Posted on 16 March 2012

Sirkel: Worcester
Tak: Robertson       
Portefeulje: Gesondheid    
Beriggewer: Dianne Coetzee
Datum: 15 Maart 2012
 
Met ons Gesondheidsvergadering het ons heerlik gekuier, oor eetgoed (wat natuurlik nie so goed is vir die figuur nie) en tee, aan huis van een van ons lede.

 

Mnr Kobus van der Merwe het ons ingelig oor die drinkwater wat uit ons Munisipale waterkrane kom. Hy gesels oor al die bakterieë wat in water teenwoordig is, die produkte wat gebruik word om water op grootmaat te suiwer en die gesondheidsgevare wat daarmee gepaard gaan. Hy wys aan ons die waterfiltreerders wat op die mark beskikbaar is en die wat in jou huis geïnstaleer kan word.

 

 

Mnr Kobus van der Merwe en Diedie Marais (lid en gasvrou) by die suiweraar wat jy in jou huis kan instaleer.

 



Posted on 17 February 2012

Sirkel: Worcester
Tak: Robertson
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur    
Beriggewer: Dianne Coetzee
Datum: 16 Februarie 2012
 
Met ons Opvoeding vergadering op 16 Februarie het  Maria Del Gado en Beatrice Malan vir ons kom vertel van die familie navorsing wat hul doen. Beatrice bespreek die geskiedenis van die Malan-familie vandat hul na Suid Afrika gekom het in 1688 tot op hede. Sy het al baie ou foto's en waardevolle dokumente van voorgeslagte, wat baie ure se werk geneem het om op te spoor. Sy put baie genot daaruit om te weet waar jy vandaan kom en waarheen jy op pad is. Sy probeer ook die belangstelling kweek by haar kinders.

 

Maria Del Gado het navorsing gedoen oor haar oupa wat op die Titanic was toe sy in 1912 gesink het. Sy het selfs by haar voorouers in Europa gaan soek na ou foto's en stories oor hom. Daarvan het sy vir haar 'n "scrap album" gemaak om die geskiedkundige storie te vertel.

 

 

Maria del Gado (links) en Beatrice Malan (regs) met die "scrap book" album en agter hul is Beatrice se wawiel familie stamboom.

  



Posted on 19 January 2012

Sirkel: Worcester
Tak: Robertson
Beriggewer: Dianne Coetzee
Datum: 17 Januarie 2012

 

Robertson tak se dames het heerlik gekuier in die tuin van een van die lede. Daar is lekker vrugtefees gehou met die tak se eerste vergadering in Januarie. Ina Sadie, een van ons lede, het aan ons vertel hoe sy haar pragtige roostuin uitgelê en al die harde werk wat daarmee gepaard gaan om 'n spogtuin te onderhou. Ina kom vanaf Pretoria en moes deur baie teleurstelling gaan tot sy die regte resep gevind het om 'n pragtuin in die Boland te hê. Die tuin is slegs 3 jaar oud. Sy het 'n hele ritueel elke oggend om al die wilde voëltjies se kos en water uit te sit en sodoende baie geveerde vriende in haar tuin te hê.
 

 

 

Sunette de Villiers (voorsitter), Ina Sadie en Charmaine Lacroix (lede). Hulle dink seker ons kan hul nie raaksien tussen die rose nie!!

 

Dieselfde dag het ons ook tannie Nelie Brynard se verjaardag gevier. Sy is ons oudste aktiewe lid en het op 17 Januarie 2012, 90 jaar oud geword.
 

 

 
Sunette de Villiers (voorsitter) en tannie Lenie Brynard.



Posted on 23 November 2011

Sirkel: Worcester
Tak: Robertson
Studierigting: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Dianne Coetzee
Datum: 23 November 2011
 

Met ons afsluiting in 2011 het Jacomien Smit aan ons lede kom wys hoe jy jou eie verpakkings kan maak deur van blikke, bottels, glasflesse en selfs ou kartondose gebruik te maak.
Enigiets in jou huis en tuin kan gebruik word vir mooi, maar goedkoop versierings.  Glasflesse met lint, materiaal of mooi papier versier  en gevul met lekkers, of iets anders,  is ook 'n ideale bruikbare geskenk aan iemand reg deur die jaar.
 

 

Op die foto is Jacomien Smit wat aan ons lede van haar kreatiewe Kersverpakkings wys.



Posted on 07 October 2011

Portefeulje: Gesondheid.    
Beriggewer: Dianne Coetzee
 

Mnr Bennie Voster van Riversdal het die lede van Robertson tak toegespreek oor hoe hy in die vrugtesapbedryf beland het.

 

Bennie het geboer in die Middelburg-distrik, maar 'n mens se lewe is soos " 'n raaisel in 'n spieël". Hy het sy plaas verkoop en in die makelaarsbedryf gaan werk. Toe die nuwe wet vereis dat daar nuwe eksamens afgelê moet word om in die bedryf te werk het hy dit nie geslaag nie. Hy het toe geen werk nie. Hy besluit om in die vrugtebedryf in te gaan. Hy kom te hore dat daar op Riversdal 'n depot te koop is en so begin ERA JUICES. Die naam kom van sy 3 kinders.

 

Geen preserveermiddels word in hul sappe gegooi nie. Die sap word in konsentraatblokke verkry vanaf die verpulper en dan by die fabriek op Riversdal verwerk en gebottel. Hy gaan dan ook self na die verskaffers toe en proe eers die sappe om te besluit of dit op sy standaard is. Natuurlike sap word gebruik en appel en peer word gebruik as versoeter. Die fabriek lewer 10 - 15000 liter sap per dag en daar is 10 verskillende lyne beskikbaar. Hy verduidelik aan die dames wat preservering alles behels en wat om na op te let by die aankoop van vrugtesappe.

 

Hulle maak ook 'n 100% vrugtesap en ‘n Cremora melkmengsel nl. GUMME. Heerlik!! Hy noem ook dat jy nie water in jou gebruikte vrugtesapbottel moet gooi nie. Hul bottel ook Tru-osmose water. En dit alles teen 'n baie redelike prys.
 

 

Op die foto is twee van ons VLV lede by van die ERA Vrugtesap produkte. Links is Claudie During en regs, Maryna Bothma.



Posted on 06 September 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Dianne Coetzee

 

Die dames van Robertson tak het 'n heerlike kuieroggend geniet saam met Fran Lombard. Sy het kom vertel wat 'n vrou moet weet oor die maak en smaak van parfuum.

 

Fran was al op ‘n kursus in Frankryk, waar sy die fynere kunsies van parfumerie geleer het en geleentheid gehad het om verskillende parfuumvervaardigers te besoek.

 

'n Geur word saamgestel uit drie dele die kop, die hart en die basis. Die kop is die eerste geur in die bottel; die eerste indruk wat jy van die geur kry wanneer jy die bottel oopmaak en die parfuum aantik. Dit ruik gewoonlik na blomme. Dit hou net 'n paar sekondes en is vermeng met die geur van verdampende alkohol. Die hart is die geur wat onmiddellik volg. Dit talm langer op die vel en is dikwels hout- of speseryagtig. Die basis is die kerngedeelte, die ware wese van die parfuum wat ure sal hou. Dit is soos wat die parfuum uiteindelik sal ruik. Dit bestaan gewoonlik uit sintetiese en dierlike stowwe en gee die parfuum sy eiesoortige geur.

 

Sy vertel die lede van generiese parfuum wat op die mark beskikbaar is en stel dit aan die lede bekend. Sy verduidelik ook hoekom generiese parfuum nie in oorspronklike bottels - of parfuumbottels wat soos die oorspronklike lyk, m.b.t. die kleur van die glas of plakker - mag verpak word nie. Na haar baie leersame praatjie het die dames tou gestaan om iets nuuts op die vel gesproei te kry - veral die soorte parfuum wat nie aldag bekostigbaar is nie.
 

Na die opgewondenheid ‘n bietjie gesak het, het almal lekker saam gekuier op die koel oggend met heerlike sop en tuisgebakte brood vir middagete.
 

Fran Lombard met 'n uitstalling van generiese parfuum.

 

 

Lede smul heerlik aan die tuisgemaakte sop en brood.

 



Posted on 04 August 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Dianne Coetzee
 

Met Robertson tak se Openbare Sake vergadering was daar twee sprekers. 
 

Lettie van Zyl staan aan die hoof van Robertson se Toerisme kantoor. Lettie het met passie aan die gaste vertel hoe belangrik dit is om ons dorp, wat op die bekende Roete 62 geleë is, te alle tye te bemark. Dat ons almal trots moet wees op ons dorp wat al as die skoonste dorp aangewys is en hierdie jaar moontik weer die eer te beurt kan val. Iets wat slegs kan gebeur as almal met trots hul deel doen om besoekers tuis te laat voel op jou dorp.   
 

 

Op hierdie foto is Anita Claasen en Emmie Prinsloo (VLV lid) wat die leersame vergadering saamgestel het. Anita staan aan die hoof van ons dorp se Biblioteek. Sy het aan ons al die werksaamhede verduidelik van Streeksbiblioteke en wat alles gepaard gaan met die verspreiding, hantering en aansoeke om boeke tot by die Biblioteek te kry vanaf Hoofkantoor in Kaapstad. Tesame met die moderne tegnieke wat ook nou ingestel word by Biblioteke is dit veel meer werk as net boeke lees en hanteer. Die lede het dit baie geniet om daarna te luister en dit het ons uitkyk op die werk wat Biblioteke en hul personeel aan die publiek bied, totaal verander. Dit was baie leersaam.



Posted on 27 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Dianne Coetzee.

 

Hulani Maasdorf, skoonheidsdeskundige van Robertson, het by die VLV tak aldaar gaan kuier tydens die tak se Leefstyl vergadering.

 

Sy het 'n nuwe Suid Afrikaans vervaardigde skoonheidsproduk aan die lede bekendgestel. Die produk word spesifiek saamgestel vir ons klimaat. Sy verduidelik ook aan die lede waarom dit belangrik is om jou velprodukte aan te pas by jou ouderdom.
 

Op die foto is links Hulani Maasdorf en Charmaine Lacroix - VLV lid en Sameroeper .

 



Posted on 24 March 2011

Portefeulje: Kuns en Handvlyt.  
 

Robertson tak het die voorreg gehad om vir Pauline Müller-Dews as gas te hê tydens die Kuns & Handvlyt portefeulje vergadering. Pauline, ‘n gebore Suid-Afrikaner wat nou in Frigliana, Spanje woon het oor haar skilderkuns gesels.

 

Sy skilder met koffie. Iets wat sy toevallig ontdek het terwyl sy Spaanse koffie op die Spaanse manier - uit glase - gedrink het. Sy het toevallig van die warm koffie op haar sketsboek gestort en so het haar unieke kuns begin. Sy werk selfs met rooiwyn en ink.


 

 

Pauline skilder ook met olieverf op seil in die pragtige helder Spaanse kleure. Elke skildery vertel sy eie storie. Sy het haar eie webwerf waar haar werk besigtig kan word. 

www.paulinemuller.wordpress.com
 

 

Op die foto is LNR: Sunette de Villiers (voorsitter) Pauline Müller-Dews en Griet Viljoen (lid).

Categories