Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Die spreker tydens Langebaan tak se Landbou en Tuinbou vergadering, Johan Pienaar, het die volgende baie interessante inligting oorgedra:
Sitrus sorteer onder die oudste vrugsoort wat Kommersieel verbou is. Dit word wyd geproduseer in alle tropiese en subtropiese omgewings. Die belangrikstes is soetlemoene, mandaryne, suurlemoene, lemmetjies, pomelo’s en pompelmoese.
Sitrus word vars geëet, versap en geprosesseer. Dit het goed gedokumenteerde gesondheid- en voedingseienskappe asook industriële gebruike. Onder die eetbare groep kry ons:
• Sitroen
• Shamouti (of pampelmoese)
• Mandaryne
• Suur lemoene (bv. Seville lemoen)
• Pomelo’s
• Suurlemoene
• Lemmetjie
• Soetlemoene (bv. Valencias, nawels, bloedlemoene ens.)
Wetenskaplikes bewys dat al die nuwe sitrustipes ontwikkel het a.g.v. verbastering tussen die drie basiese sitrusspesies nl. mandaryne, shamoutis en sitroene. Die oudste lemoenboom wat in SA vir kommersiële doeleindes aangeplant is, is op Hexrivier en na raming ongeveer 200jr oud.
Produksie:
In die wêreld:
• Sitrus word meer geproduseer as enige ander vrugsoort - gevolg deur piesangs, appels, druiwe en spanspek
• China produseer die meeste, gevolg deur Indië, Brasilië, VSA, Italië en Spanje.
• Die grootste sitrusprodusente is China, Brasilië, VSA, Mexiko en Spanje. RSA is 15de.
• Een derde van die wêreldproduksie word versap met Brasilië 31% en VSA 27%.
• Die grootste uitvoerders van sitrus is Spanje, Suid-Afrika, VSA, Turkye, Argentinië
• Die vrug word nie ryper nadat dit geoes is nie - ontwikkel wel kleur en alle ander aksies nadat dit geoes is gemik op behoud van kwaliteit om natuurlike agteruitgang te keer en ook om verrotting te verhoed..
Suid Afrikaanse Sitrusbedryf:
• 1400 produsente + 2200 kleinboere
• 100 000 werkers in diens
• 600 000 afhanklikes
• Primêre sitrusproduksie skep 4 werkgeleenthede vir elke geplante hektaar - 232 000
Sitrusstreke in die land:
1. Limpopo 31%
2. Oos Kaap 21%
3. Mpumalanga 21%
4. Wes Kaap 16%
5. Res 11%
Gebruike:
1. Vars
2. Sap - een derde
3. Essensiële olies
4. Geurmiddels ( Voedsel byvoegings en kosmetiese industrie)
5. Voeding
6. Skil - veevoeding, byvoeging in verskillende kosresepte, versoet as lekkernye, konfyte, geurmiddels in likeurs, ens.
7. Pektien - het 'n hele aantal gebruike: kosvoorbereiding, dieetpreparate en medisyne. Gebruik veral in fyn konfyt (jam) jellies, nageregte, jogurt, proteïendranke, asook verskillende melkprodukte.
8. Saak - Ekstrakte gebruik in voedsel en kosmetiek en ook beweer dat dit anti-mikrobiese en - virale eienskappe het. Wydste gebruik as sitrus onderstamme - dieselfde bo-stam het verskillende groeiwyses op die verskillende onderstamme. Beïnvloed ook tot 'n hoë mate beide siektebestandheid en interne gehalte van die vrugte
9. Ornamentele plante
10. Wyn - mampoer.
Beriggewer: Estelle Du Plessis

Sitrusuitstalling met verskillende sitrus items.

Elke lid het 'n sakkie lemoene en 'n geskenkpakkie ontvang.

Dottie Visagie, Saamroeper - Landbou en Tuinbou, Spreker - Johan Pienaar, Alice van Tubbergh het die spreker bedank.

Die koektafels was pragtig versier met swart driepootpotjies met lemoene en kumkwats in. Heerlike lemoenkoeke is voorgesit.