendes soos Franklin Rooseveld, John Lennon, Stevie Wonder en Beethoven was ook outisties.
vlnr: Eliza Schoeman, Annelies van Rijswyk en Elna Slabber (voorsitter Hopefield)
