Posted on 08 June 2011

Portefeulje: Leefstyl

 

Rachel van Wyk bedryf ‘n haar- en grimeersalon in Kleinmond en sy het met die dames van Kleinmond tak gesels oor hoe ouer dames moet grimeer.

 

Ons velle het baie aandag en sorg nodig – pamperlang is die woord. Was die gesig  met ‘n goeie gesigwasmiddel wat geskik is vir jou veltipe, daarna kom die verfrisser (toner) en dan die dag- of nagroom. Vryf dit aan tot op die skouerhals.

 

Maak seker jou onderlaag pas perfek by jou veltoon en veltipe. Wend aan met ‘n sponsie of kwassie. Sit poeier liggies op jou onderlaag sodat die grimering langer kan hou. Met ’n vel wat neig tot lyne en plooie, is dit beter om ’n ligte, los poeier te gebruik wat deurskynend lyk. Wees altyd versigtig onder die oë, aangesien dit fyn lyntjies sal beklemtoon – die vel daar is baie sensitief.

 

Oogskadu is baie belangrik, want dit beklemtoon die oë.  Aardse kleure werk die beste. Oppas vir groen en blou kleure. ‘n Fyn lyntjie kan onder die oog getrek word met ‘n sagte oogpotlood, wat die oë beklemtoon. Wend ligte oogskadu net onder die wenkbrou aan om die oë te lig en die grimering af te rond.

 

‘n Haartangetjie is handig om 'n lastige wenkbrouhaar of twee mee uit te pluk, maar pasop om nie te veel haartjies uit te trek dat jy later geen wenkbroue het nie. Vul wenkbroue in met ‘n sagte, goeie oogpotlood in ligte bruin of grys kleure en wees versigtig om die strepie nie te smal of te lank te trek nie. 

 

Maskara laat die wimpers digter en langer vertoon en beklemtoon die oë. Bruin of swart maskara kan gebruik word, alhoewel bruin maskara ‘n sagter voorkoms gee.

 

Blosser gee lewe aan die vel. Glimlag, en borsel dan 'n sagte pienk (of brons) blosser oor die appel van die wang vir 'n helder gelaat. Moenie jou wange te rooi maak nie!

 

Kies ‘n kleur lipstiffie waarvan jy hou en waarmee jy gemaklik voel. Elke vrou moet lipstiffie in haar handsak hê. As jou lippie mooi lyk rond dit die prentjie van jou gesig af, al dra jy geen ander grimering nie. Voller lippe kan wegkom met meeste kleure, maar dun lippe moet donker skakerings vermy, want dit laat die lippe nog dunner lyk.

 

Beriggewer: Nelia Theunissen

 


 

Rachel van Wyk. 

 

 

Annie Jooste, Rachel en Nelia Theunissen, wat model gespeel het vir Rachel.

 

 

 

Christine Lambrechts en Lorraine van Aarde.

 

 

 

Nelia Theunissen.



Posted on 27 February 2011

Dis met groot hartseer dat Kleinmond tak afskeid neem van ons visevoorsitter, Vi Honiball, in die ouderdom van 84 jaar. Sy is Maandag, 21 Februarie 2011, skielik oorlede.

 

Ons sal Vi onthou as ‘n ware dame wat haar werk by die VLV met deernis en soveel liefde gedoen het. Sal ons ooit haar uitsonderlike borduurtalent vergeet? Sy kon pragtig borduur en het vele meesterstukke gemaak. Sy het vir ons tak ‘n pragtige vaandel borduur en het ook haar talent met menige vroue, vir wie sy borduurklasse gegee het, gedeel.

 

Vi het maandeliks gesorg dat elke lid wat verjaar ‘n mooi handgemaakte notaboekie kry as geskenk van die tak.  Al hierdie mooi  herinneringe  is vasgepen in ons harte en ons eer haar nagedagtenis.

 

Sy het in 1990 by die VLV aangesluit  en in 1994 word sy sameroepster van Naaldwerk. In 1997 word sy tot  Visevoorsitter verkies.  Met ons eerste algemene vergadering van die jaar het sy haar kenteken vir 20 jaar diens ontvang.

 

So now it’s time for us to say goodbye, so let’s bless the memories in our hearts. Life must go on, and so must we.  FAREWELL our dear gentle Lady.

 

Beriggewer: Nelia Theunissen

 

 

 

 

 



Posted on 30 November 2010

‘n Heerlike potpourri van blomme, Kersinkopies, demonstrasies, pryse en eetgoed het die VLV lede van Kleinmond verwelkom by die afsluitingsvergadering.


Die hoofdis was beslis die blommedemonstrasie deur die Overbergse baasrangskikker Jeff Milne, wat met die tema “Minimum materiaal met maksimum effek” gewys het hoe daar gou met min blomme ‘n feestelike effek vir die kuierseisoen geskep kan word.

 

Selfs by die buitebraai kan in die swartpotjie ‘n vuur-en-rook effek verkry word. Sit deurweekte oases in die pot en plaas ‘n ring van gedroogde wingerdlatte bo-op. Vul dit met oranje-rooi en geel speldekussings, pienk proteas en vuurpunte en versier dit verder met ‘n paar droë swart bamboeskrulle, vaal slangbossies en jakkalsboegoe om die rookeffek te kry. Rond dit af met ‘n paar dun palmtakke.

 

 

Vir die Kersbuffet het hy vyf gedroogde krismisrooskoppe in ‘n langwerpige koperbak gesteek. Met ‘n geoefende hand is ses aspidistra-blare in driehoekige tuite gevorm, onopsigtelik vasgekram en eweredig tussen die krismisrose ingesteek. Ter afronding is ses agapanthus in volle blom op verskillende hoogtes in die blaaropeninge gesteek.

 

 

Nog ‘n vinnige treffer was die “handrangskikking” in die platpot met die nou bekkie. Eers is twee ringe van droë wingerdlote op die pot geplaas met twee kort gesnyde blou krismisrose in die nou bekkie van die pot. Daarna het hy die vier wit agapanthus in sy hand gerangskik, korter geknip, met ‘n rekkie vasgemaak en toe ook in die bek van die pot gedruk. ‘n Houtkrul is bygesit en gebalanseer met twee reuse varkoorblare. Daarna is die platpot op ‘n “stofie” gesit om ‘n swewende effek te verkry.

 

 

Nog drie rangskikkings het gevolg met o.a. varklelies, ystervarkpenne en feëtjieliggies, drie pienk anthiriums op ‘n bed van slangbos in ‘n groot vierkantige glaspot en dan in ‘n plat glasbak geplaas met kerse en wit klippies en dan laastens het hy met slegs vyf reuseproteas, drie strelitzia-blare waarvan uit die blare vierkante gesny is en seweweeksvarings afgerond met “dodder”om bloemistedraad gedraai, ‘n saalrangskikking geskep.

 

Hy het die dames weer daaraan herinner dat ons slegs die wondere van die Skepping by ons kinders leen en geleende goed gee mens terug in die toestand waarin jy dit gekry het!

 

Tussendeur het sy assistent, Johan Odendal, die VLV dames verstom met sy servetvoukunsies, pragtige handgemaakte papierartikels en ‘n heerlike suurlemoentert.

 

Beriggewer: Hermien van Zyl



Posted on 06 September 2010

 

Kleinmond tak het tydens die Augustus vergadering met hierdie baie belangrike en interessante, maar miskende, voorbeeld van vroeë Suid-Afrikaanse kinderlektuur kennis gemaak.

 

Me Sigi Howes, Hoof van die Sentrum vir Bewaringsopvoeding (wat ook die Onderwysmuseum insluit) in Wynberg, Kaapstad, het haar navorsingsresultate oor die dagboek wat deur die jong  Iris Vaughan (1890 – 1977) vanaf  7-13 jarige ouderdom gehou is, met die groot gehoor gedeel. 

 

Daar is egter bitter min inligting oor Iris in enige van die Suid-Afrikaanse letterkundige beskrywings. Slegs in die National English Literary Museum in Grahamstad is daar ‘n paar briewe en geskrifte. Die eerste uittreksels uit die dagboek is eers in 1949 in die Adelaide Free Press gepubliseer as ‘n reeks artikels getiteld  “I turned back the Leaves of the Years in Adelaide”. Dit is in 1958 vir die eerste keer deur CNA in boekvorm uitgegee.

 

Iris Vaughan se pa, Cecil Vaughan, was rondom die 1900’s ‘n magistraat in die Oos-Kaap. Die familie het o.a. op Cradock, Maraisburg (tans Hofmeyr), Adelaide en Fort Beaufort gewoon. Haar pa het haar aangemoedig om ‘n dagboek te begin om daaglikse gebeure uit haar perspektief neer te skryf – “to tell the truth and nothing but the truth, so help me God” – want grootmense en kinders se waarhede verskil soms!

 

Met ‘n verbasende taalvaardigheid en beskrywingsvermoë gee sy in kleurryke taal lewe aan sowat 215 karakters. Haar geliefde “Pops” (haar pa wat hom in sterk gekruide taal uitdruk), “Mr Goldi” oftewel Nathan Hirsch Goldschmidt, die Algemene Handelaar op Adelaide, “George” (Robert Mateza), die tolk in die hof op Hofmeyr wat  as gekwalifiseerde onderwyser van die Clarkebury Sendingskool vir haar en haar broer tydens die ABO-jare tuis in Wiskunde en Engels onderrig het en “Mr. Dominy” ( ds. Van Wyk van die N.G.Kerk) is maar ‘n paar van die karakters wat die leser in haar boek ontmoet.  Voorlesinge uit die dagboek deur Sigi Howes was kostelik selfverduidelikend!

 

Sigi Howes en Nicoleen Hoal, haar assistent, het tydens die navorsingsprojek Iris se dagboekbeskrywings van persone, plekke en gebeurtenisse gaan toets deur al die plekke in die Oos-Kaap te besoek, onderhoude met oorlewende familielede te voer en inligting in talle argiewe na te vors. 200 van die 215 persone wat Iris beskryf, is reeds geïdentifiseer. Verbasende ooreenstemming is ook gevind tussen Iris se beskrywings van bv. die hoeksteenlegging van die Queen’s Hospital in Cradock in 1897 en foto’s wat van die geleentheid geneem is. Ook haar beskrywings van die ABO, die Boere-Rebelle se invalle en haar pa se lidmaatskap van die Town Guard kan gestaaf word.

 

Tydens die oorlog verhuis hulle na Adelaide, waar die biblioteek ‘n groot indruk op die begaafde kind maak, ‘n vreugde wat sy met “Mr Goldi” deel. Daarna verhuis hulle na Fort Beaufort. Daar gaan sy skool saam met Leslie Niland, seun van die ryk beesboer Eddie Niland. Volgens die dagboek irriteer hy haar grensloos, maar na haar studie (sy volg die Intermediêre kursus met o.a. Wiskunde, Fisika, Geskiedenis, Hollands en Engels) aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad, trou sy in 1914 met hom en word ‘n boervrou.

 

In die Fort Beaufort Country Club staan die pragtige silwer Vaughan-beker vir krieket wat deur haar pa geskenk is, vandag nog. En by die ou Drostdy is nog kindergraffiti te sien as stille getuienis van Sondagmiddag-kattekwaad.

 

Berig deur Hermien van Zyl.

 



Posted on 29 July 2010

Dit was die vraag wat die VLV-lede van Kleinmond aan die Franse vrou, ikoon van stylvolheid, gevra het met hulle Naaldwerk-vergadering. Wat’s jou geheim Madame?

 

Toegelig met plakkate en uitstallings van serpe, handsakke en boeke oor Frankryk asook modelle wat vertoon het hoe sjiek ‘n wit hemp individualisties gebruik kan word met enige serp, het Annie Jooste en haar gasvroue die gehoor geboei met hul aanbieding.

 

Die vyf dinge waarsonder ‘n Franse vrou nie kan klaarkom nie, is ‘n serp, ‘n handsak, parfuum, ‘n wit bloese en mooi, goeie onderklere. Soos die Franse vrou moet ons stylvol en elegant wees. Dit kry ons reg deur klassieke klere te dra, maar ook af-en-toe ‘n bietjie waaghalsig te wees. Vergeet van ouderdom, wees lus vir die lewe, trek vir jouself aan en wees vol selfvertroue. Modeneigings kwyn, maar styl bly.

 

Ander bydraes is gelewer deur Mereille Nel wat die vergadering met die voorlees van Ps. 23 in Frans geopen het, Ninnie Burger wat oor parfuum gepraat het, Mariëtte Serdyn wat vertel het hoe laventelolie help vir slapeloosheid, blase, snye en muskiete, en Rita du Toit het die verskil tussen gekweekte, varswater- en nagemaakte pêrels en mabés verduidelik.

 

Alle egte pêrels vandag is gekweektes. Die in seewater gekweek is duurder omdat die oestertjie sterf nadat die pêrel uitgehaal is. Varswaterpêrels word in mossels gekweek en ‘n hele paar kan op ‘n slag daarin geplaas word. Die mossel kan ook weer gebruik word. Mabés is halwe bolvormpies wat in oesters geplaas word. Versorging: sit eers jou parfuum en haarsproei aan en dan jou pêrels en vee die stringetjie met ‘n skoon, klam lappie af na jy dit gedra het.

 

Pragtige sang deur Hannie van Wyk se groepie en uitstallings deur die Lieflappers en die Kloskantgilde het ‘n reeds heerlike vergadering verder opgehelder.

   

 

 

Fifi Krige en Annie Jooste(sameroeper vir Naaldwerk) by die uitstalling van serpe en handsakke.

 

Categories