Posted on 19 September 2010

Die VLV tak van Villiersdorp het met die Landbou & Tuinbou vergadering in September aan beide Nasionale Boomplantdag en Nasionale Erfenisdag aandag gegee. Ses Witkaree bome (Rhus pendulina) is op die Skouterrein geplant, danksy die kundige advies van John Ashbury, plaaslike kweker van inheemse bome en Edu Roux, voorsitter van die Skouvereniging wat gesorg het dat die gate reg was vir die geleentheid.

 

Die Witkaree is gewild as skaduboom op talle openbare terreine. Dis ‘n netjiese koelteboom met ‘n wilgeragtige groeiwyse, is redelik droogtebestand, groei matig-vinnig tot ‘n hoogte van 8 meter en het ‘n nie-aggressiewe wortelstelsel.

 

Die boomplantseremonie is waargeneem deur Johlene Viljoen (takvoorsitter) en Elsa Smuts wat namens die VLV tak twee bome geplant het, Marie Swart (erelid) wat ter nagedagtenis aan Maria Stofberg(geb. Botha), wat die Villiersdorp tak in 1929 gestig het, ‘n boom geplant het – geborg deur die Botha familie van Stettyn – en Hermien van Zyl (taksameroeper vir Landbou&Tuinbou) wat ter nagedagtenis aan haar ma, Sarah Erasmus, ‘n voorsitter en erelid van die tak, ook ‘n boom geplant het – geborg deur die Erasmus familie van Skoongesig.

 

Mari Boers en Colleen Wheeler het onderskeidelik namens die Vroueklub en die Tuinbouvereniging ook elkeen ‘n boom geplant. “Ons vereer ons voorgeslagte met die bome wat ons vir ons nageslag plant” is die VLV se verbintenis tot omgewingsbewaring, en hulle het ander organisasies en families aangespoor om hierdie voorbeeld te volg. ‘n Gelamineerde plakkaat is aan Edu Roux oorhandig met die besonderhede van die geleentheid en ‘n beskrywing van die boomsoort.

 

Ná die boomplantseremonie is al die taklede en gaste na die Banketsaal vir die maandvergadering. Hermien van Zyl, sameroeper, het verslag gedoen van die VLVK Kongres wat in Kimberley plaasgevind het, en meer vertel oor die Klein Flamink (Lesser Flamingo), die Voël van die Jaar, wat by Kamfersdam, buite Kimberley, broei. Beide die verslag en die praatjie het sy toegelig met foto’s en plakkate.

 

Nadat die Jeugkoor van Exelsiorplaas ‘n sangitem gelewer het, het Villiersdorp se VLV tak afskeid geneem van Hermien van Zyl wat onlangs na Kleinmond verhuis het. Sy is in 1988 vanaf die Piketberg tak oorgeplaas Villiersdorp toe en het dadelik op die bestuur begin dien en die tak se mediadekking behartig. Vanaf 1994 tot 2006 was sy takvoorsitter en tree nou uit as sameroeper vir Landbou & Tuinbou. Johlene Viljoen, voorsitter, het vir haar ‘n geskenk oorhandig en Monica Roux, sekretaresse, ‘n rits orgideë.

 

 

 

Die Jeugkoor van Exelciorplaas besig met hulle sanguitvoering.

 

 

Mev Elsa Smuts plant 'n VLV-boom terwyl Edu Roux hand bysit.



Posted on 27 August 2010

VLV-lede en gaste kon met die Augustus-vergadering van die VLV-tak van Villiersdorp met twee baie interessante handvaardighede kennismaak.

 

Romilly Neil, “that friendly Irish woman”, het demonstreer hoe sy op glas verf. Sy verf verkieslik op enige wit oppervlakte wat geglasuur is: bekers, borde, teëls, ens. ‘n Verskeidenheid kleure is in poeiervorm verkrygbaar en slegs ‘n mespunt word op ‘n slag met ‘n kleefmiddel en water op ‘n glaspalet vermeng. Met ‘n verftegniek soos Japanese verfwerk wat net uit ligte hale bestaan word die prentjie met Chinese bamboeskwassies met natuurlike haar, opgeverf. Dan pak Romilly die klaargeverfde artikels in ‘n klein hoogoond(kiln) waar dit vir drie uur teen 800 C gebak word. Dan koel dit vir tien uur af waarna die oond eers oopgemaak mag word. Nadat die artikels gevuur is, lyk die kleure weer soos toe die verf nat was.

 

Daarna het Suzette van Rooyen van Caledon demonstreer hoe om die baie gewilde tegniek van teesakkie-vou te bemeester. Goed voorberei kon sy vir belangstellendes elkeen agt stukkies papier gee wat sy vooraf in vierkantjies geknip het. Nog vorms wat gebruik kan word, is driehoeke, vlieërvorms en diamante. Nadat die papiervorms gevou is, word dit uitgelê en met ‘n klein metaal”stud” aanmekaar gesit. Dit word dan baie doeltreffend gebruik om handgemaakte kaartjies, geskenksakkies, ens te versier. Net die soort vaardigheid vir die vrou wat haar persoonlike stempel wil afdruk.

 

 

 

Romilly verf die fynste donsveertjies op ‘n teël

 

 

 

Romilly Neil(heel links) saam met Issie van Deventer, Dileanna Cronjé en Antoinette Stoutesdÿk by die pragtige uitstalling van haar werk.

 

 

 

Suzette van Rooyen(regs) besig om vir Johanni Barnard, Jean van Coppenhagen, Emily Klink en Elsabé Stemmet die fynere kuns van teesakkie-vou te verduidelik.



Posted on 08 July 2010

Die onverwagse vertrek van Mandy Hurrell en haar familie na England is 'n groot slag vir die gemeenskap van Villiersdorp. Mandy was 'n geliefde en betrokke persoon wat oral haar hulp aangebied het waar daar hulp nodig was en was altyd daar te vinde waar pannekoek gebak moes word, bejaardes versorg moes word of maatskaplike hulp nodig was. Sy sal sekerlik gemis word deur die VLV-tak, waar sy as bestuurslid die portefeulje Openbare Sake behartig het, deur die versorgers by Regina-kliniek, by Badisa, by die Tuinbouklub, die Vroueklub, die Klub vir Bejaardes en nog op ander terreine.

 

Op die foto neem die VLV afskeid van Mandy aan huis van Johlene Viljoen, voorsitter van die tak, heel links.Langs haar v.l.n.r. sit Elsabe Stemmet, Johanni Barnard, Mandy Hurrell, Jean van Coppenhagen Tokkie Raubenheimer en Marie Swart (erelid).

 

Categories