Posted on 29 January 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Victoria-Wes
Datum: 21 Januarie
Beriggewer: Elize Perrin

 

Saterdag, 21 Januarie, is Vic-Wes tak se Potpourri vergadering aangebied.

 

Nadat die voorsitter geopen het, is Albertram Prins aan die woord gestel. Hy was verlede jaar hoofseun van Victoria-Wes Akademie en het sewe onderskeidings in die matriek eindeksamen behaal. Met die prestasie het hy uit die Quintile 2- skole, eerste op nasionale vlak geëindig en vierde in die Noord-Kaap. Hy is ook aangewys as beste Rekeningkunde leerder in die Noord-Kaap.

 

Albertram het gesels oor die uitdagings wat die onderwys vir leerders inhou gedurende hul skooljare. Twee uitdagings wat hy genoem het, is om jou selftrots te behou en gemotiveerd te bly. Volgens hom het leerders nie meer hoop nie. Hulle dink as hul grootouers en ouers arm was, moet hul ook maar arm bly. Nog 'n uitdaging is om jou Christenskap, skool- en sosiale lewe as eenheid te leef; dis nie drie aparte "lewens" nie.

 

Rhonnie Perrin het gesels oor hoenders en spesifiek skouhoenders. Hoenderboerdery het vier bene, nl: vleis, eiers, teel van (braai)kuikens en bewaring van die rasse. Laasgenoemde is die Suid-Afrikaanse Skou Pluimvee Vereniging. Hy het meer vertel oor die verskillende rasse en waarna beoordelaars kyk wanneer geskou word.

 

Na die manne het Alida Viljoen gesels oor pottebakkery en vertel hoe die klei gebrei moet word en wat die bakproses behels. Sy het ook voorbeelde gewys van verskillende artikels wat laerskoolleerders gemaak het. Alhoewel dit 'n duur aktiwiteit is, is dit baie bevredigend.

 

Lynette van Rensburg het meer vertel oor die plaaslike Dienssentrum en hulle aktiwiteite. Sy het die dames bo 60 jaar gemotiveer om by die "Golden Games" betrokke te raak. Dis baie pret en sodoende kry die senior burgers ook oefening.

 

Voordat die dames tee geniet het, is wenke gegee oor hoe om op te tree tydens 'n noodsituasie by ‘n ongelukstoneel. Die dames is ook herinner aan die Kuieroggend by die skou op 11 Februarie waar Karoostories deur woord en klank vertel gaan word.


Die persone wat tydens die Potpourri vergadering opgetree het: Lynette van Rensburg, Rhonnie Perrin, Albertram Prins en Alida Viljoen.

 



Posted on 13 November 2011

Beriggewer: Elize Perrin
Datum: 4 November

 

Vrydag, 4 November, het die Vic-Wes jaarlikse Kersmark in die stadsaal plaasgevind. Dit was aangenaam om te sien dat daar nie net ‘n toename was in die aantal stalletjies nie, maar ook in die aantal mense wat die kersmark besoek het.

 

Hierdie jaar het die Kersmark bietjie later begin, want dit het bietjie langer aangehou. Om 19:00 is die dag se verrigtinge afgesluit met 'n Kersspel deur gr. 1-3 leerders van Victoria-Wes Akademie. Die Kersspel was een van die inskrywings tydens verlede jaar se kompetisie.

 

Eduard Daniels, 'n plaaslike kunstenaar, het ook opgetree deur 'n paar Kersliedere te sing, waarna die gehoor almal saam met hom Stille Nag gesing het. Die dag en aand se fondse word aan liefdadigheid in die gemeenskap geskenk.

 

 

Elize Perrin saam met Maggie Hugo - Laasgenoemde was 'n uitstaller en is ook 'n nuwe lid.

 

 

Van die karakters in die Kersspel.

 

 

 

Lede van die publiek bewonder Mario Muller en Liza Watson se produkte op die Kersmark.



Posted on 19 October 2011

Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Elize Perrin
Datum: 15 Oktober 2011

 

Die eerste spreker tydens Victoria-Wes se Landbou & Tuinbou vergadering was mnr Danie Swart. Hy is deur me. Sinclair aan die woord gestel en het die dames kortliks ingelig oor die (veelbesproke) skaliegas-ontginning in die Karoo. Mevrou Sinclair het die bome van die jaar aan die dames voorgehou, nl. die Doppruim, die Bruidsbos en die gewone Wildevlier. Nadat bietjie meer vertel is oor die Wêreldvoedseldag van 16 Oktober, is Tuinnuus met die dames gedeel. Meer is vertel oor Iluba wat vars rose aanbied wat hul kleur en geur vir ses maande behou. Die rose word met chemiese- en preserveermiddels behandel en mag nie in direkte sonlig, wind of reën kom nie. Dit moet so min as moontlik hanteer word.

 

Inligting is ook aan die dames deurgegee oor wat die plaaslike kwekery te koop aanbied. Die Roosfees wat (DV) vanaf 21-23 Oktober in Bloemfontein sal plaasvind, is ook bekendgestel. As deel van Landbounuus is meer vertel oor klimaatsverandering, asook 'n omgewingsramp wat aan die noordkus van Nieu-Seeland dreig. 'n Liberiese olietenkskip het daar gestrand en daar word gevrees dat die skip kan sink en besoedeling 'n bedreiging vir die robbe en seevoëls kan inhou.

 

Tuintake vir Oktober is voorgestel en me. Susan Muller het aan die dames 'n resep vir luise op Konifere, gegee. Die resep is: 5ml water/ 15ml jeyes fluid/ 15ml skottelgoedseep/ 15ml ammoniak/ 15ml koeksoda/ 15 ml Engelse sout/ ongeveer een kg suiker (om dit te laat vasklou). Spuit gereeld in al die al die maande wat 'n R in het.

 

Vir 'n bietjie pret, en sommer om die dames se kennis te toets, is 'n vasvra gehou met vrae wat handel oor eetbare blomme, Agri Noord-Kaap se president, bedreigde diere en natuurlik die oewerkonyn. Mev Loepie Vorster was die wenner en het pragtige petuniaplantjies met hierdie kennis verdien.

 

Nadat die verjaarsdagdames geluk gewens is, was me. Perrin so gelukkig om weer die verrassingsmandjie te wen.

 

Alhoewel dit die laaste amptelike vergadering vir die jaar was, bied die VLV nog die Kersmark en Kersspel op (DV) 4 November aan.



Posted on 26 September 2011

Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Rina Coreejes

 

Saterdag, 17 September, het VLV Victoria-Wes vergadering gehou in Karooland Koshuis.

 

Joy Mans neem die opening waar en me. Du Plessis demonstreer drie soorte verbande vir armbeserings, nl. die smal draagband, die breë draagband en 'n verband vir 'n handbesering. Die dames moes elke demonstrasie prakties oefen deur mekaar se arms te verbind. 'n Mens kon sien die meeste dames se skooldae is lankal reeds iets van die verlede; die konsentrasie is nie meer wat dit was nie!

 

Aangesien September doofbewustheidsmaand is, is meer oor die De La Bat Skool vir Dowes vertel. Verlede jaar se jaarboeke van die skool is ook aan die dames uitgedeel. Daarna het die dames 'n toets gedoen om te bepaal wie gevaar staan om nommer 2 diabetes te ontwikkel. Eers moes die dames hul lengte, middel en gewig vasstel (natuurlik onder groot gelag en baie verskonings vir die algehele "agteruitgang"). Toe was dit tyd om 'n paar vrae te beantwoord waarvolgens punte toegeken word en daarvolgens kan bepaal word wat die risiko is om die genoemde siekte te ontwikkel. Almal teenwoordig het maar net weer besef hoe belangrik oefening en regte eetgewoontes is. Meer inligting oor die feite en mites van borskanker is ook aan die dames voorgehou.

 

Elma Visage bekyk die verband wat sy vir mev Sinclair aangesit het.

 



Posted on 03 September 2011

Victoria-Wes VLV moes die afgelope week weer van een van ons geliefde lede afskeid neem. Mevrou Kwarta Nel is op Sondag, 28 Augustus, in die hospitaal op Mosselbaai oorlede. Sy het twee dae vantevore 'n ernstige beroerte gehad.

 

Mevrou Nel het in 1957 by die VLV op Victoria-Wes aangesluit en was tot haar afsterwe, die langste lid (in jare) van die tak. Sy het in Maart 2011, gedurende die konferensie op Victoria-Wes, ook as vlagdraer opgetree. Sy was bekend vir haar gewilligheid om te help en het 'n heerlike sin vir humor gehad. In 1987 was sy tesourier van die tak en daarna sekretaresse vir twee jaar. Mevrou Nel se kinders woon almal in die omgewing en sy was ook die ouma van Tobi Jooste (sanger en TV persoonlikheid).

 

Ons gaan haar mis!



Posted on 27 August 2011

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

 

Saterdag, 20 Augustus, het die plaaslike VLV se Kunste en Handvlyt vergadering in die kerksaal plaasgevind.

 

Die saal was pragtig versier met van die dames se handwerk wat kwilts, gebreide poppies, handgemaakte beertjies, tokreen artikels, breiwerk en tuisgemaakte linne ingesluit het. Dit het net weereens getoon hoe talentvol die plaaslike dames is.

 

Nadat me. Sindclair geopen het, het me. Perrin verslag gedoen oor die pas afgelope kongres wat op Villiersdorp plaasgevind het. Soos altyd het sprekers van hoogstaande gehalte opgetree.

 

Voordat tee en verversings geniet is, is die wenner van die verrassingspakkie aangewys. Dit was me. Ella Swanepoel. Hierna het me. Alida Viljoen aan die dames verduidelik wat "shrim" is (die armman se piouter) en ook gedemonstreer hoe om dit te maak. Dit werk ook heelwat goedkoper uit as piouter. Elke dame het 'n yskasmagneet gemaak wat sy kon huis toe neem.

 

 

Een van die handgemaakte beertjies wat as gelukbringer vir die Wêreldbeker gekies is.



Posted on 01 August 2011

Drie jaar gelede het Vic-Wes se VLV tak 'n "Sterre-aand" aangebied. Tydens die geleentheid is volwasse Victoria-Westers wat oor die jare op nasionale vlak presteer het, vereer.

 

Daar is tydens die geleentheid ook 'n Talentfonds gestig met die doel om leerders, wat op een of ander gebied presteer, by te staan.

 

Dieselfde jaar is drie seuns gehelp om die rugbyweek, waarvoor hul gekies is, by te woon. Dié jaar het ons weer so gemaak. Drie leerders van Victoria-Wes Akademie is finansieel ondersteun om die rugbyweek, onderskeidelik in Johannesburg en Vereeniging, te gaan bywoon.

 

Die talentvolle seuns is Andile Horn en Dillon Koopman wat vir die 0/18 Akademiese span gekies is. Andile speel stut en Dillon is skrumskakel. Jovan Ligwa is as vleuel vir die 0/16 Valkespan gekies. 

 

Vic-Wes is baie trots op die seuns!

 

 

Pieter Truter - afrigter, Alta du Plessis, Voorsitter Elize Perrin, Jovan Ligwa, Dillon Koopman en Andile Horn.



Posted on 25 July 2011

Saterdag, 23 Julie, is die VLV vergadering in die vorm van 'n dankie-sê aangebied. Al die lede, asook besighede/individue wat betrokke was by Konferensie 2011 is uitgenooi.

 

Na die opening het die voorsitter bietjie meer vertel van die VLV se werksaamhede op takvlak, in die sirkel en op VLVK vlak. Die dames moes ook hulle breiblokke vir KANSA saambring vergadering toe. Vir Victoria-Wes tak is die gemeenskap baie belangrik en daarom word daar altyd gepoog om die gemeenskap te betrek of/en te ondersteun. Die gemeenskap se ondersteuning is nou reeds gevra vir die Kersspel en Kersmark wat (DV) op 4 November sal plaasvind.  (Omliggende dorpe is ook welkom om die poging te ondersteun deur bv. 'n stalletjie vir die kersmark te bespreek of die Kersspel by te woon. Navrae kan by Elize (0726005809 ) gedoen word.)

 

Die gaste kon hulself help aan gevulde pannekoek en vir die soet tand was daar... pannekoek met suiker en kaneel! Kyk net hoe word daar gesmul. . .

 

 



Posted on 13 June 2011

Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Elize Perrin

 

Die jaarlikse Openbare Sake vergadering van Victoria-Wes tak het op Saterdag, 11 Junie plaasgevind. Dit was voorwaar 'n "manne-vergadering", aangesien al die sprekers manlik was.
 

Nadat Rhonnie Perrin met skriflesing en gebed geopen het, is Patrick Fann aan die dames bekend gestel.

 

Hy het 'n passie vir straatkinders, oftewel "Youth at risk" soos hy hulle noem. Patrick het 'n kantoor by Victoria-Wes Akademie en poog ook om nou saam te werk met die plaaslike maatskaplike dienste.

 

Aangesien die meeste dorpe in ons mooi land 'n probleem met straatkinders het, wou die dames van hom weet wat die regte manier is om hulle te hanteer. (Hierdie "probleem" beïnvloed natuurlik ook toerisme) 

Patrick gee die volgende wenke:
• kom af na hulle vlak toe (nie afdaal nie!!)
• bou ‘n verhouding met hulle op
• reik uit na hulle en gee hulle hoop.
 

Die tweede spreker was Ulrich Olivier, hoof van Korrektiewe Dienste op Victoria-Wes. Hy het meer vertel van die programme wat in die gevangenis aangebied word. Van die programme is: "Crossroads" wat handel oor selfbeeld/ "Dis ek, Anna" vir verkragting- en gemolesteerde slagoffers/ 'n program om vaardighede te ontwikkel en ook 'n HIV/AIDS program.

 

Hy het ook daarop gewys dat jeugdiges in die gevangenes verplig is om skool by te woon en indien  hulle parool ontvang, opvolgaksies plaasvind om seker te maak hul voltooi hul skoolloopbaan.
 

Die laaste spreker was Danie Swart, 'n polisie reservis, wat vir die dames wenke gegee het oor hoe om hulself te beveilig.
 

 

 

LNR Patrick Fann, Ulrich Olivier, Danie Swart en Rhonnie Perrin.



Posted on 16 May 2011

Portefeulje: Leefstyl

 

‘n Mistige Saterdag, 14 Mei, is opgehelder met die Vic-Wes tak se Leefstyl vergadering.

 

Na die opening is die program begin met 'n modeparade van die oue en die nuwe. Me. Charlotte Roux het haar beroemde modelle, met hul besondere uitrustings, aan ons kom voorstel. Ons eie koningin, "Queen Mary" het eerste haar (pienk) uitrusting vertoon wat sy na DIE koninklike troue aangehad het. Pippa, of soos ons haar ken, Ancha, het ook mooi vertoon in haar wit strooimeisierok.

 

Toe was dit die jong dames (Laura en Sunelia) se beurt om te spog met die meer moderne uitrustings. Me. Elma Visagie het met ons gesels oor die Stylvolle dame en ook die verskillende figuurtipes wat mens kry. Aantrek wenke is ook deurentyd gegee.
 

Me. Perrin het kort dekorwenke gegee oor hoe mens jou huis kan verfraai deur strooikussings en sweefkassies te gebruik. Me. Sandra Nolte het gedemonstreer hoe om 'n hangeroortreksel te brei en die kant vas te brei, i.p.v. vas te werk.
 

Me. Laura Truter, die plaaslike dieetkundige, het inligting oor maaltydbeplanning gegee. Dames het ook die kans gekry om huishoudelike wenke met mekaar te deel.
 

Nadat tee en verversings geniet is, het die voorsitter voortgegaan met die program en het ons twee nuwe lede, mee. Visagie en Lotriet, hul kentekens van die sirkelpresident ontvang.
 

 

 

 Queen Mary.

 

 

Me. Lotriet, Sandra Nolte en me. Visagie.

Categories