Posted on 21 June 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Melaine Brand

 

Die VLV dames het tydens hulle vergadering, gehou by Sutherland Hoërskool, ‘n heerlike uitstappie gehad. By die vergadering het die voorsitter van die GPF, Erasmus Brand, ‘n kort bydrae gelewer oor die doel (kommunikasiekanaal tussen gemeenskap en polisie) en werking van die GPF op Sutherland.

 

Inspekteur Marius Malan van die plaaslike SAPD-stasie was ook teenwoordig en het die Casspir wat aan die stasie toegewys is, aan die dames kom wys. Nadat hy in kort verduidelik het waarvoor die voertuig gebruik was (onluste beheer) en waarvoor dit nou gebruik gaan word (noodhulpvoertuig tydens sneeu, vloede, misdaadvoorkoming en patrollies) is al die dames ingelaai. Binne is gevra en gesels. Daar is deur die dorp gery, ‘n padkossie (droëwors) by die slaghuis opgetel en terug na die skool. Die oudste lid in die Casspir, tannie Ria (87), het gesê dit was ‘n onvergeetlike ervaring.

 

Baie dankie aan die GPF en Inspekteur Malan wat die “uitstappie” gereël het.

 

 

 

Melaine Brand (voorsitter Sutherland VLV) en Lorraine Symington (Sirkelpresident Sirkel Suid-Karoo) besig om in die Casspir te klim.         

  

 

Agter: Ria Esterhuyse, Christa Naude, Marie Muller, Elsabe Olivier, Dina Heyns, Erasmus Brand (GPF voorsitter).
Voor: Melaine Brand (voorsitter) Paulette Rossouw, Petro met haar dogtertjie, Helanne Malan, Phonie van der Ross en Lorraine Symington (Sirkelpresident).



Posted on 24 February 2010

Donderdag 18 Februarie, almal het geweet iets gaan gebeur by hierdie VLV vergadering. Ons is gesê om gemaklik aan te trek... en dis al.


Met groot verwagtinge en effense senuwees, het die dames vir die middag-vergadering opgedaag. Op die tafels was daar vir elk ‘n lang tou met ‘n klokkie aan die punt, en vir ekstra versiering, ‘n blaartjie of kraletjie, blommetjie en so aan - nie dat dit regtig iets weggegee het nie.


Die vergadering is formeel geopen en belangrike onderwerpe is bespreek, maar  ‘n effense spanning het in die lug gehang, met die vraag van die tou-klokkies op die tafel wat onopgelos gebly het. Uiteindelik is ons Kuns en Handvlyt sameroeper, Helaan Malan, aan die word, en die groot raaisel is uiteindelik ontbloot – Belly Dancing!
Helaan het verduidelik wat die oorsprong van Belly Dancing is, en dat die invloede nie werklik so negatief en suggestief is soos wat ons vandag aanneem nie. Die voordele van Belly Dancing is ook vanselfsprekend – ‘n gesonde oefening vir vrouens van enige ouderdom en gewig, en natuurlik selfvertroue.


Die dag was egter nie om na die praatjie nie, nee, dit was tyd vir elke vrou om haar klokkie-tou om haar lyf te bind en te wys wat in haar steek! En dit was seker ‘n hoogtepunt vir Sutherland VLV. . . ‘n paar vrouens (met die hulp van ‘n DVD) wat hulle heupe en arms swaai, met diepe konsentrasie op hulle gesigte.

 

Dit was definitief ‘n eerste vir Sutherland se kerksaal! So sê Jolene du Plessis, skakelbeampte van Sutherland Tak.

 

 'n Klokkie vir elkeen

 

Helaan demonstreer 

 

 

 So maak mens

 

Skaterlag



Posted on 28 September 2009

Jolene du Plessis berig oor hulle samekoms op Donderdag 17 September 2009:

Sutherland se VLV het by hierdie maand se vergadering geleer hoe jong idees landbou ‘n ‘groen’  hupstoot kan gee (landbou en opvoeding). Leerlinge Ockert Augustyn (Graad 11) en Deswin Klein (Graad 11) het saam met Mnr Erasmus Brand ons kom wys hoe gryswater uit ‘n mens se huis gebruik kan word in landbou en tuinbou. Hulle aanbieding sluit aan by ‘n waterwese en bosbou projek van 2009.

Die projek bou uit op 2008 se projek, waar ‘n groep leerlinge ‘n basiese sisteem gepatenteer het wat gryswater (badwater, opwaswater en wasgoedwater) uit ‘n mens se huis na ‘n tenk buite pomp. Hierdie water is dan gebruik om tuin nat te lui. Die probleem is egter dat die water uit die tenk slegs op een plek uitloop en dan ook te gekonsentreerd is op een area. Ockert en Deswin het ‘n sisteem ontwikkel wat dan die water pomp na ‘n mikrospuitstelsel om mens se tuin nat te maak.  Hulle het gebruik gemaak van ‘n sonpaneel, ‘n battery en ‘n pompie. Die aanbieding het ook moontlike probleme aangespreek rondom die sisteem en oplossings daarvoor gebied.

Ockert, Deswin en Mnr Brand het ‘n pragtige demonstrasie aanmekaar geslaan om die wat dalk nog getwyfel het of dit werk, te oortuig. Almal was behoorlik beïndruk!

En van die ‘tuin’ na die ‘huis’ - Sutherland se VLV teepartytjie vir ons tagtigjaar viering sal plaasvind op 17 Oktober 2009. Ons sal terugvoering gee van hoe dit verloop het, met foto’s van die dag!

Terwyl die Sasko Meel kompetisie op die agtergrond voortgegaan het, het die tak ook nuwe bestuurslede verkies. Die meeste portefeuljes het onveranderd gebly. Twee nuwe lede is aangewys as sameroepers van Kuns &Handvlyt en die nuwe portefeulje, Reklame, onderskeidelik.  Sutherland tak is baie dankbaar om ‘n paar van die “jonger garde” te verwelkom as nuwe lede!

Groen aanbieding.

 

Kyk hoe werk ons projek.

 

  

 Verkiesing van bestuurskomitee - verg harde konsentrasie! 

 Dankie aan ons “groen” gaste - ons het baie geleer.  

 

Categories