Posted on 07 May 2011

Portefulje: Vele

 

'n Wye verskeidenheid onderwerpe het Petrusville se April vergadering gekenmerk.
 

Elizabeth Fourie het haar 50-jaar kenteken ontvang wat op Konferensie gegee is. Sy is een van ons staatmaker lede wat baie jare in die bestuur gedien het en vele pryse ontvang het op konferensie en kongres vir haar brei- en hekelwerk.
 

Met ons Gesondheid studierigting het Charmaine Pelser, 'n apteker, ons kom inlig oor supplemente in die dieet. Die belangrikste supplemente is kalsium, magnesium, multivitamiene en antioksidante en dan iets vir weerstand teen siektes. Sy het ook gesê dat daar supplemente op die mark is wat elke sak pas en dat jy vir jou 'n produk moet aanskaf vir jou omstandighede. Jou apteker kan ook vir jou waardevolle raad gee.
 

 

Daarna het Inspekteur Frans Stottelaar van die SAPD op Vanderkloof gepraat oor beveiliging op plase sowel as in die dorp. Beveiliging van eiendom is elkeen se eie verantwoordelikheid. Dis belangrik om 'n goeie verhouding met die plaaslike polisie op te bou sodat daar wedersydse vertroue kan wees. Hy het ook inligting gegee oor die korrekte radio-prosedures op plase en die voor- en nadele van radio's. 
 

 

Hanneke Potgieter, sameroeper van Opvoeding en Kultuur het 'n praatjie gelewer oor die waarde van spel. Speletjies is baie belangrik vir die ontwikkeling van kleiner kinders. Daardeur leer hulle om te sosialiseer en om selfvertroue te ontwikkel. Hulle fisiese ontwikkeling word ook deur speletjies gestimuleer. Kinders kan nie heeldag voor 'n rekenaar of televisie gesit word, of met gerekenariseerde speelgoed ten volle ontwikkel nie. Spel is ook baie waardevol vir ouer mense omdat dit die brein en liggaam in stand hou, sowel as om eensaamheid teen te werk. Sy het ook verwys na die waarde van spelterapie waar getraumatiseerde kinders d.m.v. speletjies behandel word.
 

 

In ons Landbou en Tuinbou studierigting, het die sameroeper, Annatjie Rademeyer, gepraat oor die waarde van tuin- en waterterapie en die rol wat diere speel by getraumatiseerde kinders. In 'n tuin kan mens al jou sintuie "dokter" as jy sleg voel: stap deur jou tuin en kou 'n stukkie pietersielie, kyk na al die verskillende kleure, luister na die geluide in jou tuin, ruik aan die verskillende kruie en blomme en steek jou hande bietjie in die grond, sand of water en jy sal sommer beter voel. 'n Tuin het 'n baie kalmerende invloed op mens se gemoed. Waterterapie is besig om baie veld te wen en word al hoe meer gebruik in die behandeling van stresgevalle. Die waarde van diere by kinders met probleme is ongelooflik. Sy het verwys na die outistiese seuntjie wat so verbeter het toe hy 'n hond gekry het.
 

 

Beriggewer: Corne Stottelaar



Posted on 23 March 2011

Ons het lekker vergadering gehou op 'n warm herfsmiddag. Daar is verslag gedoen oor die pas afgelope Sirkelkonferensie op Victoria-Wes en die pryse vir die wenners in die kompetisie afdeling is uitgedeel: 1e plek Naaldwerk (speldekussing): Adri de Villiers; 3e plek Naaldwerk (speldekussing) Emmerentia van Vuuren; 2de plek Handvlyt (bêreboks): Rynette van Vuuren. Die tak het ook die Kwaliteit skild ontvang.
 

Mnr John Havenga, raadslid van die Renosterberg Munisipaliteit, het kom praat oor die nuwe stortingsterrein wat op Petrusville opgerig is teen 'n asembenemende bedrag. Die terrein is eko-vriendelik en voldoen aan al die vereistes wat voorgeskryf is, maar die vrees bly staan dat dit nie reg bestuur gaan word nie. Hy het ook genoem van die probleme met begraafplase wat 'n al hoe groter kopseer word vir munisipaliteite. Lede het baie vrae aan hom gevra oor hierdie sake. 
 

 Mnr. John Havenga, Raadslid Renosterberg Munisipaliteit.

 

 

Daarna het mev. Annatjie van der Merwe, bobaas naaldwerkster, gewys hoe mens 'n kraag netjies insit, asook hoe om 'n mouboordjie mooi in te sit.
 

 Mev Annatjie vd Merwe
 

 

Die sameroeper van Kunste en Handvlyt, mev. Ina van der Walt, het daarna 'n interessante praatjie gelewer oor "Struggle" kuns. Dit is die kuns wat gedurende die apartheidsjare in die townships voorgekom het. Baie van die kunswerke is deur die veiligheidspolisie gekonfiskeer en die kunstenaar is in hegtenis geneem. Hierdie kunswerke het hoofsaaklik 'n rewolusionêre tema. Na 1994 het die kuns in die townships verander na vrolike, helder werke met opgewekte temas. Sy het voorbeelde van al hierdie kunswerke gewys.
 

 

Ina vd Walt
 

 

Daarna het almal heerlik gekuier en verversings geniet, voorgesit deur die gasvroue, Adri de Villiers en Emmerentia van Vuuren.



Posted on 23 February 2011

Petrusville vier die maand van die liefde met 'n bydrae van die Kunste studierigting.

 

Magdaleen Venter praat oor die Romantiese tydperk in die kunste, veral die klassieke musiek vanaf 1816-1914.  Geklee in die kleredrag van daardie tydperk, tree van ons lede op en lewer items uit die Romantiese tydperk. Daar is 'n klavier duet van Franz Schubert, 'n kitaar trio wat 'n komposisie van Frederic Chopin lewer, 'n sang trio sing die bekende wiegelied van Johannes Brahms en 'n paar manne sing die bekende Vilja lied uit die "Vrolike Weduwee" van Franz Lehar. 

 

Daarna lees Antoinette Havinga die ou Afrikaanse gedig, "Klaas Geswind en syn perd"  uit die tydperk voor, asook 'n kort uittreksel uit "Die Profeet" van Kahlil Gibran wat handel oor die liefde  en huwelik.

 

Ina van der Walt (Sameroeper Kunste en Handvlyt) lewer 'n huldeblyk aan Fanus Rautenbach en noem sy groot bydrae tot die Afrikaanse taal, letterkunde en musiek.
 

Mev. Louise Loock van Luckhoff lewer 'n praatjie oor tuinbou en praat oor tuinmaak in die algemeen met spesiale verwysing na vetplante en plante in potte.
 

Hanneke Potgieter (sameroeper Opvoeding en Kultuur) gee wenke oor hoe om weer die vonk in jou huwelik te sit. Lede trek wenke uit 'n koevert en lees dit dan hardop voor aan die vergadering. Daar was gemengde reaksie oor sommige wenke!
 

Daarna verdaag ons vir heerlike vrugteslaai, roomys en vrugtesap wat voorgesit is deur ons gasvroue vir die middag, Marise de Villiers en Marissa vd Merwe.



Posted on 02 August 2010

VLV Petrusville se Julie vergadering het die vorm van 'n "Doendag" aangeneem. Ons het reeds die oggend begin met al die doen-dinge.

 

Wilma Greyling van Orania het die dames kom leer hoe om teesakkievoukuns te doen en elke lid het die verskillende voue met hulle variasies geleer doen. Ons hoop dit gaan pragtige kaartjies tot gevolg hê, want die dames het dit baie geniet!

 

Daarna het Adri de Villiers (saamroeper Leefstyl) gewys hoe om laslapwerk vir beginners te doen. Sy is ook 'n ywerige kwilter en het die dames so geïnspireer om laslapwerk te doen dat hulle nog klasse gaan reël.

 

Ethel van der Walt (saamroeper Openbare Sake) het gereël dat die dames 'n praktiese lesing kry oor die gebruik van die internet met spesiale verwysing na Facebook. Dit is lewendig aangebied deur Surè Kruger. Sy het gewys wat Facebook is, hoe dit gebruik kan word en hoe om daarby aan te sluit.

 

Ten slotte het Annatjie Rademeyer (saamroeper Landbou en Tuinbou) gewys hoe mens jong kinders geïnteresseerd kan kry in tuinmaak. Sy het 'n kleutertuin gedemonstreer deur 'n houtkissie van planke te maak, met tuingrond te vul en dan allerhande klein plantjies en saadjies daarin te plant. Dit moet verkieslik saadjies wees wat gou ontkiem. So kan die kind dan sien hoe plante groei en ontwikkel en dit maak hulle baie opgewonde as hulle sien hoe plante groei as hulle dit mooi versorg. Johanna Bredenkamp het ook gepraat oor wat mens nou in jou tuin moet doen en hoe om roosbome te snoei.

 

 

 

 



Posted on 25 May 2010

Kunste en Handvlyt:

Magdaleen Venter het 'n baie interessante praatjie gehou oor die klavier:

 

In 1710 is die eerste klavier gebou en daarom word die 300ste bestaansjaar van die klavier vanjaar gevier. Die klavier het ontwikkel uit die klavesimbel en klank word voortgebring as hamertjies teen die snare slaan.

 

Magdaleen het die meganiese aspek van die klavier verduidelik en daarna het sy die lede op 'n musikale reis met behulp van die klavier geneem deur al die tydperke van klassieke musiek. Sy het begin deur kort uittreksels te speel uit die Barok periode met 'n stukkie van Bach, daarna die Klassieke periode met Beethoven se "Maanlig sonate", die Romantiese periode met musiek van Chopin en Liszt, en die Moderne periode met Debussy. Daarna het twee van haar "leerlinge", Frances Heroldt en Alta Waldeck twee klavier duette gespeel.

 

Opvoeding

Hanneke Potgieter het gepraat oor stresverligting en lag terapie. Lede het 'n vraelys ingevul om te bepaal hoe hoog hulle stresvlakke is. Daar is gekyk na die hoofoorsake van stres en sy het wenke gegee oor wat mens kan doen om stres te verlig.

 

Gesondheid:

Irene Labuschagne het gepraat oor die oorsake en behandeling van sooibrand, 'n toestand waaraan baie mense ly en wat mens moet doen om dit te voorkom.

 

 

Magdaleen voor die klavier.
 



Posted on 12 March 2010

Petrusville het 'n heerlike "Polkadot" vergadering gehou. Elke sameroeper het 'n beurt gekry om iets van haar studierigting te doen. Die tema was "Wat's in en wat's uit."


 
Adri de Villiers (Leefstyl) het 'n praatjie gehou oor wat in en wat uit is op die modefront vir 2010. Sy het na modekleure (soos grys en swart), style, haarstyle (langer, krulleriger hare) en grimering verwys. Daarna het geregte, bestanddele, en dek van tafels vir 2010 aan die beurt gekom.  Binnenshuise versiering vir 2010 is ook behandel. Geroeste items is nou baie in die mode.


 
Annatjie Rademeyer (Landbou en Tuinbou) het gepraat oor watter neigings in 2010 vir tuine voorlê. Waterbesparing in die tuin is nou baie in en droogtebestande plante word al hoe gewilder. Klippies, gruis, tuinteëls en tuinornamente is gewild en geroeste items vir die tuin is ook in.
 


Judith Somers (Gesondheid) het 'n voedingkundige, Irene Labuschagne, gekry om te praat oor nuwe tendense in die dieet. As mens 'n gebalanseerde dieet volg, is dit nie nodig om voedingaanvullers te gebruik nie. Suiwel bly belangrik vir veral vroue omdat genoeg kalsium osteoperose kan voorkom. Kalsiumaanvullers is nodig as mens nie lief is vir melk nie. Omega 3 en Omega 6 olies is baie belangrik in die dieet. Drink steeds baie water elke dag!


 
Alta Waldeck (Kunste en Handvlyt) het 'n uitstalling van tokrien-artikels gehou. Dit is nou baie in die mode. Sy het kortliks vertel hoe dit gemaak word en later in die jaar gaan ons 'n werkswinkel hou.
Daarna het sy gepraat oor a capella sang wat ook nou baie in is, veral op die Afrikaanse ligte musiekfront. A capella groepe soos Navi Redd, Flip a Coin, Overtone (wat nou baie sukses in Hollywood behaal) en Cutt Glass word al hoe gewilder, veral onder jong mense.


 
Hanneke Potgieter (Opvoeding en Kultuur), het 'n baie interessante praatjie gehou oor die verskillende generasies en hulle kenmerke in ons samelewing. Sy het verwys na die Stil-generasie (gebore voor 2de Wêreldoorlog); die Babyboomers (gebore 1945-1960); Generasie X (gebore 1960-1980); Generasie Y (gebore 1980-2000) en die huidige Generasie Z wat na 2000 gebore is.


 
Ethel van der Walt (Openbare Sake) het gepraat oor die nuwe Verkeer-strafstelsel waardeur mens punte kry vir elke verkeersoortreding. As jy 12 punte het, verloor jy jou rybewys. 'n Inligtingstuk wat toon hoeveel punte jy kry vir verskillende oortredings is uitgedeel, bv. net een nommerplaat op 'n voertuig is 1 punt  en R500 boete werd; praat op jou selfoon terwyl jy bestuur is 5 punte en R250 boete werd; oorskry spoedgrens van 60 km/h in stedelike gebiede 76-80km/h is 10 punte en R500 boete werd; bestuur onder invloed van drank en dwelms 6 punte en versyning in die hof werd, ens. Sy het ook gewys op die feit dat verkeersboetes wat per pos aangestuur word nie suksesvol is nie.


 
Daarna het almal heerlik vrugteslaai en roomys geëet en vrugtesap gedrink wat deur die gasvroue, Magdaleen Venter en Caretha Nel voorgesit is. 

Categories