Posted on 02 February 2012

Sirkel: Weskus
Tak: Langebaan
Datum: 1 Februarie 2012
Beriggewer: Estelle du Plessis

 
 
Ons eerste vergadering is gehou op 1 Februarie 2012. Die lede was almal baie opgewonde en bly om mekaar weer te sien. 4 Leerders van die Curro Privaatskool het 'n pragtige klassieke kitaar kwartet gelewer. Elke saamroeper het haarself voorgestel aan die vergadering en genoem wat sy beplan vir haar vergadering dié jaar. Dottie Visagie, Landbou & Tuinbousaamroeper het baie interessante inligting gegee oor die bome van die jaar asook die voël van die jaar. Sy het foto's uitgestal van die bome met inligting daarby.

 

Kentekens is oorhandig aan Estelle du Plessis -15jr. en Elize Kleynhans - 15 jr. Aletta Heydenrych - 25jr.

 

Twee nuwe lede het aangesluit by die tak naamlik, Joey du Toit en Marita Crouss en 1 lid, Henriëtte Melck, het van 'n ander tak af oorgekom na ons.

 

Die res van die vergadering is gewy aan die finale reëlings van die 80ste Konferensie van Sirkel Weskus op 29 Februarie 2012. Almal is baie opgewonde en sien daarna uit om al die eregaste, by name die VLVK President, mev. Erika Lubbe, Sirkelpresident, mev. Louwna Hoving, ander sirkelpresidente en oudsirkelpresidente, die burgemeester van Saldanhabaai Munisipaliteit, me Rossil Jager, Sirkelbestuurslede en talle lede van die Sirkel te ontvang.
 
 

 

Die lede is baie opgewonde om die nuwe jaar te begin.

 

 

'n Klassieke kitaar kwartet van Curroskool - Langebaan lewer 'n pragtige item.

 

 

Kentekens ontvang: Estelle du Plessis,15jr., Elize Kleynhans, 15jr., Aletta Heydenrych, 25jr. (afwesig tydens neem van die foto).



Posted on 07 December 2011

Beriggewer: Estelle du Plessis
Datum: 1 Desember 2011
 
 
75 lede het Langebaan tak se Afsluitingsfunksie, wat 'n gemaskerde dinee was, bygewoon.  Die bestuur was verantwoordelik vir die versiering van die saal, tafels en die voorbereiding van die ete. Al die lede het met hul maskers opgedaag en het pragtig gelyk! Daar is selfs 3 pryse toegeken vir die oorspronklikste en mooiste maskers. Geskenkies is uitgeruil, geheime vriendinne bekend gemaak en net lekker saam gekuier.
 

Die prysuitdeling was 'n hoogtepunt van die aand. 28 lede was 100% teenwoordig die afgelope jaar by takvergaderings.
 

Die volgende pryse is toegeken:
Snyblom:  Trudie de Goede
Blommerangskikking: 1ste Estelle du Plessis  2de Anna Malan  3de Hetta Mans
Handvlyt: 1ste Hennah Greeff  2de Estelle du Plessis  3de Rouxleen Moran
Leefstyl 1 - Huisvlyt: 1ste Estelle du Plessis  2de Hetta Mans  3de Hilary Nepgen
Leefstyl 2 - Naaldwerk:  1ste Dienie Rust  2de Rouxleen Moran  3de Estelle du Plessis
 

Ywerigste nuwe lid:  Ninkie Goussard
Prestasie toekenning:  Hennah Greeff
Stervroue 2011:  Suzette Hougaard, Hilary Nepgen, Isabel Basson
Meeste punte:  Estelle du Plessis
 

Die lede sien met verwagting uit na 2012 waarin ywerig aan al die "brûe" gebou gaan word.

 

 

Stervrou 2011 - Isabel Basson.

 

 

Drie gemaskerde lede -Alice van Tubbergh, Elize Kleynhans en Charlotta van Eeden.

 

 

Meeste punte - Estelle du Plessis.

 

 

Ywerigste nuwe lid - Ninkie Goussard.



Posted on 28 November 2011

Studierigting: Leefstyl
Beriggewer: Estelle du Plessis
Datum: 9 November 2011


Kotie van Tonder (De Bron, Darling) was die gasspreker tydens Langebaan tak se Leefstyl vergadering en sy het ‘n baie interessante praatjie oor sampioene gelewer.

 

 

Suid-Afrika het aanvanklik ‘n nie-sampioenkultuur gehad met gepaardgaande negatiwiteit dat sampioene giftig kan wees. Geleidelik is die negatiewe beeld afgebreek. Vandag word sampioene meer en meer gebruik, asook die eksotiese sampioene.

 

Daar is ongeveer ‘n paar duisend spesies waarvan ongeveer 10 soorte giftig is. Sampioensoorte wat nou meer algemeen raak in SA, is onder andere Magic mushrooms, Chanterelle, Morels, Enoki, Tree Oyster, King Oyster, Pink Oyster, Porcini, Truffels, Shitaki.

 

Om sampioene te kweek, is spore nodig, wat onder andere van Jhb of Stellenbosch af te kry is en in laboratoriums gekweek word. Spore word dan oorgedra na strooi (gesteriliseer) wat die korrekte fynheid moet hê vir spore om op te groei. Shitaki, byvoorbeeld, groei weer op saagsels. Wanneer temperatuur en klimaat verander, skiet sampioene saad.

 

Van die sampioene kan tot 6 weke in die yskas gehou word in ‘n bakkie met gaatjies. Sampioene kan ook in die oond uitgedroog word vir ongeveer 3 ure. Geen sampioene moet té gaar gemaak word nie. Sampioene het ‘n hoë voedingswaarde en bevat vitamiene en minerale wat immuniteit verhoog. Hulle het ook hoë vlakke van potassium en vitamiene D.

 

 

Gedroogde sampioene.

 

 

 

Heerlike sampioengeregte is bedien.

 

 

 

Hetta Mans (Leefstyl saamroeper, Kotie van Tonder (spreker) Estelle du Plessis (voorsitter).



Posted on 16 October 2011

Studierigting: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Estelle du Plessis
Datum: 14 Oktober


 
Langebaan tak se afgelope vergadering was 'n fees van blomme en kuns!  Die skilder, Jannie Jordaan het 'n baie interessante praatjie gelewer en dit aangevul met 'n demonstrasie.  Die skildery wat hy tydens sy praatjie geskilder het, is geskenk via 'n gelukkige trekking.


 
Tydens sy praatjie maak hy die vlg. interessante opmerkings:
1. Daar word altyd op 'n 2/3 konsep gewerk vir die plasing van die fokuspunt op 'n skildery.
2. Die kwas moet eerder verder terug as naby die voorpunt vasgehou word.  Dit verbeter beheer oor die skilderwerk.
3. Daar is altyd twee belangrike faktore om in ag te neem, naamlik lig en skadu.  Daar word dus bepaal van watter kant die son byvoorbeeld skyn en dit sal bepaal waar die skadu's aangebring word op die skildery.
4. Dit is nuttig om blou en pers te meng om die regte skakerings vir skadu's te kry.  Wees versigtig vir die gebruik van swart as skadu's want dis geneig om "gate" in die skildery te los.
5. Groen is 'n baie moeilike skakering om mee te werk en om dit reg te meng.  Hy beveel aan dat swart en geel gemeng word vir die regte skakering groen.
6. Adriaan Boshoff ( 'n bekende in skildergeledere) het met drie basiese kleure, rooi, geel en bou in totaal 231 kleure gemeng.
7. Jannie verkies olieverf, maar dit neem lang om droog te word.  Akriel werk goed aangesien dit gouer droog word en die skildery vinniger voltooi kan word.
8. Skilderwerk kan of op doek of "supa wood" gedoen word.  Dit is 'n geval van persoonlike voorkeur.
9. Ten laaste, by die keuse van rame, sal mens 'n raam kies wat die skildery aanvul en nie oordonder nie.  Rame moet dus by die skildery pas en inpas by die vertrek waar dit gaan hang.

 

80 Persone het die vergadering bygewoon, wat 'n fees van blomme en baie keurige verversings ingesluit het. 


 

 

Jannie Jordaan, skilder, besig om die skildery te voltooi tydens sy praatjie.

 

 

Verjaarsdagdames: Leana Esterhuysen, Hanita le Roux, Linka van Wyk, Maritha Kotze, Hennah Greeff (saamroeper Kunste & Handvlyt).

 

 

 

Een van die pragtige rangskikkings.

 

 

 

Charlotta van Eeden was die gelukkige wenner van die skildery. 



Posted on 20 September 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Datum: 7 September 2011
Beriggewer: Estelle du Plessis
  
Tydens die Openbare Sake vergadering het die burgemeester van Saldanhabaai Munisipaliteit, Me Rosil Jager ons tak besoek. Sy verduidelik aan ons die samewerking en funksionering tussen die plaaslike owerhede en gemeenskappe. Sy het 'n o.a. gesê dat die burgemeester dra 'n burgemeestersketting wat haar posisie aandui, maar terselfdertyd is die ketting ook 'n aanduiding van 'n slaaf, iemand wat wil dien. Die plig van die Munisipale Bestuur is om te dien. Sy noem ook dat die vrou 'n groot aandeel het aan besluitneming omdat die vrou sake uit 'n ander perspektief sien en met deernis soms 'n probleem makliker oplos.
 

Sy het die vergadering baie geniet en gesê dat dit vir haar baie lekker is om na 'n baie besige program saam met vrouens te kuier rondom 'n koppie tee. Sy het die toekenning, 'n pragtige silwer bord, wat in rooshout gemonteer is, wat die Saldanhabaai Munisipaliteit onlangs in China vir die "beste ekologiese stad" ontvang het, saamgebring en ons kon haar vreugde deel.
 
 

Die Openbare Sake groep het die aktiwiteite van die omgewing pragtig uitgebeeld en 'n heerlike lente atmosfeer is in die saal geskep met pragtige lenteblomme en keurig gedekte tafels met die aller lekkerste verversings.


Langebaantak is trots op die toekennings ontvang by Kongres. 3de Plek in die Leefstylafdeling en 3de plek in die Kunste & Handvlytafdeling. Positiewe lede, beoordelaars wat inspireer en almal wat wonderlik saamwerk het die prestasie moontlik gemaak.
 
 
 

 

Pryswenners en deelnemers aan die kongres: Dienie Rust, 3de van links, 6e plek in Masjienwerk. Hennah Greef, 6de van links, 2de plek - Teesakkievouwerk, en 6de plek - Blommering. 

  

 

2 Nuwe bestuurslede: Elcia de Foglio (links), sekretaresse en Hilary Nepgen (regs) tesourier, saam met Estelle du Plessis, voorsitter, in die middel.

 

 

 

Estelle du Plessis, Me Rosil Jager, Corrie Slabber.

 


 

Uitstalling van aktiwiteite in die Munisipale omgewing.



Posted on 24 August 2011

Projek: Breiblokke vir KANSA
Beriggewer: Estelle Du Plessis
 

Langebaan se lede het baie fluks gebrei aan die blokke vir KANSA. 465 blokke is gebrei. 'n Groot dankie aan elkeen wat gehelp het om Langebaan se naam hoog te hou!

  



Posted on 11 August 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Estelle du Plessis
Datum: 3 Augustus 2011

Spreker: Anlé Roelofse
 

'n Generasie bestaan gewoonlik omdat daar 'n verskil is tussen die houdings en waardes van jonger en ouer generasies. Generasie Y is gebore tussen 1980 - 1994. Generasie Y staan ook bekend as die Millennium generasie. Jy gaan nie Generasie Y maklik vaspen in 'n 8 - 5 werk nie. Hulle verander baie van werk. Hulle hou van rustige "jobs" wat vir hulle baie vakansietyd gee en hou glad nie van oortyd werk nie. Generasie Y wil liewer tegnologies met vriende verbind wees en is baie ongeduldig en wil alles nou hê.

 

Daar is 200 miljoen geregistreerde gebruikers op MySpace. As MySpace 'n land was, sou dit die 5de grootste land in die wêreld wees. Daar is 31 biljoen navrae op Google elke maand. In 2004 was daar net 2,7 biljoen. Die eerste kommersiële teks boodskap wat gestuur is was in Desember 1992. Vandag oorskry die totale SMS’e wat gestuur en ontvang word elke dag die totale populasie van dié planeet.

 

Generasie Y se bynaam is WHY omdat hulle die meeste dinge, van politiek tot klimaatsverandering, die werkplek en ekonomie bevraagteken. Hulle wil weet hoe alles hulle raak. Al is geld en roem belangrik gee Generasie Y graag terug aan die omgewing en gemeenskap, omdat hulle sien hoe dinge verkeerd loop.

 

Karaktertrekke van Generasie Y:
• Ambisieus
• Tegnologies geletterd
• Permanent gekoppel aan tegnologie
• Aanpasbaar
• Vinnige leerders
• Vry van vooroordeel, aanvaar maklik
• "Demanding"

Ouerleiding aan Generasie Y:
• Leer hulle familiewaardes
• Aanvaar hulle is die produk van die omgewing waarin jy 'n rol gespeel het
• Gebruik tegnologie om met hulle te kommunikeer
• Wees self op Facebook om hulle te beskerm
• Maak tyd om aktiwiteite saam met hulle te geniet
• 'n Vaste roetine is baie noodsaaklik:  tyd vir huiswerk, speel en slaap
• Daar moet duidelike grense en reëls wees. Daar moet ook strafmaatreëls wees vir oortredings.
• Moenie hulle toelaat om reëls te oortree nie.
• Leer hulle:
     It's not OK to skip school
     It's not OK to watch a movie with an age restriction
     It's not OK to drink alcohol before you ar 18
     It's not OK to enter clubs under-aged
     It's not OK to drive without a licence/learners
     It's not OK to drive over the speed limit, or not stopping at the stop street.

 

Dit was 'n baie insiggewende vergadering. 75 lede was teenwoordig en 3 besoekers. Daar was 37 kompetisie inskrywings. Die saamroeper Maretha Buckle en haar groep het heerlik saamgewerk en 'n pragtige vergadering aangebied.

 

 

Die beoordelaars besig met beoordeling van die mikrogolf sjokoladeklapperkoek. 

 

 

'n Pragtige uitstalling van verhoudings.

 

 

Die teetafels was baie keurig gedek met heerlike verversings.


 

Ansie Bronkhorst (links) oorhandig 'n geskenk aan Anlé Roelofse, die spreker.



Posted on 01 August 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Estelle du Plessis


 
Agt van ons lede het 'n mosaïekkursus bygewoon. Die lede het pragtige artikels gemaak en dit baie leersaam en interessant gevind. Almal is nou net ywerig besig aan 'n artikel vir die kompetisie op takvlak in Augustus. Ons glo dat dit lede sal inspireer om die kongresartikel vir 2012 te maak.

 
 

 

Hennah Greeff en Hettie Hanekom by Elmarie en Anerie, die twee kursusaanbieders.

 


 

Rouxleen Moran, Hennah Greeff, Hettie Hanekom en Grieta Truter konsentreer hard!

 


 

Maretha Buckle en Ansie Bronkhorst lyk doodtevrede met hul voltooide artikels.


 

Die eindresultaat lyk pragtig! Welgedaan! 

Agter: Grieta Truter, Ansie Bronkhorst, Maretha Buckle, Hettie Hanekom en Hennah Greeff
Voor: Estelle du Plessis, Rouxleen Moran en Charlotta van Eeden



Posted on 09 June 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

 

Die spreker tydens Langebaan tak se Landbou en Tuinbou vergadering, Johan Pienaar, het die volgende baie interessante inligting oorgedra:
 

Sitrus sorteer onder die oudste vrugsoort wat Kommersieel verbou is. Dit word wyd geproduseer in alle tropiese en subtropiese omgewings. Die belangrikstes is soetlemoene, mandaryne, suurlemoene, lemmetjies, pomelo’s en pompelmoese.

 

Sitrus word vars geëet, versap en geprosesseer. Dit het goed gedokumenteerde gesondheid- en voedingseienskappe asook industriële gebruike. Onder die eetbare groep kry ons:
• Sitroen
• Shamouti (of pampelmoese)
• Mandaryne
• Suur lemoene (bv. Seville lemoen)
• Pomelo’s
• Suurlemoene
• Lemmetjie
• Soetlemoene (bv. Valencias, nawels, bloedlemoene ens.)

Wetenskaplikes bewys dat al die nuwe sitrustipes ontwikkel het a.g.v. verbastering tussen die drie basiese sitrusspesies nl. mandaryne, shamoutis en sitroene. Die oudste lemoenboom wat in SA vir kommersiële doeleindes aangeplant is, is op Hexrivier en na raming ongeveer 200jr oud.
 

Produksie:
In die wêreld:


• Sitrus word meer geproduseer as enige ander vrugsoort - gevolg deur piesangs, appels, druiwe en spanspek
• China produseer die meeste, gevolg deur Indië, Brasilië, VSA, Italië en Spanje.
• Die grootste sitrusprodusente is China, Brasilië, VSA, Mexiko en Spanje. RSA is 15de.
• Een derde van die wêreldproduksie word versap met Brasilië 31% en VSA 27%.
• Die grootste uitvoerders van sitrus is Spanje, Suid-Afrika, VSA, Turkye, Argentinië
• Die vrug word nie ryper nadat dit geoes is nie - ontwikkel wel kleur en alle ander aksies nadat dit geoes is gemik op behoud van kwaliteit om natuurlike agteruitgang te keer en ook om verrotting te verhoed..

 

Suid Afrikaanse Sitrusbedryf:
• 1400 produsente + 2200 kleinboere
• 100 000 werkers in diens
• 600 000 afhanklikes
• Primêre sitrusproduksie skep 4 werkgeleenthede vir elke geplante hektaar - 232 000

 

Sitrusstreke in die land:
1. Limpopo             31%
2. Oos Kaap           21%
3. Mpumalanga       21%
4. Wes Kaap          16%
5. Res                   11%

 

Gebruike:
1. Vars
2. Sap - een derde
3. Essensiële olies
4. Geurmiddels ( Voedsel byvoegings en kosmetiese industrie)
5. Voeding
6. Skil - veevoeding, byvoeging in verskillende kosresepte, versoet as lekkernye, konfyte, geurmiddels in likeurs, ens.
7. Pektien - het 'n hele aantal gebruike: kosvoorbereiding, dieetpreparate en medisyne. Gebruik veral in fyn konfyt (jam) jellies, nageregte, jogurt, proteïendranke, asook verskillende melkprodukte.
8. Saak - Ekstrakte gebruik in voedsel en kosmetiek en ook beweer dat dit anti-mikrobiese en - virale eienskappe het. Wydste gebruik as sitrus onderstamme - dieselfde bo-stam het verskillende groeiwyses op die verskillende onderstamme. Beïnvloed ook tot 'n hoë mate beide siektebestandheid en interne gehalte van die vrugte
9. Ornamentele plante
10. Wyn - mampoer.

 

Beriggewer: Estelle Du Plessis

 

 

Sitrusuitstalling met verskillende sitrus items.

  

 

Elke lid het 'n sakkie lemoene en 'n geskenkpakkie ontvang.

 

 

Dottie Visagie, Saamroeper - Landbou en Tuinbou, Spreker - Johan Pienaar, Alice van Tubbergh het die spreker bedank.

 

 

 

Die koektafels was pragtig versier met swart driepootpotjies met lemoene en kumkwats in. Heerlike lemoenkoeke is voorgesit.



Posted on 16 May 2011

Tydends Langebaan tak se Februarie vergadering is die lede gevra om slaapsokkies te brei vir die kompetisie van die Mei vergadering. Alle sokkies wat ingeskryf word sal geskenk word vir liefdadigheid. Lede kon ook 'n ekstra paar brei vir die skenking. Groot was die verrassing toe ons by die Mei vergadering 51 pare slaapsokkies ontvang het. 

 

Die beoordelaars het omtrent gesweet om al die sokkies te beoordeel. Pragtige sokkies is ontvang, selfs sokkies geskik vir kinders. Die sokkies sal deur die bestuur uitgedeel word aan behoeftiges en bejaardes.  
 
 
Slaapsokkies gebrei deur die lede.


 

Hilary Nepgen.

 

Categories