Posted on
04 November 2009
Elsabe Myburgh het nuus gestuur oor Kakamas se verjaarsdagvieringe.
VLV Kakamas se dames het op ‘n spoggerige wyse VLVK se 80ste verjaarsdag gevier op 17 Oktober 2009. Die saal in Kalahari Gateway Hotel het pragtig vertoon met die mooi versierde tafels en blomme en verjaarsdagkoekies vir elke dame. Die gasspreker, mev.Latitiae van Rensburg, het die tema “Reik na die Sterre” gekoppel aan vandag se gesinslewe, wat baie blootgestel is aan uitfasering ten opsigte van die lewenstyl wat ons handhaaf.
Mev. Juanne Strauss het die dames toegespreek met ‘n terugblik oor 80 jaar heen. Sy het die dames laat skaterlag en daar is heerlik gelag en gesels.’n Heildronk is ingestel en 80 kersies op 80 handversierde vrugtekoekies is aangesteek. Vrygelate ballonne het die verskuilde kind al jillend en gillend in die dames na vore gebring.
.jpg)
.jpg)

Posted on
07 October 2009
VLV-Kaapland het in samewerking met Vrouekeur ‘n entrepreneurskompetisie geloods. In die kategorie eenmansaak was Keppies Spangenberg van Kakamas die wenner. Vir ons wat haar ken en weet hoedat sy kan bak en brou, was dit nie ‘n verrassing nie, maar blye nuus!!!
Haar eie spyseniers onderneming wat sy uit haar huis bedryf, het die wentitel aan haar besorg. Haar spyseniering in Kakamas loop op ‘n galop as sy eers die groenlig van belangstellendes gekry het. Dit het klein begin eers van die plaaskombuis tot nou in die dorpshuis. Mosbeskuit, beskuit en spyseniering bly ‘n smaaklike uitdaging en vergeet nie van die troues waar 450 gaste aansit nie.
Haar onderneming “Eet saam met Keppies” is in Kakamas alombekend en vir die vroue al hier ‘n trots en ‘n lekker bederf. Harde werk ken sy. In die begin van 2009 het sy ook begin om Wiskunde aan die Hoërskool Kakamas te gee. Hoe kry sy dit reg het ek gevra? “Gelukkig het ‘n dag ook ‘n nag”, het sy gelag.
Ons VLV tak is baie trots op haar en die positiewe beeld wat sy van haarself en ons tak kan uitdra na ons dorp en gemeenskap.
Baie geluk Keppies. Wel gedaan!
Beriggewer Elsabe Myburgh

Keppies Spangenberg, Voorsitter van VLV Kakamas tak
Posted on
18 September 2009
Elsabè Myburgh het laat weet. . .
VLV Kakamas het die allerheerlikste uitstappie na die Masterrein, net buite Kakamas gehad, tydens hulle Landbou portefeulje bymekaarkoms op 16 September. Lede het met die wa en trekker deur die wingerde gery om te gaan wyn proe in die maskelder, waar wynmaker Kobus Viviers die woord gevoer het. So tussen die proe deur het hy lede meer vertel van al die verskillende wyne wat daar gemaak word. Lede het hom gepeper met vrae, terwyl daar lustig gesmul is aan heerlike broodjies, wat verhoed het dat die dames se wangetjies te rooi word van al die lekker geproe.
Kakamas se VLV sal die lekker middag tussen die wingerde nog sommer lank onthou.

