Posted on 13 November 2011

Beriggewer: Vera Winterbach
Datum: 10 November 2011
 

Velddrif tak het die jaar afgesluit met 'n vrolike ontbyt by die Sunset Restaurant. Dr Pierre van der Spuy, skrywer van die boek 'n Gelukkige brein, was die gasspreker by die geleentheid. Sy boek bevat praktiese maniere waarop jy jou brein kan leer om gelukkig en optimisties te bly. Hy het met die dames gesels rondom die VLVK tema, hoe om brûe en paaie te bou.

 

 

 

 

Dr Pierre van der Spuy.

 

  



Posted on 09 November 2011

Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer:  Vera Winterbach
Datum van vergadering: 20 Oktober 2011
 
   

Jomarie Louw was die spreker tydens Velddrif se Oktober vergadering.

 

Sy lig die vergadering in dat Joseph Pliatus in 1880 in Duitsland gebore is en dat hy ‘n baie sieklike kind was en dit sy doelwit gemaak het om gesond te word en gesond te lewe – vandaar Pliatus-oefeninge. 

 

Tydens die oorlog het daar niemand in sy kamp gesterf nie weens die oefeninge wat  hy vir almal laat doen het. Daar was oorspronklik net 34 bewegings maar deesdae het daar al heelwat meer bygekom. ‘n Mens gebruik geen apparate nie, net liggaamsgewig en spiere. Dit is ‘n kombinasie van rek- en strekoefeninge vir oud en jonk. Mnr. Pilatus het altyd gesê jy is so oud soos jou rug is.

 

Jomarie sê dat as ‘n mens se spiere almal ewe sterk is en saamwerk, verander dit jou postuur. Sy noem ook dat gedurende die oefeninge asemhaling en konsentrasie baie belangrik is. Jomarie en haar vriendin wys ‘n paar Pilatus bewegings aan die vergadering. Sy lig ook die vergadering in oor “reg” eet en sê die hoeveelheid wat jy eet, moet weer verbrand word in energie. Sy sê dat ‘n vrou uniek geskape is deur God en dat ons moet vergeet van diëte of niks eet nie, maar liewers daarop moet konsentreer om na jou liggaam te kyk deur reg te eet en dit mooi te versorg.

 

 


 

 

Bestuur 2012:
LNR voor: Sinnie Koegelenberg, Lynette Visser, Gina Smit, Louise Jackobs
LNR agter: Judith du Plessis, Angeli de Kock, Nelene Louw, Jackie Coetzee, Marie Malan, Rina Germishuis.

 

 

 

Matriekdogters vertoon hulle matriekafskeidrokke en Rina oorhandig geskenkies aan hulle. Rina en Cornelia het ook van die rokke gemaak.

  



Posted on 15 September 2011

Beriggewer: Vera Winterbach
Datum: 15 September 2011
 


Sinnie deel ‘n paar boererate met die lede:

Sout en warm water – gorrel vir seer keel. Nog een vir seer keel wat die vergadering laat lag is:  breek ‘n eier eet die helfte, spoeg op ander helfte en begrawe dit, stap weg en moenie omkyk.
Naeltjieolie in oor vir oorpyn. Kinders wat die bed nat maak: vang streepmuis, slag af braai en gee vir kind om te eet maar moenie sê dit is 'n muis nie. Rook hoendervere en asem dit in – hou dan op met hik. Melk ‘n perd en smeer melk 2 x per dag aan sproete.

 

Dwarskersboskoor sing Osbraai op Kromdraai, Sarie Marais, Hoe sê mens dankie, Al lê die berge nog so blou.

 

Flip Wessels vermaak die lede met ‘n grappie van rugby en vertel die verhaal van die eerste rugbywedstryd wat in 1862 plaasgevind het in Groenpunt Kaapstad. Hy vertel van die verskillende rugbyfamilies wat ook almal vir die Springbokke gespeel het soos bv. die Pienaars, Beckers, Burgers ens. Hy vertel ook van al Naas Botha se hoogtepunte. Flip vertel van Gerhard Viviers en hoe hy rugby tot by ons in die huis gebring het deur radio en later TV. Hy vertel ook van die apartheidsjare en al die betogings waardeur die Springbokke is.


 

 

Daar word lustig “Shosholoza” gesing.

 

 

 

‘n Paar van die VLV lede doen rugby toertjies op die liedjie “Hier kom die Bokke” en almal kom in die gees vir die Wêreldbeker rugby 2011.

 

 

 

 

Flip Wessels.



Posted on 21 July 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Vera Winterbach
Datum: 21 Julie 2011

 

ITEM:
Vroue van More voer  ‘n klein konsertjie op en al die produkte soos uie, aartappels, blikkies kos en vis wat hulle in die konsert gebruik het, skenk hulle aan Pelikaan Kleuterskool van Noordhoek.  Sinnie oorhandig aan elkeen ‘n klein geskenkie.

 

SPREKER:
Trudie Pieterse stel haarself aan die vergadering voor en noem dat lede haar sal onthou as Trudie van Oupa se koffiestoor. Sy stel ook haar werkskollega Ronel de Jager aan die vergadering voor en sê dat hulle nou werksaam is by Avbob Lewens en meer gaan gesels oor vroue en hul finansies. Sy noem dat ons nou een van die ergste ressesies beleef en ‘n mens voel dit aan jou sak. Is jou finansies ‘n droom of ‘n nagmerrie? Vir die meeste van ons definitief ‘n nagmerrie. Feite – vrouens leef langer as mans, almal het vrae rondom geld en mans ook. 

 

Vroue koppel nie hulle geld aan hulle drome nie, moederskap verander alles vir vroue – verdien minder en spandeer minder op hulself.
Watter vaardighede het vroue nodig? Vroue moet meer gedissiplineerd spaar want ons leef gewoonlik langer as mans. Vroue het dieselfde vaardighede as mans maar dit word nie altyd erken nie.  Vrouens bewaar meer die vrede as mans. Vroue praat nie net oor beleggings en werk nie, want ‘n huishouding en kiners speel vir hulle ‘n groter rol.

 

Ons ouers leer ons:  waardeer wat jy het, wees allergies vir skuld, geleer oor tiendes.
4 mandjie plan om met geld te werk:
Sekuriteit – dak oor kop, versekering
Toekomstige behoeftes – geleerdheid vir kinders
Welvaart op te bou
Op reis te gaan – droom waar te maak
Stel ‘n basiese begroting op en leer jou kinders om dit ook te doen en daarvolgens te lewe.  Moenie meer uitgee as wat jou inkomste is nie.

 

 

 

 

Vroue van môre.

 

 

Trudie Pieterse.

 

\

 

Geskenkies.

 

Teetafel.



Posted on 23 June 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Vera Winterbach

 

N O T U L E   VAN DIE MAANDVERGADERING SOOS GEHOU OP 23 JUNIE 2011 OM 14:30 IN DIE STADSAAL TE VELDDRIF

 

SPREKER:
Leon Gous, Area Ingenieur van Bergrivier Munisipaliteit is verantwoordelik vir alle dienste behalwe elektrisiteit. Hy noem dat ongeveer 15% van jaarlikse vullis moet herwin word deur die munisipaliteite – beskikbaarheid van grond en waterverspoeling is egter ‘n groot probleem.  Raad het besluit om herwinning deel te maak van Bergrivier Munisipaliteit en is reeds begin in Piketberg deur 2 verskillende kleure sake – een vir nie-herwinbare materiaal en een vir herwinbare materiaal. Kontrakteur gaan verdeling doen van sakke asook verwydering en gaan ‘n groot uitgawe wees. Bou Rommel – ‘n houer gaan op perseel geplaas word en daarna Kaap toe gestuur word. Tuinvullis – ‘n chipper is reeds in Piketberg en Porterville en hy moedig mense aan om gebruik te maak van komposse en wurmplase.  Statistieke lyk as volg:  19% papier, 27% plastiek, 7% metale, 6% glas, 19% tuinvullis en 22% bourommel.  Lede noem dat die plaaslike “mopgat” onooglik lyk en dat die publiek alles net gaan neerstort sonder enige reels en regulasies.  Leon noem dat die nuwe stortingsterrein enige tyd nou sal klaar wees. 

 

SPREKER:
Anette Ebing van Langebaan wys aan die lede die wurmstasie wat op mekaar gepak word soos rakke.  Sy noem dat ‘n mens met min wurms begin, maar hulle teel baie vinnig aan en sal self minder eiers lê as hulle te veel raak.  Die rakke het ‘n kraantjie onderaan waaruit ‘n mens die  “wurmsap” tap en oor plante sproei.  Afvalstowwe wat hul eet is as volg:  “chunk mail”, teesakkies, eierdoppe, toiletrolle, skille ens.  Bees en perde mis kan gebruik word mits dit baie verouderd is en gaar kosse moet liefs vermy word en ook nie suur produkte soos pynappel en tamatie nie.  Wurms hou nie van son nie en moet in skaduwee wees  veral in die somer.  As dit reën klim hulle tot heel bo in die rakke. 

 

 

SPREKER:
Gina stel vir Schalk du Toit, haar broer, aan die vergadering voor wat ons meer gaan inlig oor wynetiek.  Hy sê as ‘n mens die wynkultuur ken sal die wynproe vanself kom.  Van Jesus se eerste wonderwerke was om water in wyn te verander.  Matige gebruik van alkohol kan voordelig wees en daarenteen kan alkohol misbruik weer baie nalatig wees vir die mens – 50% van padongelukke kom van bestuur onder die invloed van alkohol. Die manne van Frankryk gebruik baie rooiwyn en statistieke daar bewys hartsiektes kom selde by hulle voor.  Wynproe is soos ‘n ontdekkingstog en sintuie wat gebruik word is visueel, reuk en smaak.  Die Grieke het 3 bekers wyn per dag gedrink – die 1ste vir gesondheid, die 2de vir liefde en plesier en die 3de vir slaap.
Gina bedank hom en oorhandig ‘n geskenkie.

 

 

 

Uitstalling van herwinbare artikels en die woorde teen die muur:  Reduce   Reuse   Recycle   Respect.

 

 

 

Lynette wys aan die vergadering ‘n paar herwinbare artikels soos bv. ‘n handsak van gebruikte teesakkies, ‘n advent krans van rooi, wit en groen Spar sakke.

 

Louwna Hoving spreek die vergadering toe en sê dat ons VLV toe moet kom met die siening dat ons ons talente kan deel en ook om iets te kom leer.

 

 

Schalk du Toit.



Posted on 30 May 2011

Portefeulje: Kuns & Handvlyt
26 Mei 2011, Velddrif stadsaal

 

Yvette Weyers (vrou van bekende akteur Marius Weyers) het ons meer van haar beeldhouwerk vertel en haar passie vir die natuur met ons gedeel.

 

Yvette het ook 2 van haar werke saamgebring.Sy voel dat die mensdom al hoe meer materialisties word en dat die kunste en natuur agterweë bly. Dit is vir haar eintlik soos 'n tipe pitkos vir 'n mens se siel. Kuns is die kwaliteit van jou kommunikasie oor die eeue heen. Al die beroemdes, bv. Shakespeare, Bach, Beethoven se werke inspireer mense nog steeds deur al die eeue heen.

 

Die natuur is vir haar 'n bron van rykdom en haar pa het haar geleer om liggies op die aarde te trap (sodat jy nie diep spore nalaat nie).

 

Yvette se liefde vir haar taal beeld sy uit in haar beelde, bv: ‘ trek stoute skoene aan’, ‘kuier 'n hond uit 'n bos’, ‘beste voetjie voorsit’, ‘slim vang sy baas’, ‘rompslomp’.
 

Sy het 'n skenking namens VLV Velddrif oorhandig aan Velddrif Animal Care.  
 

Beriggewer: Vera Winterbach

 

 

 

 

 Yvette Weyers.

 

 

Ella Ahlers se uitstalling.

 

 

Uitstalling van Celba Wessels.

 

 

 

Laslappie uitstalling.



Posted on 05 May 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

 

48 lede en gaste het met 'n luukse bus op 'n uitstappie gegaan. Dit was deel van die Landbou vergadering. Eerste stop was op Org de Rac, organiese wynplaas. Daar het ons op 'n trekkerrit gegaan om die bietjie wild wat onder die koelte geskuil het te besigtig. 'n Interessante praatjie oor hul organiese wynbouery en wurmplaas was baie leersaam. Dit is gevolg deur 'n kelderbesigtiging en wynproe. Ons kon selfs 'n flessie wurms koop om 'n eie wurmplaas te begin! Na al die opwinding en informasie het almal uitgespan met 'n ligte middagete terwyl ons die pragtige uitsig bewonder het. Van die stoep kan mens die hele Weskus omgewing vanuit 'n 180° oogpunt besigtig.
 

Daarna was 'n besoek aan die Piketberg Huismuseum en Sinagoge. Die kurator, Rochè du Toit, is ook 'n VLV lid van Piketberg tak.
 

Laaste, maar nie die minste nie, het Martie du Toit van Vroue van Môre ons toegespreek oor hul projek. Hul bemagtig vroue uit voorheen benadeelde gemeenskappe deur hul te leer kook, hekel, brei, telefoonetiket ens... Die dames het 'n kort opvoering gegee van wat hul doen en ons daarna vreeslik bederf met die smaaklikste sjokoladekoek en tee. Gina Smit (voorsitter) het Martie en elkeen in haar span bedank vir al hulle moeite en opoffering om ons te ontvang en bederf.  Wat 'n aansporing vir elkeen van ons!!! 
 

Op pad huis toe moes die busbestuurder eers stop by Dagbreek Padstal sodat varsgebakte brood, plaaswors, kardoeslekkers en dies meer by die wyn en wurm aankope gevoeg kon word.
 

Met ons volgende vergadering op 26 Mei 2011, gaan Yvette Weyers (eggenote van akteur Marius Weyers) 'n praatjie gee oor haar passies, beeldhouwerk en natuurbewaring. Gaste baie welkom! Tentoonstellings en verversings ingesluit teen R30 p/p. Kontak Althea Walters by 0835895165 vir besprekings.

 

Beriggewer: Vera Winterbach

 

Org de Rac uitstappie.

 

 

 

Trekkerrit. 

 

 

Piketberg sinagoge.

 

 


Vroue van môre.

 



Posted on 06 April 2011

Helene Jacobs, lid van VLV Velddrif, het vertel van haar en haar man se ondervinding van die lewe in Qatar, tydens hulle verblyf daar. Sy is heeltemal geklee in swart, soos die vrouens daar en verduidelik dat die mans besluit watter dele van die vrou se gesig mag wys.

 

Qatar, ongeveer 160km lank en 80km breed, word heeltemal omring deur die Persiese Golf. Dit was ‘n vissersdorpie voordat olie in 1940 ontdek is en is vandag die rykste land ter wêreld.

 

Inwoners behoort tot die Moslem geloof en praat hoofsaaklik Arabies en Engels. Alkohol word verbied op straat, maar mans drink wel tuis. Die Internet word streng deur die regering beheer.

 

Hul maak slegs van padvervoer gebruik en het geen treinstelsel nie. Die lughawe is baie klein, maar ‘n nuwe, groter een is in aanbou. Rygoed is duur en petrol baie goedkoop. Krag en water is gratis.

 

Die hospitaal, Hamat, is baie netjies en die diens is vinnig en vriendelik. Vrouens en mans lê apart.

 

Mans is lui en gedurig moeg. Vrouens maak meestal kinders groot en moet so veel moontlik kinders baar, verkieslik totdat daar ‘n seun gebore word.  Dogters is vroeg “seksryp” en baie bewus daarvan. Seuns het geen respek vir dogters nie, weens die voorbeeld wat in hul ouerhuise gestel word.

 

Kinders is baie stout, het geen opvoeding nie en luister ook nie na onderwysers nie.  Helene het as onderwyseres gewerk en noem dat kinders gedurig vuil en nat is,  aangesien hul nie toiletpapier gebruik nie, maar hulself skoon spuit. Sy het hulle geleer om hande te was.

 

Helene sê dat ons die Here kan dank dat ons in Suid-Afrika woon en nie vrouens van Qatar is nie. Die vrouens het geen sê of wil nie, alhoewel hulle stemgeregtig is.

 

Lynette Visser het 'n foeliekuns demonstrasie gehou.

 

Naam van beriggewer: Vera Winterbach

 

 

Helene Jacobs (links) en Marie Malan (regs) by uitstalling van items vanaf Qatar.

 

 

 

Dames van Qatar of Velddrif?

 

 

 

 

Angelina Mostert (links) en Cornelia Marais (regs).

Angelina het die 1ste plek by konferensie gekry vir die blommering en Cornelia 2de plek vir die buustelyfie.

 



Posted on 05 April 2011

Colleen Haasbroek van Age in Action (voorheen Raad van Bejaardes) het Velddrif se dames meer van Alzheimers, die algemene benaming vir psigiese agteruitgang, kom vertel.

 

Sy is 'n maatskaplike werker wat die area vanaf Atlantis tot by Garies bedien. Demensie is deel van die brein se verouderingsproses en iets waaroor groot onkunde en wanbegrip heers. Ongelukkig is daar geen behandeling vir hierdie toestand nie. 1 uit 20 persone bo 65 sal Alzheimers beleef.

 

Die oorsaak van dié siekte is nog onbekend, maar word dikwels geassosieer met verkalking van slagare in die brein. Die diagnose vir Alzheimer-siekte moet liefs deur 'n spesialis gemaak word.

 

Die siekte ontwikkel nie dieselfde in verskillende individue nie, maar een van die eerste simptome is vergeetagtigheid. Die korttermyngeheue en die onmiddellike herroeping van gebeure word aangetas. Die vergeetagtigheid, die lyer se spraak, waarnemingsvermoë en motoriese vaardighede toon agteruitgang. Persone wat aan Alzheimers ly is geneig om vinnig geïrriteerd te raak, baie vinnig te begin stres, baie angstig, kwaad of depressief te raak. Hulle gemoedstemminge is wisselvallig. En hulle is uiteindelik baie afhanklik van versorging
 

 

Althea Walters is die nuwe Kunste en Handvlyt sameroepster.

 

Beriggewer: Vera Winterbach


 
Gina Smit (voorsitter) speld die Kunste en Handvlyt balkie vir Althea Walters vas.


 

Colleen Haasbroek (links) en Estelle de Koker (regs, Gesondheid sameroepster).

 

 

Bestuur vir 2011: Agter van links: Louise Jacobs, Althea Walters, Jackie Coetzee, Rina Germishuis, Estelle de Koker. Voor van links: Malinda Thiart, Vera Winterbach, Gina Smit, Marie Malan.

 



Posted on 07 February 2011

Ons eerste maandvergadering was op 27 Januarie 2011 in die Stadsaal en Ronel Kritzinger was ons gasspreker vir die dag. Die onderwerp was “Aanhouer wen” wat ook ons VLVK  tema vir 2011 is.  Ronel het vir elke lid 'n toepaslike inspirerende gedagte uitgedeel en gesorg vir 'n uitstalling van motiveringsboeke beskikbaar by ons plaaslike biblioteek.

 

Haar man, Ds Kotie Kritzinger, Hanmari Briedenhann asook Dan en Marinda Brink het gesorg vir musiek uit die boonste rakke.

 

Louise Jacobs het m.b.v 'n groot skerm en "laptop" vir die lede gewys presies hoe webwerwe werk en almal kon sien wat is nuus op die VLV webwerf.

 

Almal sien uit na 'n opwindende jaar wat vol verrassings voorlê....

Beriggewer: Vera Winterbach

 

Ds & Mev Kritzinger

 

 

Louise Jacobs

 

 

 

Sangers

 

 

Lede luister aandagtig

  

Categories