Sirkel: Paarl
Tak: Slot van die Paarl
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Annalise Loubser
Datum: 8 Mei 2012
Dr Spinnie Benade het baie interessante inligting oor voeding en gesondheid gegee; party ou goed wat ons net weer moes hoor! Verbeter jou gesondheid deur 5 porsies groente en vrugte te eet per dag. Die helfte van die bord moet gevul wees met groente. Wees meer aktief en eet kleiner porsies.
Eiers is ook nou weer as gesond verklaar, asook donker sjokolade en rooiwyn – dit laat party dames glimlag! ‘n Goeie aanvulling met omega 3 (oppas vir te veel omega 6-olie), vit A en E word hoog aanbeveel.
Hoe eet ons gesonder?
-Verminder die energiedigtheid van die dieet.
-Verminder die vetinname en eet kleiner porsies.
In KZN word ‘n model nou al 10 jaar toegepas waar ‘n huis in ‘n gemeenskap gekies word waar die vroue bymekaar kom, voorligting kry i.v.m. tuinmaak en gesondheid. Dit is ‘n sosiale geleentheid waartydens daar kos gemaak word en inligting gedeel word. Die babas word ook geweeg. Daar word patat, botterskorsie, spinasie, asook wortels geplant. Dit help die gemeenskap om meer selfversorgend te wees.
‘n Muffin-projek word by Kylemore, Franschhoek bedryf asook Carotino en rooipalmvet koekie-projek in samewerking met Pioneer – dit word versprei onder skole waar die kinders nie genoegsame gebalanseerde kos kry nie.
Vetsug gee aanleiding tot siektes soos ook ondervoeding. Baie siektes het hul oorsprong in inflammasie.
Die troos hierna het gelê daarin dat ons wel ons vergadering mag afsluit met tee en verleidelike verversings, maar die oortreding moet nie so dikwels geskied nie! Thea Basson, die gasvrou, het aan elkeen ‘n Parcel-plantjie (kombinasie van pietersielie en seldery) gegee om te gaan plant by hul huise.
Na die vergadering is daar ook fluks gewerk aan die ‘slaapsak’-projek wat versprei gaan word deur Badisa onder die mense wat so buite in die wind en weer slaap.

Dames werk fluks aan die slaapsak van plastiek en koerantpapier met die voorsitter, Bokka Wagenaar, voor links.

Thea Basson, Jackie Genis en Bokka Wagenaar.

‘n Voltooide kombers met nog blokke wat verwerk moet word – Armoede-projek.