Posted on 07 February 2012

Sirkel: Weskus
Tak: Redelinghuys
Beriggewer: Gerda van Schoor
Studierigting: Gesondheid
Datum: 24 Januarie 2012

 

Suster Louw het met ons kom gesels oor antibiotika, griepinspuitings, Duitse masels en verkoue. 

 

Griepinspuitings: Elke jaar word daar maar geskat watter griepvirus die land gaan tref. Daar is 3 soorte griepvirusse. Elke inspuiting het gewoonlik 2 van die drie virusse. Die inspuiting bevat dooie virusse van die griepvirus en wanneer jy ingespuit word, word die mens se gestel immuun gemaak teen die virus. Indien jy verkoue is, of iets onder lede het, wag eers met die ontvang van die griepvirus.

 

Antibiotika:  Geen antibiotika word gebruik net vir griep of verkoue nie.  Omdat daar so dikwels antibiotika vir mense gegee word, en hulle gebruik nie die volle dosis nie, raak mense weerstandig daarvoor. Neem dus gereeld soos voorgeskryf. 'n Newe effek van antibiotika is dat jy begin doof raak. As jy allergies is vir verskillende antibiotikas, dra 'n bandjie of enige ander aanduiding. Antibiotika maak die natuurlike flora in jou liggaam dood. Dit moet dus aangevul word. 
  

Verkoue:  'n Verkoue word soms afgemaak as iets wat nie erg is nie. Bly 2-3 dae in die bed (of dan net in een vertrek). As jy jou nie oppas nie, tas die virus jou gestel aan, jou hartspier word ook aangetas. Moet dus nie oefeninge doen as jy verkoue is, of grieperig voel nie.

 

 

Op die foto verskyn suster Inge Louw en mev. Elsa Mostert.

 

Daar was ook ‘n groot gewerskaf om “Die Slaapsak” gemaak te kry. Op die foto is sittende Elsa Oberholzer (met haar rug na die kamera) en mev. Elsa Mostert. Susie Lambrechts en Gerda van Schoor maak solank die kleeflint gereed om op die koerante te plak. Trudie van Niekerk druk al die koerantpapiere aanmekaar en agter haar is Elsabé van Zyl (ons voorsitter).  

 

Wat ’n vreugde was dit toe die slaapsak uiteindelik klaar was. Koud- en natbestand.

  



Posted on 22 September 2011

Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Gerda van Schoor

 

Mev. Petro Rossouw (middel op foto) van Citrusdal het vir ons kom vertel van hormonale kankers: Borskanker, Servikale kanker, Prostaatkanker en Testikulêre kanker.

 

Daar is risikofaktore waarna gekyk kan word: Voorkoming by al die kankers is seker die beste. Gesonde dieet - dit kan die kankerrisiko verminder met 30%; handhaaf gemiddelde gewig - vet stoor oestrogeen; moet elke dag groen, geel en rooi groente eet (ook nie meer as een stysel per ete nie); diervet vermy; sout en gerookte kosse; kosse wat te vinnig en by te hoë temperatuur gaargemaak is (bv braaivleis) - is karsogenies.

 

Borskanker - ondersoek jouself gereeld en indien daar ’n abnormaliteit is, gaan dadelik vir ondersoeke.  Vroue bo 50 moet gereeld gaan vir ‘n mammogram. 

 

Servikale kanker - inentings teen hierdie kanker is beskikbaar.  Jong meisies wat seksueel aktief is staan ’n groot risiko om dit te kan kry. Indien enige abnormale bloeding of afskeidings voorkom moet sy dokter toe gaan. Doen gereeld (2 jaarliks) ’n papsmeer.

 

Prostaatkanker -  mans ouer as 50. Kyk ook na dieet, gereelde oefeninge, vetsug en familiegeskiedenis. Deur bloedtoetse kan hierdie kanker ook opgetel word. 

 

Testikulêre kanker - kom veral voor by jong mans, 15 - 35 jaar. Vroeë puberteit en geneties van moeder na seun (kankergeen kan oorgedra word). Indien dit vroeg opgespoor word, is dit 100% geneesbaar.

 

Op die foto verskyn ons voorsitter, mev. Elsabé van Zyl, Petro Rossouw (spreker) en haar moeder.

 



Posted on 16 August 2011

’n Heerlike namiddagbyeenkoms op 4 Augustus 2011. Mev. Hanna Janse van Rensburg van Citrusdal het vir ons kom demonstreer hoe om lemoenrolletjies in te lê. Op die foto is Susie Lambrechts, Bes de Bruin en Susan Visser besig om die lemoene te skil. By hulle is mev. Marlene D. van Schalkwyk (voorsitter van Citrusdal tak).

 

 

Saam met Elsabé van Zyl, Redelinghuys se voorsitter staan Marlene D. van Schalkwyk, Hanna Janse van Rensburg en Ella Watson (van Citrusdal tak). Voor sit mev.Elsa Mostert. 

 



Posted on 27 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Gerda van Schoor

 

Redelinghuys tak het met hul Junie vergadering ’n WIT-kompetisie gehou.

 

Daar was 12 verskillende bestanddele in bordjies gegooi - van ongebleikte kalk tot versiersuiker, meel, bakpoeier ens. waaraan geproe moes word. Elkeen het die kans gekry om die 12 items te proe en neer te skryf. Mev. Mona Pietersen het 9 van die 12 smake uitgeken.

 

 

Ina Janse van Rensburg probeer raai wat in die bordjie is. 

 

 

10 jaar balkies is oorhandig aan 2 van ons lede. Op die foto ontvang Gerda van Schoor en Annie Coetzee hul balkies. In die middel staan ons voorsitter Elsabé van Zyl.

 

 

 

Nog ’n projek waarmee ons besig is, is die blokkieskombers wat ons vir die Traumakamer by die polisiekantoor wil skenk. Op die foto is mevv. Susan Visser, Joey Nortjé en Elsabé van Zyl besig om van ’n kant af te werk.

 

 



Posted on 21 October 2010

Op Dinsdag 12 Oktober 2010 het die VLV dames van Redelinghuys bome naby die kerk geplant.  Reeds in September is meer as 30 boompies deur die gemeente op die kerkplein geplant.  Nadat al die bloekombome afgemaak is, is daar nie meer skaduweebome vir die voertuie om Sondae onder te staan nie.  Ons wil ook hiermee ons bydrae maak vir 'n beter, skoner atmosfeer vir ons nageslag. Ons dink ook groen.

 

Op die foto is mevv. Elsa Mostert en Joey Nortier besig om 'n Australiese Peperboom te plant.  Mev. Mostert is ook ons oudste VLV lid.  Sy word D.V. 2 Januarie 2011 80 jaar oud.

 

 

 

Beriggewer:  Gerda van Schoor

Categories