Posted on 25 July 2010

Soos die geluk dit wil he het die Opvoeding en Kultuur studiegroep se vergadering in dieselfde maand geval as die FIFA Sokker Wêreldbeker.  Die tema was dan ook "Sokker".  Vyf van die dames het soos sokkerspelers aangetrek met groot brille, hoede en Vuvuzelas,  met 'n groot gejuig en Laduyuuuuuuuuuuuuma en Ayoooooooooooooba die saal binnegekom en daarmee 'n gees van "socca feva" onder die dames aangewakker. 

 

Mnr Tommy O'Kennedy van Porterville het ons toegespreek oor menseverhoudinge.  Elke lid het vir seker na die tyd iets gehad om oor na te dink.

 

Foto uitstalling: die lede het foto's van die WBPV (Kultuur) in Pretoria in 1998, drie huisgesinne se foto's (Koester gesinslewe) en foto’s van ons plaaslike museum baie interessant gevind.

 

Ons projek: Betrokkenheid by die Jeug was 'n groot sukses en die dames het die tydskrifte wat ingesamel is as deel van die projek, aan Laerskool Porterville oorhandig.

 

Berig deur Hessie Kuhl.

  

 



Posted on 03 May 2010

Porterville se lede het 2010 met ‘n groot verskeidenheid ervarings afgeskop.  Ons tema van die jaar is beklemtoon deur ds. Cornie van der Merwe wat as spreker die volgende in ons midde gelê het:  Met die krag van die Gees van God kan ons na die sterre reik en dit bereik.  Leef in liefde sodat jy ander kan dien en hul lewe verryk.

 

Tafels was versier met spesifieke soort lekkers in mooi lang glasvase.  Elke lid het met haar aankoms ‘n kaartjie ontvang met ‘n prentjie van ‘n lekker.  Sy moes dan by die tafel gaan sit met die soort lekker soos op die foto aangedui.  Dit was nogal pret om lede ‘n bietjie te skommel en mekaar ook beter te leer ken.

 

Op ‘n ernstiger trant het mnr. Johan de Lange van Kaap Agri, die prys en produksiekoste van koring verduidelik en mnr. Marius Kieck van CARA, bespreek indringerplante en die verwydering daarvan, asook die skoonmaak van ons vleilande vir natuurbewaring.  Boetes kan opgelê word indien ‘n persoon na ‘n waarskuwing nog nie sy indringerbome verwyder het nie.

 



Posted on 09 November 2009

'n Heerlike kuiermiddag met koek en tee.  'n Pragtige kersverhaal is voorgelees, 'n speletjie waar kerswoorde geskommel is, is gespeel asook 'n musiekraai uit kersliedere.  Die bekendmaking van die geheime vriendinne en uitdeel van geskenkpakkies, was 'n belewenis.  Tydens die prysuitdeling is René Hanekom as die algehele wenner vir die jaar aangewys.  Diensjaarknopies is deur Louwna Hoving, ons sirkelpresident, oorhandig aan die dames op die foto.  Ons is trots op Tinkie van Zyl en Esther Smuts wat albei hul 60-jaar-diensknopies ontvang het.  Ons lede is gemotiveerd en ons gaan 2010 tegemoet met ons tema:  "Reik na die sterre."

 

Louwna Hoving, sirkelpres oorhandig diensknopies aan Tinkie v Zyl 60jr, Esther Smuts 60jr, Muggie d Toit 30jr, René Hanekom 20jr, Kleintjie Liebenberg 20jr, Annalene d Villiers 10jr, Magda van der Merwe 10jr.



Posted on 23 October 2009

Tydens die opening het Hester Louw vir Langehoven aangehaal:  Hy het gesê die ou manier is maar die beste anders sou hy nie kans gehad het om oud te word nie.  Die manier waarop die VLV 80 jaar gelede met groot waagmoed gestig is, die wyse waarop dit ontwikkel het, het die kans gegee om te groei, staande te bly en steeds die beste te wees.

Langenhoven het ook gesê: "Aan 'n nuwe wa kan jy sien of dit 'n goeie skilder was, aan 'n oue of dit 'n goeie wamaker was!"  Destyds is VLV gestig soos 'n blink geskilderde nuwe wa vol hoop dat dit sal hou.  Vandag, met hierdie viering, het ons die bewys dat ons voorgangers goeie wamakers was.


 

ERELEDE DRINK HEILDRONK SAAM MET TAKVOORSITTER EN SIRKELPRESIDENT

vlnr: Esther Smuts, Muggie du Toit (voors.), Cora van Niekerk,
Dorothy du Plessis, Tinkie van Zyl en Louwna Hoving (sirkelpres.)

 

 

 Een van die teetafels



Posted on 03 September 2009

Muggie du Toit gesels uit Porterville:

Die saamroepers van die onderskeie portefeuljes was verantwoordelik vir die potpourri-middag program.  Om die lede in die regte stemming te bring, het Mary Ann van Schalkwyk ‘n kostelike Noot vir Noot aangebied wat groot applous uitgelok het.

Kunste en Handvlyt:  Johanna Rheeder demonstreer hoe om ‘n fotoraam in kamma-piouterwerk te maak.  Dit is ‘n kompetisie-artikel vir die Augustus vergadering.

Leefstyl:  Eleanore Grobbelaar hou ‘n kruie-vasvrae om lede se kennis van kruieplante te toets.

Landbou en Tuinbou:  Zabetha Albertyn demonstreer hoe om ‘n roosboom te snoei.  Juliemaand is die beste tyd om hierdie tuinwerk in Porterville te doen.

Gesondheid:  Maatjie van der Westhuizen, verpleegkundige by die plaaslike tehuis vir bejaardes, demonstreer hoe om ‘n bejaarde fisies te hanteer, asook hoe om die voorwerp wat lugwegobstruksie veroorsaak  te verwyder indien ‘n bejaarde verstik.

Opvoeding en Kultuur:  Louwna Hoving noem die korrekte etiket by die gebruik van ‘n selfoon en e-pos.  Dit is onvanpas om luid oor ‘n selfoon in die openbaar te praat en ons hoor weer:  SKAKEL SELFONE AF TYDENS ‘N VERGADERING!

Openbare Sake:  Muggie du Toit toets eers die lede se kennis van die verskillende gekleurde drade van ‘n driepunt-muurprop.  Daarna demonstreer sy hoe om ‘n driepunt-muurprop te vervang.