Posted on 21 October 2011

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Sue
Datum: 6 Oktober 2011

 

VLV lid, Ita van Zyl, was die spreker tydens Orania tak se Oktober vergadering.

 

Skoonheid lê elke vrou na aan die hart. Vroue van alle kulture gaan tot groot uiterstes om met die eretitel van “mooi” bekroon te word.

 

Ons vind reeds in die vroegste beskawings bewyse van die belangrikheid van skoonheid. Dink maar aan die Egiptiese prinses, Neferetiti wat in 1346 v.C. geleef het. Sy en haar ses dogters het elegante, verlengde koppe gehad – so gevorm deur drukking op die babakoppie. Nader aan die moderne siening van skoonheid is Cleopatra, alombekend as een van die mooiste vroue wat geleef het. Haar skoonheid was gekenmerk deur dramatiese en kontrasterende grimering.

 

Nog ‘n interessante vorm van skoonheid is die Padaung-vroue van Burma wat hulle nekke verleng deur metaalringe om die nek te sit. Die Pedi-vroue in Suid-Afrika het dieselfde gebruik.

 

Die Musi-vroue van Etiopië sit skywe in die onderlip. Hierdie skywe word geleidelik met groteres vervang en so kan ‘n volwasse vrou se lippe tot sestig sentimeter verrek word! Vir ons lyk dit aardig, maar vir hulle ‘n teken van groot skoonheid, eer en respek.

 

‘n Swart stam in Afrika maak tydens inisiasie insnydings in die rûe van seuns en dogters. Hierdie wonde word dan met as gevryf sodat dit sweer en littekens maak. Hoe growwer jou rug, hoe mooier is jy!

 

Die Japannese beoefen ‘n baie interessante kunsvorm van tatoeëring waarvolgens die hele vel getatoeëer word en as groot skoonheid beskou word.  Velversamelaars betaal astronomiese bedrae vir hierdie pragtige “kunswerke” wat hulle dan as versamelstukke bewaar.

 

‘n Meer bekende Japannese gebruik is die opbind van voete. Dit staan bekend as die Lotusvoet. Hoe kleiner jou voete, hoe mooier is jy. Hoe meer kunstig die voet gevorm is, hoe hoër word die vrou geag in terme van status en skoonheid.

 

Ons Westerse kultuur vereis gelukkig nie dat vroue hulself aan allerhande pynlike prosedures moet onderwerp om as mooi beskou te word nie. ‘n Goed versorgde vrou is ‘n mooi vrou! Dit is ons taak om ons dogters (en onsself as dit nodig sou wees) so op te voed dat ons/hulle sierrade in die gemeenskap sal wees, wat oor innerlike sowel as uiterlike skoonheid sal beskik. Albei is immers Godgegewe!



Posted on 03 September 2011

Portefeulje: Kunste & handvlyt
Beriggewer: Melanie Smith

 

Elise Snyman het vir ons gedemonstreer hoe om handgemaakte papier te maak.  Die proses is eintlik baie eenvoudig. Handgemaakte papier het ‘n unieke voorkoms en tekstuur wat dit baie spesiaal maak.

 

Die korrekte toerusting wat gebruik word is twee raampies (A4 grootte) wat bo-op mekaar geplaas word. Een van die raampies is oorgetrek met met ‘n digte materiaal soos voile. Die materiaal moet redelik styf gespan wees. Maak seker dat die raampies goed afgewerk is, m.a.w. die rande moet glad wees.

 

Die tipe papier wat gebruik kan word moet papier wees wat nie glad is nie. Rekenaarpapier met die gaatjies op die kante is die geskikste. Papier word in repe en blokkies geskeur en dan in warm water geplaas die vorige aand. Die papier word dan in ‘n voedselverwerker verpulp. Gekleurde servette kan ook bygevoeg word om verskillende kleure voort te bring.

 

Pulp word in ‘n groot skottel saam water en bietjie kouelym gegooi waarna enige plantmateriaal soos roosblare, laventelblomme, uieblare ens. bygevoeg kan word. LW – plantmateriaal moet eers vooraf bietjie gekook word om dit te preserveer. Reeds gedroogde plantmateriaal asook enige ander items wat tekstuur kan verskaf en wat mooi sal lyk, kan net so bygevoeg word.

 

Die pulp word met die raampies “geskep” waarna die water deur die materiaal dreineer en ‘n perfekte A4 papier gevorm word. Die nat papier word dan op ‘n absorberende lap omgekeer of op die raampie gedroog. Wanneer die papier droog is, is dit gereed vir gebruik!



Posted on 22 August 2011

Portefeulje: Handvlyt
Beriggewer: Sue

 

VLV lid Celéste van Niekerk het gedemonstreer hoe om knie- en gooikomberse van snoesmateriaal ("fleece") te maak. Snoesmateriaal, wat ietwat wollerig vertoon, gee 'n beter resultaat as die wat heeltemal glad vertoon. 

 

Besluit op die mate van die kombers; voeg dan 24cm by aan albei sye - byvoorbeeld as jy op 1m by 1m besluit het, werk dan met 1.24m by 1.24m. Kies twee kleure materiaal wat goed saampas of 'n interessante kontras bied. 

 

Lê die twee stukke materiaal bo-op mekaar, met regte kante na buite. Steek die twee stukke materiaal opmekaar vas met spelde. Meet 12 x 12cm op elke hoek en knip die vier hoeke uit. Elke sy het nou 'n 12cm breë strook wat in vingers van ongeveer 3cm breedte, al langs die kant af gesny word. Sny deur albei stukke materiaal. Knoop elke paar vingers, een van elke kleur, aanmekaar vas. Probeer verskillende maniere om die knoop te maak, sodat byvoorbeeld óf die knoop self, óf die vingers die ander kleur vertoon. In plaas van knope maak kan jy 'n 1.5 tot 2cm gleufie langs die middel van elke paar vingers knip of sny, in lyn met waar die kombersgedeelte begin. Trek dan beide vingerpunte reg deur die gleufie en vou om vir 'n alternatiewe kleureffek.



Posted on 22 August 2011

Portefeulje: Handvlyt
Beriggewer: Sue

 

VLV lid Celéste van Niekerk het gedemonstreer hoe om knie- en gooikomberse van snoesmateriaal ("fleece") te maak.  Snoesmateriaal, wat ietwat wollerig vertoon, gee 'n beter resultaat as die wat heeltemal glad vertoon. 

 

Besluit op die mate van die kombers; voeg dan 24cm by aan albei sye - byvoorbeeld as jy op 1m by 1m besluit het, werk dan met 1.24m by 1.24m. Kies twee kleure materiaal wat goed saampas of 'n interessante kontras bied. 

 

Lê die twee stukke materiaal bo-op mekaar, met regte kante na buite. Steek die twee stukke materiaal opmekaar vas met spelde. Meet 12 x 12cm op elke hoek en knip die vier hoeke uit. Elke sy het nou 'n 12cm breë strook wat in vingers van ongeveer 3cm breedte, al langs die kant af gesny word. Sny deur albei stukke materiaal. Knoop elke paar vingers, een van elke kleur, aanmekaar vas. Probeer verskillende maniere om die knoop te maak, sodat byvoorbeeld óf die knoop self, óf die vingers die ander kleur vertoon. In plaas van knope maak kan jy 'n 1.5 tot 2cm gleufie langs die middel van elke paar vingers knip of sny, in lyn met waar die kombersgedeelte begin. Trek dan beide vingerpunte reg deur die gleufie en vou om vir 'n alternatiewe kleureffek.



Posted on 22 August 2011

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Sue

 

Rekenaarvaardigheid: Koop en verkoop op die Internet

 

VLV lid Susan Joerning het van haar jare lange ondervinding met Internetaankope met die dames gedeel. 

 

As jy items wil verkoop probeer www.bidorbuy.co.za  of www.kalahari.com  (voorheen bekend as kalahari.net). Bidorbuy is 'n Suid Afrikaanse veiling en algemene verkope webwerf.  Registreer gratis as verkoper. Betaal 'n bietjie ekstra en word deur Bidorbuy erkenning gegee as betroubare verkoper.

 

Kalahari is meer soos 'n winkel. Hulle laat wel toe dat mense tweedehandse items deur hulle webwerf adverteer en verkoop. Beide instansies het hul eie voorwaardes en vereistes. As jy binne Suid Afrika wil koop, kyk op Bidorbuy vir die wydste verskeidenheid produkte, maar nie noodwendig die beste pryse nie.

 

Besoek www.kalahari.com of www.loot.co.za  en www.take2.co.za vir boeke, musiek, DVD's en rekenaarspeletjies. Kalahari verkoop ook geskenke, skryfbehoeftes, elektroniese toerusting en speelgoed. Take2.co.za en Sybaritic.co.za verkoop rekenaartoerusting en bybehore soos blanko laserskywe, hardeskywe, ink vir drukkers, ens. Probeer Liquorish.co.za vir huis toebehore, meubels en algemene elektroniese gebruiksartikels. 

 

Al hierdie winkels aanvaar betaling deur óf elektroniese bankoordrag óf kredietkaart. As jy oorsee wil koop is jou wydste verskeidenheid op eBay.com te vinde. Beperk jou soekinstruksie tot verkopers wat na Suid Afrika sal versend. Oorweeg by wie jy gaan koop op grond van terugvoering wat hulle reeds ontvang het van ander kopers.  Registreer jou kredietkaart by PayPal.com en betaal jou verkopers in $ of £ sonder dat hulle enige inligting oor jou kredietkaart het. 

 

Amazon.com en Amazon.co.uk se voorrade verskil baie. Ongelukkig versend hulle slegs boeke, musiek CD’s en fliek DVD's na Suid Afrika, maar hulle is baie waardevolle inligtingsbronne. Soek byvoorbeeld vir 'n kamera model wat deur Game of Kloppers aangebied word en lees die terugvoer van internasionale kopers van dieselfde item nadat hulle dit gebruik het. Jy mag dalk besluit om liewer 'n ander model of maak te koop.

 

As jy sommer 'n klomp goed in Amerika wil koop, oorweeg dit om 'n Amerikaanse posadres te koop by myUS.com. Vir 'n maandelikse fooi sal hulle namens jou positems ontvang, of selfs namens jou gaan koop, wat hulle dan in 'n koste effektiewe manier herverpak en teen baie mededingende pryse na jou Suid Afrikaanse adres aanstuur.



Posted on 13 July 2011

Portefeulje: Opvoeding

 

Die gasspreker tydens Orania tak se Junie vergadering was die argitek, Christiaan van Zyl. Hy het gesels oor die argitektoniese style in Orania.

 

Die tipiese Karoo-styl huis het wit mure wat hitte weerkaats, en hoë plafonne wat die kamers koel hou.  Die huisies het ook tipies 'n lekker kuierstoep wat Noord front. Wyle Prof Carel Boshoff se Boekehuis is 'n goeie voorbeeld van so 'n boustyl.

 

Die Wilgehuis by Die Oewer is nie in 'n welbekende styl ontwerp nie. Dit is, desnieteenstaande, gebou in die "oewerpark" styl: 'n houthuis gebou op pale en die daklyn volg die aangrensende geboue se styl.

 

'n Vergelykende samestelling van geboue wat miskien verskillende argitektoniese elemente het maar wat tog 'n eenvormigheid van styl toon is die geboue in Florance, Italië. Hierdie geboue gee 'n samehangende indruk omdat die klippe waarvan die mure gebou is en die dakteëls 'n sagte pienk kleurskema in die geheel het en harmonies vertoon.

 

Om die praatjie op 'n ligter luim mee af te sluit het Christiaan die karaktertrekke en eienskappe opgenoem wat hy as argitek op Orania al moes beoefen: ontwerper, beplanner, kunstenaar, ingenieur, vakman, bourekenaar, finansiële adviseur, historikus, filosoof, profeet, opvoeder, prediker, regskundige, mediator, huweliksberader, ekoloog, rekenaardeskundige, gemeenskapswerker, materialis en dromer.

 

Hy geniet die geleentheid om by Orania se ontwikkeling betrokke te wees en ondersteun ons ideale al beteken dit dat hy die luukses van die stad moes prysgee.



Posted on 30 June 2011

Portefeulje: Kuns & Handvlyt

 

Sowat twintig VLV lede van Orania tak het 'n praktiese kursus, aangebied deur Uysie Kirsten, bygewoon. Tydens die kursus het Uysie gedemonstreer hoe om geleentheidskaartjies te maak deur die beoefening van reliëfwerk. Sy het in Singapore haar opleiding ontvang en het haar kennis vryelik met ons gedeel.

 

Verskillende ponse word gebruik om blom- en blaardele uit gewone papier te pons. Elke geponste stukkie papier word individueel verwerk om uiteindelik deel te word van 'n volledige blom of takkie. Die geponste blomblaartjie word met 'n reliëfpen gepoleer - eers op 'n leerblad en daarna op 'n stewige sponsblad. Dit veroorsaak dat die papier krul en vorm aanneem. Die verskillende blaartjies word dan met gom aanmekaar vasgeplak, soms sommer vyf of ses bo-op mekaar, om een blom te vorm.

 

Die blomme word dan met silikoon op 'n voorbereide kaartjie in 'n mooi rangskikking vasgeplak, en met lintjies en blinkertjies getooi vir die finale afwerking.

 

 

 



Posted on 30 June 2011

Die VLV Orania het 'n oggendtee vir die senior dames van die dorp in die Volkskool saal aangebied.

 

VLV gasvrouens het in pare die tafels pragtig gedek en smaaklike lekkernye - koeksisters onder andere natuurlik ingesluit - het die tafels verder versier. 

 

Ongeveer 35 dames het die geleentheid bygewoon. Die saaltjie het behoorlik gegons van die gesels en gekorswel.

 

'n Groep entoesiastiese VLV lede het saamgespan om verdere vermaak in die vorm van vier verhoogitems aan te bied. Hulle het gedans, gesing en selfs toneelgespeel. Esmien Kruger het as gas sanger opgetree en het 'n amusante, alternatiewe weergawe van "My favourite things" met gewysigde lirieke gesing.

 

Tannie Annatjie Boshoff het namens die senior dames haar dank en waardering teenoor die VLV uitgespreek vir die aangename geleentheid wat hulle almal terdeë geniet het.

 

  

 

 

SDT opvoering.

 



Posted on 20 May 2011

Portefeulje: Leefstyl

 

Corné Louw van Hopetown het jare lange ondervinding met Klerekasbeplanning, grimering en haarstyl en kon waardevolle advies met die lede van Orania deel.

 

• Verwyder klere wat jy nie dra nie uit die klerekas.
• Koop op 'n beplande manier. 
• Moenie die mode slaafs navolg nie.
• Leer regte stylstrategie (goeie kombinasie van balans, kleur, styl en tekstuur).
• Ongeveer 60% van jou klere kan in die swart/wit/bruin palet val, 40% dan ander kleure. Hou die intensiteit van kleure wat jy saam dra, dieselfde. Moenie alles dieselfde kleur hou nie. Die gewilde "klein swart nommertjie" laat jou baie variasies toe. 
• Herken jou persoonlike styl (sportief/netjies/dramaties) en koop daarvolgens. 
• 'n Kort persoon kan nie ewe effektief dieselfde styl as 'n lang persoon dra nie. 
• Wenke vir 'n kort persoon: Een kleur van bo tot onder gee lengte;  moenie 'n ander kleur in die middel (soos byvoorbeeld 'n gordel) gebruik nie; koop die korrekte grote klere - nie te styf nie en nie te los nie.
• Belê in 'n vollengte spieël. 
• Verbloem foute, beklemtoon bates. 
• Let op dat die lengte van moue en broekspype korrek is. 
• Vermy gedrukte materiaal met 'n motief wat groter as jou vuis is. 
• Vlootblou en swart pas nie bymekaar nie. 
• Koop 'n baadjie, romp en broek in 'n stel as dit beskikbaar is. 
• Moenie jou hemp insteek nie. 
• As jy 'n "double breasted" baadjie koop moet jy die knope vasmaak - dit kan nie oop gedra word nie.  Anders moet jy liewers 'n baadjie met enkelry knope koop.  'n Langer baadjie in swart is baie veelsydig. 
• Jy moet in 'n goeie kwaliteit eenvoudig wit hemp belê, asook in 'n goeie kwaliteit klinknaelbroek. Moenie dupliseer nie. Koop 'n hemp wat by vyf ander items pas.
• Klere wat in verskeie lae oormekaar gedra word is nou in die mode, maar hierdie styl sal nie elke figuur pas nie. 
• Maak seker dat jy gepaste onderklere wat goed pas, dra. Dra 'n gladde buustelyfie onder gladde materiaal soos 'n T-hemp.

 

Corné aan die woord.

 

 



Posted on 20 April 2011

Gasspreker:  Dr Manie Opperman, Orania - Wetstoepassing op Orania


Dr Opperman is nou betrokke by die veiligheidskorps op Orania.  Hy het interessante inligting oor gebeure rakende wetstoepassing en wetsgehoorsaamheid op ons dorp uitgelig.  Onder andere het hy vertel hoe 'n besoekende krimineel se optrede op beeld vasgelê is deur 'n geslote kring kamera. Hy is vasgetrek en ons wetstoepassers kon die gesteelde sellulêre telefoon aan die eienaar terugbesorg.

 

Gasspreker:  Mev. Jo Bredenkamp, Van der Kloof - Landbou

Mev Bredenkamp het die dames ingelig oor die plant van bolle.  Die verskillende aspekte wat sy gedek het was onder andere grondvoorbereiding, voeding, peste en plae, en verskillende soorte bolle.  Sy het ook 'n klompie bolle uit haar tuin vir die lede saamgebring om huis toe te neem en te plant.

Categories