Posted on 15 November 2011

Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 2 November 2011

 

Op die laaste vergadering van Kuruman tak is ‘n bietjie aandag aan woorde in kuns gegee. Maca de Klerk wat voltyds kunsklasse aanbied, het 'n wye oop landskap van Jan Groenhart gebruik as inspirasie.Sy het die skildery in akrielverf gedoen terwyl sy vertel het waarna mens moet oplet.
 

Die tegnieke wat jy gebruik om diepte en afstand in 'n landskapskildery voor te stel is:
1) Voorwerpe word kleiner en dowwer hoe verder weg hulle is.
2) Kleure beweeg nader aan blou en ligter hoe verder weg hulle is.
3) Teksture raak al meer weg hoe verder weg hulle is.

'n Skildery is soos 'n visuele toneelopvoering wat met verf gedoen is. Daar’s 'n storie of tema en hoofkarakters en byspelers wat saam die storie vertel. Hoe jy dit wat jy sien ervaar, vertel vir jou, jou eie persoonlike storie.
 

Maca se opinie is dat woorde in 'n skildery subtiel moet wees, eerder nog 'n dimensie van die skildery as die fokuspunt. Daarom ook in die kleurskakerings van die omliggende dele, maar effens donkerder sodat dit gelees kan word. Jy moet die skildery eerste sien, nader staan om beter te kan sien en dan eers moet die woorde bydra tot die storie van die skildery.

 

Die woorde wat sy laaste bygevoeg het was:"Winde van verlange, saai my drome wyd..." en dit was asof mens in die skildery kon inklim en deelword van 'n verlange, 'n droom waarmee jy wil eenword! Ongelooflik wat woorde in 'n skildery kan doen!
 

 

Die lede is verder aangemoedig om te skryf, toe Mev Edna Duvenhage wat gereeld VLV letterkundekompetisies beoordeel, almal aangemoedig het om te skryf. 'n Goeie wegspringpunt is om 'n idee/tema te neem soos byvoorbeeld: Die Glasvenster, wat die Dameskring onlangs gedoen het, en dan skryf elke persoon die gedagtes wat by jou opkom. Die uniekheid van elkeen se skepping gee selfvertroue. Die skryfproses is ook nie dadelik afgehandel as jy die laaste woord geskryf het nie. Soos met 'n skildery staan jy terug, slaap daaroor en die volgende dag gaan jy aan en verander totdat jy tevrede is. Skryf is om te herskryf.
 

Wanneer 'n kompetisie vra vir 'n skets, moet jy onthou dat jy slegs die buitelyne moet verskaf. Dink aan 5 hoogtepunte, en dit moet 'n prentjie laat in die leser se verbeelding. Daar is 'n groot behoefte aan 'n skryfkursus en ons hoop om dit vroeg volgende jaar aan te spreek.
 

Die item was deur Nicole Aucamp en Gerhard Spangenberg wat haar op die kitaar begelei het. Kuns, musiek, woorde... ons het soveel sintuie om die lewe optimaal te beleef en te geniet!

 

 



Posted on 09 November 2011

Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Petro Spangenberg
 

Mnr Johan Coetzee, oogkundige by Eye Catchers op Kuruman, is passievol oor sy werk. Met behulp van 'n skyfievertoning het hy gewys van al die aanpassings wat in Optometrie gedoen kan word om sigprobleme reg te stel. Hy beklemtoon dat skeelogies by kinders teen die ouderdom van 5 jaar reggestel behoort te word en ook dat ons nooit die oor-die-toonbank oogdruppels moet gebruik nie. Mens slaap ook nie met kontaklense nie aangesien die oog suurstof nodig het en 'n fyn balans van vog gehandhaaf moet word. Gereelde handewas help dat ooginfeksies nie so maklik versprei nie. Pas jou oë op, laat oogdruk gereeld nagaan en moenie veranderings in visie ignoreer nie - dit kan dui op ernstige toestande.


Mev Liza Burger en haar man Stoffel het onlangs 'n tak van Oasis water op Kuruman begin. Sy vertel van die voordele van osoonbehandelde water. Osoon kan na bewering bakterieë doodmaak en sekere virusse vernietig. Osoon help om die voorkoms van selluliet te verbeter en die water help dermgesondheid bevorder. Gee jou kinders 'n botteltjie water saam skool toe. Teen die tyd dat mens dors voel, is jy reeds sowat 10% ontwater, en dit kan in 'n kind se geval beteken dat hulle nie kan konsentreer nie en gedurig moeg voel.


Die vergadering is afgesluit deur die voorlesing van mev Erna Kruger van haar inskrywing van 'n plakkerskamptroue, 'n letterkunde kompetisie van die tak. Haar raak beskrywende skryfstyl het gesorg vir 'n spontane skaterlag van almal teenwoordig.

 

 

Mnr Johan Coetzee van Eye Catchers op Kuruman.

 

 

Mev Erna Kruger lees haar kortverhaal oor 'n plakkerskamptroue voor.



Posted on 30 October 2011

Beriggewer: Petro Spangenberg

 

Die Dameskring op Kuruman het Belia Lourens genooi om as deel van haar landwye toer, waarvan die vervoer deur Interkaap geborg word, op Kuruman aan te doen. Marda Oosthuizen, voorsitter van Dameskring, het vir die VLV 60 kaartjies gegee om te verkoop en dit het gevlieg!

 

Belia is van Porterville en is aan baie VLV lede bekend aangesien sy by 'n vorige VLVK kongres opgetree het. Sy is die Sarah Brightman van Suid-Afrika, en toe sy Time to say goodbye sing, het ek verstaan hoekom. Sy is ook bekend vir haar optrede in die Tsotsi-Evangelie uit die pen van Frans van Rensburg. Dit bestaan uit gedeeltes uit Mattheus in Swart-afrikaans en 60 Jesus-gedigte.

 

Ek het Belia bedank deur 'n aanhaling uit die Dameskring se dagboek voor te lees, "If opportunity doesn't knock, build a door" - Milton Berle. Dit is presies wat sy doen, om brûe te bou en geleenthede te skep om die Blye Boodskap by almal te kry.

 

Dit was 'n heerlike oggend en 'n goeie idee van twee vroueorganisasies om iets aan te bied wat ‘n mens se siel verryk.

 

 

Almal verlustig hulle in Belia se mooi sang.

 


 

Marda Oosthuizen, voorsitter van Dameskring en voorheen op die sirkelbestuur van Sirkel Kalahari VLV, bedank Belia vir haar pragtige sang.



Posted on 27 September 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Petro Spangenberg
 

Kuruman tak se September vergadering het leefstyl kwessies aangespreek.
 

Dit was in almal se belang om te hoor wat etiket en maniere behels, en veral jong ma's moes hoor hoe jou kind mense moet aanspreek en goeie maniere moet aanleer omdat eerste indrukke dikwels die meeste tel. Mev Marianne Vorster het voorgelees uit Emsie Schoeman se Etiket en Goeie Maniere.

 

Brugbou is 'n tema wat baie uitdagings inhou en almal is aangemoedig om moontlike geleenthede uit te wys. Die matrone van Kuruman se Tehuis vir Bejaardes, mev Elsabe Hennig het gepleit dat kinders tog hul ouers moet besoek omdat dit soms die enigste skakeling is wat oues van dae met die buitewêreld het, en sin gee aan hul bestaan.

 

Werkgewers is ook aangeraai om goeie verhoudings met werknemers te hê deur byvoorbeeld 'n familielid se begrafnis by te woon, wat wedersydse respek sal teweegbring, ten spyte van groot kultuurverskille.

 

Sommige lede het gekla oor die huispryse en huur wat so buitensporig geraak het, en huiseienaars gemaan om veral jongmense wat die mark betree, in ag te neem.

 

Tien lede van Olifantshoek het die vergadering bygewoon en Marianne Goosen, voorsitter van Olifantshoek tak, het beklemtoon dat ons meer interaksie tussen takke moet bewerkstellig en sodoende van mekaar leer! Brugbou, selfs tussen sirkels, bring hegte vriendskappe en so leer takke by mekaar.

 

Dit was natuurlik Kuruman se 78ste verjaardagviering en die vonkelwyn het behoorlik gebruis. Een van Kuruman se oudste lede, mev Susan Sargeant het as 88jarige vertel van haar 42 jaar as lid by Kuruman, en hoeveel geleenthede sy gebruik het om as mens te groei en te kompeteer!

 

Die kleuters van Miekie en Minnie Kleuterskool het onder leiding van hul hoof, Mev Elma Coetzee, hul trompoppie-passies foutloos uitgevoer.

 

Die demonstrasie was van 'n eenplaat stofie wat Mev Ans Swanepoel en haar dogter Marinda Fourie van Danielskuil gedoen het. Hierdie stofie het verskeie temperatuurstellings en jy beheer hoeveel elektrisiteit jy gebruik. Dit kook water aansienlik vinniger as 'n ketel.


 

 

Die sportiewe Springbok ondersteuners van Olifantshoek saam met Anet Hennig en Annatjie Nel van Kuruman.

 

 

Trompoppie-kleuters van Miekie en Minnie Kleuterskool.

 

Voor: Sannie Barnard, Marianne Goosen (voorsitter Olifantshoek) P. Spangenberg, Tilly TerBlanche.

Agter: Besie Kriek, Norma Snyman, Marie Jacobs, Sylvia Terblanche, Hanlie Oosthuizen, Adri Reynecke, Elma Storm, Ina Pretorius, Marelie Keuler.



Posted on 22 September 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Petro Spangenberg

 


Vir die derde agtereenvolgende jaar is die VLV toegelaat om ‘n teetuin op die lekker kuierstoep te bedryf, en hierdie jaar het ons die lekkerste ontbyte ook voorgesit.


Twee plaaslike kunstenaars het in die een hoek hul eseltjies opgeslaan en rustig staan en skilder. Die troeteldierwinkel  en kwekery binne-in die saal het gehelp om menige dors of honger skouganger te laat neerplons op ‘n stoepstoel en vir ‘n oomblik kon jy die sorge sien verdamp. Die koffie het gevloei en die groot skywe koek het elke dieet tot niet verklaar.


Verder het 30 inwoners van die plaaslike tehuis vir bejaardes kom aansit vir middagete, en danksy ‘n borg, is die uitstappie vir hulle ook die moeite werd gemaak in vele opsigte. Baie van hulle sien jaarliks uit na hierdie as enigste uitkom kans!


Dit gaan egter nie net oor kos nie. Bou ‘n brug is nie verniet ons volgende tema nie – ons het dit sommer ‘n brug van harte gemaak! Elke jaar is dit die geleentheid waar ons met onkundiges gesels oor ons 6 studierigtings, en elke jaar is daar by die eerste vergadering na die skou, ‘n hele paar nuwe gesigte te sien.


Om vir 3 dae alles by die huis af te skeep en voluit te gaan vir dit waarin jy glo en oortuig is van, het altyd die wonderlike uitwerking dat lede nader aanmekaar groei en kwaliteite in medelede ontdek word wat voorheen ongesiens verlore gegaan het.

 

Ons het ook ‘n eerste prys gekry tussen die kosstalletjies, en gaan ons prys (‘n bottel Whiskey!) uitloot vir ons plaaslike Kankerfonds!


Boonop oorweeg ons om met ons winste ‘n grootse poging aan te wend om dalk volgende jaar ‘n rekord aantal dagbesoekers by Hartenbos se kongres te besorg! Julle sal ons sien en hoor!

 

 

 

 



Posted on 15 September 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Petro Spangenberg

 

Boafe padstal was die ideale vergaderplek toe Kuruman tak einde Augustus hulle Landbouvergadering gehad het. Lede se kleingoed kon alte lekker buite baljaar en aan allerhande troeteldiere raak.

 

Chris Hendriks is ‘n afslaer by Noordkaap Lewendehawe en hy het vertel wat sy werk behels. Sy stembande is nie verseker nie, maar hy pas dit op deur spraak te gebruik  wat diep uit die diafragma-area beoefen word, aangesien veilings soms die hele dag duur. Verder is mensekennis van groot waarde, en dan ook ‘n kennis van diererasse en stoet voorwaardes. ‘n Antieke kas is vinnig opgeveil en lede kon aktief deelneem aan die bie-proses!

 

 

Erdwurms is baie mense se passie en Petie Benson, sakeman van Kuruman, het sy wurmplaas kom wys – ‘n paar donkergroen skottels wat opmekaar pas en klein gaatjies in die bodems het sodat wurms na nuwe kos kan beweeg terwyl afvalstowwe onderin versamel en afgetap word as vloeibare bemesting.

 

 

‘n Vorige saamroeper van Gesondheid in Sirkel Kalahari, asook tak saamroeper en geliefde verpleegsuster van Kuruman, Elithea de Villiers woon nou amper 8 jaar in Kanada en het kom kuier. Sy is nou ‘n direkteur van ‘n afdeling van Gesondheidsdienste met ‘n hele paar ouetehuise onder haar wakende oog in Alberta. Sy vertel met passie hoe belangrik bejaardesorg in Kanada is. Wat sy egter nog baie mis, is Kuruman-vriendinne en natuurlik, VLV!


 

Me Marelie Keuler het onlangs weer ‘n blomme beoordeelaarskursus bygewoon en vertoon by die vergadering ‘n DVD van hierdie jaar se Chelsea inskrywings.



Posted on 15 August 2011

Dis Vrydagmiddag 4 uur, die Vrydag voor Kongres, en more begin ons die langpad Kaap toe om voor die tyd bietjie te kuier en rustig mooi plekkies op te soek. Ek het die laaste smse uitgestuur en wag in spanning vir moontlike uitstaande blokke. Ek wil so graag dat ons 60 kan vat, en staan nou op 56, plus 'n halwe een op my breipenne.

 
Gelukkig gaan Bessie se Pieter bestuur en kan my penne klik-klik tot in Villiersdorp, want ek gaan nie my oe daar wys sonder 60 blokke uit Kuruman se geledere nie. Ek het die blokke oopgepak op 'n bank en ek sien 'n paar oop kolle wat gevul moet word.

Dit was 'n wonderlike projek, en ek sien uit na foto's van die eindproduk, sodat ons hier en daar iets kan herken en sê: Blok myself!

 

Mag dit 'n menigte se harte aanraak met 'n omgee-warmte!
 

Beriggewer: Petro Spangenberg




Posted on 01 August 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Petro Spangenberg
 

Lelani van Straten, saamroeper van Openbare Sake, het besluit dit is hoogtyd dat almal weer moet leer waarna om te kyk voor jy op die pad gaan. Om net petrol in te gooi is nie altyd genoeg nie.


Wimpie Laing en Dan Leach van Leach Toyota op Kuruman het nie geskroom om hulle hande vuil  te maak nie. Wimpie het alles onder die enjinkap uitgewys wat probleme kan veroorsaak, en dan hoe om voorkomend op te tree deur olie en watervlakke na te gaan. En moenie van die ekstra paar sykouse vergeet as dit die waaierband is wat die gees gegee het nie!  Om ‘n band om te ruil laat hy soos kinderspeletjies lyk. Voor iemand kon sê “Papwiel”,  toe is die takie afgehandel.  Hy was natuurlik ook gereed met ‘n paar antwoorde op sommige ‘dom’ vrae en het gewys dat jy deur koelkop te bly, enige situasie te bowe kan kom.

 

Dan Leach het vertel van die nuutste GPS tegnologie en hoe dat mens elke jaar jou toestel moet opgradeer om by te bly. Dit klink my net ons moet ‘n taalkundige aanstel om by te bly met die spel van straatname, en soos wat dorps- en straatname verander, is dit seker ‘n kuns vir die Garmin om by kop te hou!

 

Om alles af te rond het 3 danseressies van  Fancy Footwork, die dansskool van Mev Carin Theunissen, die dames vermaak toe hulle ritmies geklopdans het op “New York, New York”  en jou vir ‘n oomblik weggevoer het na die nagklubs in die groot stad van plesier.

 

Die gebreide blokke vir die KANSA projek vorder ook goed en selfs nielede bel om te hoor of hulle kan brei! Wat ‘n voorreg om handwerk te kan doen – die tydskrifte praat van die wolbom – handgebreide en gehekelde artikels is nou hoogmode en selfs stoele word oorgetrek met gehekelde blokkies.

 

Daar is niks wat kom by sop om die winterkoue te verdryf nie, en saam met lekker broodjies kon almal na die vergadering bietjie kuier en vrouwees geniet. Viva vrouwees in Augustus!

 

 

Die dogtertjies kry 'n encore vir New York, New York, LNR Caylynn Victor, Zoe Lombaard en Jodeen Markram - almal studente van Carin Theunissen se Fancy Footwork.

 

 

Mnr Wimpie Laing sit blitsvinnig die spaarwiel op.


 

Mnr Dan Leach met die GPS wat verdwaal uit jou woordeskat sal haal.



Posted on 25 July 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Petro Spangenberg

 

Sowat 12 lede van die tak het besluit om iemand se Maandag op te vrolik deur saam te gaan tee drink. Elkeen kon 'n tannie of twee saamnooi en moes met die ander deel wat hul verbintenis is. Ons het gepraat oor wat Madiba ons geleer het deur sy voorbeeld.

 

1. Wees positief - moenie dat jou omstandighede jou onderkry nie.
2. Wees gou om te vergewe - dit is bevrydend vir al die partye betrokke!
3. Hou altyd jou beste voetjie voor en moenie kla nie - dit gaan mos goed solank mens nie pyn het nie.
 4. Maak 'n verskil waar jy gaan, maar wees opreg, sonder bymotiewe!
5. Koester jou familie en vriende, dinge kan oornag verander en dit is swaar om met spyt en verwyt saam te leef.
 

Ek het 'n gedig voorgelees wat net voor die byeenkoms geskryf is:


Bring jou blomme nou
Eer my in die lewe, ek het jou nou nodig
deel nou in my vreugde en ook in my pyn
Ons is almal nietig, voor God is ons almal gelyk
My lewe wil ek deel met jou
Bring jou blomme nou
 

Almal is huis toe na 67 minute se koestering deur vriendskap en ondersteunende liefde! Dit is nie moeilik om 'n verskil in iemand wat eensaam is, se lewe te maak nie!
 

 

 

 

Op die foto Tannie Raaitjie Schoeman (89), as gas saam met haar dogter, Tonna Delaney, lid van Kuruman tak.



Posted on 19 July 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Petro Spangenberg

 

Op die laaste vergadering van die eerste helfte van 2011, het die studierigting Opvoeding en Kultuur aan die beurt gekom. Mev Annatjie Nel het op ‘n gepaste wyse geopen uit Woorde van wysheid vir Ma’s.

 

 
Me Marelie Keuler is ‘n kenner op die gebied van remediërende onderwys en het uit haar  jare lange ondervinding gepraat oor waar ons tans in die onderwys staan. Kinders word maklik deur ‘n ouer of onderwyser geëtiketteer bv: “Jy sal nooit wiskunde kan doen nie!” en dit het ‘n geweldige negatiewe uitwerking op sy of haar vermoëns. Leerders wil geprys en aangemoedig word, en weens die werklas en administratiewe pligte van onderwysers, raak dit al moeiliker om persoonlike aandag aan elke leerder te gee. Sy vertel ook van die toepassing van kleur om disleksielyers makliker te laat studeer.

 


Kinders soek riglyne en reëls en ouers bly primêr verantwoordelik vir ‘n kind se opvoeding en geluk. Ouers maak ‘n groot fout as hulle ‘n kind se skooltaak namens hom doen. Op ‘n vraag of ouers moet help met huiswerk, en tot op watter ouderdom, het Me Keuler gesê ouers moet kontroleer of huiswerk gedoen is. Dit bly egter die kind se plig om verantwoordelikheid te aanvaar en pligsbesef aan te leer.

 


Kinders verskil egter en ouers sal weet watter kind langer gehelp moet word. Me Karien Booysen en Marinda Stander het ook gepraat uit hul onderwysondervinding en sê kinders moet so vroeg as moontlik leer om selfstandig te wees. Respek vir ouer mense en onderwysers bepaal ‘n kind se gedrag by die skool en ouers moet  opbouend praat oor onderwysers en skoolaangeleenthede. Kinders is navolgers van die voorbeeld wat tuis gegee word.

 


Kuruman VLV spog met ten minste 17 lede wat in die onderwys betrokke is of voorheen was.

Categories