Posted on 25 November 2011

Beriggewer: Riana Richter
Datum: 17 November 2011

 

Tydens VLV Piketberg se afsluitingsgeleentheid op 17 November het  dr ST Potgieter - bekende sielkundige, spreker, skrywer en bekend vir sy radiopraatjie “Pitkos vir die Week” op Maandagoggende op RSG – opgetree as spreker. Hy het die volgende beklemtoon:

 

  • Niemand spring moeilike tye, pyn en ellende op aarde vry nie. Die vraag is: Hoe hanteer ‘n mens dit?
  • Pas jou gesondheid op. ‘n Mens het fisiese krag nodig. Eet reg en slaap genoeg.
  • Maak seker waarheen jou lewensrit op pad is. Weet jy waarheen jy beweeg? Jy moet drome en planne hê.
  • Fokus op een ding op ‘n keer.
  • Moenie toelaat dat jou verlede jou aan bande lê nie, ondanks dit wat mense dink of sê. Slegte dinge gebeur ook met goeie mense, maar mag niemand terughou nie.
  • Veral in moeilike tye moet jy gee, want as jy gee, ontvang jy.
  • Leef in dankbaarheid, ook in krisistye. Alles wat jy het en is, is genade.
  • Moenie moeilike tye as vanselfsprekend aanvaar nie. Bid.
  • Die lewe is vol geleenthede. Gryp dit aan selfs in moeilike tye. In moeilike tye kom grootse werke te voorskyn.
  • Raak gereeld stil. Moenie net bid nie, maar luister na die grootste geneesheer van alle tye – daarin lê ons grootste hoop.  

 

 

LNR Riana Richter (voorsitter), gasspreker dr ST Potgieter en Dinette Lochner (sekretaris) tydens die afsluitingsgeleentheid van VLV Piketberg.

 

By die onlangse afsluitingsgeleentheid van VLV Piketberg het Louwna Hoving, president van Sirkel Weskus, lidmaatskapkentekens aan die volgende lede oorhandig. Op die foto verskyn Louwna (heel regs) saam met v.l.n.r. Netta Liebenberg (20 jaar), Myrtle Steenkamp (30 jaar), Alida Walters (40 jaar), Christine Langeveldt (45 jaar) en Rosa Lategan, voormalige president van Sirkel Weskus en voorsitter van die tak (45 jaar).

 

 

Die bestuur van VLV Piketberg vir 2012 is agter v.l.n.r.: Marlize Rossouw (Landbou en Tuinbou), Frannie Botha (Leefstyl en visevoorsitter), Antionette Smit (Opvoeding en Kultuur), Stella van Niekerk (Gesondheid), Marthie du Toit (Openbare Sake en sameroeper van VLV projek Vroue van Môre), Dinette Lochner (sekretaris), Doreen du Plessis (Kunste en Handvlyt en voor: Nicoline Brown (tesourier) en Riana Richter (voorsitter). Afwesig: Dete Hanekom (adissionele bestuurslid).

 



Posted on 06 November 2011

By ‘n onlangse byeenkoms van VLV Piketberg is ‘n 70 jaar lidmaatskapkenteken aan Lettie le Roux oorhandig. Sy het in April 1939 by die VLV Van Rhynsdorp tak aangesluit en is sedert Januarie 1947 ‘n lojale lid van VLV Piketberg.

 

Tydens die oorhandiging is alle lof en eer aan ons Hemelse Vader gebring. Lettie het oor baie jare deur haar voorbeeld en insette die pad vir jonger lede aangedui.

 

“‘n Nuwe besem vee skoon, maar ‘n oue ken die hoekies!”
Anoniem

 

Beriggewer: Riana Richter

 

 

VLV lede v.l.n.r. Riana Richter (voorsitter), Dinette Lochner (sekretaris) en Marthie du Toit (sameroeper Openbare Sake) by Lettie le Roux (voor).



Posted on 05 November 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Riana Richter

 

Onlangs tydens ‘n vergadering van Vroue van Môre – projek van VLV Piketberg – het die wêreldbekende Elbeth Liebenberg, ‘n lid van die tak, die vroue – dertig in totaal - geleer hoe om polistireen balle met lap oor te trek en met kraletjies en blinkertjies af te rond. Behalwe die projekleier Marthie du Toit, het ses VLV lede gehelp om die vroue touwys te maak. Hulle was met reg trots en gretig om hul selfgemaakte kersballe op ‘n spesiale plekkie in hul huis op te hang. 

 

Vroue van Môre is reeds sedert Mei 2009 ‘n VLV projek en ‘n steeds groeiende organisasie - finansieel onafhanklik van die VLV tak - met ‘n eie bestuur en 6 studierigtings identies aan dié van VLV. Hul passie en entoesiasme is aansteeklik. Hul spog met suksesvolle projekte en ondersteuning in die gemeenskap van Piketberg en baie toekomsplanne.

 

 

Die ene konsentrasie terwyl VLV lid Elné Eksteen help.


 

 

Hester Bendini, Elbeth Liebenberg (aanbieder van die werkswinkel) en Gerty Paulse.


 

 

Mavis Valentyn en Marlene Erasmus.


 

 

Die trotse Vroue van Môre lede saam met Elbeth Liebenberg en hul voltooide kersballe.



Posted on 30 October 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Riana Richter


Tydens VLV Piketberg se Leefstyl vergadering op 27 Oktober 2011 het Christo van Schalkwyk die lede weggevoer na sy fabriek Oregon & More in Piketberg. 

 

Hy het nie net die vergaderlokaal in ‘n “vertoonkamer” met meubels omskep nie, maar ook ‘n draaibank saamgebring en behendig en vinnig ‘n kapstok se hake  met Birmaanse kiaathout uitgedraai, die artikel voltooi en aan die tak geskenk om uit te loot.

 

Christo het rondom die onderwerp Restourasie en Riempies gesels. Inheemse woude van boekenhout en geelhout is uitgeroei en aan die verdwyn. Die gewilde oregon hout kom oorspronklik van Oregon in Kanada. Tussen 1902 en 1960 is bootvragte oregon uit Engeland na SA verskeep en is o.a. aangewend vir meubels en houtwerk in baie geboue. Vandaar die gesogtheid en goeie kwaliteit van deure, kosyne, rame, vloere en vloerlyste in baie van ons antieke geboue.         

 

Goeie raad van Christo is om veral nie van meubels gemaak van Birmaanse kiaathout ontslae te raak nie. Dit raak skaars en die hout is onverganklik.

 

Die vergadering is gereël deur Frannie Botha, sameroeper van  Leefstyl.

 

 

'n Bekende gesig by VLV Piketberg se maandvergaderings is 'n tafel met idees om by mekaar te leer soos hierdie by die Leefstyl vergadering.
 

 

Christo van Schalkwyk by sy draaibank besig om 'n kapstok te voltooi tydens sy demonstrasie by VLV Piketberg se Leefstyl vergadering. 



Posted on 13 October 2011

Portefeulje: Openbare Sake (projek)
Beriggewer: Riana Richter
Datum van gebeurlikheid: 6 Oktober 2011

 

Lede van VLV Piketberg het onlangs gesellig saam met die inwoners en personeel van die plaaslike Tehuis vir Bejaardes, Huis AJ Liebenberg, gekuier en het almal (124 in totaal) met tee en verversings bedien. 

 

Sarie Koegelenberg, ‘n VLV lid van die buurtak Aurora, het die gehoor vermaak met haar ervarings en vertellings uit die verlede en ‘n humoristiese skets van Ferdinand Deist voorgedra.      

 

Sarie is sedert haar onderwysdae op Aurora ‘n Sandvelder en haar stories en sketse uit die kontrei is op aandrang van VLV Aurora in boekvorm gepubliseer.  So het Sandveldspore en Skryfgoed en Rommel uit my Sandveldtrommel die lig gesien.

  

 

Op die foto verskyn agter: Marthie du Toit  (sameroeper van Openbare Sake),  Lilla Treurnicht (matrone Huis AJ Liebenberg) en voor Sarie Koegelenberg (gasspreker en lid van Aurora tak) en Enna Bester (inwoner van Huis AJ Liebenberg).



Posted on 27 September 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Riana Richter
Datum van vergadering: 22 September 2011

 

Drie sprekers het by die Openbare Sake vergadering by VLV Piketberg op 22 September 2011 opgetree. Die vergadering is gereël deur Marthie du Toit, sameroeper van Openbare Sake.

 

Wilna Kloppers van Departement Waterwese het lede ingelig oor watertoestande in die Wes-Kaap (Bergrivier gebied spesifiek) m.b.t. stand van damme, kwaliteit, suiwering en stelsels in plek om moontlike krisisse af te weer. 

 

Porchia Adams van Agri Wes-Kaap het gesels oor die belangrikheid van Landbou in ons daaglikse lewe.  Sy het ook verwys na vele geleenthede om die opdrag – Bou ‘n Brug – uit te leef.  

 

Petrusa Smit, erelid van Piketberg, het ‘n baie interessante oorsig gegee van die 81 jaar wat sy deel voel van VLV.  Sy is 57 jaar lid van VLV Piketberg en was ‘n aktiewe lid, deelnemer en beoordelaar in die sirkel en op skoue. Sy onthou vandag nog hoe sy sedert sy vier jaar oud was, sit en wag het vir die orige koek om huis toe te kom terwyl haar ma weg was VLV vergadering toe. Haar moeder – Petrusa Biermann - was daardie jare lid van VLV Vredendal en ‘n kranige deelnemer aan kompetisies.  

 

Die drie sprekers by die Openbare Sake vergadering by VLV Piketberg is v.l.n.r. Wilna Kloppers van Departement Waterwese, Porchia Adams van Agri Wes-Kaap en Petrusa Smit, erelid van VLV Piketberg
 

 



Posted on 02 August 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Riana Richter

 

Die lede van VLV Piketberg het onlangs besoek afgelê by die plaas Herculesfontein van Chris en Jeanette Richter. Voedseltegnoloog Willem du Plessis het die lede deur die aartappelskyfie-fabriek van die Richters geneem. Du Plessis het verduidelik hoe die vervaardigingsproses werk en ook die baie streng vereistes – soos higiëne en voedselveiligheid - waaraan ‘n produsent moet voldoen voordat ‘n produk op die rak beskikbaar is, beklemtoon. 

 

Die fabriek produseer 24 uur per dag van Maandag tot Vrydag. Vier jaar gelede het Piketberg Landbouvereniging ‘n entrepreneurstoekenning aan Chris, bekende graan- en veeboer in die distrik, oorhandig. Die Richters verskaf hul heerlike reeks aartappelskyfies eksklusief aan Woolworths. 

 

Op die foto verskyn Willem du Plessis, voedseltegnoloog, voor in die middel saam met die groep Piketberg VLV vroue. Louwna Hoving (president Sirkel Weskus) het die uiutstappie meegemaak. Sy verskyn heel links in die middelste ry. Heel regs voor verskyn Marlize Rossouw, sameroeper van die afdeling Landbou en Tuinbou wat die middag gereël het.

 



Posted on 01 August 2011

VLV Piketberg spog met ‘n lid, Elbeth Liebenberg, wat in Julie vanjaar as die beste blomkunstenaar ter wêreld aangewys is by ‘n internasionale blommeskou in Boston, VSA. Dit was die tiende Wêreld Blommeskou, wat beskou word as die Olimpiese Spele in blommekuns.

 

Elbeth het die klas SPACE gekies. In hierdie klas het elkeen van die deelnemers dieselfde silwerkleurige sirkelvormige hangende sfeer ontvang – ‘n meter in deursnee teen ‘n swart agtergrond. Sy het Styrofoam balle oorgetrek met “lambs ears” (Stachys Byzantina) om die ronde vorm van die sfeer te herhaal en ook die illusie van planete te skep.

 

Haar plantmateriaal was lemmetjiegroen Anthiriums, groen Proteas, Waboomblare, twee silwergroen Bismarcia palmblare en Anthiriumblare. Sy het twee stroke van “lambs ears” en silwer ogiesdraad gebruik om spasies en beweging in die sirkel te skep.

 

Elbeth het nie net die eerste prys in haar kategorie ontvang nie, maar ook ‘n spesiale prys “Best Use of Space”. Boonop het sy 550 blomkunstenaars van 19 lande uitgestof en die toekenning “Best on Show” ontvang.

 

Sy sê sy sal altyd verwonderd en baie nederig bly oor hierdie groot eer wat haar te beurt geval het, maar ken die hoogste eer aan haar Skepper toe.     

 

Beriggewer: Riana Richter

 

 

Elbeth Liebenberg by haar wenontwerp waarmee sy die Wêreld Blommeskou in Boston, VSA oorrompel het.



Posted on 23 June 2011

Op uitnodiging van Piketberg Rolbalklub het VLV Piketberg ‘n span van 4 spelers ingeskryf vir die jaarlikse Rolbal Sakedag. 

 

Op ‘n koue wintermiddag op 22 Junie het VLV lede v.l.n.r. Alta Vos, Alida Walters en Carin Rossouw gewys dat hulle bo en behalwe hulle bak- en naaldwerkvermoëns ook oor ‘n goeie skoot “ball sense” beskik! Hulle tawwe teenstanders was hulle net-net een voor. Die vierde speler op die foto is Alida se man Jannie. 

 



Posted on 03 June 2011

Portefeulje: Gesondheid

 

Op ‘n sonnige herfsdag, 19 Mei 2011, het die lede van VLV Piketberg vertrek na die plaas Skrik-van-Rondom in die Redelinghuys distrik vir ‘n Gesondheid vergadering – ‘n uitstappie hoogs aan te beveel!

 

Op dié plaas van Hennie en Louise van Zyl word met aartappels en rooibos geboer. As gevolg van gesondheidsprobleme het Hennie, na deeglike navorsing en ‘n studie van die medisinale gebruike van kruie, in samewerking met ‘n mediese praktisyn, 4 jaar gelede begin om kruie te produseer, aan te koop en te formuleer. Tans is daar 70 kruieprodukte in die vorm van kapsules, tablette, druppels en gels in die mark wat versprei word deur die maatskappy Phyto Green. Self verbou Hennie die kruiesoorte Hoodia, Sceletium en Sutherlandia (kankerbos). Hy versprei verskeie soorte Rooibos kruietee in die Goudkop Rooibos reeks.

 

Hennie beklemtoon die uiters voordelige gebruike van o.a. Cayenne pepper, Sceletium, Sutherlandia, Slippery elm en Lobelia. Hy verskaf ook inligting rondom die gesondheidswaarde van die gebruik van plantolies,  asook botter in plaas van margarien.

 

Ria van der Westhuizen, bekende inwoner in Piketberg – ‘n jarelange vrywillige KANSA werker - het lede ingelig oor die ondersteuning wat KANSA aan pasiënte bied.

 

Na ‘n bekendstelling aan die spa wat Hennie en Louise binnekort op hul plaas begin bemark en oopstel, was die middag te gou verby. Die wye en onbelemmerde uitsig oor die Sandveld omgewing en die gasvryheid van die eienaar, sy vrou en personeel het lede oorweldig. Hierdie was beslis ‘n hoogtepunt op die tak se jaaragenda!   

 

Beriggewer: Dinette Lochner

 

 

LNR Riana Richter, Louise en Hennie van Zyl en Ria van der Westhuizen.

 

 

LNR Katinka Morrison en Susan Brand.

 

 

 

LNR Annatjie van Rensburg, Hanneli Carstens, Beverley Diedericks, Winnie Grobbelaar, Selomie Roelofse, Rosa Lategan en Elbeth Liebenberg.

 

  

 

LNR Ezette Mouton, Riana Richter, Renay Hanekom, Grace Dippenaar en Angeline Engelbrecht.

Categories