Posted on 13 November 2011

Beriggewer: Christel Viljoen
 

Die lede en vriende van Jongensklip VLV het Dinsdag 8 November 2011 die jaar afgesluit te Dasberg Gastehuis net buitekant Riviersonderend. 
 

Die voorsitter Madelaine du Toit het almal welkom geheet en Ruby Cope het die vergadering geopen met skriflesing en gebed. Daarna het Sonette de Kock die jaarverslag gelees oor al ons doen en late gedurende 2011. En wat ‘n lywinge verslag was dit nie – van uitstappies, interessante vergaderings en sprekers, kongres en konferensies, kompetisies tot lede wat babas gekry het en selfs ‘n lid wat verloof geraak het (dit het laaaanklaaas in ons tak gebeur!).
 

Henriette Swart het vir ons ‘n boodskap gebring met die tema “bou ‘n brug”. Sy het dit baie effektief deurgetrek na ons hedendaagse take as moeder, vrou, versorger en as mens! Ons is baie geïnspireer vir die laaste pylvak van die jaar wat nog oor is.

 

Henriette aan die woord.

 

Die wisseltrofee is ook oorhandig en die volgende persone het trofee ontvang:
- Madelaine du Toit – Trofee vir gebak en die Trofee vir naaldwerk
- Christel Viljoen – Trofee vir kunste en handvlyt
 

‘n Besonderse prestasie was die oorhandiging van Corrie Fourie se 40 jaar kenteken. Corrie is vir ons ‘n aanwins en voorwaar ‘n voorbeeld om na te streef!


 

Madelaine en Corrie.

 

Die Vonkelvrou van die jaar is Christel Viljoen.

 


Daar is ook aan sewe van ons lede VLV suikerlepeltjies oorhandig vir 100% bywoning. Met sulke pligsgetroue lede kan enige tak die wa deur die drif trek!


 

 

 

Die bestuur vir 2012 is as volg:
 
Voorsitter: Madeleine du Toit
Visevoorsitter: Corrie Fourie
Sekretaresse: Sonette de Kock
Tesourier: Elbe Fourie
 
Sameroepers:
Kunste en Handvlyt: Christel Viljoen
Opvoeding en Kultuur: Mecarla Kriel
Openbare Sake: Annelie Swart
Landbou en Tuinbou: Saret du Toit
Leefstyl: Corrie Fourie
Gesondheid: Matty van der Heyden
 

 

Nadat al die geheime vriendinne hulle geskenkies uitgeruil het en heerlik gelag het oor al die verrassings, het ons aan ‘n heerlike ontbyt weggelê wat voorberei is deur Landi Viljoen van Dasberg Gastehuis. 
 
Voorwaar ‘n heerlike oggend om ‘n besige en vol VLV jaar mee af te sluit!

 

Ek hoop die lede van Jongensklip rus heerlik uit, natuurlik as al die manne eers klaar geoes is, en kom 2012 terug met hope energie! Ons gaan dit nodig hê vir die konferensie in Maart 2012!



Posted on 17 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Christel Viljoen


Met Jongensklip tak se Oktobermaand vergadering, het Marianna Blom van Bredasdorp met ons kom gesels oor die emoe, wat soms verkeerdelik as ‘n klein volstruis beskou word.

 

Alhoewel die emoe ook nie-vlieënd is soos die volstruis, is dit baie kleiner en sy vere lyk heeltemal anders. Die emoe is oorspronklik van Australië, maar kom ook in Amerika voor. In 1994 is die eerste eiers na Suid-Afrika gebring om mee te boer. Die emoe is ‘n baie mak, nuuskierige dier en baie min aggressief. Die voëls pas maklik aan in verskillende klimate.

 

Die emoe word hoofsaaklik vir sy vleis en sy olie gebruik. Hulle voorsien 20 tot 30 pond ysterryke rooivleis wat laag is in vet en cholesterol. Slegs die boud- en nekvleis kan gebruik word en dit proe baie na volstruisvleis.

 

‘n Volwasse emoe lewer 4 tot 5 liter rou olie. Die olie kom slegs op die bokant van die rug en direk onder sy vel voor en word tydens die slagproses uitgesny en dan vakuumverpak. Sodoende word die olie dan uitgepers. Dis ‘n baie natuurlike olie wat anti-inflammatories en hoog in antioksidante is. Dit kan vir vele skete en pyne gebruik word. Dit beveg jig en rumatiek, genees skrape, snye , ekseem, brandboude en brandwonde. Die olie is hoog in Vitamien E en bevat Omega 3, 6, 7 en 9 vetsure.

 

Benewens al hierdie wonderlike feite, is die mees eienaardigste feit dat die voël ‘n grasgroen eier lê wat kompleet nes ‘n avokadopeer lyk! Dis heelwat kleiner as ‘n volstruiseier, maar het ‘n romerige tekstuur en proe meer soos roereier met mayonnaise gemeng, (my groen eier lê nog in die yskas, sal hom maar mettertyd aanpak….). Emoes lê normaalweg tussen 20 en 30 eiers per seisoen.

 

‘n Laaste interessantheid oor die emoe, is dat die mannetjie en wyfie dieselfde lyk, maar uitgeken word aan hulle verskillende geluide. Tydens die hofmaakproses maak die emoe-wyfie ‘n trommel-geluid in haar lugsak. Die mannetjie maak ‘n gromgeluid soos ‘n wildevark. 

 

En dan doen die arme emoe-mannetjie omtrent al die werk as dit kom by die broei en grootmaak van die kuikens – ja nee, die emoe-wyfie lê net eiers tussen Mei en September, en dan moet die mannetjie maar toesien dat sy kroos groot word. Dink nie die emoe-wyfie sou ‘n baie goeie VLV lid uitgemaak het nie, of hoe???

 

 

Marianna Blom.

 

 

 

Die eiers lyk pure advokadopeer.

 

 

 

Emoe-olie en ander produkte.



Posted on 28 February 2010

Christel Viljoen het vir ons nuus gestuur oor Jongensklip tak se bootrit op die Kleinrivier.

 

Sondagmiddag, 21 Februarie, het 40 Jongensklip-lede (darem mans ingesluit) op ‘n heerlike bootrit gegaan. Die”platters” was gepak met die allerheerlikste eetgoed soos net hierdie boervrouens kan en die mans het gesorg vir die “coolbags” en glase. Die bootrit was vir sommiges aan die begin maar vreesaanjaend, maar toe ons eers die water tref, was die vrese verby!  Jonk, oud, kranklik , selfs 2 swanger mammas en ‘n klein babatjie, was aan boord en dit kon net nie lekkerder gaan nie!!

 

Die doel van die uitstappie was om ons VLV lede se mans te bederf en dankie te sê vir al die opofferinge wat hulle soms moet maak, sodat ons 100% kan gee vir VLV.  Verlede jaar het ons hulle bederf met ‘n heerlike Steak-aand!

 

Sowaar ‘n dag en uitstappie wat ons almal geniet het. Ek dink die mans gaan dit ‘n jaarlikse instelling wil maak!!!

 

  

 

  

 Van die manne was braaf en het die rivier aangedurf op binnebande!

 

 

 

 

 

Jongensklip se Bestuur 2010

Voorsitter:  Madeleine du Toit
Visevoorsitter:  Corrie Fourie
Sekretaresse:  Sonette de Kock
Tesourier:  Elbe Fourie

Sameroepers:
Kunste en Handvlyt:  Christel Viljoen
Opvoeding en Kultuur:  Alena Steenkamp
Openbare Sake:  Annelie Swart
Landbou en Tuinbou:  Saret du Toit
Leefstyl:  Corrie Fourie
Gesondheid:  Hezanne Viljoen

Vonkelvrou: Marietha Groenewald

 

 

Agter: Madeleine du Toit, Sonette de Kock, Hezanne Viljoen, Saret du Toit, Corrie Fourie, Christel Viljoen
Middel: Elbe Fourie, Annelie Swart, Voor: Alena Steenkamp

 

 



Posted on 18 October 2009

Christel Viljoen vertel van die verjaarsdagvieringe in die Overberg. . .
 
 
Op 'n pragtige lenteoggend, het die dames van VLV takke Jongensklip en Caledon saam die VLVK se 80ste verjaarsdag gevier. Die gasvrouens het elkeen  tafels in hulle eie unieke en besonderse styl gedek in die NG Wes kerksaal te Caledon.
 


Die oggend is afgeskop deur Retha Skein, Voorsitter van Caledon tak,  wat almal hartlik welkom geheet het by so 'n besonderse geleentheid. Sy het ook die opening behartig deur 'n gedeelte te lees oor hoe ons as vrouens God se vingerafdrukke op ander moet agterlaat deur die loop van ons dag tot dag verpligtinge. Daarna is die spreker van die oggend aan ons voorgestel.


 
JP Rust is 'n ongelooflike, spesiale jong man wat sy lewensverhaal met ons kom deel het. Wat hom so besonders maak, is die feit dat hy as doodgewone, gesonde seuntjie gebore is en groot geword het, maar op 11 jarige ouderdom met aplastiese anemie gediagnoseer is.  Sy jonger boetie was 'n geskikte skenker en sodoende kon hy stamselle van sy boetie ontvang om hom gesond te kon maak. Na vele chemoterapie en bestralingsessies, kon hy as gesonde seuntjie weer met sy lewe voortgaan.
 
Na skool, gaan studeer hy landbou op Wellington en geniet sy lewe as student voluit, tot die aand van 11 Maart 2005, toe hy en 'n vriend in 'n motorkaping betrokke was in Stellenbosch.  Deur die Here se genade, het hulle by 'n robot uitgespring en het met geringe beserings die voorval oorleef.
 
Na sy studiejare op Wellington, gaan werk hy op die plaas Watervlei in die Wellington-omgewing, en hy leef sy passie vir boerdery uit.  Tot op die oggend van 16 Mei 2007, toe hy gedurende saaityd, sy linkerarm verloor toe die trekker se "PTO" sy arm by sy skouer afruk. Die medici kon op geen manier die arm red nie, en moes sy linkerarm amputeer.
 
Wat hierdie jong man so uniek maak, is dat hy deur al hierdie beproewinge, nog steeds op kyk en vorentoe gaan. Hy glo dat geloof in jou nekwerwel sit; jy kan of OP kyk en aangaan met die lewe, of jy kan AF kyk en op 'n bondel gaan sit en vergaan.  'n Absolute aansporing vir ieder en elk!!!
 
Deur al die beproewinge, het sy ma as vrou, altyd vir hom as anker en kragbron uitgestaan en sy is vir hom 'n regte rolmodel!
Hy het deur sy lewe geleer, soos daar in 2 Kor 4:7 staan dat ons lewens soos kleipotte is. Syne het soms gekraak en het al selfs gebreek, maar God het elke keer die stukke opgetel en dit weer geheg!
 
Na sy roerende praatjie, het hy vir ons vertel en gewys hoe sy prostese werk, wat so ongeveer R600 000 kos!!!  Merkwaardig wat die wetenskap en medici vandag kan vermag!


 
Hetsie van Schalkwyk het daarna 'n pragtige gedeelte uit die stuk "As it is in Heaven" gesing en menige harte geroer. Daarna het Madeleine du Toit, voorsitter van Jongensklip, die bedankings gedoen en die gaste uitgenooi om meermale by die VLV te kom "kuier"!

 
En soos dit natuurlike ENIGE VLV geleentheid betaam, het 'n heerlike spyskaart op ons gewag:
 
'n Heerlike muesli, joghurt en vars vrugtekelkie met vars vrugtesap
Pannekoeke gevul met spinasie en fetakaas, en ook met fyn hoender en 'n Griekse slaai
Roompoffertjies, Brandewyntertjies en Koeksisters
En natuurlik het die sjampanje nie agtergebly nie!!!
 

'n Heerlike oggend is gevier met lede, vriende en kennisse om 'n merkwaardige mylpaal in die VLV geskiedenis te vier!

Mag die volgende 80 jaar met netso veel styl, toegewydheid en sukses uitgeleef word.
 
VLVK, ons salueer jou!!!!!!

 

Retha Skein, JP Rust en Madeleine du Toit

 

 JP verduidelik die werking van die prostese

 

 Verjaarsdag-kolwyntjie-toring

 

 Wentafel van Christel Viljoen

 

 Madeleine du Toit se tafel

 

 Caledon tak se tafel

 

 Smaaklike ete!

 

 Jongensklip se "jongste lid" - net 6 weke oud



Posted on 07 October 2009

‘n Groep van VLV Jongensklip, Overberg sirkel, was op ‘n uitstappie na Elim om daar die Elim Tehuis vir fisiek en serebraal gestremde persone te gaan besoek.  En was dit nou ‘n ervaring wat ieder en elk se harte diep geraak het. ‘n Mens is ongelooflik dankbaar vir al die talente en gawes wat ons elke dag uit die Hemelse Vaderhand ontvang.

 

Ons het ook slaapsokkies aan van die inwoners in die Tehuis gegee, en is ingelig oor wat presies die Tehuis as skenkings sal waardeer, bv. slaapsokkies, sokkies, sweetpakke, weggooidoeke, nie bederfbare produkte ensovoorts. Die verpleegpersoneel onder leiding van Suster Engel, is regtig engele uit die hemel wat met soveel liefde en deernis na die mensies omsien!!!

 

Ons het toe die ou kerk in Elim besoek, en daar bietjie meer van die geskiedenis en rituele geleer wat vandag nog, soos in die verlede, toegepas word. Die kerk is spierwit binne en definitief enige bruid se droom kerk!!

 

Ons het ook die bakkery besoek wat vars brood en koekies bak en aan die plaaslike tehuis en winkels verskaf.

 

Daarna het ons teruggekeer na Bredasdorp en natuurlik nie die Kapula Kersfabriek misgery nie!  Amper was die bussie te klein vir al die aankope!!!

 

‘n Heerlike middagete is ook daar genuttig en na ‘n heerlike dag is elkeen weer terug na hulle eie wonings.

 

Beriggewer:  Christel Viljoen

 

Hier oorhandig VLV lid Annelie Swart en VLV Jongensklip se voorsitter Madeleine du Toit, se kleindogter die slaapsokkies aan Suster Engel by die Elim Tehuis

 

Elim  kerk van binne

Categories