Posted on 07 December 2011

Beriggewer: Annemarie Skibbe

 

Met die afsluitingsvergadering van Strand tak het Clauda Colyn hierdie getuienis afgelê.  Sy is vroeër die jaar met kanker gediagnoseer, maar is tans in remisie.

 

Gedurende 2011 het die Here die mense naaste aan my gebruik om aan my bepaalde lewenslesse te leer:

 

1. Toe my man noodgedwonge die totale huishouding op sy skouers moes neem, was daar geen ruimte vir verskonings nie – alles móés gedoen word. Ek het met skaamte onthou hoe dikwels ek vir die Here verskonings aangebied het : ek het nie nou tyd nie;  ek is besig;  ek kan dit nie doen nie;  ek wil dit nie doen nie; ek wil dit nie nóú doen nie.

In 2012 gaan ek, met Sy hulp, poog om verskoningloos in Sy diens te staan.

 

2. Vanaf hul geboortedag het ek my twee dogters versorg en vertroetel. Eensklaps is die rolle omgekeer en moes hulle my versorg en vertroetel. Ek het geleer dat ek nie altyd in beheer van sake kan wees nie en dat daar groot genade daarin lê om beheer oor te gee.

In 2012 gaan ek die Here in beheer van my lewe stel.

 

3. Ons twee kleindogters moes vanweë werksveranderinge, gedurende die tyd by ons inwoon. Nog laste en verpligtinge op my man se skouers, maar die Here weet wat elkeen nodig het en voorsien daarin voordat ons daarom vra. Wanneer die kleindogters saans by die huis inbars is alles gevul met hul jeugdige energie, entoesiasme en avontuurlus. Vir ons twee oues was dit ‘n onontbeerlike geskenk van Bo.

In 2012 wil ek my Christenskap met vreugde, waagmoed en energie uitleef.

 

4. My hartsvriendin het my donker dae met alledaagse dinge en klein verrassings opgekikker en die ander maatjie het aanhoudend vrae gevra om meer besonderhede en kennis te bekom.

In 2012 wil ek met nuwe oë kyk na die geloof wat ek aan moedersknie geleer het en weer opgewonde daaroor raak. Ek weet ook nou dat ek vrae mag vra en bekommerd mag wees en dat Hy dit sal beantwoord as dit in Sy wil is.

 

5. Benewens hierdie intieme kringetjie, was daar talle familielede, vriende, kennisse en selfs vreemde mense wat my voortdurend in hulle gebede opgedra het en die krag en vertroosting wat hieruit voortgevloei het, het my soms met byna fisiese geweld getref. Ek het gewéét die Here en al hierdie mense is by my.

In 2012 wil ek almal wat my pad kruis, waardeer en met deernis behandel en hulle in mý gebede aan die Hoër Hand opdra.

 

In 2012 wil ek “my vreugde in die Here vind” (Ps 37: 3-5).



Posted on 07 December 2011

Beriggewer: Annemarie Skibbe

 

Tydens Strand tak se afsluitingsvergadering het Erna de Waal, wat 'n paar jaar in Switserland gewoon het, die lede meer vertel oor die gebruike en gewoontes van die Switsers tydens Kerstyd.

 

Kersfees is ‘n Christusfees en ook ‘n kinderfees. Die kinders begin reeds in November uitsien na Kersfees, wanneer die koeie van die berge af gebring word. Dit lui die  “Kersseisoen” in.

 

Kerstyd begin op die eerste Advent Sondag. Hierdie dag word deur die hele gesin gevier met die aansteek van die eerste Adventkrans, wat die gesin self gemaak het. Hierdie krans staan altyd op die eetkamertafel.

 

Op 1 Desember word die eerste deurtjie van die Advent kalender oopgemaak.   Hierdie kalender lyk meer soos ‘n klein kassie met 24 deurtjies – elke dag word een oopgemaak. Agter elke deurtjie is ‘n klein geskenkie gebêre. Elke kind het sy eie, wat self gemaak is met die ouers se hulp. Dis ‘n lang wagtyd vir die kinders, maar dit word gesien as ‘n leerskool vir hulle om geduldig te wag vir ‘n beloning of geskenk.

 

Die 6de Desember is die volgende mylpaal:  iemand aangetrek soos St Nicholas van ouds besoek die kinders. Elke kind by sy/haar eie huis!   Tradisioneel het hy ook ‘n  “metgesel” nl. Schwarze Peter wat ‘n swart sak saamdra waarin geskenkies is. Ouers moet eers bevestig dat die kinders soet was soos dit in sy boek opgeskryf is. Die kinders moet ‘n versie opsê of iets sing voordat hulle ‘n geskenkie kry. Teen hierdie tyd lê die wêreld al dik en wit van die sneeu. Tussen die huise word daar lanterns opgehang wat ‘n pragtige gesig in die aand is. In elke huis waar daar kinders is, word geskenkies self gemaak, ook die kouse wat opgehang word. Vroeër was die kind se eie sokkie opgehang. Kerstyd is nie ‘n tyd van groot geskenke nie. Dit moet immers in die kerskous pas!

 

Op 24 Desember word die Kersboom deur die ouers die huis ingesmokkel sodat die kinders dit nie kan sien nie en een van die ouers versier die boom agter geslote deure terwyl die kinders buite besig gehou word. Dit word met eenvoudige ornamentjies en kerse versier. Later die aand word die deur dan oopgemaak tot groot vermaak en verrassing vir die kinders. Die ete op die 24ste is nie ‘n spesiale ete nie – dikwels net die Duitse Bratwurst of Alplermakkronen of gestoomde haas of tradisionele Switserse raclette.   Daarna word om die boom vergader, Kersliedere gesing, die Kersverhaal uit die Bybel gelees en geskenke uitgedeel. Middernag gaan almal na die middernagdiens in die kerk, waarna hulle tuis warm sjokolade en groot “doughnuts” geniet.

 

Op Kersdag word die groot feestelike ete genuttig, gewoonlik in die middag.   Families en vriende word besoek om goeie wense oor te dra.



Posted on 23 November 2011

Foto's ingestuur deur Annemarie Skibbe.

 

 

Dawn Louw ontvang haar 60 jaar kenteken van 'n vorige voorsitter van Strand tak, Wena van Wyk. Dit was amper 'n leeftyd van toewyding aan VLV!!

 

 

Annaleze Sieberhagen algeheel 2de en Annette Stander algeheel 1ste, met die bekers wat hulle ontvang het vir hul toegewyde en harde werk gedurende die jaar.



Posted on 22 September 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Annemarie Skibbe

 

VLV Strand tak skenk jaarliks aan leerders van skole boeke vir die hoogste persentasie behaal in Verbruikerswetenskap. 

 

Vanjaar het die pryse Gordon High School en Hoërskool Strand te beurt geval.

 

Op die foto's oorhandig Leta Du Preez, sameroeper van Leefstyl, die boeke aan die betrokke onderwysers.

 

 

Me. M. Mason van Gordon High en Leta.

 

 

Leta saam met me. E. van Rensburg van Strand Hoër.



Posted on 29 August 2011

Leta Du Preez, Rina Marais en Annemarie Skibbe se inskrywings vir Kunste en Handvlyt het gesorg dat die Strand VLV die meeste punte in die afdeling kry. By hulle staan Maretha Badenhorst met die sertifikaat wat Strand VLV verower het vir Verdienstelikheid.

 

 

 

Dr. Emily Olivier het 'n derde prys verower.

 

 



Posted on 27 August 2011

VLV STRAND 1931 – 2011

Die grootste tak van VLVK het op Dinsdag 23 AUGUSTUS 2011 op feestelike wyse hierdie mylpaal gevier. Die tak is op 21 Augustus 1931 deur mev Jossie Ackermann gestig.


Die voorsitter het in haar oorsig oor die geskiedenis van die tak genoem, dat ‘n tuin daardie dag uitgelê is deur 19 dames – die tuin se naam was VLV STRAND. Die tuin is bemes en plante is geplant. Sommige bome en plante het doodgegaan of moes uitgehaal word, maar die meeste het gegroei en sterk plante geword en gee plesier en vervulling aan baie lede.. Die tak se ledetal het vinnig gegroei en ‘n jaar na die stigting was daar 60 lede. Die 100ste lid sluit in 1943 aan. Tans het die tak 135 lede.

Die lede kon hul verlustig aan pragtige uitstallings van enigiets uit die verlede oa ‘n grammofoon wat nog opgewen word en plate speel. Die musiek het menige traan laat vloei.. Elke notuleboek vanaf 21 Augustus 1931 het behoue gebly en is uitgestal. Plakboeke met fotos en knipsels van elke vergadering sedert die vyftigerjare is uitgestal en die lede kon met nostalgie deur alles blaai.


‘n Maaltyd met o.a. bobotie, pampoenkoekies en souskluitjies as nagereg, het almal laat terug verlang na “ma” se kombuis!!! Die tafelrangskikkings en ander versierings asook die blomme in die saal, het ‘n atmosfeer van deftig wees, geskep. Die verjaarsdagkoek in die vorm van ‘n boek met die VLV embleem, was ‘n meesterstuk deur Annette Stander. Die violis Francois Voges het gesorg vir ‘n musiekuitvoering van hoogstaande gehalte.


‘n Bundel, 80 Goue Jare, is saamgestel deur Annemarie Skibbe en beskikbaar gestel aan die lede. Al die lede het die afgelope jaar die geleentheid gehad om ‘n bydrae tot die boek te maak. Voorwaar iets baie besonders.


Dit was ‘n dag wat nog lank deur die lede onthou sal word. 105 lede van die tak het die feestelike oggend bygewoon en 35 gaste en lede van ander takke in Sirkel Kaapstad was teenwoordig om saam met VLV STRAND fees te vier.
 

Beriggewer: Annemarie Skibbe

 

 

Mevv Annette Stander & Maretha Badenhorst by die spesiale koek wat Annette vir ons 80ste verjaardag gebak en versier het! 

 

 

 

Mev. Wena van Wyk, oud-voorsitter, stel die heildronk in.

 

 

Ons feesuitgawe om ons 80ste bestaansjaar te herdenk.

 

 

 

Mev. Ena van Blommenstein, voorsitter van Plumstead, wens Strand tak geluk.



Posted on 13 July 2011

VERENA LOOCH (gebore Raubenheimer)

Sy was vir baie jare 'n gewaardeerde lid van VLV Strand. Na haar aftrede het sy haar in Serenitas, 'n aftreeoord, gevestig. Sy was vir die laaste 20 jaar woonagtig in Serenitas.


'n Uitstaande kenmerk van Verena Looch was haar kennis van musiek, maar ook die wyse waarop sy kore afgerig het en begeleiding gedoen het. In haar woonplek het ALTYD klassieke musiek gespeel en sy het haar kennis en liefde vir musiek met ander gedeel.

 

 

Sy het baie gou, na haar intrek in Serenitas, 'n koor byeen gekry. Hul was bekend vir hul optredes in die Tehuis, maar ook by VLV vergaderings. Die entoesiasme van Verena was aansteeklik by die koorlede. Sy was al 93 jaar oud toe  sy gevra het of haar koor by die VLV kan optree. Sy het met groot selfvertroue die koor begelei en gelei.


'n Kenmerk was haar liefde vir die VLV. Sy het ELKE vergadering bygewoon, selfs toe sy al baie swaar beweeg het. 2010 het sy 'n toekenning gekry omdat sy nooit 'n vergadering deur die jaar gemis het nie. Haar stoel sal voorwaar baie leeg wees, want sy was 'n staatmaker VLV lid.


Verena se gesondheid het geleidelik verswak en die begin van 2011 het sy gebel om verskoning te maak dat sy nie die vergaderings kan bywoon, maar met die volgende opmerking: "As ek beter voel, kom ek weer!!"

25 Januarie het sy 97 jaar oud geword en het die VLV 'n bederfpakkie by haar gaan aflewer. 'n Lang en vol lewe het tot 'n einde gekom toe sy 22 Junie 2011 oorlede is. Ons sal haar mis
 

 


MAGDA VAN DER MERWE (gebore Basson)

'n Flukse lid van VLV Strand is op 81 jaar oorlede nadat sy baie ernstig siek geword het. Magda was vir baie jare lid en bestuurslid in die Paarl.

 

Nadat sy en haar man afgetree het, het hulle in die Strand kom woon waar sy dadelik weer betrokke geraak het by VLV STRAND. Sy was bekend vir pragtige borduurwerk, maar ook vir die smaaklike disse wat sy kon voorberei. Haar naam was altyd op die werklys waar die VLV betrokke was. Twee maande voordat sy oorlede is, het sy tussen die VLV lede gestaan en haar deel gedoen. Haar oorlye laat 'n groot leemte in die tak.

 

Ons eer haar nagedagtenis



Posted on 22 June 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Annemarie Skibbe

 

Met Strand tak se Leefstyl vergadering het die saamroeper, Leta du Preez, weereens ons eie bekwame lede gebruik vir 'n demonstrasie wat ons almal se monde laat water het. Hulle het ons darem in ag geneem en ons het teetyd die kans gekry om van die heerlike gebak te proe.

 

Op die foto met hul VLV voorskote aan: Leta, Hannatjie du Plessis, Annette Stander en Maretha Human.




Posted on 19 May 2011

Portefeulje: Gesondheid

 

Ons Gesondheid vergadering was baie interessant. Op die foto speel die "Naughty Ladies", LNR Helena Bresler, Lina Malan & Erna de Waal, 'n trio wat ons baie geniet het.

 

 

Dr. Leana Olivier het oor "Fetale Alkohol Sindroom" gesels en haar baie insiggewende toespraak met 'n skyfie- en videovertoning toegelig.

 

Kobie van Eeden die saamroeper van Gesondheid het besluit om bietjie te rus en sal volgende jaar nie beskikbaar wees vir die bestuur nie. Sy het baie goeie vergaderings gereël. Baie dankie Kobie!

 

Op die foto staan Dr Leana Olivier, Helena Bresler, Lina Malan, Erna de Waal, Maretha Badenhorst (Voorsitter) & Kobie van Eeden (saamroeper vir Gesondheid).


 



Posted on 19 April 2011

VLV Strand het 16 bekers uit die 31 by die onlangse konferensie verower en met ons April vergadering het die dames wat die bekers verower het die voorreg gehad om dit in persoon te ontvang.


Op die foto: Maretha Badenhorst (voorsitter) Ontvang die trofeë wat die tak verower het. nl. Tak met meeste punte algeheel, tak organisasie (grootste ledetal groei) & hoogste totaal kookkuns. Dr. Emily Olivier vir Ringkussing, Rina Marais vir Blommering, Patricia Loxton vir Naaldwerk (Skouersak), Annalize Sieberhagen vir Preservering, Annemarie Skibbe vir Skryfkuns, Handwerk (teesakkievouwerk) & vir beste artikel op konferensie, Annette Stander vir Lekkergoed & Gebak

 

Nie op foto: Leta du Preez vir Hekelwerk en fotografie. Bets Basson vir Landbou. 

 

Categories