Posted on 01 February 2012

Sirkel: NOK
Tak: Jamestown
Studierigting: Landbou & Tuinbou
Datum: 25 Januarie 2012
Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

Jamestown se VLV het afgeskop met 'n Landboubyeenkoms wat baie interessant aangebied is deur Lucia Lieberum. Sy het inligting gegee oor die Bome van die Jaar, nl. die Waterbessie, die Rooiboekenhout, en die Swartwortelboom. Die voël van die jaar is die Swaeltjie. Wenke oor die uitplant van vetplante is gegee: Die plantjie moet eers ± 2 weke bo-op die grond in skaduwee lê om wortels te vorm vóór dit geplant word. Raad oor groente- en blomtuine is gegee. 'n Potplant kan bv. buite in 'n boom in 'n lemoensakkie opgehang word. Potplante wat hoog staan (of tydens die vakansie stadig moet water kry) kan maklik natgemaak word met 'n plastiese bottel vol water, met 'n pypie wat deur 'n gaatjie in die prop gaan. Suig die water net effens na vore.

 

Lucia het die nuwe lone wat vanaf 1 Maart in werking tree, bekendgemaak, en lede ook aangemoedig om hul werkers te leer om huisgodsdiens te hou, toebroodjies vir hul kinders vir pouse in te pak, en ander menswaardighede toe te pas. Honde se komberse moet gereeld in growwe sout gewas word teen vlooie. Growwe sout kan ook in hul slaaphok gestrooi word. Vir babahondjies kan 'n mengsel van ½ koppie volroommelk en ½ koppie eiergeel verhit word en met 'n botteltjie ingegee word. Klein katjies kan dieselfde mengsel kry, maar voeg 1 teelepel room en 1 teelepel glukose by.

 

Handri van Zyl het vertel hoe Vliegduiwe-boerdery werk, en almal was verstom oor die kostes daaraan verbonde! Mei - Oktober is broeityd, waarna die kuikens vanaf die broeihok na die vlieghok verskuif word. Junie - Oktober is vliegmaande, en 6 weke voor die eerste wedvlug begin die duiwe al oefen. Hulle volg 'n spesiale dieet en word ook ingeënt teen bv pokke. Vliegduiwe word o.a. volgens hul oogkleur gepaar (geel of wit óm die swart van die oog).

 

Philna van Pletzen het vertel van die sogenaamde "Wurmplaas", waar organiese wurms gebruik word om kompos te vervaardig in 'n kleinerige houer. Dié waterige kompos maak 'n merkbare verskil in tuine! Sy het ook uitgevind dat suiwer wol beter beskerming in koeëlvaste baadjies gee as die gewone kunsvesel. Sy het verduidelik hoe dit werk.

 

Veronica van Vuuren het  haar 25 jaar-kenteken ontvang.

 


 

Klein Jaco van Zyl geniet die teetafel die beste van alles!

 

 

Voorsitter Hilda v/d Walt (links) het die 25 jaar-kenteken aan Veronica van Vuuren oorhandig.



Posted on 22 November 2011

Beriggewer: Antionette van Pletzen

Datum: 21 November 2011

 

Jamestown se VLV was vanjaar op 14 November 80 jaar oud, en dit is feestelik gevier met 'n 5-gang maaltyd berei deur The Pantry op Aliwal-Noord. Groeteboodskappe van die ander takke in ons NOK-Sirkel is voorgelees, en die voorsitter van die Jamestown Landbouvereniging het ook hul groete oorgedra. Elke lid het 'n gegraveerde pen ontvang en die mans het sjokolade gekry - met 'n boekmerkie daarby met Jamestown tak se leuse van "Klein begin - Aanhou win" daarop. Hilda v/d Walt, voorsitter van die tak, het 'n baie kort oorsig gegee van die afgelope 80 jaar se lief en leed, en dis aangevul met van die lede se herinnerings. VLV = volwasse opvoeding, en 'n mens is nooit te oud om te leer nie.

 

Christell Venter het hulde gebring aan vorige voorsitters, o.a. Mona Nel wat baie diep spore in Jamestown getrap het. Nadat sy 'n geskenk aan Hilda oorhandig het, kon almal stem vir vanjaar se Vonkelvrou, en Lucia Lieberum het die trofee daarvoor ontvang. Lucia het ook die prys ontvang vir die meeste kompetisiepunte deur die jaar, met Gerrie Upton 2de en Philna van Pletzen 3de. Antoinette van Pletzen het haar 30 jaar kenteken ontvang, en Philna van Pletzen het 'n teelepeltjie ontvang omdat sy vanjaar nooit afwesig was by enige vergaderings nie. Christell Venter was vir 17 jaar nooit afwesig nie, en het daarvoor 'n trofee ontvang!

 

 
Van links is die pryswenners Philna van Pletzen, Lucia Lieberum (wat ook as Vonkelvrou aangewys is), en Gerrie Upton.

 


Christell Venter (links) ontvang haar trofee vir 17 jaar nooit afwesig van voorsitter Hilda v/d Walt.

 


Die pragtige en heerlike verjaardagkoek wat as nagereg bedien is, is gemaak deur die 2 sussies van The Pantry, en het o.a. bestaan uit roomys en sjokolademousse, en was versier met suikerdrade.

 


Drie lede kon a.g.v. siekte nie teenwoordig wees nie. Die res is van links:
Voor - San Wagenaar, Hilda v/d Walt, Philna van Pletzen, Gerrie Upton, Antoinette van Pletzen.
Middel - Willie Wagenaar, Poen van Pletzen, Giel v/d Walt, Jan J van Pletzen, Hendrik Upton, Jannie van Pletzen.
Agter - Mariana van Pletzen, Lucia Lieberum, Christell Venter, Ferdie van Zyl, Handri van Zyl.



Posted on 27 October 2011

Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

Jamestown tak se vrouens het nog hier aan die einde van die jaar kans gesien vir 'n tokreenkursus wat Christa Venter van Lady Grey kom aanbied het. En weggooigoed het nou mooigoed geword!!

 

 

Groep vroue druk besig met hul tokreen voorwerpe.

 

 

Sommige van die voltooide artikels.

 

 

Christa Venter van Lady Grey heel links.



Posted on 17 October 2011

Portefeulje: Vele
Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

Jamestown tak se pas afgelope byeenkoms was 'n Potpourri van inligting en pret!

 

Onder die Leefstyl portefeulje is gevra waar "verkeerd eet" begin. In die kombuis word te veel suiker en te veel sout by kosse gevoeg, en blikkieskos bevat ook baie sout! "Trooskos" is ook 'n groot gevaar. Moenie 'n kind paai met lekkergoed nie, en moenie jouself vergryp aan eetgoed nie. Elkeen moet ELKE dag genoeg proteïene, stysel, koolhidrate en suiker inkry, maar in die REGTE hoeveelhede.

 

Daarna is 'n resep gegee vir 'n gesonde peuselhappie of granola vir ontbyt: (Lewer 1.5 liter of 7 koppies.)
1. Voorverhit die oond tot 150° C en voer 'n groot bakplaat met bakpapier uit.
2. Rooster 750ml hawermout vir ± 10 min in die oond, tot liggies goudbruin. Roer gereeld.
3. Gooi in 'n groot bak en voeg 250 ml All Bran-vlokkies, 250 ml growwe klapper en 500 ml gemengde neute  by.
4. Verhoog die oondtemperatuur tot 180° C.
5. Voer nog 'n bakplaat met bakpapier en hou eenkant.
6. Verhit 180 ml heuning/stroop, 125 ml olie en 60 ml bruinsuiker saam tot gesmelt en giet dit oor die mengsel in die bak.
7. Werk dit goed deur met jou hande, verdeel tussen die 2 bakplate en versprei egalig.
8. Bak vir 15 minute en roer gereeld.
9. Voeg 250 ml pitlose rosyne by, meng deur en bak vir ± 8 min tot diepgoue kleur.
10. Laat afkoel tot kamertemperatuur en bêre in 'n lugdigte houer. Sit voor saam met jogurt, vars of gestoofde vrugte. 
 

'n Wenk is gegee om 'n klomp batterylaaiers (bv. selfoon, kamera, ens.) netjies te hou deur 'n skoendoos daaroor om te keer in 'n kas en gaatjies vir die drade daardeur te maak. Vervolgens is foto's van blommende bonsai boompies en blomtapyte op 'n rekenaar vertoon ter ondersteuning van Lucia Lieberum se Landbou portefeulje. Lucia het ook vertel van blomme wat as medisyne of in kos gebruik kan word. Sy het verduidelik hoe om roostee te maak, en dat laventelolie goed is in badwater. Leeubekkies, tulpe en koringblomme kan in kos gebruik word; en jasmyn en viooltjies kan as kalmeermiddel werk. Blomme kan langer hou in 'n pot as 'n bietjie bababottel-steriliseerder bygevoeg word, en ook as die pasgesnyde blomme direk in lou water gesit word. 'n Mengsel wat ook in die blomme se water gegooi kan word is 10 ml strooisuiker, 1,25 ml Jik, en 10 ml suurlemoensap op 1 liter water. Ons het gesien hoe lyk en werk organiese wurms! Die grillerige goedjies help om jou kombuisafval (behalwe uie en sitrus) tot kompos te verwerk in maklik hanteerbare plastiese bakke. Een maal per week moet 1 liter water bo-oor die houer gegooi word. 

 

Kuns het voorlesings gereël. Daar is voorgelees oor "Gawie en sy gehawende geheue", asook 'n Engelse brief oor die frustrasie van Vergeet. 'n Gedig oor Bejaardes is voorgelees wat sê dat elkeen wat 'n bejaarde se agteruitgang verstaan, geseënd sal wees. Onder Opvoeding & Kultuur is 'n interessante algemene kennis vasvra gehou. Onder Openbare Sake is vertel van die gevaar daarvan om plastiese bababottels in die mikrogolfoond te verhit. Verhit melk en voedsel eerder in 'n glashouer.

 

In die Gesondheid-tydgleuf is vertel van 'n kursus oor Doodsbegeleiding wat bygewoon is.  Die verskillende fases ná 'n geliefde se dood is bespreek, asook hoe om met só iemand te simpatiseer. Hou ook genoeg afskrifte van jou geliefde se ID - selfs vir jare daarna. Hou genoeg geld in 'n aparte bankrekening, sodat dit jou nie onverhoeds betrap as jou geliefde se rekening ná afsterwe gevries word nie. Prosedure in die geval van 'n sterfgeval by die huis sluit in om die dokter sowel as begrafnisondernemer te ontbied. Die SAP moet ook verifieer dat dit 'n natuurlike sterfgeval was, en 'n doodsertifikaat uitreik. Die testament moet so gou moontlik bekendgemaak word, ingeval daar begrafnisreëlings in voorkom. 



Posted on 21 September 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

Tydens Jamestown se onlangse vergadering het Lucia Lieberum, saamroeper vir Landbou, die bome van die jaar behandel, nl. Bruidsbos (Genus Pavetta), en die Gewone Wildevlier (Nuxia Congesta). Sy het ook interessante feite oor die voël van die jaar, die Klein Flamink, gegee - wat 'n helderder pienk kleur het as die groter Flamink. Bosluise op honde, sowel as giftige plante vir diere is behandel. Plante sluit in die Salmsroos (selfs heuning wat hiervan gemaak is, is giftig!), sampioene, Kasterolieboom, narsingbolle, madeliefies, krismisrose, broodbome, uie en knoffel. Slangbos se gevare is ook uitgelig.

 

'n Blokkiesraaisel oor plante in die Bybel is gewen deur Antoinette van Pletzen. Met die oog op herwinning het Lucia ook gedemonstreer hoe plantjies in eierdoppe gekweek kan word - breek net die eierdoppe wanneer die plantjie uitgeplant word. 'n Silinder kan ook van papier gedraai word om saad in te kweek, en met plantjie en al geplant word, aangesien die papier dien as kompos. 'n Ekonomiese tuinlig wat met sonkrag werk is vertoon, en inligting oor verskillende kleure van die geharde Daglelies is gegee. Ten slotte is aarbeiplantjies (in papiersilinders!), asook uie uitgedeel.

 

Philna van Pletzen was afgevaardig Kongres toe, en het interessante Landbou inligting deurgegee. Sy het ook voorbeelde van woestynplante bespreek en aan elkeen 'n houer met 3 vetplantblare gegee wat DV na die Januarie 2012-vergadering gebring moet word om te sien wie s'n het die meeste vermeerder!

 

 

Philna van Pletzen aan die woord.

 

 

Lucia Lieberum by die tafel VOL plantjies!

 


 

Lucia vertoon die sonkrag-lig.



Posted on 09 September 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Antionette van Pletzen


Jamestown tak se dames het onder leiding van saamroeper Mariana van Pletzen swartbordjies gemaak om in die kombuis op te hang. Die bord word met bordkrytverf geverf en daarna op allerlei maniere versier. Die swartbordjies kan gebruik word om notas, inkopielyste of wat ookal op te skryf. Elke lid gaan met 'n pragtige bord huis toe. 
    

Demonstrasie: Gewone blikke (bv. koffie) word versier en daarna met plastiek koeldrankbottels “oorgetrek”. Die versierde blik word binne in die plat gedeelte van die bottel geplaas en dan vir 5 tot 8 minute op 100 grade gebak. Die plastiek smelt rondom die blik. Die boonste en onderste kante word netjies afgesny en siedaar, jy het 'n houer om te gebruik vir wat jy ookal wil. Dit kan ook maklik skoongemaak word.
    

Ons skryf ons dankie vir Mariana op ons nuwe borde!

 



Posted on 11 August 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

Hilda v/d Walt, voorsitter en saamroeper van Jamestown tak se Openbare Sake portefeulje, het baie moeite gedoen om interessante en noodsaaklike inligting deur te gee.

 

Menseregte: Die vertaling van Malema se haatspraakliedjie is voorgelees, asook Afriforum se motivering vir die hofsaak teen hom. Staan in alle situasies op jou regte en betoon wedersydse respek. 

 
Verbruikersake:
1. Hoef nie motor te diens waar jy hom aankoop nie.
2. Kan selfoonkontrak binne 20 werksdae kanselleer.
3. As jy deposito betaal het op iets wat bestel is en jy nie tevrede is nie, kan jy jou geld + rente terugeis.
4. Daar is 'n 6 maande waarborg op alle produkte en 3 maande waarborg op alle werk wat by jou gedoen word.
5. By Dubbel besprekings (bv. hotelle, busse, ens.) kan jy ook jou geld + rente terugeis.
6. Kwotasies mag nie geld vra as die persoon nie gebruik word nie, behalwe as vooraf gereël.
7. Maak seker jou rakprys en die prys by die kasregister is dieselfde!
8. Vra altyd kwitansies.
9. Alle klagtes oor mediese fondse kan aangemeld word by die Raad van Mediese Skemas by 086 
1123 267 of complaints@medscheme.co.za of die webwerf www.medicalschemes.com.
10. Jy mag Posbestellings binne 5 besigheidsdae kanselleer.
11. Om jou naam af te haal van Direkte Bemarking, kanselleer by Tel. 0861 362362.
12. Jy het die reg om 'n pakkie oop te maak en die inhoud te bestudeer vóór jy dit terugstuur, indien nie tevrede.
13. As jy iets ontvang wat jy nie bestel het nie en hulle kom haal dit nie binne 20 werksdae nie, mag jy dit hou.
14. SMS tariewe vir kompetisies is R1.50, tensy anders gespesifiseer.
15. "Grys produkte", m.a.w. ‘oorgedoende’ produkte, moet duidelik as sulks gemerk wees.
16. Verdere verbruikerswenke by 0861 843 384 en
contactus@thedti.gof.za

 

Veiligheid:
1. Hanteer die Internet versigtig. Moenie persoonlike inligting gee nie, en kinders moet ouers se toestemming kry om goed af te laai.
2. Moenie alleen loop nie.
3. Jy as ouer is verantwoordelik vir jou kinders! Kry tyd van hoe laat kind tuis verwag moet word.
4. Gaan haal kinders self by sokkies, ens.
5. Kinders moet hul huis se alarmkodes ken.
6. As jong kinders alleen by die huis gelos word, moet hulle weet wie om te bel in 'n noodgeval.
7. Laat kinders van kleins af hul adres en telefoonnommer ken.
8. Kinders moet SAP noodnommer 10111 ken!
9. Maak reëls vir oorslaap.
10. Moenie drankies van vreemdelinge aanvaar nie, en verkies geseëlde bottels.
11. Leer jou kinders waar om uit die huis te ontsnap in geval van 'n brand.
12. Leer jou kinders om oplettend te wees, om vreemde persone en voertuie te kan rapporteer.
13. Bevoegdheidsertifikate vir vuurwapens verval ná 'n sekere tyd en moet ook hernu word.

 

Sensus: 10 Okt 2011. Werkers kan geïdentifiseer word deur 'n geel hoed, geel baadjie en 'n identiteitskaart met 'n foto. Almal wat op 10 Okt binne SA se grense is, sal getel word - dit sluit babas, bejaardes en besoekers in. Die finale uitslag sal in Maart 2013 uitgereik word.

 

Padveiligheid:
Road Safety Commandments:
Do's: Ensure vehicle & Driver fitness; Wear seatbelts; Promote Pedestrian safety.
Don'ts: Speed; Drink & Drive; Overload

1. Gebruik paaie veilig en hou gereeld vir rusperiodes stil op die langpad. .
2. Gebruik die geel streep langs die pad slegs as jy nie verder as 150 m voor jou kan sien nie. As jy in iets in die geel streep vasry, is jy die skuldige.
3. Dra veiligheidsgordels, voor EN agter in die voertuig.
4. Moenie drink en bestuur nie. Pasop ook vir medikasie wat jou lomerig kan maak.
5. Spoed is die grootste oorsaak van ongelukke.
6. 40% van padsterftes is voetganger. Moenie tussen voertuie deur hardloop nie, en stap só dat aankomende verkeer jou kan sien.
7. Bestuur altyd met jou ligte aan - om te sien EN gesien te word!
8. Dis verpligtend vir voertuie wat ná 2006 gekoop is om 'n rooi driehoek in die voertuig te hê.
9. Wees op die uitkyk vir rondloperdiere, en ry dus veral in die nag stadiger.
10. Wees versigtig vir oorlaai en vir verbysteek. Moenie ongeduldig raak en kanse waag nie.
11. Let op kontrakborde langs padwerke. Rapporteer enige klagtes oor slaggate, klippe wat opskiet en skade veroorsaak, ens. by die betrokke nommer.
12. Uitstalling van padtekens wys die vlg.:
      Geel padtekens is Tydelike padtekens.
      Bruin en groen gee Inligting.
      Geel en swart / Wit en swart is vir Gevaar.
      Driehoek is Waarskuwing. 
 



Posted on 04 April 2011

Opvoeding en Kultuur se Joyce Marais het wyshede gedeel soos "If it is to be, it is up to me!"en "Believe in miracles - Don't quit!". Ook wenke oor "Hoe om 'n goeie VLV-lid te wees", en "10 Eienskappe om 'n week te begin". By lg. het sy o.a. gesê:


1. Dink positief; 2. Wees kalm in denke en optrede; 3. Wy jou energie aan iets groter as jyself; 4. Glo dat jy KAN; 5. Glo in Gebedskrag; 6. Verwonder jou in die alledaagse; 7. Die weg na geluk is geen haat of kwellings, verwag min en gee baie, vergeet jouself en dink aan ander; 8. Vergeet die teleurstellings van die verlede; 9. Vermy negatiewe mense; 10. Glo en Oorwin, want Aanhouer wen!

 

Inligting oor Frankryk is gegee en opgekikker met uitstallings. Daar is afgesluit met 'n vasvra.
Port St Johns en Lusikisiki is dorpe van die Pondoland-streek, maar ook Qumbu (waar Nelson Mandela grootgeword het). Die hoefyster-eiland in die Nzimhlovurivier naby Flagstaff is 'n groot toeriste-aantreklikheid. Die Pondo's se hoofvoedel is putupap en vis.

 

Tydens 'n Kersseremonie is 3 kerse opgesteek: vir VLVK, vir Frankryk, en vir Pondoland.

          

Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

Op die foto is Joyce Marais by een van haar uitstallings, en die ander foto is haar Pondo-uitstalling.

 


 

 



Posted on 14 March 2011

Op Dinsdag 1 Maart het Mona Nel van Modderfontein, Jamestown, haar 80ste verjaardag gevier. Haar jongste dogter, Elmarie, en haar man Daan Joubert van Kroonstad, het spesiaal gekom vir die groot geleentheid, terwyl die oudste dogter, Cecile, se seun Casper jnr. darem teenwoordig kon wees.

 

'n Groep vriende van hul kerkwyk, asook van die plaaslike VLV het heerlike verversings aangebied by haar en Casper snr. se huis, aangesien Mona se gesondheid nie toelaat dat sy 'n groot okkasie kon aanbied nie. 

 

Mona Nel was 'n nooi Stephansen van Deense oorsprong en het haar skoolloopbaan in Pretoria voltooi en ook daar gewerk. Sy is al 58 jaar getroud met Casper Nel, 'n boer van Jamestown, en hulle het 2 dogters en 1 kleinseun.

 

Sy was haar lewe lank baie betrokke in die gemeenskap - hetsy in die verenigingslewe, kerk, skool, of om haar bedrywige man te ondersteun in sy vele aktiwiteite! Vele ouer vroue kan daarop roem dat hulle aan Tannie Mona se voete geleer het van betrokke wees by jou medemens en van sáámwerk. Sy het 'n resepteboek "Vat Vlam!" vir die NG Kerk saamgestel en 'n Hooglandtoer (per bus) gereël. Daarby was sy ook 'n beoordelaar by die VLV. Sy is ook baie kunstig en behalwe olieverfskilderye, het sy al 'n groot verskeidenheid groetekaartjies gemaak.


  



Posted on 03 March 2011

Vir die Leefstyl-program het Christell Venter eerstens wenke gegee oor hoe om kaste te organiseer, en toe vir lede wenke gevra. Sy het vertrek vir vertrek behandel, en almal het ywerig deelgeneem. Organisering lewer onskatbare resultate!


1. Sit iets dadelik op sy plek.
2. Leer man en kinders om netjies te wees.
3. Moenie opgaar nie.
4. Strokies hoef slegs 5 jaar gebêre te word.
5. Strokies en Handleidings van elektroniese apparaat moet apart gebêre word.
6. Vra rekeninge elektronies aan en spaar 'n boom.
7. Liasseer goed in skoendose.
8. Sit messegoed afskortings in laaie.
9. Fotostateer inhoudsopgawes van handwerktydskrifte en liasseer - om vinnig
    na te slaan watter tydskrif benodig word.
10. Bêre foto's op CD's.
11. Mandjies vir opgerolde handdoeke en vir al die botteltjies in die badkamer.
12. Outydse hangkaste kan vir pakplek ingerig word.
13. Sit naamplakkers op laaie.
14. Vakuum verpak wintersklere en komberse.
15. Plaas entstowwe in 'n aparte houer in die yskas.
16. Hang fietse in die garage op.
17. Slaan botteltjies se deksels aan die onderkant van rakke in die garage vas,
     en draai die bottel dan in sodat dit hang.
18. Maak lysies om jou te herinner.

 

 

N.a.v. ons voortdurende opleiding in rekenaargeletterdheid, het Christell Venter verduidelik hoe die "SNIPPING  TOOL" werk wat van die Internet afgelaai kan word. Daarmee kan 1 item uit 'n bondel op 'n prentjie gehaal word en apart gestoor word op die rekenaar.

 

Vervolgens het Ilse van Vuuren 'n kookkompetisie aangebied waaraan 2-2 in 'n span moes deelneem. Elke span het 'n paar bestanddele en kombuisapparate gekry, en slegs 20 minute om iets daarmee aanmekaar te slaan. Aartappelgeregte en selfs 'n biefburger-op-'n-stokkie is aangebied!

 

Philna & Antoinette van Pletzen probeer kop of stert uitmaak van die bestanddele....

 

 

Mariana van Pletzen en San Wagenaar is darem al goed op dreef.......


 

Daar was 'n taamlike geskarrel óm die enkele stoof .......!

 

 

Ná die tyd kon almal darem proe aan die "Let's Cook"-pogings! Christell Venter sit regs met Lucia Lieberum, Mariana van Pletzen, San Wagenaar en Ilse van Vuuren agter haar. Links sit Philna van Pletzen en Veronica van Vuuren.

  

 

 

 

Categories