Posted on 08 August 2011

Portefeulje: Opvoeding  en Kultuur
Sameroeper: Heidi van Niekerk


Dit was ‘n bibberkoue dag in Nieuwoudtville, met hael op die dak, maar ons harte was warm na ‘n leersame en genotvolle vergadering. 


Een van ons lede, Mandy Schumann, het vir haar tweelingsus, Bonny, in Suid-Korea gaan kuier, en het ons meer oor dié land kom vertel. Met interessante foto’s het sy ons meegevoer na ‘n ver land met  hardwerkende mense by wie ons baie kan leer. Die mense daar lê baie klem op hul kinders se opvoeding. Hul skooldag is van 8vm tot 10nm, wanneer hulle met behulp van ekstra klasse, saans, vaardighede soos Engels aanleer. Hulle moet selfs naweke skoolgaan. Vir speel is daar min tyd.


Anita Hattingh het ‘n passie vir quiltwerk en beoefen die kuns al 23 jaar. Sy het al verskeie bedquilts, muurbehangsels, en ander pragtige artikels gemaak. Sy het ons met voorbeelde lus gemaak om die naald op te neem. Sy saam met 3 ander dames, het besluit om ‘n quilt te maak wat hulle aan die kerkbasaar in Oktober gaan skenk om opgeveil te word. Quiltwerk word deur 3 lae gewerk, hetsy met die hand of masjien. Sy vertel dat quiltwerk sy ontstaan by die boervrouens in Amerika gehad het. By ons het die Voortrekkers uit nood, ook laslapwerk gedoen. Elke vrou het net EEN naald gehad wat sy 6 maande lank gebruik het. Die naalde is telkens op ‘n klip skerpgemaak. 

 
Die oudste quiltartikel wat in Suid Afrika gemaak is, is in die Drosdy Museum op Swellendam te sien, en dateer uit 1805.


Elkeen het ‘n sakkie Lucky Pet katkos gekry wat geskenk is deur Lucky Pet, waaraan ons kieterkat-kinders heerlik gesmul het. Dankie Lucky Pet!

 

 

Quilt gemaak deur 4 dames en word Oktober opgeveil tydens die kerkbasaar.

 

 

Anita wys hoe die Grandmother's Flower Garden gemaak word.

 

 

Dames kry elkeen 'n sakkie Lucky Pet katkos - vir ons Kietsiekatte natuurlik.

 

 

Mandy Schumann vertel ons meer van Suid Korea.



Posted on 18 May 2011

Portefeulje: Gesondheid

 

Elmarie Spangenberg het met haar Gesondheid vergadering op die 12de Mei vir ‘n vol en interessante program gesorg.

 

Avroy Shlain se dames het ons kom bewus maak van die belangrikheid van ‘n goeie sonskerm om ons velle teen sonlig en gewone lig te beskerm. Sonskerm help om vel veroudering, soos plooie, en skade soos vlekke en velkanker te verminder. Sy beklemtoon dat ons ‘n goeie sonskerm dwarsdeur die jaar, binnenshuis sowel as buitenshuis, MOET gebruik.

 

Mnr. Piet du Plessis, sielkundige van Vredendal, het met die dames kom gesels oor selfmoord, moontlike oorsake en tekens, en die stryd wat sulke mense asook die naasbestaandes deurgaan. Hy gee ook wenke hoe om sulke mense by te staan.

 

Mev. Alet Wyers, ‘n plaaslike inwoner, is besig om ‘n Dienssentrum op die been te bring op N’ville, waar opleiding verskaf sal word in o.m. haarkappery, velversorging en handwerk.

 

Op  rekenaargebied, het Irma van Niekerk die dames gewys hoe SKYPE werk. Ons het d.m.v. SKYPE met Bonnie Schumann in Suid Korea gesels. Sy het op die skerm vir die dames gewys watter vreemde Koreaanse geregte sy daar geniet.   

 

Irma het ook daarop gewys dat jy vanaf SKYPE na ‘n gewone telefoon kan skakel as jy vir jou ‘n krediet gelaai het – soos jy met ‘n vooraf betaalde selfoon sou doen. Vir sommiges wat nie selfoon opvangs op plase het nie, en wel Internet het – is dit ‘n uitkoms om ‘n dringende oproep te kan maak, wanneer jou telefoon buite werking is. Die vrouens was baie beïndruk met die hedendaagse tegnologie. Dankie tog vir positiewe vooruitgang!

 

 Alet Wyers, wat eersdaags 'n Dienssentrum op die been gaan bring, vertel van haar planne.

 

 

Elmarie kyk deur die regte bril na die lewe. Sielkundige, Piet du Plessis, gee raad.

 

 

 Piet aan die woord.

 

 

Kyk net hoe word daar ge-SKYPE met Bonnie Schumann in Suid Korea.

 



Posted on 10 May 2011

Op Saterdag 7 Mei het N’ville VLV hul 15e Pretstap aangebied. Jaarliks groei die gewildheid, en vanjaar was daar die meeste deelnemers ooit. 

 

Dit was perfekte stap-weer. Die deelnemers, jonk en oud, het in vrolike luim om 8 vm. by die kerksaal weggespring, om die 7km na die waterval af te lê.

 

Hulle kon stap, draf of fietsry. Daar was selfs ma’s en pa’s met stootkarretjies, en party met hul honde aan leibande. Al geselsend is die 7km gou-gou kafgedraf/gestap. By die waterval is die deelnemers met ‘n heerlike plaasontbyt beloon, terwyl daar vir ‘n uur of twee, gesellig saamgekuier is in die natuur.

 

Die ontbyt is voorsien en voorberei deur die VLV lede.

 

Daar was baie pryse vir die verskillende ouderdomsgroepe en kategorieë.

 

Baie dankie aan almal wat deelgeneem het, en aan elke VLV vrou wat ‘n bydrae gelewer het om dit ‘n suksesvolle dag te maak.

 

Volgende jaar, op die eerste Saterdag van Mei, maak ons (DV) weer so!

  

Wegspring!

  

Oppad na die waterval.

 

 

Eindpunt-vreugde.

  

Pryswenners.



Posted on 26 April 2011

Portefeulje: Openbare Sake, onder leiding van Betsie Vollgraaff.

 

Die Matsikama Dierebeskermingsvereniging te Vredendal, het Nieuwoudtville se lede kom vertel van die lief en leed van hul verpligtings om ons dierevriende, wat nie so gelukkig is om vertroetel te word nie, te beskerm. Daar is streng wetgewing en prosedures teen mense wat diere mishandel.

 

Dames kan onthou dat diesulke verenigings d.m.v. skenkings gefinansier word.  Maak gerus jou hart hiervoor  oop en maak ‘n bydrae in jou omgewing. Hierdie mense doen ‘n onbaatsugtige werk, in meestal, onaangename omstandighede!

 

Mnr Johan Smith – Raadslid van Vredendal, het die dames kom toespreek oor die komende verkiesing, en ons aangemoedig om te gaan stem, en om hande te vat met ons naaste.

 

Dames kon hul honde-troeteldiere saambring wat deur ‘n ‘algemene stemming’ beoordeel is. Die diere het mekaar baie goed ‘verdra’, en het vir baie pret gesorg. Die viervoetiges het ‘smaaklike’ pryse ontvang, wat deur Landbank geborg is. 

 

  • Tannie Mollie van Wyk, is ‘n ou staatmaker vir ons tak – sy het ‘n beker ontvang vir die 1e prys wat sy tydens die afgelope Konferensie te Klawer vir haar uitstekende seep gewen het. Sy het ook die 2e prys gewen vir hekelwerk.
  • Irma van Niekerk deel die trofee met Vredendal vir ‘n eersteplek vir die foto afdeling.
  • Leana van Wyk wen die 2e plek vir Lemoenskil-rolletjies.
  • Elmarie Spangenberg behaal die 3e plek vir haar blommering. 
  • Rida Visagie behaal die 3e plek vir 'n leer brilsakkie.

                                                                                                                                                      

Nieuwoudtille VLV het die 4e meeste punte op die Konferensie behaal. Wel gedaan!

 

 

Dossie van die Matsikama Dierebeskermingsvereniging.

 

 

 

Elizna Louw met haar Basset, Phoebe.

 

 

 

Johan Smith.

 

 

 

Tannie Mollie van Wyk met haar trofee - 1ste plek, seep.



Posted on 17 February 2011

Landbou vergadering – 17 Feb 2011.

 

Mandie Kotze het die jaar afgeskop met ‘n fantastiese Landbou program by haar op die plaas Grasberg. 
Christy Bragg is besig met haar PhD oor die rol van Ystervarke in die omgewing. Sy het ‘n baie interessante en lewendige aanbieding gebring, sodat ons die ystervark met ander oë kan sien. Die boervrouens het  die boer se  probleme met ystervarke op die plaas met haar gedeel. Sy is ook  besig om te soek na ‘n ‘afskrikmiddel’ wat ystervarke sal ontmoedig om ‘n terrein te betree. Sy het reeds verskeie middels beproef, maar ystervarke blyk (nog) nie ontmoedig te word deur enige iets nie.

Gaan loer gerus by haar webwerf:
http://thegreenconnection.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=10&Itemid=8

 

Belinda Visagie, veelsydige boervrou van die omgewing, het kom vertel hoe sy skandering van ooie doen tydens lamtyd. Sy lig die voordele daarvan uit en doen ‘n kosteberekening om te bepaal hoeveel die boer kan spaar deur die ‘raaiwerk uit lamtyd’ te haal.

 

Mandy Schumann se tweelingsus Bonny, gee tans onderwys in Suid  Korea - sy kom deel ‘n klompie foto’s met ons oor hoe dit daar lyk, terwyl dit nou so ysig koud is by hulle. 

Die vrouens hang aan haar lippe, terwyl  Alrie van Wyk vir ons demonstreer hoe om jou eie pasta en basiliepesto te maak. 

Sy demonstreer ook vir ons Aartappel, Botterskorsie en Feta Latkes – koekies wat in vlak olie gebraai word. Sy maak ook ‘n doopsous met basiliekruid en Griekse Joghurt om daarmee saam te eet. Ek plaas die resep – gaan toets dit gerus – Heeeeerlik!

 

Baie dankie aan Mandie en haar helpers, en al die sprekers vir ‘n heerlike en leersame middag.

 

 

 

Alrie demonstreer hoe pastadeeg aangemaak word.

 

 

 

Alrie rol pastadeeg met Belinda wat hand bysit.

 

 

 

Lede buite in die tuin op Grasberg.

 

 

 

Mandie Kotze, saam met die sprekers van die dag - Mandy, Belinda, Alrie, Mandie, Christy.



Posted on 23 November 2010

Dit was ‘n opgeruimde groep VLV vroue wat vroegoggend na Vredendal vertrek het vir ‘n heerlike uitstappie.


Ons het heel eerste die roosplaas besoek van Dawie en Louwna Fourie.  Hulle het reeds vroeg voor ons aankoms hul rose gepluk. Dawie het ons ingelig oor hoe hulle te werk gaan met die pluk en versorging van die bome en die rose. 

 

By Dina Grobbelaar, wat net buite Vredendal op ‘n kleinhoewe woon, is ons behoorlik geŃ—nspireer deur haar pragtige tuin.  Dis beslis ‘n voltydse werk en  vereis hope, en hope liefde vir tuinmaak.  Onder ‘n massiewe ou Koraalboom het sy vir ons heerlike koue koeldrank bedien – net  wat ons nodig gehad het op  die warm somersdag .

 

Luzanne Kwekery is meer as net ‘n kwekery.  Hulle ‘boer’ ook met Malvas.  Randie Smit het ons vertel hoe die olie uit die Malvas gepers word.  Klink vir ons na die ideale boerdery.  Hier het ons ook die lekkerste  sjokolade- en kaaskoek geëet.

 

Die middag is afgesluit met ‘n heerlike middagete en tuisgebakte brood onder die lapa op Draaihoek se Wildplaas van Jan en Renske van Zyl. Die lapa is teenaan die watergat waar die diere kom water drink.

 

Baie dankie aan Betsie, Heidi en Mandie wat die puik reëlings getref het.  Dit was ‘n heerlike dag.  Ons maak weer so.

 

Beriggewer: Irma van Niekerk

 

 

VLV "malvas" in die malvaland, waaruit olie onttrek word.

  

 

Fraaie dames in Dina Grobbelaar se tuin.

 

 

Dawie Fourie, doring van die roosplaas. 

 

 

In vrolike luim in Draaihoek se lapa.

 



Posted on 22 August 2010

Die Opvoeding en Kultuur vergadering onder leiding van Heidi van Niekerk was ’n middag van groot pret en skaterlag.

 

Die Voorsitter het ’n huldeblyk gebring aan wyle Barbara Conradie, en gesê die bome wat sy tydens een van haar vergaderings geplant het, sal ons altyd aan haar herinner.

 

Helene Visagie is ’n uiters veelsydige vrou. Haar hande en stem staan vir niks verkeerd nie! Niemand kan ’n storie vertel soos sy nie, en met haar kenmerkende manier het sy ons almal weereens laat skater. Sy het ’n voorlesing gedoen oor Jonas wat graag wou gaan trou, en eers moes bewys dat hy sy Bybel ken. Die omliggende bure kan hulself gerus ’n guns doen en van haar talente gebruik maak. Sy is P U I K!

 

Heidi en haar span het ’n heerlike middag van ontspanning aangebied deur “Woorde en Wysies van Toeka tot Nou”. Die VLV dames en vele besoekers is in twee groepe verdeel, met Martie Esterhuize en Hettie McGregor as leiers. Irma het musiek vir 30 sekondes gespeel, waarin die dames o.a. 100 titels moes herken. Natuurlik was die dames skitterend, en het hulle die meeste liedjies binne sekondes herken. Die aanbieder Helene Visagie en tellinghouer Rida Visagie het die spanne goed in toom gehou. Koekblikke is op die tafels gesit en die persoon wat die antwoord geken het, moes eers op die koekblik slaan voordat sy kon antwoord. Daar was vier afdelings, met verskillende vrae oor die liedjies. 

 

Die wenspan het elkeen ’n CD as prys ontvang, wat geskenk is deur Huisgenoot Tempo, asook Klipwerf Orkes. Ons is BAIE dankbaar teenoor hulle.

 

Eze-sweet het vir ons hulle Aspartame-vry suikervervanger as skenking gegee, wat die dames kon huis toe neem om te toets. Ons sê ook baie dankie aan hulle. Besoek gerus hulle webwerf by www.ezesweet.co.za.

 

Dit was ’n heerlike middag wat almal geniet het, en nog lank sal onthou.

 

Baie dankie aan Heidi vir haar aansteeklike geesdrif.


 

 

Green Baret's - CD wenners

 

 

 

Heidi en Irma van Niekerk

 

 

 

Helene Visagie

 

 

 

Span 2 - Blue Danubes (Bulle)



Posted on 08 July 2010

. . . . in Nieuwoudtville. 

 

Mnr Koos Coetzee van Vanrhynsdorp doen raamwerk van skilderye, foto's, skoentjies, trourokke, dooprokke en vele meer. Daar is min dinge wat nie geraam kan word nie. Hy het raad gegee oor watter rame by watter tipe skildery sal pas, en  verskillende tipes rame kom wys. Hy het ook vertel dat plattelandse ramers soms gebruik word om baie duur en gesogte skilderye te raam, juis omdat dit so veilig is, en niemand dit daar sou verwag nie.

 

 

 

 

Irma van Niekerk en Mandy Schumann het die dames gewys hoe die VLV se webblad lyk. Die dames het lekker gekyk na insette van ons en ander op die web. Omdat die GPRS konneksie-spoed van die G2 geweldig stadig was, kon ons sommer vir die vroue verduidelik van tipes konneksies en waarom sommiges stadiger of vinniger as ander is.

  

 

 

Ronelle het die dames genooi om 'iets oud van waarde' saam te bring, en die storie daaromtrent te kom vertel. Tannie Mollie van Wyk (80jr) het 'n baie spesiale en pragtige geraamde verjaardagkaartjie van haar ma gebring wat uit 1916 dateer. Colleen het 'n interessant-geraamde foto van haar oupa saamgebring; Barbara Conradie het 'n spesiale skinkbord se storie kom vertel; en Heléne Visagie het 'n outydse 'vet-bakkie' van tin uit die 1930's kom wys.

 

 

 

 

Die Kuns en Handvlyt vergadering in Junie is deur Ronelle Zirkel gelei.

 

 



Posted on 01 June 2010

Die tema van Nieuwoudtville se Mei-vergadering was Gesondheid, onder leiding van Elmarie Spangenberg. 


Met die aankoms is ons begroet met ‘n glasie sjerrie. Daarna het ons, ons hande gewas;  Maak jou hande nat in lekker lou warm water, gooi sowat ‘n eetlepel suiker in jou hande en ‘n bietjie reukolie. Vryf dan jou hande lekker hard teen mekaar en spoel af. Hierna is jou hande heerlik sag!

 

Cantare, is ‘n groep operasangers van Calvinia wat 18 jaar gelede gestig is deur Leonard Von Solms, wat self ‘n operasanger is, en ook verantwoordelik is vir die afrigting van die lede.  Hulle het die dames vermaak met 5 opera liedere uit die boonste rakke.

 

Theo van Zyl, oogkundige van Vredendal, het ons kom inlig omtrent oog-probleme en oogsiektes, o.a. Katarakte en Gloukoom.  Beide oogsiektes is geneties. Hy sê Katarakte word veroorsaak deur o.m. skerp lig.  Die lens verdof, word al valer, en die beeld word al dowwer.  So ’n operasie duur ongeveer 15 min. en word onder lokale verdowing gedoen. 

 

Hy het ook gesê ‘n mens moet maar gereeld jou oë laat toets om ‘n probleem vroegtydig op te spoor en te behandel en ook die regte bril vir jou oë te kry, al is dit net vir lees. Jou linkeroog en regteroog kan verskil, daarom kan die ‘apteek-brilletjies’ nie vir almal se oë geskik wees nie. Mnr van Zyl beklemtoon dat die rekenaar ‘n deel van ons lewens geword het, en ‘n negatiewe invloed op ons oë het,  ons moet dus onthou om ons oë elke 1/2uur te laat ‘rus’.
 

Na die opening van die vergadering is pryse van SASKO aan ons bo-baas baksters oorhandig wat aan die VLV kongres te Calvinia deel geneem het. Na die vergadering het ons heerlike sop en gevulde pannekoek geniet.


 

 Martie Esterhuize was hande.

 

 

 Helen, Miekie en Leonard.

 

 

Theo van Zyl.

 

 

Lana, Barbara & Elsie (nms Lenie Theart) - SASKO pryswenners. 

 



Posted on 10 May 2010

Elke jaar hou  Nieuwoudtville tak ‘n pretstap vanaf die dorp tot by die waterval, ten bate van takfondse. Op 1 Mei was daar weer so gemaak.

 

Oud en jonk, mans, vrouens, en kinders kom saam om deel te neem. Dit is sowaar ‘n PRETTIGE staptog. Die stappers het by die Kerksaal aangekom met voertuie, fietse en selfs stootwaentjies. Daar is om 08h00 weggespring en party was baie fluks - hulle het sommer die 7km tot by die waterval gedraf. Ander het fiets gery, die pad op ‘n drafstap aangedurf en party ma’s met hul kleuters, het al geselsend saamgestap. Een ding het almal ten minste geweet en dit is dat die lafenis by die eindpunt wel verdiend sou wees.

 

Lulu Kotze het die wenners by die eindpunt ‘uitgevang’, waar ‘n heerlike ontbyt en drinkgoed gereed gestaan het om die stappers te verfris. ‘n Glasie is geklink toe die wenners hul pryse ontvang het.

 

Leana van Wyk, voorsitter van die tak, het die stappers geprys vir hul deelname, en beklemtoon dat, om te BEWEEG, die beste terapie teen stres is. Sy het die mense aangemoedig om gereeld te stap of fiets te ry.

 

Dankie aan die VLV-dames wat verantwoordelik was vir die uithaler ‘boere’-ontbyt!  Dankie aan die “Vasvat” stapgroep van Vredendal, wat ons ondersteun het.  Volgende jaar...DV... maak ons weer so.

 

Dan hoop ons om  nog meer stappers van buite te betrek. Hoe lyk dit Loeriesfontein, Vanrhynsdorp en Calvinia?

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Categories