Posted on 09 August 2010

Sirkel Noord-Karoo kies elke jaar ‘n “Vlindervrou”. Iemand wat regtig ‘n verskil in haar gemeenskap maak.

 

Hierdie jaar is dit Dillys Trollip.

 

Sy is ‘n merkwaardige VLV lid van Britstown tak. Sy is ‘n boer, maar haar hart is vir Britstown en sy mense. Sonder vergoeding veg sy vir voortbestaan van Huis Daneel, die plaaslike ouetehuis.

  

Haar CV laat mens verstom:
• Nurse training – Port Elizabeth
• District sister – Britstown
• Member of Britstown hospital board and was involved with the opening of the new clinic
• President of Old Age Home – 18 years
• Circle President of CWAA – 18 years
• President of Britstown show – 12 years
• President of Police Forum – 5 years
• President of local Garden Club
• President of Country Club
• Councillor of Britstown Municipality – 9 years
• Member of Fynproewers food society – 7 years
• 30 years experience in the wedding and catering industry

 

 



Posted on 04 August 2010

Selma Vorster  08-08-1933 - 19-06-2010


 
Griekwaland-wessirkel groet ons trots,  ons geliefde eresirkelpresident,  Selma Vorster.  Vir haar tak was sy die toonbeeld van 'n gerespekteerde en bekwame VLV-vrou wat die lewe vierkantig in die oê gekyk het en groot deernis vir haar medemens.


 
Selma is in 1933 in Karibib in Namibië gebore,  het aan Hoërskool Punt in Mosselbaai matrikuleer en aan die destydse Opleidingskollege Paarl haar as onderwyseres bekwaam.  Sy was toe reeds 'n sterk leier en was primaria van huis Lené Marais en ondervoorsitter van die 1953 Studenteraad.

  
 
As jong onderwyseres trek sy in 1955 na Griekwastad waar sy vir twintig jaar hoofsaaklik Naaldwerk by Hoërskool Griekwastad gee.  Gedurende dieselfde jaar  trou sy met Finis Vorster,  onderwyser aan dieselfde skool en uit die huwelik van 54 jaar word 3 seuns en 2 dogters gebore.


 
In 1956 sluit die jong Selma by die plaaslike tak van die VLV aan en bly 'n aktiewe lid tot haar heengaan.  Die sigbare werk wat sy verrig het sluit in bestuurslid en saamroeper vir Opvoeding en later ook Gesondheid.  Vanaf 1985 tot 1992 dien sy as vise-voorsitter en vir 10 jaar,  van 1992 tot 2002 lei sy ons tak as bekwame en geliefde voorsitter.  Op sirkelvlak lewer Selma ook 'n groot bydrae.  Vanaf 1980 tot 1985 dien sy as Sirkelpresident en op Hoofbestuur.  Haar werksverpligtinge en die behoeftes van haar gesin noop haar om eers dié amp te laat vaar en van 1985 dien sy as vise-sirkelpresident .  Na 'n groot motorongeluk wat haar man se gesondheid gedurende 2007 knak,  bedank Mev. Vorster uit haar bestuurspos op sirkelvlak om haar man voltyds te versorg.  By Konferensie 2007 te Niekerkshoop groet Griekwaland-wes ons mees gewaardeerde en ervare bestuurslid.


 
Die einde van Selma Vorster se sirkelverpligtinge beteken egter nie dat sy klaar is met VLV nie en sy woon steeds takvergaderings by tot op die einde van haar leeftyd.  Haar deelname aan veral die maandelikse "uit my tuin" afdeling sal altyd onthou word.  Dit is in die Vorstertuin wat die jaarlikse Tuinparty waarmee Griekwastadtak hul jaar afskop jaarliks gehou is.  Dit was in die Vorsterhuis waar talle takbestuurs- en sirkelbestuursvergaderings gehou is.  Dit is ook by die Vorsterhuis in Groenewaldstraat 5 waar jarelank konferensiepakkies afgegee is en dit is die Vorsterhuis se deure wat altyd vriendelik oopgestaan het vir VLV.


 
Buite die VLV was Selma en Finis Vorster ook betrokke in die gemeenskap. Selma het op talle gebiede haar gemeenskap en medemens gedien,  van die Vrouediens en kerkraad,  Hospitaalraad,  SAPD GOKOK,  en ACVV tot by die Tuinbouklub waarvan sy ook stigterslid was.


 
Selma Vorster laat 'n onbeskryflike leemte in die lewens van haar kinders,  familie en vriende,  maar veral in die Griekwaland-wessirkel. 

     
 
Dit wat Selma Vorster in haar 54 as lid van VLVK gedoen en bereik het is vir ons almal 'n voorbeeld van wat moontlik gedoen kan word.  Ons streef haar voorbeeld na.  Ons eer haar nalatenskap aan VLV.

 



Posted on 29 July 2010

'n Spoggeleentheid waar asemrowende rokke van Schalk van Dyk, ontwerper van Bloemfontein, vertoon is en Van Dyk ook met blomme getoor het, is in die skoolsaal van NJ Heyns aangebied ter insameling van Kongres 2010. Lede van Kimberley en distrik en Griekwaland-wes laat hul egter nie deur ekonomiese probleme afskrik nie en die damesoggend is as fondsinsameling aangebied. 
 

Daar is reeds die Vrydagoggend met interessante klasse tydens die Oranje Blomme Unie (OBU) se jaarlikse simposium in Kimberley begin. Mev. Elsa Kolver,  bekende in blomkringe, het 'n klas met die tema "Space,  Pain or Gain" aangebied. Schalk van Dyk het die middag 'n werkswinkel aangebied waar rangskikkers die nuutste tendense in moderne bruids- en tafelruikers aangeleer het.
 

Mev. Melana Möller, president van die Griekwaland-wessirkel, het die geleentheid om VLV en OBU tesame te akkomodeer aangegryp deur 'n interessante oggend met blomdemonstrasies en 'n modeparade aan te bied terwyl die demonstrateurs en OBU-lede in Kimberley was. Van Dyk het met die tema  "Vroue in Kleur" gewerk en rangskikkings gemaak wat die verskillende "kleur vrouens" uitbeeld. Modeskeppings in die verskillende kleure het die demonstrasies komplimenteer. 
 

Mev. Melana Möller en Schalk van Dyk by die rangskikking van die "groenvrou" wat bv. lief is vir die natuur.

  

 



Posted on 15 July 2010

Ongeveer 45 vroue het die jaarlikse Sirkeldag van Noordoos-Kaap se VLV op Saterdag 12 Junie te Sterkstroom bygewoon. Nege van die tien dorpe was teenwoordig, en al was dit  'n koue dag, was die ontvangs en harte baie warm. En daar was soveel interessanthede op die agenda, dat niemand aan koud kry gedink het nie! Die Sirkeldag is daarop gemik om wenke oor die volgende jaar se kompetisies te gee en daar was regtig iets vir elke belangstelling! 2011 se tema is "Die Bruid" en alle kompetisie artikels hou daarmee verband.

 

Linie Gouws van Ugie en Hilda v/d Walt van Jamestown, Sirkel NOK se saamroepers van Leefstyl, het wenke gegee oor die vlg: Borduurwerk (middellap), Masjienwerk (korsetlyfie), Hekelwerk (handsakkie), Breiwerk (stool), Weefwerk (kanselkleed), en die Wisselafdeling (ringkussing en kousband). Die dames het ook geleer hoe om Engele ("Divinity") fudge, appeljellie, en wortel-vormkoekies te maak. Die fudge word nie in blokkies gesny soos die tradisionele tipe nie, maar in hopies aangebied. By die appeljellie is die pektien toets (waarvan die sap by brandspiritus gegooi word) weer baie belangrik.

 

Ander kompetisies sluit in 'n blomme ring, 'n geskrewe skets oor 'n katastrofe met 'n bruidsrok, en 'n foto vir 'n huweliksuitnodiging.  Selma Veldsman van Lady Grey het wenke gegee vir 4 bladsye "Scrapbooking" vir die troualbum, en Lynette v/d Berg van Barkly-Oos wenke vir die kruis van natuurlike materiaal, wat 'n Landbou-kompetisie is. 

 

Die dag is ingekleur met 'n item aangebied deur 5 kinders van Sterkstroom wat uitblink as leerlinge by Laerskool Hangklip op Queenstown. Hulle het elkeen 'n kort skets voorgedra oor verskillende onderwerpe wat die dames laat skater het. Die uiters leersame dag is afgesluit met 'n werkswinkel oor "Teabag Folding", aangebied deur Sirkelpresident Irma Davel van Molteno. Die "Teabag"-motiewe word dan gebruik om groetekaartjies te versier.

 

Berig deur Antionette van Pletzen



Posted on 11 June 2010

Melana Möller het laat weet. .

 

Riekie van Eck van Cambell tak het die pragtigste tafelversierings van vetplante gemaak tydens Sirkel Griekwaland-Wes se beplanningsvergadering vir die komende kongres. 

 

Dit het ons laat besluit om ons inheemse plantmateriaal te gebruik, net in 'n ander vorm, vir die versierings van die afgevaardigdes se tafels.

 

 

 

 



Posted on 13 May 2010

Sirkel Kalahari het 'n geslaagde inligtingsdag gehou rondom al die voorgeskrewe kompetisies vir die komende jaar.

 

Persone wat daarby betrokke was: Voor - Bettie van Dyk (hekelwerk), Doris Linde (preservering), Marietjie Steyn (handvlyt), Dr Marietjie du Plessis (letterkunde)    
Agter - Erika Linde (borduurwerk), Tonna Delaney (breiwerk), Petro Sterrenberg (fotografie) en Corli van Zyl (masjienwerk).

  

 

Marelie Keuler (blomme)

 

 

 

Annelize Kriel (rekenaargeletterdheid)

 



Posted on 21 April 2010

Sirkel Kalahari se Konferensie op Reivilo op 11 Maart 2010.

 

Dit was 'n konferensie met 'n klere tema:  Mad Hatters - almal bo 50 jaar moes 'n rooi hoed en donker pers aantrek, die onder 50 dra ligpers met 'n pienk hoed. Baie kreatiewe skeppings het tevore gekom. Gees was heerlik!

 

Gassprekers was Dr Eugene Kemp (Reik na die sterre) Dr Che Weldon (relevansie van amfibie in 'n moderne wêreld) Ds Willie Reichert (Entoesiasme) en Ena Theron (die Enneagram - 9 persoonlikheidstipes).

 

 

 

Mad Hatters!

 

 

 

Dr. Che Weldon & Trishia

 

 

 

Dorris Linde

 

 

 

Feestelike Kaas & Wyn

 

 

 

Ds. Reichert & Dr. Kemp



Posted on 14 April 2010

TYGERBERG 43

Datum :                   11 Maart  2010                                      Venue :       N.G. Kerk Oostersee, Parow
Gasvroutak :             Parow                                                   Spreker:      Wilna Adriaanse

 

Eregaste : Mevv. Margie Visagie, Tygerberg en VLVK erepresident ; Marieta van Eyssen, voormalige sirkelpresident ; Wilna Adriaanse, spreker ;  Steffi Brink,  sirkelpresident Paarl ; Adri Bell, Northlink Kollege ; en ds. Gert en mev. Aletta Olivier.

 

Mev. Marie Louw, Sirkelpresident, verwelkom  teenwoordiges en stel die gaste, ampsdraers en sameroepers aan die vergadering voor.

 

Ds. Gert Olivier lees uit verskeie skrifgedeeltes, met klem op Efesiërs 5:15 en Filipense 3:10, en vra na aanleiding daarvan hoekom ons nie al ons drome waar maak nie.  Hy gee as redes : vrees vir mislukking, uitstel van pogings om dit  waar te maak, vrees vir sukses en die daarmeegepaardgaande verantwoordelikhede. Om suksesvol na die sterre te reik verg totale verbintenis en baie opoffering.  Dit vereis dat ons onsself sal wees en risikos sal neem. Dat ons nie geleenthede sal verspil nie en sal vra wat die Here wil hê dat ons moet doen. God bring gebeurtenisse oor my pad om my geleenthede te bied en as ek alles doen asof vir die Here, sal ek suksesvol na die sterre reik. Ds Olivier doen ʼn gepaste openingsgebed. Mnr.  Willem Bester sing Song of Peace.

 

Na die konstituering van die konferensie verwelkom mev. Anna Bindemann, voorsitter van Parow, teenwoordiges.

 

Mnr Willem Bester bekoor die vergadering met sy vertolking van twee liedere van Robert Schumann, Bist du bei Mir en Widmung uit Myrten.

 

Die sprekers vir Openbare Sake, mes. Colleen Beck  en Lynette Milward van Kenridge Laerskool, is deur mev. Anna Bindemann voorgestel. Hulle praat oor die gebruik van rekenaars vir verskeie soorte projekte en doen ‘n powerpoint aanbieding daaroor.
 

Parow tak is 75 jaar oud en het konferensie genooi om ter viering hiervan ‘n gratis koppie tee en kolwyntjies saam met hulle te geniet. Mev. Margie Visagie wens hulle geluk en stel ‘n heildronk op die tak in. Sy steek ook ‘n 65-jaar diensknopie aan vir mev. Lydia Dempers, Parow.

 

Die gasspreker, Mev. Wilna Adriaanse, sy sê dat ‘n mens na die sterre kan reik deur bloot jou eie storie te deel met dié wat oor jou pad kom. Wanneer ‘n mens die resep van storiemaak op jou eie lewe toepas sal jy vind dat dit die alledaagse en onverwagse is wat die verskil maak en jou toelaat om hoogtepunte te beleef.  ‘n Mens moet let op die volgende storiekomponente in jou poging om jou eie storie betekenis te gee: 
Karakters – nie net die kleurvolles nie, maar ook die stilles in die hoek ; Illustrasies – na aanleiding van verskillende insidente wat nie net  glamour uitbeeld nie maar ook alledaagse sleur; Gebeure – vaal alledaagse gebeure gee vleis aan die bene. Klein oomblikke gee sin aan die lewe;Settings – Lewenservaring bepaal interpretasie van gebeure en dit neem dikwels net sekondes om iets waar te neem wat sin gee aan die hele opset. Die toets is om terug te staan en te kyk wat werklik gebeur het.‘n Mens moenie laer trek om jouself nie, maar uitreik.

 

Mev. Louw lewer haar jaarverslag en doen verslag oor sirkelaktiwiteite gedurende die afgelope jaar, tw. Twee werkswinkels, ‘n uittappie na die Christo Pienaar natuurtuin, herwinningsprojekte, boomplantings en die VLVK- 80 partytjie : Prinsesse, Polfye en Petits Fours, sowel as die Tygerberg Ekspo.Sy skets maniere waarop lede gedurende 2010 kan Reik na die Sterre : tw. deur hul gesondheid op te pas, hul talente uit te leef, hul verhoudings te troetel, finansieël gesond te leef, te leer om te gee, te leer om te vergeef, te leer om met dankbaarheid te leef en lief te wees vir hul Skepper.   VLV vroue wat reik na die sterre is vroue met Oemf! Mev. Louw bedank lede en die sirkelbestuur vir hul ondersteuning en hulp, toegewydheid en pligsgetrouheid.

 

Mev. Tuala Vorster, Landbou,  dra aan die vergadering God’s View on Grass voor.
 

Mev. Martie Jordaan, Naaldwerk, stel mev. Dorothy Lubbe van Dot’s Quilting, aan die woord.  Sy praat oor Suid Afrikaanse kwilttradisie en sê dat die VLV gaan oor deel en kommunikeer en dat Suid Afrikaners besondere mense is vanweë ons besondere omstandighede. Ons kwiltwerk beeld ons kultuur van beide die inheemse en die koloniale tradisie uit.

 

Mev. Joy van Rooyen, Opvoeding, stel mev. Mimmie Basson aan die vergadering voor.  Sy praat oor Reik na die Sterre soos van binne die verband van Suid Afrikaanse  kultuur en letterkunde, en wel aan die hand van verskeie Afrikaanse skrywers soos Breyten Breytenbach en George Weidemann.

 

Mev. Alet Colyn, Kunste en Handvlyt sameroeper, lewer ‘n praatjie oor verskillende soorte verhaalkuns.

 

Mevv. Caro Ekermans, Stellenberg, en Marinda du Toit, Kraaifontein, is onbestrede herkies tot onderskeidelik sekretaris en hulpsekretaris. Mevv. Ester de Bruyn, Durbanville, en Tarina Esterhuisen, Bottelary Koelenhof is onbestrede benoem as sameroepers vir Kunste en Handvlyt en Landbou. Mevv. Ema Strydom, Welgemoed, en Hester Geringer, Durbanville, is tot die poste Openbare Sake en Naaldwerk verkies. Mev. Louw wens die betrokke dames geluk, bedank uittredende sameroepers, mevv. Anna Bindemann, Alet Colyn, Martie Jordaan, en Tuala Vorster, vir hulle dienste gelewer oor die voorafgaande drie jaar en oorhandig aan elkeen ‘n bos blomme.

 

Mev. René Stander trakteer teenwoordiges op 2 geestige voorlesings uit boeke van Madelein van Biljon.

 

Mev. Marieta van Eyssen neem die oorhandiging van Trofeë waar  en wens wenners geluk met hul prestasies
Die trofee vir die meeste punte word gewen deur Goodwood, die Ledewerwingtrofee deur Goodwood, die Presidentstrofee vir Takprestasie deur Goodwood en die Margie Visagie Trofee vir die mees uitstaande artikel op konferensie deur Yvonne Bezuidenhout van Kuilsrivier vir haar geweefde paneel.

 

Caro Ekermans,
SIRKELSEKRETARIS

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 13 April 2010

Verslag van 58ste Konferensie van Sirkel Paarl gehou op 18 Maart 2010 te Riebeek Valley Hotel, Riebeek-Wes.

 

26 Afgevaardigdes en verskeie waarnemers het die konferensie, met ‘fiksheid in beweging’ as tema bygewoon.

 

Ds. Duvenhage van Riebeek-Wes open met die lees van 1 Kor. 4:7 en vra “Wie maak jou so belangrik?”.  Ons vergeet dat die lewe ’n gawe is en als wat ons het, het ons gekry.  ’n Gawe uit God se hand het net betekenis as dit in verhouding met Hom gebruik en gedeel word.  By die VLV kry ons in mekaar se teenwoordigheid betekenis, want hier deel ons ons kennis en gawes met mekaar.  Hy sluit af met ’n gebed.

 

Mev. Steffi Brink (Sirkelpresident) heet almal welkom, en so ook mev. Debora Thiart, namens die gasvroutak.

 

Mev Brink lewer haar laaste jaarverslag na ’n baie besige VLV jaar met o.a. die aanbied van Kongres.  Toe ons klein was, het ons gesing ‘twinkle, twinkle little star...’ en vandag reik ons na die sterre;  die eerste saadjie is toe gesaai.  Vandag is ’n belangrike plek op pad na môre.  Elkeen moet sy beplanning reg hê op  pad na sy mikpunte, want anders kan jy baie energie en entoesiasme verkwis en tog niks bereik nie.  Sy hak aan by die bekende ‘as jy misluk in jou beplanning, beplan jy om te misluk’.  Jou mikpunt moet groot genoeg wees om as uitdaging te dien.  Dit moet jou inspireer om dit aan te pak wat op die oomblik as ver bokant jou vermoëns lyk.  Onthou altyd – niks is beter as die wind van agter, die son van voor en jou vriende langs jou nie.  Sy bedank die sirkel ‘from the bottom of my heart, I thank you.  You raised me up to be more than I could be’.

Die ontbinding van Riebeek Kasteel as VLV tak laat ‘n groot leemte in die sirkel.  Sy moedig hulle aan om nie weg te bly nie, want die VLV het hulle nodig!

Mev. Francina Marais, visepresident, bedank haar omdat sy altyd die son sien skyn aan die einde van die wapad.

 

Finansiële verslag word deur Mev. Jean Rosenstein, tesourier, gelewer.  Sy moedig die lede weer aan om aansoek te doen vir die rentevrye studielenings van Sirkel Paarl.

 

Uitslae van kompetisies
Borduurbeker: Suider-Paarl
Hekelbeker: Riebeek-Wes
Naaldwerkbeker: Riebeek-Wes
Kuns en Handvlytbeker: Malmesbury
Breibeker: Slot van die Paarl
Blombeker: Riebeek-Wes
Kookkunsbeker:Slot van die Paarl
Meeste punte gebak: Suider Paarl
Fattis & Monis beker vir algeheel die beste: Riebeek-Wes
Mees uitstaande inskrywing: Cobie Malan, Riebeek-Wes
Tip Top-tak: Suider Paarl

 

Die saamroepers het aanbiedings gedoen:

Naaldwerk - Wat is dit wat die Franse vrou altyd stylvol laat lyk?  Onder andere ’n mooi serpie, ’n stylvolle handsak, luukse parfuum, ’n klassieke wit hemp of jassie en goeie onderklere.
Openbare Sake - Demonstrasie hoe om die VLV se inligting op die internet te bekom.
Kuns en Kultuur - Hoekom onthou ons stories makliker?  Wat’s die storie agter die storie?
Gesondheid - Vergiftiging van oordosis aluminium.  Dit kan deur die buisies van tandepasta, anti-persperante, geprosesseerde kaas, bruismeel, bakpoeier, koeldrankblikkie, foelie en poeier in die liggaam kom.  Lees die etikette op produkte.  Aluminium gee nie Altzheimers nie, maar navorsing toon dat die brein van Altzheimer-pasiënte tot ’n derde meer aluminium bevat as gesonde mense s’n.  Gebruik liefs koperpotte of vlekvrye staal potte met ’n koperbasis.
Leefstyl – Die volgende konferensie se kompetisies word bespreek asook binneversiering van jou huis en hoe dit ’n huis verkoop.
Landbou – VLV bring hulde aan elke boervrou.  Takke word aangemoedig om meer aandag te gee aan die minder bekende.
Opvoeding – Die verslag afdelings word behandel en takke word aangemoedig om gebruik te maak van hul dorp se fasiliteite.

 

Mev. Elsabé du Plessis, gasspreker, praat onderhoudend oor hulle ‘vrugteslaai’-boedery op die plaas.
-olywe:  pluk die vrugte van April tot einde Julie en laat die boom rus tydens Augustus.  ’n Mens kry nie groen en swart olywe nie. ’n Olyf raak ryp van bo na onder in die boom.  Die swart olywe sit dus bo in die boom.  Olyfbome is immergroen, blom in November, dra net op lang slap takke en moet liefs in die binnekant bietjie gesnoei word sodat son oral kan inkom.  Hulle vervaardig ook olyfolie, waarvan die heel beste produk, ekstra edel, gebruik word vir slaaie, mayonnaise en roomys.  Moet ook nooit olyfolie in die yskas bêre nie.  Goeie olyfolie kan 18 maande oud word voor dit verval.
-boegoe:  boegoesalf is bietjie duur, maar uitstekend vir gebruik deur kankerpasiënte.  Selfgemaakte boegoe-tee is ook baie goed vir opgeblase gevoel en maagpyn.  Boegoe in die badwater en ’n glasie boegoe-brandewyn is net die regte ding na ’n stresvolle dag!
-stokkiebedryf:  Weet u waarvandaan kom die uitdrukking:  iemand draai stokkies?   
-Pinotage konfyt:  Sy verskaf konfyt aan heelwat winkels en padstalle.  Dit word in 30kg potte gekook.
 

Item 
Sangduet deur Denver en Donald van die DD Band en Dansgroep van Riebeek Wes.

 

Organisasie
**Mev. Marinda Rall word verkies as nuwe sirkelpresident en Mevv. Emmie Malan (Gesondheid), Monica Geldenhuys (Landbou) en Aletta Keyser (Leefstyl) word ook verkies.
**Mev. Steffi Brink tree uit as Sirkelpresident van Sirkel Paarl.
**Afgerolde stukke is aan elke voorsitter uitgedeel oor sake uit hoofkantoor.
**Na publieke teenkanting asook ’n brief van Mev Erika Lubbe, VLVK President, aan MultiChoice oor beoogde pornografiese kanaal, het hulle laat weet dat hulle die kanaal laat vaar.

 

Mev. Bokka Wagenaar nooi lede uit na Sirkelkonferensie 2011 by Slot van die Paarl op 17 Maart 2011. 

 

Ingestuur deur:  Mev Annalise Loubser (Sirkelsekretaris)

 



Posted on 07 April 2010

78ste Konferensie – Weskus Sirkel

10 Maart 2010 – Gemeenskapsaal te Redelinghuys

Gasvroutak – Redelinghuys

Opening – Ds. Jan van Schoor  - Die volheid van die lewe behoort aan God.  Sê vandag JA vir die lewe en bereik die sterre.

Groeteboodskap – Mnr. Van Zyl van der Merwe – visevoorsitter Het Kruis Boerevereniging

 

PRESIDENTSREDE- en VERSLAG - Me Louwna Hoving

Mev. Louwna Hoving het in haar presidentsrede die ses padtekens van die lewe genoem wat ‘n vrou moet ken as sy op pad is om na die sterre te reik.  Hulle is:

Padvurk:  dui op die keuses (tussen reg en verkeerd) wat ons daagliks moet maak.

Stop:  wys na die stoptekens wat die Here op ons pad bring.

Eenrigting:  wys na klaargemaakte keuses wat ons nie ongedaan kan maak nie.

Padaansluiting:  dui op die gevare van ‘n afdraaipad wat ons van koers af wil bring.

Geen ingang:  dui op sonde en versoekings waaraan ons nie mag toegee nie.

Stilhouplekke:  dui op rusplekke (bv. Bybel lees, bid) om nuwe krag en moed te kry.

 

SPREKER – Me Elna Esterhuyse

Mev. Elna Esterhuyse was die gasspreker en het die VLV lede na die sterre laat reik.

Die moderne neiging is om te wil lyk en wees soos die beroemdes en bekendes.  Dit raak later ‘n obsessie en plaas veral die jongmense onder groot druk.  God het ons elkeen uniek gemaak, van ons ‘n ster gemaak.  Ons het elkeen talente van God ontvang.  ‘n Vrou met

toewyding gebruik haar talente om háár ster te bereik, om God se doel met háár lewe te bereik.  Sy beklemtoon die eienskappe van ‘n stervrou wat opgesluit lê in die letters van dié woord: sy is Sterk gemaak (deur God se krag), met Teerheid, Eerlikheid, Respek (vir jouself en vir ander), wees ‘n Voorbeeld vir ander, Regverdig en Opreg en God het haar Uniek gemaak.

 

AANBIEDINGS DEUR SAMEROEPERS

v      OPENBARE SAKE

Mev. Martie Carstens, verbonde aan die Wes-Kaapse Kantoor van die Verbruikersbesker-mer,  is die gasspreker.  Sy gee inligting deur van die nuwe Verbruikerswet wat in Oktober 2010 in werking tree en moedig die konferensiegangers aan om die nuwe wet te lees.  Die hoofdoel van die wet is om die regte van die verbruiker te beskerm, veral teen uitbuiting.  Sy noem nuttige wenke hoe die verbruiker homself kan beskerm en watter inligting en bewyse van aankope bewaar moet word vir toekomstige navrae.

 

v      LANBOU EN TUINBOU

Mev. Lizelle du Toit noem dat vir die boer lê grond na aan die hart en beleef hy vreugde as hy sien hoe die koring ryp word.  Vandag word die vreugde van die koringboer egter verdryf deur die swak koringprys, hoë insetkoste en onsekerheid oor die nuwe seisoen wat meer eise aan hom gaan stel.  Koringverbouing is nie meer winsgewend nie en daarmee saam kry die Suid-Afrikaanse boere geen subsidie van die regering nie.  Sy doen ‘n beroep op die vroue om vir die koringboere te bid.

 

v      KUNSTE EN HANDVLYT

Die konferensiegangers luister na mev. Sarie Koegelenberg van Aurora se voorlesing van stories wat deur haarself geskryf is.

 

v      OPVOEDING EN KULTUUR

Mev. Esther Strauss lewer ‘n praatjie oor Reik na die sterre.  Ons kan dit doen deur ons talente te identifiseer en dit te ontwikkel, deur vrede te maak met ons negatiewe eienskappe en te fokus op ons positiewe punte, deur keuses te maak wat waarde sal voeg by ons talente en deur geloof in onsself te hê.

 

v      GESONDHEID

Mev. Elmarie Cumpsty lewer ‘n inligtingspraatjie oor Noodhulp.  Sy noem die kontaknommers van die vernaamste nooddienste en noem die artikels wat in ‘n noodhulptas moet wees.  Sy verduidelik breedvoerig wat ‘n persoon moet doen as hy noodhulp moet toepas by ‘n ongelukstoneel.  Indien jy die nooddienste ontbied, praat duidelik en gee die regte besonderhede.  Dit is belangrik dat ons almal basiese noodhulp opleiding moet ontvang. Sy sluit haar aanbieding af met ‘n vasvra oor die inhoud van ‘n noodhulptas.

 

v      LEEFSTYL

Mev. Henriëtte Smit lewer ‘n praatjie met die tema Dis lekker om te kompeteer.  Sy moedig die lede aan om deel te neem aan kompetisies,  nie om te wen nie, maar om daardeur te leer.  Kompetisies gee ons die geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer en om bestaande kennis uit te brei. Begin vroegtydig en doen eers goeie beplanning.  Gee veral aandag aan die aanbieding van die artikel.

 

Prysuitdeling

Die prysuitdeling is deur mevv. Estelle du Plessis en Henriëtte Smit behartig en mev. Engela van Zyl van Redelinghuys het die trofeë oorhandig.

 

GEBORGDE KOMPETISIE (klop-en-bak botterkoek)

1ste:  Aurora               2de:  Vredenburg                    3de:  Hopefield

BORDUURWERK (saamtrekwerk – kersfees prent) : Ria Basson trofee

1ste:  Eendekuil

MASJIENWERK (oorlegdoek) : Toerien trofee

1ste:  Porterville          2de:  Eendekuil                       3de:  Velddrif

BREIWERK (pop) : P Andrag & Seuns trofee

1ste:  Langebaan        2de:  Clanwilliam                     3de:  Velddrif

HEKELWERK (vensterversiering) : Wesgraan trofee

1ste:  Velddrif              2de:  Langebaan                     3de:   Aurora

WEEFWERK (paneel) : Weefwerk beker

1ste:   Moorreesburg

WISSELAFDELING (kerskous) : Rae Smit trofee

1ste:  Langebaan        2de:  Porterville                       3de:  Langebaan

HANDVLYT (kersboomversierings) : Velddrif trofee

1ste:  Porterville          2de:  Langebaan                     3de:  Velddrif

KUNS (kersspel) : United beker

1ste:  Graafwater        2de:  Graafwater                     3de:  Velddrif

KUNS (Fotografie) : Dirkse van Schalkwyk trofee

1ste:   Velddrif             2de:   Eendekuil                      3de:   Graafwater

GEBAK (kersboomkoekies) : Baby Basson trofee

1ste:  Vredenburg       2de:  Langebaan                     3de:  Velddrif

LEKKERS (noga) : Hebsiba Richter trofee

1ste:  Leipoldtville        2de:  Porterville                       3de:  Graafwater

PRESERVERING (boerjongens) : Hopefield trofee

1ste:  Velddrif              2de:  Eendekuil                       3de:  Leipoldtville

MIKROGOLF (vrugtekoek) : Aurora trofee

1ste:  Porterville          2de:  Hopefield                        3de:  Clanwilliam

MEESTE PUNTE – HUISVLYT : Rosa Lategan trofee

1ste:  Porterville          2de:  Velddrif en Leipoldtville   3de:  Vredenburg

MEESTE PUNTE – HANDWERK : Lambertsbaai trofee

1ste:  Langebaan        2de:  Velddrif                           3de:  Eendekuil

MEESTE PUNTE – KUNS EN HANDVLYT : Louwna Hoving skild

1ste:   Graafwater       2de:   Velddrif                          3de:   Porterville

MEESTE PUNTE – TOTAAL : Porterville trofee

1ste:  Velddrif              2de:  Langebaan                     3de:  Porterville

10-UIT-10-TAK : René Louw trofee

Langebaan

Konferensie 2010 is op ‘n hoë noot afgesluit – konferensiegangers vorm ‘n vriendskapskring en sing Sal ons ou kennisse ooit vergeet.