Posted on 16 March 2012

Sirkel: Suid-Ooskus
Tak: Loerie. 
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Sameroepster: Charlo Blignault
Beriggewer: Hester Marx
Datum: 15 Maart 2012

 

Met die afgelope Konferensie nog vars in die geheue, het die dames hul kompetisie-artikels weer uitgestal by die maandvergadering van 15 Maart.

 

Selfs Jean se “Fat Lady” wat, volgens die beoordelaars, te swaar (in massa) was,  het tussen die ander artikels gepryk.

 

Sertifikate en trofeë is uitgedeel. Loerie het die trofeë vir borduurwerk, preservering en fyngebak asook vir die meeste punte by die konferensie gekry.

 

En nog is dit die einde nie. Die vlytige dames het met groot entoesiasme deelgeneem aan die dag se kompetisies:  Blommerangskikking in ‘n Skoen,  Appelkoosblatjang en  Breinaaldhouer.  Hier was geen verloorders, net wenners!

 

Maar die algehele eerstepryswenner van die oggend was internasionale sanger en koorafrigter, Franz Geldenhuys.  Hy het die verhaal van Koos du Plessis vertel en van sy liedere gesing. Die dames wat nog nie voorheen Franz hoor sing het nie, het ook onmiddelik by sy “bewonderaarsklub” aangesluit.  

 

 

Rina Schoeman kry 'n drukkie van Franz.

 

 

Jean Steenkamp en Henry Grobler.

  

 

Trofeë verwower deur die tak. 

 

 

Blomme in 'n skoen.



Posted on 16 February 2012

Sirkel: Suid-Ooskus

Tak: Loerie
Portefeulje: Leefstyl 
Sameroeper: Joyce Puttergill
Beriggewer: Hester Marx
Datum: 16 Februarie 2012
 

Carina de Flamingh vertel van die ‘jbay recycling project’ wat sy, saam met haar entoesiastiese  vriende, in Jeffreysbaai begin het.  Die konsep vir so ‘n projek is oorspronklik geskep en ontwikkel deur Marilyn van Velden.

 

Op Jeffreysbaai bring die kinders elke Maandagmiddag herwinbare afval, van plastiekbottels tot koerante, na ‘n sentrale plek. Hier word die afval geweeg en punte toegeken, wat op elkeen se kaart aangeteken word. Met dié punte kan dan allerlei ware in die sentrum se winkel gekoop word; van toiletware tot klere, selfs ‘n fiets, as genoeg punte gespaar word.

 

Dinsdagoggend kom haal Johan Fourie die ingesamelde afval vir verwerking. Volgens hom kan daardie 5-liter plastiek waterbottel weer in jou klere en skoene verskyn.  En jou motor se buffer was nie so lank gelede nie plastiek melkbottels.



Posted on 19 November 2011

Beriggewer: Hester Marx
Datum: 17 November 2011
 

VLV Loerie het op 17 November die jaar afgesluit by Le Chameleon Restaurant op Humansdorp. Die dames het dan ook reg laat geskied aan die restaurant se naam en in Vrolike, (soms) Lawwe, Verkleurvroue verander.

 

Pryse is uitgedeel en trofeë oorhandig aan beginners en getroue staatmakers. Henry Grobler het die meeste punte gedurende die jaar versamel, Barbara Röscher ontvang haar kenteken vir 30 jaar getroue diens en Joyce Puttergill is VLV Lid van die Jaar.

 

Geskenke is uitgeruil - nie gekoop nie maar self gemaak deur die dames!

 

Na meer as drie ure van lag, terg en heerlik eet, is almal huis toe tot Januarie 2012.


 

 

 

 

Loerie VLV Bestuur vir 2012:

 

Agter: Elize Compaan, Joyce Puttergill, Irené van Vuuren (tesourier), Henry Grobler, Charlo Blignault, Gertina Reynecke
Voor: Barbara Röscher, Jean Steenkamp (voorsitter), Elna Burger (sekretaresse)

 

 

 



Posted on 27 July 2011

Portefeulje: Leefstyl
Sameroepster: Joyce Puttergill
Beriggewer: Hester Marx

 

Op 21 Julie 2011 kuier Loerie se dames  by die pragtige klipkerkie op Thornhill. Dié kerkie is dan ook die perfekte agtergrond vir Lauren Olivier van Port Elizabeth se pragtige trourokke.

 

‘n Baie talentvolle Lauren vertel ons op haar innemende manier van haar beroep as mode-ontwerper. Met haar kinders reeds uit die huis, begin sy  rokke ontwerp en maak. Talentvol beslis, want sy het geen formele opleiding ontvang nie. 

 

Sy is ook baie diplomaties. Wanneer ‘n blinkoog matriekmeisie se “droomrok” nie by haar geaardheid of lyf pas nie is dit Lauren wat haar laat glo dat ‘n ander tipe rok perfek vir haar is.

 

Volgens Lauren is duur materiaal nie altyd noodsaaklik  om ‘n spesiale  rok te maak nie; ‘n rok van goedkoper materiaal kan net so treffend wees.

 

 

Lauren Olivier.

 

 

Kristi is die model wat wys hoe mooi ‘n bruid in ‘n skepping van Lauren kan lyk. 



Posted on 14 June 2011

‘n Sirkeldag is op 11 Junie 2011 deur VLV Loerie aangebied met ‘n noen-ontbyt in die NG Kerksaal.

 

Met pragtig gedekte tafels, ‘n treffende blommerangskikking en ‘n uitstalling van hul handwerk, verwelkom Loerie se 19 lede die 70 besoekers van so ver as Wittedrif en Uniondale.

 

Die egpaar Willie en Marie Oosthuizen kry die gaste in die regte stemming met hul pragtige sang. 

 

Mnr Deon Els, gebruik die VLV-tema van die jaar, ‘Aanhouer Wen’, om die dames  aan te spoor om voluit vrou te wees. Hulle moet hul allerbeste gee en nie bang wees om nuwe dinge te probeer nie. 

 

Hy laat me Susan Leseke deur die BlackBerry-net vertel hoe sy haarself bemagtig het  ten spyte van teleurstellings en teenkanting.

 

Op ‘n ligter noot  probeer hy die dames oortuig om sommer ‘n handvol G-strings te koop. En is die lyf nie meer so G-string-vriendelik nie, dra dit sommer dan bo-oor jou “bloomer”!.

 

Willie en Marie Oosthuizen sluit die program af. Deur hul sang en getuienis dra hulle dan ook die boodskap van “Aanhouer Wen” uit.

 

Beriggewer: Hester Marx  

 

 

 

Willie en Marie Ooshuizen.

 

 

Deon Els.

 

 

 

Handwerk van Loerie VLV.

 

 

Uitstalling by Sirkeldag VLV Loerie.



Posted on 26 April 2011

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

 

Twaalf lede van Loerie tak het op 21 April 2011 vergadering gehou in die museum op Humansdorp.

 

Die regte atmosfeer is geskep deur eers FAK liedjies te sing saam met ‘n lid van die museumpersoneel, Carel Ferreira. Hy het die begeleiding gedoen op die museum se 100 jaar oue harmonium. Daar is vergadering gehou by 'n geelhouttafel, wat in die 1900's as eetkamertafel gebruik is in 'n tuishuis op die dorp.

 

Die geskiedenis van Humansdorp is hierna kortliks vertel. Meneer M G Human het in 1849 'n sekere stuk grond geskenk vir die oprig van 'n kerkgebou. Erwe is uitgemeet en verkoop, die kerk is gebou en so het Humansdorp ontstaan.

 

Laastens het Louise en Nellie die besoekers op 'n kultuurtoer deur die museum geneem. Die oggend is afgesluit met 'n laatontbyt by 'n baie gewilde restaurant op die dorp waar jy jou kan vergaap aan die dekor en vergryp aan die smaaklike kos.

 

Beriggewer: Hester Marx 

 

 

 

Rina Schoeman, Louisa du Plooy, Irené van Vuuren, Jurie du Toit, Jean Steenkamp.

Categories