Posted on 21 November 2011

Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Mette Kromhout
Datum: 16 November 2011

 
Die  VLV program van 16 November wat deur Murraysburg, sirkel Noord-Karoo, in Winifred Grobler se mooi tuin op Brakvlei aangebied is, het die lede geprikkel om hierdie Kersfees deur hulle kreatiwiteit sonder groot uitgawes ‘n atmosfeer van dankbaarheid en wonder te skep.
 

Maretta Theron, koördineerder van die program, het tereg opgemerk dat ons nie in slaafse navolging van Europa moet poog om hier in die Karoo ‘n sogenaamde wit Kersfees te wil vier nie. Deur nuut te dink en dit wat eie aan ons leefwêreld is, te gebruik, kan ons, soos Koos du Plessis dit so mooi in sy lied “Somerkersfees” stel, die wonder van Sy allesomvattende liefde, wat gestalte deur die geboorte en later dood van Sy Seun gekry het, gedenk.
 

Maretta, Wilna Pienaar en Miemie van Heerden het enkele selfgemaakte kersversierings gedemonstreer. Vir die Adventstyd het Wilna ‘n krans van wilgertakkies gevleg. Miemie het  eenvoudige sterre van reguit stokkies, raffia en kleurvolle rooi, groen en wit materiaalstrokies gemaak. Pragtige engeltjies, van afvalmateriaal gemaak, met skitterhare van “goldilocks” potskuurders lyk feestelik, terwyl mooi harte en sterre uit afvalhout gemaak kan word. ‘n Droë garingboomblom of ‘n kersboom gemaak van houtsparre  kan feestelik met tuisgemaakte versierings getooi word. Met spuitverf kan verskeie sade en dennebolle ‘n gedaantewisseling ondergaan en bydra tot ‘n eie, aardse kersboom, wat die liefdesboodskap oordra. In plaas van duur geskenkpapier te koop, kan geskenksakkies van ongebleikte linne of ander afvalmateriaal gemaak en met borduur- of appliekwerk versier word. Hierdie sakkies kan weer nuttig gebruik word..

 
Michelle Cloete se lofprysingsdans in die mooi tuin was iets besonders terwyl ‘n voorlesing van Maretta Theron die lede weereens laat besef het wat met onvoorwaardelike liefde en opregte deernis bereik kan word.
 

Ten slotte is Alna Theron, wat altyd bereid is om op besonder kreatiewe wyse meer as haar deel te doen, aangewys as Vonkelvrou van die Jaar.
 

 

 

Michelle Cloete betower met haar lofprysingsdans.



Posted on 20 October 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Mette Kromhout

 
Tydens Murraysburg se Kunste en Handvlyt vergadering op 12 Oktober 2011 was Kobie Jeppe van die plaas Gannakraal, Victoria-Wes , die gasspreker en het sy en Anna Berg met groot kundigheid en entoesiasme die lede oortuig dat elkeen kreatief kan wees indien daar net ‘n begin gemaak word.
 

Kobie het verduidelik dat ‘n collage, soos wat vir die kompetisie vereis word,  ‘n driedimensionele voorstelling met ‘n spesifieke tema, gemaak van oorwegend plantmateriaal, is. Sy het ‘n collage met die tema herinnering as voorbeeld gebruik en gedemonstreer dat ander materiale soos botteldeksels, ‘n plat gedrukte blik, knope, plastiek voorwerpe ens. suksesvol gebruik kan word om afwisseling deur tekstuur en kleur te verkry. So het roomyslepeltjies in haar collage aan seevakansies herinner. Elke item wat sy gebruik het, het iets van haar verlede vertel.
 

As basis kan afvalhout of ou ogiesdraad, drie- of vierdubbel gevou, gebruik word.  Die idee is juis dat die collage niks moet kos nie en dat stokkies, takkies, sade, peule, bas, palmkrulle en selfs blomme uit afval-metaalgaas gemaak, gebruik word. Die ontwerp moet vloei en minstens een fokuspunt hê. Goeie beplanning ten opsigte van vorm, verhouding, tekstuur en kleur is nodig en die werk van 40x60cm moet netjies afgewerk word. Die slim gebruik van vorm en kleur skep die illusie van beweging en kreatiwiteit kan vrylik gebruik word. Alle plantmateriaal moet heeltemal droog wees en die voltooide collage moet netjies in ‘n doos, soos die spesifikasies vereis, gemonteer word.
 

Verskeie van die lede het onder toesig van Kobie en Anna rose van bloudraad en gaas gemaak en die plase sal in die volgende weke gefynkam word vir alle moontlike bruikbare materiaal. Die lede sal hulle kreatiwiteit vrye teuels gee, want Kobie het almal oortuig dat slegs die wil om dit te doen, nodig is.
 

Sandra Nolte, die uittredende en uiters bekwame Sirkelpresidente was onverwags ‘n spesiale gas. Sy het die tak kom groet en vir die aangename samewerking bedank. Alle lede het groot waardering vir Sandra en wat sy die afgelope jare vir die VLV in die Noord-Karoo beteken het.

 

 

Kobie Jeppe en Anna Berg by 'n collage, wat as demonstrasiemateriaal gebruik is.



Posted on 19 September 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Mette Kromhout

 

 

 

Tydens Murraysburg tak se vergadering op 14 September was Adri Kruger, wat onlangs O.P.-kleure vir uithouritte in die perdesport verwerf het, die spreker.

 

 Adri het die verskil tussen kommandoritte, wat net vir die pret onderneem word, en uithouritte, wat as kompeterende sport beoefen word, verduidelik.

 

Perde, gewoonlik afkomstig van woestynperde, die Arabierperd, se digter beenstruktuur en bloedvate wat dig onder die vel is om vinnige afkoel te bevorder, moet spesifiek vir die uitmergelende ritte soos die Fauresmith uithourit, waar  200km oor drie dae afgelê word, voorberei word. Ritte wissel in lengte, maar alle deelnemers se mikpunt is om aan honderdmylers (160 km) deel te neem.

  

Die ritte vind op grond- en plaaspaaie met gewoonlik bedrieglike padoppervlaktes plaas. Die ruiter moet self in al sy en die perd se behoeftes tydens so ‘n uithourit voorsien en oordeelkundig ry aangesien perde so meegesleur word dat hulle hulself maklik ooreis. Voor en na elke been word die perde deur veeartse ondersoek en hulle hartklop moet na ‘n been binne 30 minute minder as 64 slae per minuut wees om diskwalifisering te vermy.

  

Daar is vaste reëls, wat wêreldwyd geld, vir hierdie sport en die Fauresmith rit is ‘n geleentheid om vir nasionale kleure te kwalifiseer indien ‘n gemiddeld van minstens 24 km per uur gehandhaaf word.

 

Elana Grobler, wie se landbou- en tuinbouvergadering dit was, het die lede se belangstelling met ‘n uitstalling van vetplante en kruie in potte geplant en boeke oor die Karoo se fauna en flora geprikkel en hulle aangemoedig om hulle kinders en kleinkinders die omgewing spelenderwys te help ontdek.



Posted on 29 August 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Mette Kromhout

 
Tydens  die vergadering van  Murraysburg se VLV op 24 Augustus het Theresa Troskie met aansteeklike entoesiasme van die VLVK se kongres, wat sy te Villiersdorp bygewoon het, verslag gelewer. Die sprekers wat tydens die kongres opgetree het, het almal met hulle inspirerende boodskappe daartoe bygedra dat die kongresgangers besef het dat alles moontlik is, indien 'n mens net wil en dat 'n klomp klein bydraes 'n reuse verskil kan maak.
 

Volgens Troskie het die VLVK-president, Erika Lubbe, weer eens beïndruk met haar sterk leierskap, goeie organisassievermoë en warm menseverhoudinge en baie tot die sukses van die kongres bygedra.
 

Die gasspreker, Jenny Ballantyne, 'n kos- en wynkenner het die dames deur middel van hulle reuk-, proe- en sigsintuie gelei om tussen 'n Sauvignon Blank van Robertson en 'n Simonsig Chardonnay 2009 te onderskei. Met 'n heerlike spinasietert, kaasstrooitjies en tiramissu het Ballantyne gedemonstreer dat as wyn en kos mekaar aanvul, die eindresultaat soveel meer genot verskaf. 
 

Die lede het geleer dat die naam van die wyn gewoonlik afkomstig is van die soort druiwe, wat gebruik is, buiten by versnitwyne en dat die ligging van die wingerd en die klimaat 'n groot rol speel. Alhoewel daar tot onlangs gevoel is dat skroefdeksels net by minderwaardige wyne hoort, gebruik al hoe meer wynmakers deesdae skroefdeksels omdat hulle lugdig is en die wyne dus langer hou.
 

Murraysburg se VLV-lede sal na hierdie insiggewende praatjie beslis met ander oë na 'n bottel wyn kyk!
 
 

Hier is Jenny Ballantyne aan die woord terwyl Dorees Pienaar, Elsie Smuts, Lettie Conradie en Christa van Heerden aandagtig luister.

 



Posted on 01 August 2011

Portefeulje: Vele

Beriggewer: Mette Kromhout

 

Murraysburg tak se interessante pot-pourri vergadering van 27 Julie, bygewoon deur ‘n aantal “vreemde narre”, het die dames geheel en al van die koue laat vergeet.

 

Daar was iets vir elkeen. Margaret Booyse se demonstrasies van resepte uit Kareebosch se toetskombuis het die gebruik van skilferkorsdeeg, die maak van ‘n verrassingsbroodjie en ander kitsgeregte maklik laat lyk, terwyl Renée Louw se demonstrasie van springmielies in ‘n mikrogolfoond gemaak ‘n treffer was.

 

Alna Theron, wie se kreatiwiteit geen einde ken nie, het bewys dat daar met beplande knip en knoop ‘n snoesige, duursame kombers gemaak kan word, terwyl die ma’s en oumas gaande was oor die spoegdoeke en lampskerms vir die babakamer.

 

Navorsing gedoen deur Lina van der Berg oor die redes waarom so baie jongmense in die buiteland woon en werk, het die lede laat besef hoe baie kosbare mensepotensiaal ons land verloor en daar is behoorlik saamgedrom voor die aansteekbord met foto’s van die gemeenskap se jongmense in die buiteland.

 

Aldus Elsie Smuts se verslag gaan die Murraysburg boekklub van krag tot krag en die lede het Alida Pienaar, wat saam met Charl Conradie ‘n boek oor Murraysburg en sy geskiedenis geskryf het, se berig oor die hele proses van inligting insamel, skryf en die drukproses uiters interessant gevind. Die boek word op 27 Augustus in Murraysburg bekend gestel.

 

Verskeie dames het van hulle kreatiewe handewerk te koop aangebied terwyl 338 gebreide blokke vir die komberse vir kankerpasiënte ingehandig is.

 

 

 

Hannelize, Maretta, Rialeen en Kay.

 

 

Die een met die pienk veer in die hoed is Dorees.

 

 

 

 



Posted on 06 June 2011

Portefeulje: Vele

 

 

Murraysburg - Tydens die potpourri vergadering van 1 Junie was die deelname van verskeie jong lede baie verblydend en het die ouer lede besef hoeveel daar by die jonges geleer kan word.

 

 

Ten spyte van 'n klein baba het Sarice Venter verskeie organza blomme gemaak en ook aan die lede gedemonstreer hoe maklik dit is om hierdie blomme self te maak. Met die mooie Rykie de Klerk as model het sy met behulp van serpe, 'n stola en hareknippies Rykie se voorkoms so vinnig en treffend verander dat die lede sommer haar hele voorraad blomme wou aankoop.

 

 

Elana Grobler het met behulp van 'n DVD van Reg Botha die dames probeer leer hoe om 'n tuinwerker effektief op te lei sodat hy trots op sy werk kan wees en vervulling daaruit kan put, terwyl die tuinwerk effektief en tot tevredenheid van die eienaar gedoen word. Die roetinetake moet eers afgehandel word, voordat addisionele take, soos die plant van saailinge, bolle of struike aangepak word. Daar moet presies aan die werker gewys word hoe die addisionele take gedoen moet word.

 

 

Ten slotte het die lede d.m.v. 'n vasvra allerlei oor S.A. se grootste, beste en eerste prestasies geleer. Die oud-Maties was trots op hulle alma mater se navorsing t.o.v. die ruimte, terwyl alle plaaslike mense natuurlik geweet het dat Graaff-Reinet met die grootste wingerdstok kan spog!

 

 

Beriggewer: Mette Kromhout



Posted on 16 May 2011

Portefeulje: Gesondheid

 

Melanie Stannard, apteker van Graaff-Reinet, was die gasspreker tydens Murraysburg tak se Mei vergadering.

 

Sy het veral op die immuniseringskedule vir babas en tienerafhanklikheid gefokus. Ter inligting van die oumas vertel sy dat die individuele immuniseringsprogram baie verander het. Elke dame het so ‘n gedrukte skedule ontvang. Ten einde die baba so goed moontlik te beskerm, moet die basiese skedule gevolg word. Bewys daarvan word ook by skooltoelating vereis.

 

Ouers moet aanvaar dat tieners baie vroeër seksueel aktief is, soms reeds vanaf tienjarige ouderdom. Dogters moet op ’n vroeë ouderdom met drie vaksines teen die Papiloma virus beskerm word.

 

Stannard het beklemtoon dat alle tieners, ongeag van hulle sosio-ekonomiese omstandighede, moontlike slagoffers van middel- of substansgebruik kan word. Veral sportgedrewe kinders word weens die oormatige klem op prestasies soms verlei om steroïde, wat baie maklik bekombaar is, te gebruik. Hierdie verbode middels tas veral die lewer aan.  

 

Weens hulle behoefte aan aanvaarding deur die portuurgroep gebruik kinders drank en dwelms, soms onwetend soos wanneer by partytjies daggakoekies aan hulle uitgedeel word. Dwelms soos tik is vrylik bekombaar en goeie kommunikasie tussen ouers en tieners is nodig om tieners in staat te stel om die versoekinge te kan weerstaan. Tieners besef nie altyd dat die aanvanklike euforie deur intense sleg voel gevolg word en dat die dwelms hulle organe beskadig nie. Enige verandering in gedragspatrone, skielike aggressie, haargroei in die gesig, wollerige baard en onnatuurlike krapperigheid kan op verslawing dui en die hulp van ‘n ervare maatskaplike werker behoort ingeroep te word.

 

Ten opsigte van hierdie gesondheidsprobleme is realisme en kennis mag.

 

Beriggewer: Mette Kromhout

 

 

Melanie Stannard aan die woord.



Posted on 26 April 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

 
Linda Biggs van Vleiplaats het hul ervaringe met tuisonderrig met die lede van Murraysburg VLV gedeel.
 

Wanneer tuisonderrig oorweeg word, moet vyf vrae eers indringend beantwoord word. Hoekom?  Waar?  Wat?  Wie? en Watter uitdagings is daar?
 

Aangesien hulle, hulle tweeling wou leer dink en toesien dat die kinders nie net leer om te onthou nie, maar veral geskool word om oplossings vir probleme te soek en vrae te vra, het hulle tuisonderrig aangepak. Natuurlik wou hulle die gesin ook langer bymekaar hou.

 
Linda en William Biggs het 'n vertrek in 'n buitegebou met die nodige meubels, swartbord en muurspasie as klaskamer ingerig en die tweeling het die uniform van die Union High Voorbereidende Skool vir die skoolure (7:30-12:00) gedra. Daar is baie aandag aan vaste struktuur en dissipline gegee.
 

Die baie inligting wat deur die Internet beskikbaar is, het hulle verwarrend gevind, en goeie kontak met die Union High Voorbereidende Skool opgebou. Hulle het die leermateriaal wat daar gebruik is, verwerk en dieselfde reeks leesboeke gebruik.  Baie materiaal het hulle self geskryf om seker te maak dat die kinders goed leer lees.
 

Linda Biggs het self die onderrig vir twee dae in die week behartig, vir twee dae het die bekwame Felicity Minnaar dit gedoen en op Vrydae is die kinders na Graaff-Reinet, waar hulle saam met leerders van ander tuisonderrig skooltjies blootgestel is aan allerlei buitemuurse aktiwiteite. Dit het die kinders ook gehelp om te sosialiseer en verhoudings op te bou.
 

Alhoewel baie bevredigend, is dit 'n baie eensame pad en is dit belangrik om met soveel ander wat tuisonderrig doen, te skakel. Omdat dit gewoonlik die moeder is, wat tuisonderrig aanbied, is goeie organisasie en hulp met die huishouding onontbeerlik en moet daar moeite gedoen word om die kinders met ander van hulle portuurgroep te laat skakel. Daar moet gepoog word om moontlike leerprobleme betyds te identifiseer en waar nodig moet met 'n opvoedkundige sielkundige geskakel word.
 

Alhoewel dit baie van die betrokke ouers verg, kan tuisonderrig suksesvol wees en is die hegter gesinsband 'n groot bonus.
 
 
Beriggewer: Mette Kromhout

 

 

 

Linda Biggs

 



Posted on 18 March 2011

Die VLV Konferensie van die Sirkel Noord-Karoo wat op 9 & 10 Maart op Victoria-Wes aangebied is, was nie net puik gereël nie, maar het die afgevaardigdes opnuut die waarde van die VLV aktiwiteite laat besef en hulle met groot entoesiasme by Murraysburg se Maart vergadering laat verslag doen.

 

Lizl Conradie het met haar uitstekende verslag daarin geslaag om al die lede aan die konferensie te laat deel hê.  Die goeie en besielende sprekers was vir haar die hoogtepunt.


Op 9 Maart het die sameroepers van die verskillende studievelde interessante programme aangebied en Alta Waldeck se Noot vir Noot-program het vir ligter oomblikke gesorg.

 

Maretha Badenhorst van die Strand se motiveringspraatjie met die tema AANHOUER WEN / NEVER GIVE UP was beslis inspirerend , terwyl Estelle de Kock van Kimberley se inligting oor die projek Noord-Kaap Kinderevangelisasie die dames laat besef het dat elkeen ‘n verskil kan maak.  Daar word hoofsaaklik op graad-6 leerders gefokus.

 

Sandra Nolte se weldeurdagte Presidentsrede was ‘n goeie terugblik op die Sirkel Noord-Karoo se aktiwiteite van die afgelope jaar, terwyl Izak van der Merwe bedank is vir sy ruim skenking wat die Johanna van der Merwe studiefonds moontlik gemaak het.

 

Die lede is meegevoer deur Romano Galant se briljante nabootsing van Michael Jackson se dansstyl. Die vergadering was nie net insiggewend nie, maar ook vermaaklik.

 

Beriggewer: Mette Kromhout

 

 

 



Posted on 23 February 2011

Tydens die Februarievergadering van die Murraysburg VLV het Kotie van den Berg die lede op die ekonomiese en etiese lesse, wat uit die natuur geleer kan word, gewys.
 

Voordat ‘n ingeligte besluit geneem kan word, is kennis en ondervinding nodig en die gevolge van elke besluit het dikwels lesse tot gevolg. Enige besluit in besigheid berus op twee bene, naamlik ‘n feitelike, ekonomiese been, wat die maak van wins ten doel het en ‘n etiese been, wat bepaal hoe die werknemers, families en die omgewing geraak gaan word.  
 

Sy het die boom as voorbeeld gebruik om te illustreer hoe ons uit die natuur kan leer. Soos wat die boom ‘n stewige wortelstelsel het, het elke besigheid sterk ankers nodig, d.w.s. moet op ‘n goeie waardestelsel berus.  
 

Soos die uitgebreide, wydvertakte wortelstelsel van die boom is netwerkvorming en goeie verhoudings vir elke besigheid en mens van uiterste belang. Die boom gee sy blare terug aan die grond, en stel sy produkte/ vrugte, selfs sy hout na sy dood beskikbaar. ‘n Sakeonderneming moet ook in die gemeenskap en omgewing terugploeg.
 

Laastens gooi die meeste bome hulle blare in die herfs af en voorsien so vir moeilike tye.  ‘n Sakeonderneming wat nie spaar en vir moeilike tye voorsiening maak nie, het slegs ‘n baie skraal kans op oorlewing.  Dit geld natuurlik ook vir elke mens.
 

Die lede het baie geleer uit dié praktiese verwysing na die natuur en weer eens besef hoe wonderlik die skepping is.

 

Beriggewer: Mette Kromhout

 

Murraysburg Bestuur

 

 

 

 

 

Categories