Posted on 27 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Huibre Retief

 

Mnr Cobus du Plessis van Kaap Agri se graan bemarkingsafdeling het aan die lede van Malmesbury tak verduidelik hoe die prys van brood bepaal word.

 

Die prys van brood is gekoppel aan die prys van koring. Die koringprys, soos bepaal deur Safex, is tans R2800 per ton op die JSE. Hiervan kry die boer in die Wes-Kaap ongeveer R2 270 per ton. ‘n Brood se totale gewig is vasgestel op 700 gram. Uit 588 g koring word 480 g broodmeel verkry vir die produksie van een brood.

 

Van die prys wat die verbruiker betaal gaan R1.33 aan die boer, R2.489 aan die meulenaar en R5.08 aan die kleinhandel. Van die R1.33 wat aan die boer betaal word bly daar slegs R0.19 oor na insetkoste. Insetkoste speel ‘n baie groot rol en het die hoogte ingeskiet as gekyk word na die prys van saad en kunsmis.

 

Die boer kry maar min van die vasgestelde koringprys. Soms kan koring goedkoper ingevoer word as om dit te verbou.

 

‘n Werklik insiggewende vergadering.



Posted on 19 September 2011

PORTEFEULJE: Kunste en Handvlyt
BERIGGEWER: Regina Neethling
DATUM: 14 September 2011

 

VLV Malmesbury het onlangs, tydens ons Kunste en Handvlyt vergadering , besoek ontvang van die President van Sirkel Paarl, me Marinda Rall.


Me Sharon Wilson van Wemmershoek het ons kom inlig oor die kuns van krale inryg. Sy vertel baie indrukwekkend oor die oorsprong van krale. Sy wys op die godsdienstige betekenis van verskillende vorms, kleure en patrone. Elke kraal word afsonderlik vasgeheg. Driedimensionele-patrone kersballe is hol van binne, en polistireen balletjies word weer met ‘n ander tegniek oorgetrek met die krale. Krale is duur omdat sy meesal gebruik maak van Japanese silinder- en saadkrale, Swarovski kristalle en gepoleerde krale. Baie word aan die verbeelding oorgelaat. Sy bedryf ‘n huiswinkel en bied ook klasse aan.

 

‘n Naaldwerkgroep van die Paarl kom doen uitstallings van hulle werk en me Erika Wynjeterp vertel ons meer van wat hulle doen. Sestien dames vergader 2 keer per maand en elkeen doen ‘n handwerk van sy keuse. Hulle leer mekaar verskillende tegnieke. Daar was pragtige hekelwerk, breiwerk, hardangerwerk, découpage, mosaïek en verskillende kruissteke.

 

‘n Baie ryk en leersame oggend.

 

 

Erika Wynjeterp, Louise Wynjeterp, Marinda Rall, Erina Myburgh en Huibre Retief.

 

  

 



Posted on 18 May 2010

VLV Malmesbury spog met 43 lede, waarvan die meeste reeds afgetree is en nou eers tyd het om in die aktiwiteite te deel. Dit laat ons egter met ‘n gemiddelde ouderdom van 60 jaar. Jare laas was daar ’n swanger lid en die geboortes wat ons vier is dié van kleinkinders en agterkleinkinders.

 

Groot was ons vreugde toe die tak se eerste babatjie in jare op 16 Maart 2010 gebore is. Tiaan wat 3.5kg en 54 cm lank was met geboorte, is ma Mia Louw, van Rondomskrik, Malmesbury se derde kind. Die res van die gesin bestaan uit ’n dogterjie Anche en nog ’n seuntjie Bertus. Pappa is net bly hy het 'n ekstra hand om te help trekker ry en koring plant oor 'n maand.

 

 

 

 

Categories