Posted on 20 November 2011

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Marietjie van der Walt

Datum: 9 November 2011

 

Gedurende die Nasionale Mariene-week het Uitenhage tak ‘n graad 5-leerder van die Laerskool Handhaaf, Martelize Kruger, genooi om die vergadering toe te spreek oor die rehabilitasie van die Kaapse Pikkewyn.

 

Martelize het onlangs die S.A. Mariene-Rehabilitasiesentrum by Kaap Receife besoek om uit te vind hoe oliebesmeerde pikkewyne skoongemaak en gered word.  Sy het vertel van hierdie bedreigde spesie van St. Croix-eiland waarvan die getalle drasties afgeneem het as gevolg van olie en rioolafval afkomstig van skepe in die Port Elizabeth en Coega Hawens. 

 

Op die foto verduidelik sy met Pikkie in die hand hoe ‘n oliekolletjie so groot soos ‘n 5-sentstuk die dood van ‘n pikkewyn kan veroorsaak. Martelize het die publiek versoek om by te dra tot die redding van hierdie mooi wiegel-waggeldiertjies in hulle swart manelle!

 



Posted on 10 August 2011

Beriggewer: Annette Stroebel
 
VLV Uitenhage tak is passievol oor die aanplant van Spekbome. Honderde boompies is deur die dames van al die studierigtings geplant wat later by skole in Uitenhage en ook Despatch geplant gaan word.

 * Voortplanting is maklik met steggies, selfs in die winter.
* Wortelvorming vind binne 3-5 weke plaas.
* Dit maak pragtige heinings.
* Die Spekboom blom in die somer met pienk stervormige blommetjies.
 

 

 

Leefstyl se dames gereed om te gaan aflewer.

  

 

Kuns & Kultuur se dames met hul steggies.

 

 

 

Landbou & Tuinbou staan gereed vir aksie.

 

 

 

Openbare Sake se dames met hul steggies.

 

 

 

Opgevoed en vol Kultuur, staan die dames met hul Spekboompies.



Posted on 10 August 2011

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer:  Annette Stroebel       
 

Met Uitenhage se Augustus byeenkoms was dit Opvoeding en Kultuur se beurt om gasvrou te speel.

 

Die dames van die tak het in "Wenen" gaan kuier en is getrakteer op die walskoning André Rieu se pragtige Strauss musiek.

 

André Rieu, sekerlik die grootste klassieke kunstenaar ter wêreld, is in 1949 in die Hollandse provinsie, Maastricht, gebore en word groot met klassieke musiek. Hy begin reeds op die ouderdom van vyf met vioollesse. Hy verhuis in 1974 na Brussels waar hy deur Andre Gertier onderrig word. In 1981 begin hy sy Johann Strauss-orkes en gaan van krag tot krag.

 

 

Lekker word daar geluister.

  

 

Augustus se verjaarsdagdames.

  

 

Uitenhage tak se nuwe bestuur.



Posted on 23 July 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Annette Stroebel
 

 

Op 14 Julie besoek ons tak die sitruspakkamer van die Sondagsrivier Sitruskoöperasie op Hermitage. Hierdie pakhuis op Hermitage word in 1987 geopen. Die suurlemoene wat hier gepak word gaan eers deur 'n deeglike wasproses waarna dit volgens graad gesorteer en dan verpak word.

Ons is elkeen daar weg met 'n sak lemoene en heerlike suurlemoene. Na ons besoek aan die pakhuis het ons by 'n teekamer tee en muffins geniet.

  

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 22 July 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Annette Stroebel
 

Op 13 Julie het Werner Arndt van die SAP die dames van Uitenhage tak kom toespreek. Hy het waardevolle inligting aangaande veiligheid en sekuriteit aan die lede oorgedra. Veiligheid van motors, asook hoe om jouself in jou motor te beveilig en die belangrikheid daarvan om jou huis te beveilig, is maar ‘n paar van die punte wat hy aangeraak het.

 

Punte van belang is:

 
• Ken al jou noodnommers.
• Moet nooit jou huis se sleutels in deur of slot los nie. Moenie sleutels agter voor of agterdeur ophang nie.
• Gordyne moet na donker toegetrek word om te verhoed dat iemand van buite af na binne kan kyk.
• Moenie motorhuis, voor of agterdeure laat oopstaan nie,dit is 'n ope uitnodiging aan inbrekers.
• Hou waghond sigbaar, maar buite bereik van oortreders aan. Die onverklaarbare dood van 'n waghond kan teken van komende inbraak wees.
• Daar moet geen bome, struike of ander strukture by ingang van die huis wees waar oortreders kan skuil nie.
• Ken jou bure en bou vertrouensverhouding met hulle op.
 

Die tafels het gekreun onder al die kompetisie artikels wat ingeskryf is.

 

 

 

Werner Arndt en Susan Marais.

 

 

Maria Slack, Tertia Mostert en Lynette Martin.


 

Kompetisie artikels.



Posted on 03 July 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Annette Stroebel
 

Tydens Uitenhage se Junie byeenkoms was dit leefstyl se beurt om gasvrou te wees. Marius van Crown National het die dames gewys hoe om 'n springbokboud voor te berei.
 

Johanna Meyer, lid van Uitenhage tak, het die maak van die allerheerlikste lemoenringe gedemonstreer. Ons deel dan ook graag die resep daarvan met almal.
 

Navel Lemoenringe
1.    Rasper buitenste geel skil dun af.
2.    Vryf lemoene met sout en laat ongeveer 'n uur staan. Spoel goed af. Week oornag in skoon water.
3.    Sny lemoene , net deur die skil vanaf stingel tot blomkant , in agt dele. Trek skille af en skraap los aartjies uit.
4.    Rol van blomkant na stingelkant in rolletjie en steek met tandestokkie vas.
5.    Sit in kokende water en kook tot sag.
6.    Verwyder tandestokkie en sit in kokende stroop. Kook vinnig tot stroop dik genoeg is.

Stroop (1 kg lemoenrolletjies )
Kook saam: 1,25 kg suiker  
                 4 koppies water
                 50ml suurlemoensap

 

  

 

Liesl, Elize en Jacoba bewonder juwele wat deur Beadbasket uitgestal is.

 

 

 

Marius berei wildsboud voor.

 

 

 

Lede geniet dit om saam te kuier tydens maandvergadering.

 

 

 

Lemoenringe soos deur Johanna Meyer gedemonstreer.



Posted on 01 July 2011

Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Annette Stroebel.
 
 
Die VLV Uitenhage het op 4 Junie 2011 'n baie leersame Blommekuns werkswinkel aangebied.

 

Belinda Greeff het die tradisionele blommekuns beginsels aan die kursusgangers gedemonstreer. Onder haar bekwame hande het die lynrangskikkings nuwe lewe gekry. Sy het beklemtoon dat die basiese beginsels van eenheid, skaal en instellingspunt baie belangrik is by die vertikale, horisontale en ronde rangskikkings (posy).
 

Almal het verstom aanskou hoe toor Thilda Struwig terwyl sy " Gaan Groen " en die L-lyn rangskikking demonstreer. Sy het gewys hoe treffend die bou van een kleurskema soos groen kan wees.
 

Kwikkie Pretorius het almal met haar kennis, kreatiwiteit en entoesiasme oorrompel. Sy het kursusgangers laat insien hoe mooi 'n eenvoudige minimalistiese rangskikking kan wees. Sy beklemtoon herwinning wat duidelik in haar rangskikkings in draad en houtrame gesien kan word.
 

Tydens teetyd is daar heerlike verversings bedien en 'n ligte maaltyd van gevulde pannekoek was watertand lekker. Dit was 'n heerlike en leersame dag.


 

Santie en Lynette geniet die aanbieding.

 

 

 

Kwikkie, Belinda, Maria en Thilda.

 

 

 

Kursusgangers kry geleentheid om self te rangskik.

 

 

 

En toe is daar lekker gesmul!



Posted on 01 March 2011

Catharina Arnoldina Louw Opperman,  Ina, soos ons haar ken, is gebore op 7 Maart 1927.  Sy kwalifiseer haar as Junior Primêre onderwyseres aan die Onderwyserskollege te Denneoord, Stellenbosch.   

 

As 23-jarige jong vroutjie sluit sy by die VLV aan en op 28 jaar word sy gekies as sekretaresse, ‘n amp wat sy met onderskeiding 54 jaar lank beklee!  Op 84-jarige ouderdom is sy nog steeds ‘n aktiewe lid van die tak, is lojaal en het sy so’n positiewe lewensuitkyk!.  Sy woon gereeld die vergaderings by, al loop sy moeilik en sy mis nie sommer ‘n aktiwiteit nie. Sy het onlangs saam met die taklede ‘n kursus in Australiese Borduurwerk geneem en maak met rolstoel en al aan uitstappies mee. 

 

Sy was al by alle portefeuljes betrokke, maar het haarself die meeste op die gebied van die kuns uitgeleef.  Menige kere het sy die beker vir die meeste punte in die tak gekry en baie van haar handewerk het na konferensies en ook na  kongresse deurgedring, waar sy met pryse weggestap het!  Sy was die afgevaardigde na menige kongres en konferensie!

 

Gedurende die 54 jaar as sekretaresse het sy gesorg vir die tak se plakboeke en dié kosbare geskiedenis is haar erflating aan ons tak en ons nageslag! Sy het op‘n keer ‘n pakket met Suid-Afrikaanse liedjies en bedrywighede van die VLV in Suid-Afrika aan takke in Kanada en Ierland gestuur en ‘n soortgelyke pakket van hulle kulture terugontvang! 

 

Gedurende 2000 ontvang sy ‘n oorkonde vir 50-jaar diens aan Uitenhage tak.

 

Ina, ons erelid, ONS Sê DANKIE dat jy ons tak nou al  61 jaar lank so getrou dien en vir jou pragtige voorbeeld en toewyding!  Ons bewonder jou omdat jy onder jou omstandighede altyd so netjies versorg is; jy is ‘n ware dame!  Mag jy die krag, sterkte en gesondheid ontvang om ons nog ‘n paar jaar lank te vereer met jou teenwoordigheid.  Van ons ouer lede kon met oortuiging verklaar: “Ina is VLV!”  en “Ina is ‘n ster!” ONS IS ALMAL BAIE LIEF VIR JOU!

 

Ina het onlangs 'n uitstappie na Sherwood Gardens Centre te PortElizabeth, rolstoel en al, meegemaak. By haar is die komitee van Landbou en Tuinbou wat die uitstappie gereël het.      

  



Posted on 14 November 2010

Uitenhage tak het onlangs hul 80ste verjaarsdag in styl gevier. 

 

Die tema vir die geselligheid was om die "nostalgie van die 1930's" te geniet.  Gaste het met volstruisvere, pelse en wat nog alles opgedaag. Dié wat nie 'n hoed op gehad het nie, het elk 'n hooftooisel met 'n volstruisveer van rooi, wit of swart by die deur gekry.

 

Een van ons eie lede se dogter, Mara Venter, was die gaskunstenaar wat die gaste op 'n prettige manier vermaak het terwyl haar seun met sy pragtige sangstem, luister aan die fees verleen  het!   Ina Opperman, 60 jaar lid van die tak, en Renee Hobbs, gewese lid van die tak, albei in hul tagtigs, asook sirkelpresident, Lynette Martin, en Helen Crouse, voormalige sirkelpresident, was van die eregaste wat kleur aan die oggend gegee het. 

 

Pryse vir die bes geklede drie "Gatsby"-vroue en nog talle ander pryse is uitgeloof nadat die gaste by die keurig gedekte tafels met tee en watertandlekker eetgoed bedien is. Na 'n paar uur is die VLV vroue van Uitenhage en die gaste as verrykte dames vol moed vir die toekoms, "die sterre waarheen ons reik", gelukkig en tevrede na 'n heerlike, gesellige oggend uiteen.

 

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 28 March 2010

Mev. Ina Opperman, gewaardeerde lid van VLV Uitenhage tak het by die afgelope vergadering haar knopie vir 60 jaar diens ontvang.  Sy het in 1948 aangesluit en is nog steeds 'n aktiewe lid na 62 jaar!

 

Ina sê: "It has been a wonderful experience and one worth living for to belong to the WAA and to take part in its development throughout its many phases.  

VLV is 'n groot krag in die opvoeding van volwassenes in ons land.  Lede deel hul talente en kennis met mekaar en daardeur verryk hulle hulself en hul gemeenskap.  Ek het geleer om kreatief te dink en dit stel my in staat om in moeilike omstandighede positief te dink en op te tree. Ek het telkens iets nuuts geleer en het oneindig baie praaktiese en bruikbare kennis opgedoen.  So is my blik op sake van algemene belang verruim  en my mensekennis verbreed en ek is gestimuleer tot selfverbetering en stagnasie is teengewerk.  Ek het altyd ryker tuisgekom na 'n vergadering.

I learned to co-operate with all kinds of people as our members come from a large cross-section of our community.  This leads to more tolerance of the other's point of view and in doing so helps to keep SA united, strong and great".   (Uittreksel uit haar waarderende oorsig as lid van die Uitenhage-tak}

 

Voorsitter, Maria Slack, oorhandig aan Ina Opperman haar knopie vir 60 jaar diens.

 

  

Categories