Posted on 06 November 2011


SA se grootste rooskweker, Ludwig Taschner, en VLVK se grootste roosentoesias (en President!), Erika Lubbe is hier afgeneem tydens die jaarlikse Roosfees op Douglas.

 

Die grootse gebeurtenis, wat gister (05/11/11) plaasgevind het, word deur die VLV Douglas tak, Drie Riviere Blommeklub en die Vrouediens van die NG Kerk Douglas aangebied.

 

Hierdie bekende rooskenner en rooskweker van Haakdoringlaagte met sy meer as 1 miljoen roosbome, was die gasspreker tydens die fees.

 

 



Posted on 05 October 2011

Uit die pen van Leonore Ward. . .

 

Claudia wéét sy vat ‘n kans toe sy haar trourok bestel. “’n Tien asseblief.” Die verkoopsdame kyk haar met een opgetrekte wenkbrou aan. “Is jy seker? Moet ons dit nie liewer ’n twaalf maak nie?” Sy kyk Claudia op en af. Dit voel asof sy dwarsdeur haar jeans die etiket agterin kan sien wat nommer sestien verkondig. “Nee. ’n Tien”, sê Claudia vasberade. “Ek gaan nie vet voor die kansel staan nie. Ek hét nog drie maande. Ek sal ’n tien wees!”.

 

Daarna is dit agt weke pligsgetroue, vrek-moeilike Weighless - oral waarheen sy gaan bied almal drankies en eetgoed aan ter viering van die groot dag wat nader kom. “Ágt weke Mamma! En ek’s nog net éen nommer kleiner! My rok hang teen my kas en ek pas nog nie naastenby daarin nie!”. Claudia klou die telefoon krampagtig vas en wens haar ma deur die gehoorbuis van Port Elizabeth af Kaap toe. Van jongs af droom sy oor haar slanke troudag en die wonderlike Skotse man met wie sy gaan trou. Pieter is nou wel nie Skots nie, maar het laggend ingestem om ’n kilt te dra vir die seremonie. Hy verstaan nie regtig haar fassinasie met dié kultuur nie, maar het gesê hy sal enige tyd ’n rokkie dra as dit “sy rooikop” gelukkig maak. Op die ou end was hy so meegevoer dat hy besluit het die tema vir die hele troue sal Skots wees en al die mansgaste moet rokkies dra.

 

Op haar troudag word Claudia bewerig wakker. “My bloedsuiker!” dink sy benoud en gryp na die bottel groen “gag” op haar bedkassie. Pieter het haar dieetmengsel een kyk gegee en dit “gag” gedoop. “Geen mens kan dit drink nie liefie!” het hy haar verseker, maar sy’t volgehou. Na haar half-histeriese oproep na haar ma het sy besluit om alles in die gewig-verloor stryd te werp. Sy’t  “Spock’s Miracle Weightloss” by Dischem gekoop en dit vir vier weke aaneen vir ontbyt en middagete gedrink en net gestoomde hoender en slaai geëet vir aandete. Die kilos het weggesmelt!

 

“Hou in jou asem!” gil Brenda van agter haar. “Ek gaan die zip optrek!” . Hulle spook en spartel en Claudia raak eintlik duiselig in die stryd met die ritssluiter. Maar, hy’s op! Sy’s strenggesproke eerder ’n twaalf as ’n tien, maar sy’s in haar rok! Sy draai stralend na haar ma en strooimeisie. “Ek’s nie meer vet nie!” juig sy en gooi haar arms om haar ma, net om ’n aaklige skeurgeluid te hoor. Die linkernaat van haar rok het van haar bors tot onder haar heup oopgeskeur! ”Ma! My rok! My pragtige rok! Hy’s moertoe!”. Haar ma gee haar net een kyk en draai na Brenda . “Brenda, kry my man.....”

 

Toe Claudia ‘n uur later in die kerkpaadjie afloop is haar trane vergete. Oom Jos snak na sy asem toe sy verbygaan en mompel “So’n wulpse tentoonstelling van kaal vel! My hart sal gaan staan!”. Haar vel loer speels deur die silwer glinster van etlike kiltspelde waarmee haar ma haar rok bymekaar getrek het. Pieter lyk hoog in sy noppies.
“My rooikop Elizabeth Hurley. Wie’t nou gedink die Skotte kan so sexy raak?!” en hy soen haar vuurwarm nog voor die dominee ’n woord kan sê.


Leonore Ward, lid van Stellenberg tak, Sirkel Tygerberg het die 6de plek behaal op Kongres 2011.



Posted on 05 October 2011

Uit die pen van Fesia Engelbrecht . . .

 

Dit sou die troue van alle troues wees en tabberd van die eeu.

 

Toe Estrelita (voorheen Hestertjie) aan Arnoldus (voorheen Nolsie) verloof sou raak, het tant Hessie al so uitgehang. Terloops, die naam Estrelita het sy oor die radio gehoor. Dit klink darem beter as Hestertjie. Tant Hessie het vir Nolsie mooi vertel hoe hy die ring, wat Lady Di s'n soos 'n gelukspakkie-ring sou laat lyk, mooi tussen die blare van 'n oop roos moet laat nestel.

 

Toe kom die reëlings vir die groot dag. Alles van die beste - van oorsee, indien moontlik. Meters kant en tulle, pêrels, diamante en kristalkraletjies en bypassende juweliersware. Die bruidsmoeder en die bruidegom se moeder, die strooimeisies, middelmeisies en blommemeisies moes uitrustings van dieselfde skakering mosgroen dra. Nie ertjiegroen, avokadogroen of blaargroen nie - nee, mosgroen. Oordaad in die treffende trap! Oom Sarel skud sy beursie en sy kop. Dankie tog hy't net een ooilammetjie.

 

Spesiaal-gekweekte orgideë met die uitsonderlike mosgroen kleur is bestel. Twee spierwit duiwe (darem nie ook groen nie) pronk in 'n silwer koutjie voor die preekstoel. Praat van prag en praal. Silwer kandelare, kristalblompotte, spieëls - alles wat skitter en weerkaats - vir Estrelita, die sterretjie, net die beste en blinkste.

 

En dan - die allerfraaiste, asemrowende droomtabberd. 'n Wêreldberoemde ontwerper wat net vir die hoë lui skeppings maak, is die kunstenaar. 'n Veraf kleinniggie se wederhelf se tante se kleindogter was kleintyd die een of ander prinses se speelmaatjie. Dié het die ontwerper geken en alles gereël.

 

Weke lank word die korsetlyfie en die nousluitende romp borduur.   Die sleep is byna onbeskryflik. Die meters tulle en kant is so geplooi, gefrummel, gesmok en ingeryg dat dit soos 'n skuimende kristalwit waterval in die kleine lyk. Vanaf die middelagter val dit trapsgewys wyer na onder en sleep dan 'n meter of drie agter die bruid aan. Estrelita Beautifica!

 

Die silwerversierde koets en vier swart perde staan gereed voor die hotel waar die bruid aangetrek het. Die stralende Estrelita bestyg die koets met die hulp van die galante koetsier. Maar o wee! Die trompetgeskal van 'n fanfare laat die perde skrik en vorentoe spring. Die koetsier keer nog, maar ongelukkig nie betyds nie. Die draaiende koetswiel gryp die sleep en slurp dit op soos 'n dorstige draak. Elke speek sluk 'n stuk van die miniatuur-waterval in.

 

Die perde het bedaar, maar die skade is onherstelbaar. lemand het 'n skêr en 'n kramtang by die hotel se ontvangstoonbank gekry. Die fyn valle word van die speke afgesny en die flenters aan mekaar gekram en dan aan 'n lint van die perde se versierings vasgemaak. Soos 'n voorskoot van agter word dit om die snikkende, verwese, geskokte bruid gebind. Uit die hotel se voorraad kry Estrelita 'n redelik stywe dop.

 

Onwetend van die drama wat hom afspeel, sit tant Hessie, die familie en gaste opgewonde en wag vir die sprokiesbruid. Arnoldus lyk bra bekommerd. Die orrelis speel dieselfde stuk oor en oor.

 

Toe die perde ewe rustig na die kerk vertrek, lê daar nog flentertjies fyn tulle die teerpad vol - kompleet asof daar ganse gepluk is.

 

Eindelik! Die koster gee die teken en op maat van Wagner se "Here comes the bride'! kom onse vrolike Hestertjie huppelend die kerk binne. (Danksy die dop!) Die sleep weliswaar baie korter en taamlik verflenter agterna - 'n heel nuwe skepping.

 

Estrelita Catastrofica!

 

Geskryf deur Fesia Engelbrecht, lid van Lutzville-tak, Sirkel Namakwaland. Sy behaal 2de plek by VLVK-Kongres, Villiersdorp 2011.



Posted on 04 October 2011

Uit die pen van Johanna Rheeder. . .

 

My niggie, die spreekwoordelike oujongnooi, (haar blomtyd was lankal verby) sê tydens ons lang telefoongesprek: “Ek wil die naweek bietjie kom kuier.” “Dit sal baie lekker wees, jy was lanklaas hier.” Toe vra sy so ewe, asof sy dit al òòit gedoen het, “Kan ek 'n vriend saambring?”  

 

Vrydagaand moes ek hoor dat die 'kys' al meer as 'n  jaar aankom. Hulle wil komende Oktober trou. Jy kon my met 'n veer omtik!

 

Albei se ouers is al oorlede en omdat sy nie meer jonk is nie,  sien sy nie kans vir ons groot uitgebreide familie nie. Sy wil darem ook nie voor ʼn prokureur trou nie. Hoe nou? saam-saam beplan ons. My pa sal haar die kapel inbring en net my gesin en sy suster-hulle sal dit bywoon. Sy sal sommer 'n pakkie of rokkie aantrek.
 

Knap voor D-dag,  geselsende oor die telefoon,  kom ek agter, sy twyfel oor die 'pakkie.'  'n Mens trou mos net een keer!  “Kom ons gaan kyk Saterdag rokke,” sê ek. Net as agtergrond:  haar ma was 'n opgeleide 'dressmaker.'  Van een winkel na die ander . . . “Die goed is so vol rafels en toiings, netnou staan ek daar met oop nate!  Wie trou dan nou so . . .  kaal? My swembroek maak meer toe. (Onthou,  sy was al amper veertig.) Ag-nee jong, ek's nie prinses Di nie, die goed blink te erg.” Dit het 'n baie la-a-ang dag geword.
 

Na ure se soek, aanpas, seer voete, 'n  paar keer se verdwaal, uiteindelik  -  'n  pragtige naaswit,  A-lynrok van sagte sjiffon. Met haar pragtige figuur pas dit perfek. Ek weet,  as my vriendin met haar hare en grimering klaar is, sal sy 'n mooi bruid wees. 

 

Die troudag breek aan, 'n pragtige lentedag. Ontbyt, bad, tee, met haar hare en grimering gedoen, is dit uiteindelik tyd vir die rok! Sy draai nog so vol verwondering voor die lang spieël rond,  toe tref dit ons almal tegelyk - haar naels! Die skel pienk pas net nie by 'n bruid nie. Nie regtig 'n probleem nie, daar is ʼn oplossing, verwyderaar mét ʼn sponsie binne-in die houertjie.  Een na die ander word vingers daarin rondgedraai. Die lak is hardnekkig. Nog net twee vingers, die rooskleurige lak staan reg. Die horlosie sê daar is nog 'n goeie vyftien minute tyd.
 

Toe gebeur dit . . .  die houertjie val uit die gewillige hande.  'n Yslike pienk vlek groei in haar skoot tussen die sagte plooie van die romp. Wat nou? Hoe kry ‘n mens dit uit? Dis sulke fyn materiaal? Ek moes maar 'n  pakkie gekoop het!  Tipies vrou praat ons almal tegelyk en deurmekaar.
 

Na vele geredekawel besluit ons:  die chiffon romp-gedeelte sal gewas moet word. Vinnig uittrek,  betroubare handewasseep is ingespan. Almal hou asems op! Eers liggies druk-druk,  dan bietjies-bietjies vrywe,  meer vryf,  spoel . . . “Ek's seker dis ligter.”  “Dis al halfvier.”  “Probeer weer.” Ek bel:  “Ons is nou-nou daar, hier's 'n klein probleempie.” 
 

Nog seep, warmer water, harder vryf, spoel, nog eens spoel. Soos brommers drom ons almal saam, oë groot, vol afwagting . . . “Ek sien niks.” fluister Dolla en hardloop uit, son toe.  Almal agterna. “Dankie tog!” Klink die sugte op.

 

'n  Haardroër, hoogste spoed, warmste temperatuur, asook 'n tweede word ingespan. Vyf-en-twintig minute laat, maar die bruid is stralend, sagte chiffon koel en klam teen haar hande wat die lang string orgideë vashou.  



Posted on 27 September 2011

Sirkel Tygerberg samel sedert die Julie Sirkelvergadering broodsakkie-knippies in om te ruil vir rolstoele. Die eerste 80 kilogram (2 miljoen) knippies is reeds ingelewer en hier is ons eerste rolstoel nou!


Op die foto is me Deborah Ives van Parow, in haar splinternuwe rolstoel, saam met Caro Ekermans, Sirkelpresident Tygerberg. Ons sien uit daarna om die ontvangers van die ander drie rolstoele ook te ontmoet. Intussen maak Tygerberg nog steeds knippies bymekaar.

 



Posted on 18 September 2011

Uit die pen van Marietta van Manen. . . .
         

TROU in ’n erfrok wat al twee eeuwendings beleef het, is min bruide beskore. Kosbare tradisie, maar hierdie erfreg, van oudste dogter na oudste dogter, is nie altyd jubelend begroet nie.

  

Daar was die bruid wat in rooi ewige trou wou sweer en die een wat op die strand wou trou in ’n vloeiende harembroek en sewe sluiers.

  

Maar Ouma Toet, soos latere geslagte na die eerste Elizabeth verwys het, het telkemale gewen. Wie is immers bestand teen die ouwêreldse bekoring van ryklik geborduurde Brusselse kant, die glans van pêrels, die skitter van kristalle en lae en lae sy en fyn kant wat om die voete wolk?

  

Weliswaar het elke bruid die rok haar eie gemaak. Bruid nommer drie het reeds die ragfyn moue en skouerstuk met die hoë halsbandjie – ouma Toet se toegewing aan Victoriaanse preutsheid – laat waai.  Die bustière se nate is verskeie kere versigtig uitgelaat en ingevat, na gelang van behoefte. So ook die romp se middeltjie. Soms is daar skouerbandjies bygevoeg, ’n halter van sy en krale. Net die dubbele ry pêrelknopies en lussies teen die rug af, met hul ingewikkelde oorkruis-vasmaakpatroon, het onveranderd gebly.

 

Soos elke bruid die rok haar eie gemaak het, het hulle ook die erfnaam hul eie gemaak, en duik noemname soos Thea, Elsa, Elize, Lissa, Esta, Lize onder die nageslagfoto’s op.

 

Tess, bruid nommer sewe, droom van kleintyd af oor die erfrok, van haar foto voeg by die bruidsgalery.  Maar toe ma Lize die deksel van die antieke bêrekis lig, lig die onheil sy motgifkop met ’n klank wat hulle laat steier. Die onheil kry lyf toe die eens sneeuwit rok bottergeel uit die kis te voorskyn kom. Die onheil brul toe Lize die bustière om Tess se lyf vou en sy knoop en lus vergeefs oor ’n kaal rug na mekaar probeer beur.

 

“Dis geel. Dit stink. Dis te klein. Ek lyk soos ’n oopgebarste wors.  Dis ’n  katastrofe!”  huil-snik Tess.
Ma Lize bly kalm. “Bedaar, Tess.  Ons torring die lussies af, ons koop kant en las stroke in, ons skep ’n rugkant wat die bruilofsgaste na hul asem sal laat snak.”


“Ouma Lissa kry die piep,” sê Tess. “Sy is heeltemal behep met die knope, mompel-mompel allerhande goed wat ek nie kan uitmaak nie, klink glad of sy skielik iets teen Piet het.”

 

 

“Sy verlang seker maar na Oupa, hy was mos ook Piet. Ons gaan ook nie die knopies weglaat nie, net herrangskik.”
Ma Lize las en pas, nies-nies tussen die motgifwalms deur. Die knopies loop al op die lasnate langs, beklemtoon die vleiende lyne van die inlasstukke.

 

Toe die kosbare bruidstabberd by die skoonmakers gehaal word, ruik dit na rose. Net – toet se kant en sy is so wit soos die dag toe die eerste Elizabeth haar bruidegom tegemoet gestap het, die insetsels sonskyngeel.

 

Nood leer blitsdink. Rose, room en geel en wit, vir die  bruidsruiker. Syrosies, van wit tot room tot geel, tussen die pêrelknopies en oor die romp gestrooi.


So sweef Tess op die groot dag stralend tot voor die kansel, die rugkant van die bruid, so weet sy, asemrowend.


Maar toe die  laaste note van die troumars wegsterf, styg ’n heel ander noot uit die voorste bank op.
“ ’n Rits!” jubel ouma Lissa. “Halleluja! Met  knope en lussies sukkel g’n Piet weer die lus skoon weg nie.”

 

 

Skrywer: Marietta van Manen, lid VLV Durbanville, Sirkel Tygerberg.
Marietta wen die sirkeltrofee by konferensie in Maart 2011 en verwerf vyfde plek by kongres in Augustus 2011.



Posted on 22 August 2011

Uit die pen van Hermien van Zyl. . . .

 

Ek stap toe op ‘n aand laat
Met ‘n kêrel uit die Vrystaat
Al bestuur hy ‘n ou bakkie,
Sê ek “Kersvader, dankie!”
Want al sy soene is soos suiker
En in sy hande ‘n diamant……

 

Ek laat sak die stola wat ek besig is om vir die VLV-kompetisie te brei en luister met ‘n glimlag na Laurika se liedjie. Stefaans het ook met ‘n ou bakkie kom vry, en ma het dit nog destyds net so een kyk gegee en gesê “Liefde is blind, sien flinters aan vir lint!”

 

Die troudatum in die Boland was vasgestel vir die eerste naweek in September en die bakkie was volgelaai toe ons die Woensdag uit Kimberley vertrek. Heel bo-op alles was my ruimste kleretas met die trourok waaraan ek vir weke gewerk het om die kraletjies, pêreltjies en lintjies te borduur. Ook die tiara, die gebreide stola en die ringkussingkie met die bypassende “garter” is versigtig tussen sneespapier daarby ingepak.

 

Dit was reeds sterk skemer toe ons aankom na die Hexrivierberge, maar met ‘n bakkie waarvan die kappie nie meer kan sluit nie, moes ons aanstoot. Laatnag was ons op die plaas, doodmoeg, maar dankbaar  - tot my pa om die bakkie loop en bulder “Die agterste flap is dan oop”! Ek kry onwillekeurig weer hoendervel as ek dink aan daardie verskriklike oomblik toe ek die leë ruimte voor my sien waar die tas was.

 

Al het ons geweet dis ‘n futiele operasie, is tog die volgende dag besluit dat ons plaasmense sal soek tot op Worcester, Jan se mense tot op De Doorns, Hentie s’n tot op Touwsrivier en Piet s’n sover hulle kan na Laingsburg se kant toe, want daar het ons die laaste gestop. Onder elke brug, agter elke bos, in elke donga en sloot langs die pad het wit en bruin ingebuk en gesoek na die swart tas met die Kleinnooi se trou-“tawwerdjie” in.

 

Intussen het my praktiese ma al wat ‘n moontlik-passende trourok kan wees, opgespoor. Met ‘n swaar hart het ek aangepas sodat verstellings gemaak kan word as ‘n wonderwerk nie voor Saterdag gebeur nie. Vandag sou Oubaas van Zyl seker sê dit was ‘n katastrofe van “epidermiese proporsies”. Die hele dorp gons oor die verlies en die telefoon lui aanhoudend. Daarom was dit aanvanklik nie vreemd om ook ‘n oproep te kry van ons koshuismoeder op Stellenbosch nie. Tussenin tel een van die tannies op die partylyn ook nog op en praat alles deurmekaar met haar verskonings. Ná ‘n paar minute sink dit in: die verlore tas staan op Stellenbosch, in die kantoor van my koshuismoeder van verlede jaar – die wonderwerk het gebeur.

 

Toe die bakkie se flap in die Hexrivierpas oopgaan, het die mense in die voertuig agter ons gesien wat gebeur en die tas opgetel, maar toe hulle ons probeer inry, het ons reeds op die korter Overhex-pad afgedraai. Op die tas was my studente-adres op Stellenbosch nog en hulle kry “die arme student” jammer en besluit om dit af te lewer. Amper kom daar weer ‘n fout toe die eerstejaar op voordeurdiens hulle wegstuur omdat ek nie meer daar is nie!

 

Eind goed, alles goed. Die koffer is dadelik op Stellenbosch gaan haal, die rok is in die vrykamer opgehang en Saterdagmiddag het ek in die kerkpaadjie afgesweef asof daar geen katastrofe was nie. Die bruidspaar is op wittebrood in ‘n splinternuwe motortjie en die barmhartige Samaritane het later ‘n geslagte Overbergse skaap present gekry.

 

Ja, dink ek, mense kan so maklik sê “gooi af jou bagasie”, maar verloor dit en kyk net hoe sonder identiteit is jy dan.



Posted on 06 June 2011

Judy Kotzé

21 April 1943 – 21 Mei 2011

 

 

Judy het ’n baie lang en suksesvolle pad saam met VLVK geloop. Sy het in 1966 as lid op Cradock aangesluit en in 1973 op Garies weer die tak, wat rustend was, geaktiveer. In 1984 het sy op Barkly-Oos aangesluit. Sy was verskeie kere voorsitter en vanaf 1996 was sy Sirkel NOK se saamroeper van Kunste en Handvlyt en vanaf 2001 tot 2006 sirkelpresident van Sirkel NOK. Sy en haar man, Piet, het toe na Gouritsmond verhuis vir hul aftrede. Sy het weer daar aangesluit by die Voëlvlei-tak waar sy tot met haar heengaan saamroeper van Kunste en Handvlyt was.

 

 

Sy was baie lief vir mense en het groot deernis gehad met diegene in nood. Sy was geseënd met baie talente en het dit ten volle uitgeleef in diens van haar Skepper en medemens. Sy kon mooi sing, orrel speel, kore afrig, voordra, tuinmaak, blommerangskik en was ’n goeie en geliefde onderwyseres. Haar komiese manier van stories oorvertel was uniek.

 

Sy het ’n ongelooflike vermoë gehad om te organiseer en kon die moeilikste take aanpak en deursien. Sy kon delegeer, inspireer en mobiliseer sonder dat mense aanstoot neem en soos ’n goeie generaal het sy altyd voorgeloop en nie geskroom om haar hande vuil te maak nie en was altyd lojaal aan die mense om haar. Sy was altyd dankbaar en nederig.

 

Sy het geglo dat elke mens ’n verskil kan maak en dat jy diensbaar moet wees.

 

Kanker was een van die min struikelblokke in haar lewe wat sy nie met haar rateltaaie deursettingsvermoë kon oorwin nie en haar vinnige agteruitgang die week voor haar dood, was een van die min dinge in haar lewe wat haar ooit onkant betrap het. Die onverskrokkenheid en waardigheid waarmee sy haar kruis gedra het toe sy uitgevind het dat haar dae min was, sal altyd, vir dié wat na aan haar was, ’n inspirasie bly. 

 

Sy was ’n vasbyter, bittereinder en bowenal ’n pligsgetroue en lojale dienaar van ons Hemelse Vader.

 

Haar geliefde afskeidswoorde: “Laat julle liggies skyn.”, wanneer sy jou gegroet het, sal ons altyd by bly. Ons as VLV-vriendinne sal haar nagedagtenis altyd eer.

 

Ingestuur deur Louwna Hoving in samewerking met haar seun, Dirk Kotzé.



Posted on 20 February 2011

So het die raadskamer se tafel in Jubileumhuis gelyk toe die uitvoerende bestuur vergadering gehou het op 1 en 2 Februarie 2011. Daar is “laptops”, “notebooks” en “proximas” om van te kies en te keur. 

 

Van links Louwna Hoving, Argivaris en Finanslid; Marinda Rall, sirkelpresident van Paarl; Martie Ott, Sekretaris; Hermien van Zyl, sirkepresident van Overberg en Dorothy Krige, VLVK Leefstylsaamroeper en sirkelpresident van Worcester.

 

 

Van links Erika Lubbe, VLVK-president en Karien van Schalkwyk, visepresident en sirkelpresident van Namakwaland. Die president doen haar voorlegging met behulp van ‘n “powerpoint presentation”!

 

 



Posted on 11 October 2010

 

Irma deel werk uit!

 

 

 

Lekker aan die vergader.

 

 

 

Karien en Erika kliphard aan die werk!

Categories