Posted on 25 January 2014

Ek het ‘n hele paar navrae gekry oor vanjaar se Kunste en Handvlyt Kompetisies en in die proses agtergekom dat daar onduidelikheid is oor:

 

1. Die grootte van die foto van mnr/mej. Roosknoppie.  Hierdie foto moet “Jumbo” grootte wees, soos wat jou plaaslike fotokiosk of fotowinkel se masjiene vir “Jumbo”  grootte  ingestel is. Dit word nog steeds op ‘n A-4 swart karton vasgeplak met al die nodige voorskrifte en byskrifte, soos in Huis en Haard en op die webwerf gepubliseer.

 

2. Daar word nie gespesifiseer of dit ‘n kleurfoto moet wees nie.  Daar word wel gesê dit moet ‘n glansfoto wees. Let asseblief daarop dat dit ‘n KLEURFOTO moet wees.

 

3. Die beeldhou kompetisie se engelfiguur mag nie geverf word nie, maar in die geval van beide die tuisgemaakte lugdroogklei en die gekoopte lugdroogklei mag daar wel pigment in die klei ingewerk word om die hele engelfiguur die kleur van u keuse te maak.  Dit moet in goeie smaak gedoen  word, sodat dit darem nog steeds soos ‘n engel lyk. U sou selfs pigment wat ‘n effense glans, lustre, Sheen, aan die figuur verleen, daar kon inwerk.  Nie blink insetsels of stukkies glitter nie, slegs pigment wat die figuur egalig glans verleen.

 

4. MOENIE DIE ENGEL AAN MY POS VIR BEOORDELING VOOR KONGRES NIE!  Dit gaan flenters hier aankom! STUUR DIT SAAM MET U AFGEVAARDIGDE NA KONGRES VIR BEOORDELING OP UPINGTON,  soos u met die Fleur et Skoen moet doen. Verpak dit baie goed en stewig, sodat dit nie sal breek nie.

 

Ek is baie jammer dat ons nou nog hieraan moet torring en ek vertrou dat u die inligting kan gebruik.

 

Caro Ekermans
VLVK Sameroeper, Kunste en Handvlyt.
E-pos c.ekermans@telkomsa.net



Posted on 23 August 2013

Is Suid Afrika ‘n mislukte staat of nie?
“Nee, glad nie!” volgens die befaamde Tim du Plessis.
Daar is 8 faktore wat imploffing definieer
En daarvolgens is ons regering darem nog in beheer:
•         Nog nie fisieke houvas, alleenaanspraak oor mag of vermoë om besluite te neem verloor
•         Kan nog redelike maatskaplike dienste verskaf oral-oor
 (“all pay”,vigs medikasie en behuising)
•         Die regering is nog internasionaal interaktief
•         en die land nie (heeltemal) in beheer van “warlords” en dief
•         alhoewel ons nie altyd meer veilig voel
•          en almal nie so geredelik  vertrou,
•         laat korrupsie ons samelewing in opstand kom gou-gou
•         en inwoners staan saam met ‘n gesamentlike doel.
Al is ons nie aldag so positief soos ons slimme Tim
Is daar stutwalle wat troos-- nie so ver op die horisonkim.
•         apartheid is besleg
•         demokrasie gee ons vrye reg
•         ‘n groeiende burgerlike samelewing
•         met nog sterkstaande instellings in beweging,
•         gemoedelikheid  seëvier op die platteland
•         en swart gemeenskappe moderniseer-- kom stad toe van die land!
•         burgerlike verset teen korrupsie groei
•         en politieke gevoel en onvoorspelbaarheid bloei.
•         
Amore, ek dra die saamrybrief op aan jou
Jy het vir ons soveel stene gelaat om op te bou.
Toe jy saam met my vir ‘n foto  poseer
(met die linkerkant na die kamera gekeer!)
Kon ek nie raai dat jy 400 vroue
Se harte so sou verwarm vir hul reis se lewenshoue.
My reis met myself
Toegevou in ‘n pelsie van 39 jaar gelede
Bring ek hulde aan dié Spaanse skapie met goeie rede.
‘n Kouefront aan die Kaap word voorspel
En my pa raak opgewonde en o so bly!
Want “ons jassie” gaan ‘n Kaapse besoekie kry!
 
Amore Bekker ontbloot haar siel deur haar lewensgang
Voor byna 400 vroue wat aan haar lippe hang.
Clichés word op hul kop gedraai
En die mense lag dat hul so kraai
Vir hoe sy vertel hoe “romance and moonlight”
Na 2 jaar plek moet maak vir “dishes and daylight”.
 
Laat in my reis op my liefdespad
Ontmoet ek my held, ene Robbie Nutt.
Uiteindelik blom ek na ‘n lange, uitputtende lewensles
En word ek iemand se liefste prinses!
Maar---
Te kort was die hemelse ekstase
Te gou moes ek oorgaan in ‘n nuwe fase.
 
“Dink aan die slegte tye, die mooies maak te seer”
“Moenie ‘n slagoffer word nie”—herinnner ek my  keer op keer.
“In tye van rou is die dood groter as woorde”
“Tyd genees nie, maar liefde wel” is soos goue akkoorde.
Ten spyte van pyn, verwoesting en trauma
Was die orde altyd perfek!
Van Robbie se stem op die GPS tot sy en sy ex se gesprek.
Selfs my woonstel en kar se afbetaling was geen toevalligheid—net gena.
( Toevallig is mos “toe val die lig”-- God se lig!—sonder weerga)
 
‘Genees jou Trauma’ van Tessa van Wyk
En SPIN ( Spontane Heling Intrasistemiese Proses)
Het gehelp dat sy weer heelheid bereik
en in ons harte gekroon is as ewig-prinses.
 
Ons eer ook vir Maggie met haar wyse raad
Wat jou weer laat gryp het na jou lewenspassie.
Dit is mos as ek reg gehoor het: EET en PRAAT!
Daarom die gemeenskap se liefling op die radiokassie.
 
Dankie dat ons met jou kom saamry.
Raak lief vir jouself, leef jou passie daagliks uit,
Al is jy hartseer, jy hét nog vreugde, God wil ons geniet—sê jy luid!
En dis maar ‘n paar wyshede wat ons altyd sal bybly—mooi ry!
 
Voor ons staan ‘n totale agtergeblewene --Margot Luyt
Nooit getroud-- geen trougeskenk of kombuistee
een kind aangeneem—geen kraamverlof of ooievaarstee
Maar toemaar--- ek was nog nie een dag spyt.
Wel was ek tog die 1ste vrou wat het gesprak
Van onder die Nico Malan se dak!!
 
Met menige staaltjies van die verhoog en radio
Het sy ons vermaak dat die gehoor soms skreeu.
Van Jakob die donkie wat haar hap aan haar “kuit”
Tot die legendariese Kaap na 10 rand wedstryd.
 
Haar passie is die gestemdes
Dis mos maklik om geld te gee en jou gewete is sus.
Gee van jouself—reik uit en doen,
Vat aan hulle, druk en soen.
Dis gewone mense in ongewone liggame.
Vat hande met hulle en stap die pad tesame.
 
Anneke Blaise van die TUIS
Gesels so lekker oor ons huis.
Optelgoed, glas en papier—daar’s geen reëls
Gee kleurinspuiting, onverwagse element—alles baie speels.
 
Begin by die voordeur- verf dit groen
Gordyne so hoog as moontlik, laag op laag—dis wat jy doen!
SA lap ontwerpers keer die wêreld op sy kop
Tekstuur, kleur en vorm moet die sintuie laat kruip uit hul dop.
Linne, kant, denim, kelim en fluweel
Dit mense, is in jou huis ‘n juweel!!
 
Tuinboukundige Ernst van Jaarsveld
Is ons Kirstenbosch- held.
Hy kom vier saam met ons daar,
die tuin se 100ste jaar.
 
‘n Student van Cambridge uit die Engeland
Kom doen toe sy tesis oor die Welwitchia in ‘n ander land.
Harold Pearson stueier toe by UCT en word die argitek
Van Kirstenbosch Botaniese tuin wat van 1913 strek.
 
Volgende aan die beurt is onse rekenaar-boffin
Onthou die rympie mense- anders land jy dalk in ‘n “Coffin”
Sirkel, tak, portefeulje, beriggewer en datum—weer en weer
Elke berig, elke tak, elke keer!!
 
“You are never too old to set another goal
Or dream a new dream” se CS Lewis
Natania, ons wil jou op jou Harley  sien –gou-gou
So asseblief, dan moet jy nou eers ‘n bietjie gaan rus!
 
 
Tygerberg en Kaapstad sirkels sê totsiens
Ons glo jul het toe Durbanville geniet.
Baie liefde, vreugde en vrede tot weesiens
Volgende jaar op Upington en wat hul ons gaan bied.
 
Marietjie Albrecht
0836507657



Posted on 19 August 2013

Sirkels Kaapstad en Tygerberg het behoorlik die rooi tapyt uitgerol vir die VLVK-gaste, afgevaardigdes en dagbesoekers wat die 84ste VLVK-Kongres by die Stellenberg Kerkkompleks in Durbanville bywoon. Selfs die weer speel saam, want na die groot waters is dit vandag die allermooiste sonskyndag in die mooie Kaap.

 

 

 

 

 

 

 

 

 



Posted on 22 April 2012

KUNSTE & HANDVLYT

Juweelkissie met piouterdeksel as kompetisie artikel vir 2013 - die mate van die kassie bly dieselfde, MAAR die diepte mag nou tussen 5–10cm wees, omdat daar ‘n probleem met die beskikbaarheid van 10cm diepte kassies blyk te wees.



Posted on 06 November 2011


SA se grootste rooskweker, Ludwig Taschner, en VLVK se grootste roosentoesias (en President!), Erika Lubbe is hier afgeneem tydens die jaarlikse Roosfees op Douglas.

 

Die grootse gebeurtenis, wat gister (05/11/11) plaasgevind het, word deur die VLV Douglas tak, Drie Riviere Blommeklub en die Vrouediens van die NG Kerk Douglas aangebied.

 

Hierdie bekende rooskenner en rooskweker van Haakdoringlaagte met sy meer as 1 miljoen roosbome, was die gasspreker tydens die fees.

 

 



Posted on 05 October 2011

Uit die pen van Leonore Ward. . .

 

Claudia wéét sy vat ‘n kans toe sy haar trourok bestel. “’n Tien asseblief.” Die verkoopsdame kyk haar met een opgetrekte wenkbrou aan. “Is jy seker? Moet ons dit nie liewer ’n twaalf maak nie?” Sy kyk Claudia op en af. Dit voel asof sy dwarsdeur haar jeans die etiket agterin kan sien wat nommer sestien verkondig. “Nee. ’n Tien”, sê Claudia vasberade. “Ek gaan nie vet voor die kansel staan nie. Ek hét nog drie maande. Ek sal ’n tien wees!”.

 

Daarna is dit agt weke pligsgetroue, vrek-moeilike Weighless - oral waarheen sy gaan bied almal drankies en eetgoed aan ter viering van die groot dag wat nader kom. “Ágt weke Mamma! En ek’s nog net éen nommer kleiner! My rok hang teen my kas en ek pas nog nie naastenby daarin nie!”. Claudia klou die telefoon krampagtig vas en wens haar ma deur die gehoorbuis van Port Elizabeth af Kaap toe. Van jongs af droom sy oor haar slanke troudag en die wonderlike Skotse man met wie sy gaan trou. Pieter is nou wel nie Skots nie, maar het laggend ingestem om ’n kilt te dra vir die seremonie. Hy verstaan nie regtig haar fassinasie met dié kultuur nie, maar het gesê hy sal enige tyd ’n rokkie dra as dit “sy rooikop” gelukkig maak. Op die ou end was hy so meegevoer dat hy besluit het die tema vir die hele troue sal Skots wees en al die mansgaste moet rokkies dra.

 

Op haar troudag word Claudia bewerig wakker. “My bloedsuiker!” dink sy benoud en gryp na die bottel groen “gag” op haar bedkassie. Pieter het haar dieetmengsel een kyk gegee en dit “gag” gedoop. “Geen mens kan dit drink nie liefie!” het hy haar verseker, maar sy’t volgehou. Na haar half-histeriese oproep na haar ma het sy besluit om alles in die gewig-verloor stryd te werp. Sy’t  “Spock’s Miracle Weightloss” by Dischem gekoop en dit vir vier weke aaneen vir ontbyt en middagete gedrink en net gestoomde hoender en slaai geëet vir aandete. Die kilos het weggesmelt!

 

“Hou in jou asem!” gil Brenda van agter haar. “Ek gaan die zip optrek!” . Hulle spook en spartel en Claudia raak eintlik duiselig in die stryd met die ritssluiter. Maar, hy’s op! Sy’s strenggesproke eerder ’n twaalf as ’n tien, maar sy’s in haar rok! Sy draai stralend na haar ma en strooimeisie. “Ek’s nie meer vet nie!” juig sy en gooi haar arms om haar ma, net om ’n aaklige skeurgeluid te hoor. Die linkernaat van haar rok het van haar bors tot onder haar heup oopgeskeur! ”Ma! My rok! My pragtige rok! Hy’s moertoe!”. Haar ma gee haar net een kyk en draai na Brenda . “Brenda, kry my man.....”

 

Toe Claudia ‘n uur later in die kerkpaadjie afloop is haar trane vergete. Oom Jos snak na sy asem toe sy verbygaan en mompel “So’n wulpse tentoonstelling van kaal vel! My hart sal gaan staan!”. Haar vel loer speels deur die silwer glinster van etlike kiltspelde waarmee haar ma haar rok bymekaar getrek het. Pieter lyk hoog in sy noppies.
“My rooikop Elizabeth Hurley. Wie’t nou gedink die Skotte kan so sexy raak?!” en hy soen haar vuurwarm nog voor die dominee ’n woord kan sê.


Leonore Ward, lid van Stellenberg tak, Sirkel Tygerberg het die 6de plek behaal op Kongres 2011.



Posted on 05 October 2011

Uit die pen van Fesia Engelbrecht . . .

 

Dit sou die troue van alle troues wees en tabberd van die eeu.

 

Toe Estrelita (voorheen Hestertjie) aan Arnoldus (voorheen Nolsie) verloof sou raak, het tant Hessie al so uitgehang. Terloops, die naam Estrelita het sy oor die radio gehoor. Dit klink darem beter as Hestertjie. Tant Hessie het vir Nolsie mooi vertel hoe hy die ring, wat Lady Di s'n soos 'n gelukspakkie-ring sou laat lyk, mooi tussen die blare van 'n oop roos moet laat nestel.

 

Toe kom die reëlings vir die groot dag. Alles van die beste - van oorsee, indien moontlik. Meters kant en tulle, pêrels, diamante en kristalkraletjies en bypassende juweliersware. Die bruidsmoeder en die bruidegom se moeder, die strooimeisies, middelmeisies en blommemeisies moes uitrustings van dieselfde skakering mosgroen dra. Nie ertjiegroen, avokadogroen of blaargroen nie - nee, mosgroen. Oordaad in die treffende trap! Oom Sarel skud sy beursie en sy kop. Dankie tog hy't net een ooilammetjie.

 

Spesiaal-gekweekte orgideë met die uitsonderlike mosgroen kleur is bestel. Twee spierwit duiwe (darem nie ook groen nie) pronk in 'n silwer koutjie voor die preekstoel. Praat van prag en praal. Silwer kandelare, kristalblompotte, spieëls - alles wat skitter en weerkaats - vir Estrelita, die sterretjie, net die beste en blinkste.

 

En dan - die allerfraaiste, asemrowende droomtabberd. 'n Wêreldberoemde ontwerper wat net vir die hoë lui skeppings maak, is die kunstenaar. 'n Veraf kleinniggie se wederhelf se tante se kleindogter was kleintyd die een of ander prinses se speelmaatjie. Dié het die ontwerper geken en alles gereël.

 

Weke lank word die korsetlyfie en die nousluitende romp borduur.   Die sleep is byna onbeskryflik. Die meters tulle en kant is so geplooi, gefrummel, gesmok en ingeryg dat dit soos 'n skuimende kristalwit waterval in die kleine lyk. Vanaf die middelagter val dit trapsgewys wyer na onder en sleep dan 'n meter of drie agter die bruid aan. Estrelita Beautifica!

 

Die silwerversierde koets en vier swart perde staan gereed voor die hotel waar die bruid aangetrek het. Die stralende Estrelita bestyg die koets met die hulp van die galante koetsier. Maar o wee! Die trompetgeskal van 'n fanfare laat die perde skrik en vorentoe spring. Die koetsier keer nog, maar ongelukkig nie betyds nie. Die draaiende koetswiel gryp die sleep en slurp dit op soos 'n dorstige draak. Elke speek sluk 'n stuk van die miniatuur-waterval in.

 

Die perde het bedaar, maar die skade is onherstelbaar. lemand het 'n skêr en 'n kramtang by die hotel se ontvangstoonbank gekry. Die fyn valle word van die speke afgesny en die flenters aan mekaar gekram en dan aan 'n lint van die perde se versierings vasgemaak. Soos 'n voorskoot van agter word dit om die snikkende, verwese, geskokte bruid gebind. Uit die hotel se voorraad kry Estrelita 'n redelik stywe dop.

 

Onwetend van die drama wat hom afspeel, sit tant Hessie, die familie en gaste opgewonde en wag vir die sprokiesbruid. Arnoldus lyk bra bekommerd. Die orrelis speel dieselfde stuk oor en oor.

 

Toe die perde ewe rustig na die kerk vertrek, lê daar nog flentertjies fyn tulle die teerpad vol - kompleet asof daar ganse gepluk is.

 

Eindelik! Die koster gee die teken en op maat van Wagner se "Here comes the bride'! kom onse vrolike Hestertjie huppelend die kerk binne. (Danksy die dop!) Die sleep weliswaar baie korter en taamlik verflenter agterna - 'n heel nuwe skepping.

 

Estrelita Catastrofica!

 

Geskryf deur Fesia Engelbrecht, lid van Lutzville-tak, Sirkel Namakwaland. Sy behaal 2de plek by VLVK-Kongres, Villiersdorp 2011.



Posted on 04 October 2011

Uit die pen van Johanna Rheeder. . .

 

My niggie, die spreekwoordelike oujongnooi, (haar blomtyd was lankal verby) sê tydens ons lang telefoongesprek: “Ek wil die naweek bietjie kom kuier.” “Dit sal baie lekker wees, jy was lanklaas hier.” Toe vra sy so ewe, asof sy dit al òòit gedoen het, “Kan ek 'n vriend saambring?”  

 

Vrydagaand moes ek hoor dat die 'kys' al meer as 'n  jaar aankom. Hulle wil komende Oktober trou. Jy kon my met 'n veer omtik!

 

Albei se ouers is al oorlede en omdat sy nie meer jonk is nie,  sien sy nie kans vir ons groot uitgebreide familie nie. Sy wil darem ook nie voor ʼn prokureur trou nie. Hoe nou? saam-saam beplan ons. My pa sal haar die kapel inbring en net my gesin en sy suster-hulle sal dit bywoon. Sy sal sommer 'n pakkie of rokkie aantrek.
 

Knap voor D-dag,  geselsende oor die telefoon,  kom ek agter, sy twyfel oor die 'pakkie.'  'n Mens trou mos net een keer!  “Kom ons gaan kyk Saterdag rokke,” sê ek. Net as agtergrond:  haar ma was 'n opgeleide 'dressmaker.'  Van een winkel na die ander . . . “Die goed is so vol rafels en toiings, netnou staan ek daar met oop nate!  Wie trou dan nou so . . .  kaal? My swembroek maak meer toe. (Onthou,  sy was al amper veertig.) Ag-nee jong, ek's nie prinses Di nie, die goed blink te erg.” Dit het 'n baie la-a-ang dag geword.
 

Na ure se soek, aanpas, seer voete, 'n  paar keer se verdwaal, uiteindelik  -  'n  pragtige naaswit,  A-lynrok van sagte sjiffon. Met haar pragtige figuur pas dit perfek. Ek weet,  as my vriendin met haar hare en grimering klaar is, sal sy 'n mooi bruid wees. 

 

Die troudag breek aan, 'n pragtige lentedag. Ontbyt, bad, tee, met haar hare en grimering gedoen, is dit uiteindelik tyd vir die rok! Sy draai nog so vol verwondering voor die lang spieël rond,  toe tref dit ons almal tegelyk - haar naels! Die skel pienk pas net nie by 'n bruid nie. Nie regtig 'n probleem nie, daar is ʼn oplossing, verwyderaar mét ʼn sponsie binne-in die houertjie.  Een na die ander word vingers daarin rondgedraai. Die lak is hardnekkig. Nog net twee vingers, die rooskleurige lak staan reg. Die horlosie sê daar is nog 'n goeie vyftien minute tyd.
 

Toe gebeur dit . . .  die houertjie val uit die gewillige hande.  'n Yslike pienk vlek groei in haar skoot tussen die sagte plooie van die romp. Wat nou? Hoe kry ‘n mens dit uit? Dis sulke fyn materiaal? Ek moes maar 'n  pakkie gekoop het!  Tipies vrou praat ons almal tegelyk en deurmekaar.
 

Na vele geredekawel besluit ons:  die chiffon romp-gedeelte sal gewas moet word. Vinnig uittrek,  betroubare handewasseep is ingespan. Almal hou asems op! Eers liggies druk-druk,  dan bietjies-bietjies vrywe,  meer vryf,  spoel . . . “Ek's seker dis ligter.”  “Dis al halfvier.”  “Probeer weer.” Ek bel:  “Ons is nou-nou daar, hier's 'n klein probleempie.” 
 

Nog seep, warmer water, harder vryf, spoel, nog eens spoel. Soos brommers drom ons almal saam, oë groot, vol afwagting . . . “Ek sien niks.” fluister Dolla en hardloop uit, son toe.  Almal agterna. “Dankie tog!” Klink die sugte op.

 

'n  Haardroër, hoogste spoed, warmste temperatuur, asook 'n tweede word ingespan. Vyf-en-twintig minute laat, maar die bruid is stralend, sagte chiffon koel en klam teen haar hande wat die lang string orgideë vashou.  



Posted on 27 September 2011

Sirkel Tygerberg samel sedert die Julie Sirkelvergadering broodsakkie-knippies in om te ruil vir rolstoele. Die eerste 80 kilogram (2 miljoen) knippies is reeds ingelewer en hier is ons eerste rolstoel nou!


Op die foto is me Deborah Ives van Parow, in haar splinternuwe rolstoel, saam met Caro Ekermans, Sirkelpresident Tygerberg. Ons sien uit daarna om die ontvangers van die ander drie rolstoele ook te ontmoet. Intussen maak Tygerberg nog steeds knippies bymekaar.

 



Posted on 18 September 2011

Uit die pen van Marietta van Manen. . . .
         

TROU in ’n erfrok wat al twee eeuwendings beleef het, is min bruide beskore. Kosbare tradisie, maar hierdie erfreg, van oudste dogter na oudste dogter, is nie altyd jubelend begroet nie.

  

Daar was die bruid wat in rooi ewige trou wou sweer en die een wat op die strand wou trou in ’n vloeiende harembroek en sewe sluiers.

  

Maar Ouma Toet, soos latere geslagte na die eerste Elizabeth verwys het, het telkemale gewen. Wie is immers bestand teen die ouwêreldse bekoring van ryklik geborduurde Brusselse kant, die glans van pêrels, die skitter van kristalle en lae en lae sy en fyn kant wat om die voete wolk?

  

Weliswaar het elke bruid die rok haar eie gemaak. Bruid nommer drie het reeds die ragfyn moue en skouerstuk met die hoë halsbandjie – ouma Toet se toegewing aan Victoriaanse preutsheid – laat waai.  Die bustière se nate is verskeie kere versigtig uitgelaat en ingevat, na gelang van behoefte. So ook die romp se middeltjie. Soms is daar skouerbandjies bygevoeg, ’n halter van sy en krale. Net die dubbele ry pêrelknopies en lussies teen die rug af, met hul ingewikkelde oorkruis-vasmaakpatroon, het onveranderd gebly.

 

Soos elke bruid die rok haar eie gemaak het, het hulle ook die erfnaam hul eie gemaak, en duik noemname soos Thea, Elsa, Elize, Lissa, Esta, Lize onder die nageslagfoto’s op.

 

Tess, bruid nommer sewe, droom van kleintyd af oor die erfrok, van haar foto voeg by die bruidsgalery.  Maar toe ma Lize die deksel van die antieke bêrekis lig, lig die onheil sy motgifkop met ’n klank wat hulle laat steier. Die onheil kry lyf toe die eens sneeuwit rok bottergeel uit die kis te voorskyn kom. Die onheil brul toe Lize die bustière om Tess se lyf vou en sy knoop en lus vergeefs oor ’n kaal rug na mekaar probeer beur.

 

“Dis geel. Dit stink. Dis te klein. Ek lyk soos ’n oopgebarste wors.  Dis ’n  katastrofe!”  huil-snik Tess.
Ma Lize bly kalm. “Bedaar, Tess.  Ons torring die lussies af, ons koop kant en las stroke in, ons skep ’n rugkant wat die bruilofsgaste na hul asem sal laat snak.”


“Ouma Lissa kry die piep,” sê Tess. “Sy is heeltemal behep met die knope, mompel-mompel allerhande goed wat ek nie kan uitmaak nie, klink glad of sy skielik iets teen Piet het.”

 

 

“Sy verlang seker maar na Oupa, hy was mos ook Piet. Ons gaan ook nie die knopies weglaat nie, net herrangskik.”
Ma Lize las en pas, nies-nies tussen die motgifwalms deur. Die knopies loop al op die lasnate langs, beklemtoon die vleiende lyne van die inlasstukke.

 

Toe die kosbare bruidstabberd by die skoonmakers gehaal word, ruik dit na rose. Net – toet se kant en sy is so wit soos die dag toe die eerste Elizabeth haar bruidegom tegemoet gestap het, die insetsels sonskyngeel.

 

Nood leer blitsdink. Rose, room en geel en wit, vir die  bruidsruiker. Syrosies, van wit tot room tot geel, tussen die pêrelknopies en oor die romp gestrooi.


So sweef Tess op die groot dag stralend tot voor die kansel, die rugkant van die bruid, so weet sy, asemrowend.


Maar toe die  laaste note van die troumars wegsterf, styg ’n heel ander noot uit die voorste bank op.
“ ’n Rits!” jubel ouma Lissa. “Halleluja! Met  knope en lussies sukkel g’n Piet weer die lus skoon weg nie.”

 

 

Skrywer: Marietta van Manen, lid VLV Durbanville, Sirkel Tygerberg.
Marietta wen die sirkeltrofee by konferensie in Maart 2011 en verwerf vyfde plek by kongres in Augustus 2011.

Categories