Posted on 17 May 2011

Portefeulje: Leefstyl


Op 12 Mei het Ugie tak ‘n baie leersame vergadering o.l. Nan Fourie gehad. Linie het die reëls vir die maak van lekkers verduidelik, veral met die klem op die maak van Butterscotch. Nan Fourie het gedemonstreer hoe om verskillende soorte breiwerk te doen. Met penne in die hand het ons ingewikkelde blommetjies gebrei en ook van Afgaanse breiwerk geleer. Lida Grove het gewys en patrone uitgedeel om vrolike poppies te brei. As u VLV-lede met breipenne en sakke wol sien loop, ons is met 2 projekte breiwerk besig. Ons brei blokke vir komberse vir KANSA en poppies wat vir gemolesteerde kinders gegee gaan word. Die vrolike poppies kan deur die kindertjies vertroetel word. Indien u wil meedoen aan die projekte, kan u vir Lida Grove of Nan Fourie skakel.

 

Sirkeldag


Op Saterdag, 14 Mei, was dit nog donker toe 7 vrolike VLV-lede na Jamestown vertrek. Ons is gasvry met heerlike warm koffie en broodjies ontvang en het die dag veral inligting en wenke oor volgende jaar se kompetisies ontvang.

 

Linie Gouws het gewys hoe ‘n gevoerde baadjie afgewerk en gemaak word. Sy het ook gewys en patrone uitgedeel vir die maak van ‘n teenet met deurstopwerk,‘n tafelmat met wolborduurwerk en ‘n gehekelde onderbaadjie. Hilda van der Walt van Jamestown het gewys hoe ‘n tradisionele langmou trui gebrei word. Wat veral byval gevind het, is toe sy gewys het hoe die skouernate afgebrei word met 3 penne om ‘n stewige skouernaat te gee, asook om die V-hals mooi te kry en vas te brei, i.p.v. vas te werk. Daarna het sy wenke en reëls vir die kook van Butterscotch lekkers, tamatieblatjang en maizena koekies gegee. Francie van Zyl Van Barkly-Oos het die kunsafdeling behandel. Sy het begin met die skryf van prosa. Daarna het sy die scrapbooking  behandel en toe die beeldhouwerk met paper mache, ‘n spieëlraam met mosaïek en ‘n bakkie geplak met afvalpapier. Celia Steenekamp van Barkly-Oos het oor die fotografie van landskappe wenke gegee in die afdeling oor foto’s. Petro van der Merwe van Sterkstroom, saamroeper van Landbou, het ‘n afdeling waar ons ‘n foto van ons troeteldier moet neem en ‘n paar sinne oor die troeteldier moet skryf.

 

Vanjaar se kompetisies maak ‘n mens lus om deel te neem.

 

Ons is ook na die innerlike, geestelik, sowel as met eet en drink, versterk. Die vroeg opstaan en ver ry, was voorwaar die moeite werd.



Posted on 17 April 2011

Portefeulje: Openbare Sake

 
Ugie tak het ‘n bedrywige kwartaal agter die rug. Op 14 April het ons die Openbare Sake vergadering o.l.v. Doreen Jafta gehad. Ons bestudeer vanjaar Frankryk en Doreen het ons voorgestel aan die Franse Hugenote.

 

Die Franse Hugenote het uit Frankryk gevlug a.g.v. die Hervorming en vervolging van Protestante. Hulle het in 1671 die eerste keer na Suid-Afrika gekom, nog ‘n groep in 1685 en die laaste groep  tussen 1688 – 1689. Hulle het hul hoofsaaklik in Franschhoek gevestig en die Franse Hugenote monument is daar opgerig ter nagedagtenis aan hulle. Linie het vertel van ons verwantskap met hulle.

 

Baie van die Afrikaners is afstammelinge van die Hugenote en bekende vanne is: Le Roux, Delport, Gouws, Viljoen. In boeke kan ‘n mens jou voorvaders navors en presies weet wanneer, met watter skip hulle gekom het en waar hulle hul gevestig het. ‘n Mens kan ook jou hele stamboom navors as jy genoeg inligting van jou voorouers het. Dit was ‘n baie leersame vergadering.

 

Ons is baie bly dat ons vanjaar 4 nuwe  lede gekry het, nl. Marie Manser, Annie le Roux, Denise Noot en Marietjie van der Linde. Hulle het met entoesiasme aangesluit en ons hoop die VLV beteken ook vir hulle baie.



Posted on 22 March 2011

Vroeg in 1929 is ‘n Nywerheidskou op Maclear gehou. Die beoordeling is deur Mej. Honey gedoen en sy het die dames van die VLV Huisvlyt takke vertel. Mev. Bettie Hart het Mej. Honey gevra om na Umnga te kom om so ‘n tak te stig. Die tak is Umnga VLV genoem. 
 

Die mans het eenmaal per maand op ‘n Saterdag teiken geskiet in Umnga.  ‘n Blikhuisie is opgerig vir die dames en hulle het dan hul VLV vergaderings gehou terwyl die mans skiet.

 

Net voor die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het sommige lede van die Umnga tak besluit om ‘n tak op Ugie te stig. Teen daardie tyd was die Skietklub tot niet. Die Ugie lede het egter moeilikheid gekry, maar die Umnga tak het met hul bedrywighede voortgegaan.

 

Op 17 Desember 1949 is ‘n VLV tak op die plaas Wilgers in die Ugie distrik gestig.  Hul eerste voorsitter was Mev. Nelie Vorster en die eerste sekretaresse was Mev. Kay Hart. Hierdie tak is Eendrag tak genoem. Twee jaar later, op 23 Maart 1951, het die lede hul eerste vergadering op Ugie gehou. Die naam is verander na die Ugie VLV tak.

 

Deur die jare was die tak besonder vooruitstrewend en het tans 14 aktiewe lede wat maandeliks in Clarendon Gastehuis vergader en baie interessante en leersame vergaderings aanbied. Die Tak is ook goed bekend in die gemeenskappe van Ugie en Maclear vir die spyseniering wat hulle doen.

 

Die jaarlikse NOK Sirkelkonferensie is vanjaar op 16 Maart op Ugie gehou en die Tak het tydens hierdie geleentheid ook hul sestigste verjaardag gevier. Die volgende takke was verteenwoordig:  Barkly-Oos, Dordrecht, Jamestown, Lady Grey, Molteno, Queenstown, Sterkstroom en Ugie. Ugie het gasvrou gespeel vir 50 dames – afgevaardigdes, besoekers en beoordelaars. 

Dit was ‘n voorreg om hierdie dames in ons dorpie te ontvang en te trakteer.

 

Baie dankie aan die volgende borge wat gehelp het om die kostes te dek: Ugie Spar vir al die kruideniersware, Fanie Vorster vir aartappels wat aan die gaste as geskenk gegee is, Anina de Klerk vir drukwerk, Piet Britz vir vleis, Shorten Motors vir Sthil penne en notaboekies, Ben Britz vir sjerrie en wyn, Marilyn Bezuidenhout vir melk,  Elandre van Zyl  van  FNB Maclear, vir lêers, Lenhardt Bezuidenhout vir skryfpapier,  Hoërskool Ugie vir die gebruik van die Skoolsaal.


 

Die Sirkelbestuuur met Ugie se 60 verjaarsdagkerse in die agtergrond.


 

Nan Botha van Ugie, wat in die middel staan, is Sirkel NOK se Dankie-Persoon. Links van haar is Sirkelpres. Irma Davel en regs staan Linie Gouws, voorsitter van Ugie asook sirkelbestuurslid.



Posted on 26 August 2009

Op 12 Augustus het die tak 'n baie suksesvolle en insiggewende vergadering gehou. Dit was 'n gesamentlike vergadering van Leefstyl en Kuns en Kultuur.

Linie Gouws het gedemonstreer hoe om dollaslapwerk te maak.  Dit is 'n interessante manier om lappies net vas te stik en soos wat jy vorder te knip soos die lappies jou lei.  Almal is geïnspireer om te begin dollaslapwerk maak.  Sy het ook verduidelik hoe om rolletjie lemoenkonfyt te maak.  Dit is een van die kompetisie artikels vir volgende jaar se konferensie.

Ina Bekker het verduidelik wat die nuwe soort griep is, wat die simptome is en wat 'n mens kan doen om dit te voorkom. Almal is baie bang om aangesteek te word.

Het u al u eie gesig geteken?  Onder Leandri Jordaan se leiding het ons almal probeer en toe gevind dat dit nogal moeilik is en dat jy nie lyk soos wat jy graag wil nie!!!  Na die teken het ons heerlik gekuier en tee gedrink.

 

Die nuwe bestuur vir VLV Ugie is soos volg:  

 Voorsitter:  Linie Gouws, vise:  Nan Botha, Sekretaresse/ Tesourier:  Leandri Bezuidenhout. Saamroepers:  Leefstyl: Linie Gouws;  Openbare Sake en Landbou en Tuinbou: Susan Jordaan;  Gesondheid:  Ina Bekker;  Kuns en Handvlyt: Leandri Jordaan;  Opvoeding en Kultuur:  Nan Botha.

  

Kongres:  Verlede week het die jaarlikse Kongres van VLVK in Malmesbury plaasgevind.  Nan Botha het ons daar verteenwoordig en is verryk en vol geesdrif terug.  Dit bly altyd 'n ervaring om tussen soveel talentvolle vrouens te verkeer waar alles, van die tee's en etes, items en praatjies op 'n hoë en geestelike vlak aangebied word.  In hierdie tye waar standaarde daal, is dit heerlik om te beweeg waar alles nog op 'n hoë vlak aangebied word.  

Ons tak het baie goed gedoen met die kompetisies:

Emmerentia van Zyl se hekelwerk het die 4e plek in Kaapland behaal en Linie Gouws se Kussing van koekarretjies het die 6e plek gekry.  Veels geluk aan hulle.

Op 5 September gaan 10 van ons lede 'n Oggendtee te Burgersdorp bywoon. Ons weet dat dit ook 'n heuglike geleentheid sal wees. Daniël de Kok bied die oggend se program aan.

 

Categories